Die Afrikaanse Woord word tagtig

  • 2

Dit kan vertroosting of ontnugtering bring. Dit spreek van humor, liefde en genade, maar ook  van hartseer, oorloë en wreedhede. Vir sommige is dit heilig en ander noem dit ’n sprokiesboek. Die Bybel, die mees gelese maar sonder twyfel ook die mees omstrede boek, vier dié week sy tagtigste verjaarsdag in Afrikaans.

Geen ander boek word in soveel tale deur so 'n wye verskeidenheid mense gelees nie. Rykes en armes, geleerdes en ongeleerdes, van digters tot filosowe, en selfs gevangenes. Feitlik almal het ’n mening oor die Bybel.

Bybelvertalings was nog altyd ’n omstrede onderwerp. Christo van der Merwe, professor in Bybelse Hebreeuse van die Departement Antieke Studie aan die Universiteit Stellenbosch, sê daar is so baie Bybels dat dit Bybellesers maklik kan verwar. Hy glo predikante kan baie meer moeite doen om lidmate in hierdie verband te help.

Drie Afrikaanse vertalings is sedert 1933 in opdrag van kerke deur die Bybelgenootskap gemaak: die 1933/53 Ou (woord-vir-woord) Vertaling, die 1983 dinamies/funksioneel ekwivalente vertaling, en die Bybel vir Dowes (ook uitgegee as Die Bybel vir Almal) – om en by 2007 uitgegee. Sedert 2006 word gewerk aan Die Bybel in Afrikaans.

’n Magdom ander kommersiële Afrikaanse vertalings laat die kasregisters behoorlik klingel. Hulle maak sterk staat op aggressiewe bemarking beide in Kerkbode en oor die radio. Baie van hierdie kommersiële vertalings maak ernstige Bybelkenners soos Van der Merwe die joos in. “Dit grens soms aan die misleiding van goedgelowige Bybellesers. Veral die bemarking van die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) skep die indruk dit is ’n akademies deeglik begronde Bybel, maar die kwaliteit van die vertalings wissel en kan op baie plekke bevraagteken word.”

Dat daar in die vertalingsproses baie verlore gaan, is volgens Van der Merwe ’n feit soos ’n koei. “As mens dink hoe maklik mense mekaar in direkte kommunikasie misverstaan, hoeveel te meer as ’n antieke teks van ’n kultuur wat honderde jare van ons verwyder is.”

Hy blaai in sy Hebreeuse Bybel en lê sy vinger op die Hebreeuse woord ghesed. In die 1933/53-vertaling is dit met “goedertierenheid” vertaal. Die probleem, verduidelik hy, is dat ’n woord dikwels nie net een betekenis het nie. Om die regte nuanse in verskillende kontekste te identifiseer, is ’n groot uitdaging. Is dit by ghesed “trou”, “troue liefde”, of “welwillendheid”?

In die Ou Testament is die woord nephesh ook baie dikwels problematies. Dit is in die 1933-vertaling in die Psalms dikwels met “siel” vertaal. Die konsep in die Ou Testament is egter nie dieselfde as wat die Griekse wêreld onder “siel” verstaan het nie, en ook nie wat baie mense vandag daaronder verstaan nie. Dit kan ook na “diepste wese” of “begeerte” verwys. Soms as gepraat word van “my siel”, kan dit bloot ook met “ek” vertaal word.

Maar daar is ook ’n ander hoek om na die Bybel te kyk as uit die oog van ’n teoloog. Koos Kombuis sê vir hom is die Bybel vol waarhede, al is dit nie altyd letterlik waar nie. “Ek dink die Bybel beteken op die regte oomblik baie vir iemand wat werklik desperaat is en alle ander oplossings vir sy probleme laat vaar het. Wanneer ’n mens by daardie punt uitkom, word jy soos ’n kind wat uitreik na sy vader of moeder. Ek hou van die Bybel, maar liefs buite die konteks van teologie of argumente. Om die waarheid te sê, ek dink nie ek is ’n Christen nie, ek is dalk net ’n biddende humanis. Maar daar is miskien meer van ons as wat die kerk besef.”

Die Bybel is ook lankal nie meer net ’n papierboek nie. Duisende mense laai dit gratis van die internet af en lees dit digitaal op hulle rekenaars, tablette en selfone. Mims Turley van die Bybelgenootskap sê veral selfoonbybels is uiters gewild. Mens het ook nie ’n slimfoon nodig om die Bybel op jou selfoon te lees nie. Daar is verlede jaar 205 780 volledige Afrikaanse Bybels op selfone afgelaai. 

Die aflaai vir die goedkoper fone by m.bibles.co.za is 1,5 megagrepe, wat teks en 'n soekfunksie insluit. Die Bibleapp wat by https://www.bible.com/af afgelaai word vir slimfone, is sowat 20 megagrepe en kom met 'n Engelse KJV as standaard.  Laai jy dan 'n Afrikaanse Bybel by, is dit so ongeveer 'n verdere 15 megagrepe. E-Bybels is so amper 3 megagrepe.

 

  • 2

Kommentaar

  • Sien nogal uit na die bekendstelling van die nuwe "'n Direkte vertaling" - bybel wat binnekort die lig gaan sien. Hoe suiwerder en getrouer aan die bronteks, hoe beter. Ek het gister my eerste seleksie van tekste ontvang, en is heel opgewonde ...

  • Trienie,

    As totale ignoramus oor die onderwerp, is ek bekommerd oor die uitverkose (uitverkore) bron tekste wat gebruik is / word vir die Bybel soos ek hom ken - wat van ander geskrifte (apokrief?) wat deur Calvyn en kie uitgelaat is?

    Dalk omdat dit nie by hul verwysingsraamwerk ingepas het nie. Word daar nog herevaluasie van sulke ou geskrifte gedoen met die oog op insluiting?

    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top