Die Afrikaanse Taalraad loods meertaligheidsinisiatief vir universiteite

  • 5

Studente se toegang tot Afrikaans en die ander inheemse tale binne en buite die lesingsale móét eenvoudig verbeter. Die Afrikaanse Taalraad loods dus ’n inisiatief om studente met taalklagtes te ondersteun en met dosente en tersiêre instellings werk om meertaligheid ’n sukses te maak. Die inisiatief volg ’n konstruktiewe benadering wat daarop mik om die beste van bestaande taalbeleide, insluitende die hersiene Nasionale Taalbeleid vir Hoër Onderwys, te maak.

Om taalkonflik en kruipende Engelse hegemonie in lesingsale te bekamp, moet meertaligheid van onder af opgebou word. Beide studente én dosente moet met oortuiging entoesiasties kan wees oor die voordele van meertaligheid as ’n waardevolle hulpbron, iets wat inklusiwiteit en studentesukses makliker maak.

’n De-eskalering van die debat oor Afrikaans, eerder as nog hofsake, is nodig om die gesprek op ’n nuwe vlak te plaas. Die vyandigheid van die verlede moet tersyde gestel word en nuwe verhoudinge ontwikkel word. Afrikaanssprekendes wat hul taal se akademiese status wil behou, moet verseker dat meertaligheid by hulle instellings werk – ook vir die ander inheemse tale. Vennootskappe is nodig om meertaligheid te laat werk.

Die Taalraad moedig studente aan om waar moontlik hulle instellings se grieweprosedures te gebruik om taalklagtes te opper. Mens kan selfs van instellings wat nét Engels as voertaal gebruik, verlang om meer ruimte vir meertaligheid te skep.

Taalklagtes bly ’n goeie manier om groot instellings soos universiteite te laat weet daar is ’n probleem op voetsoolvlak. Wanneer mense swyg, kan universiteite met reg sê almal is tevrede en niks hoef te verander nie. Indien interne klagteprosedures nie gevolg is nie, is dit ook vir organisasies soos die Taalraad moeiliker om studente te ondersteun of taalkwessies met universiteite op te volg.

Formele taalklagtes word nie altyd met oop arms ontvang nie en veral eerstejaarstudente kan dit as intimiderend ervaar om dit te doen. Dit is egter jou reg as student om binne die raamwerk van jou instelling se taalbeleid oor geldige taalkwessies te kla; ook om klagtes verder te neem indien nodig.

Wees egter altyd so konstruktief as moontlik en soek altyd vennote vir meertaligheid. Afrikaans kan nie in isolasie bevorder word nie. Hou asseblief goed boek van taalsituasies in lesingsale en elders. Hou rekord van interaksies en stappe wat geneem is om taalkwessies onder die aandag van die universiteit te bring of op te los.

Die doel hiermee is nie om “bewysmateriaal” teen enigiemand in te samel nie, maar om taalkwessies meer deursigtig te maak.

Studente kan nietemin op ’n vertroulike basis oor enige taalverwante probleme aan die Afrikaanse Taalraad skryf (atr@afrikaansetaalraad.co.za), selfs al wil hulle geen persoonlike klagte by die betrokke universiteit indien nie. Ons luister graag en studente moet weet hulle is nie alleen nie.

Ook dosente of studentegroepe wat konstruktiewe oplossings vir taalprobleme het of goeie voorbeelde van situasie waar meertaligheid werk, is welkom om met ons te skakel. Saam kan ons ’n ware meertalige tersiêre omgewing skep.

  • 5

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    “Afrikaanssprekendes wat hul taal se akademiese status wil behou, moet verseker dat veeltaligheid by hulle instellings werk.” Dit is juis die invoering van ’n ander onderrigtaal naas Afrikaans, by name Engels, aan die tradisioneel Afrikaanse universiteite wat tot die afskaling en afskaffing van Afrikaans lei.
    “Afrikaans kan nie in isolasie bevorder word nie.” Die bevordering van Afrikaans moet vooropgestel word. As met eentalige Afrikaanse universiteite volgehou is, kon hulle steeds bestaan het. Wat ’n instansie soos die Afrikaanse Taalraad behoort te doen, is om Afrikaans kompromisloos te bevorder pleks van meertaligheid en moedertaalonderrig in die algemeen.
    Meertaligheid en moedertaalonderrig hoef immers nie Afrikaans in te sluit nie. Meer as ooit is ek daarvan oortuig dat die ATR eerder die Meertaligheids- en Moedertaalraad (MMR) moet heet en dat die bevordering van Afrikaans eerder aan ’n instansies toevertrou moet word wat die moed van sy oortuiging het om Afrikaans openlik te bevorder. Terloops, stappe word gedoen en nie geneem nie.

  • Barend van der Merwe

    Vir eens voel ek ook half en half soos jy. Bostaande is nou vir jou ’n futiele aksie as daar al ooit een was. Jy weet, Frik en Roelf het gepraat en gepraat. En die een oomblik was dit nog wigte en teenwigte en next moment toe is Afrikaans heel van die tafel af. Jy kan netsowel al jou geld en energie aan Afriforum of die ATKV gaan gee. Dit sal veel meer vir Afrikaans se behoud doen.

  • Conrad steenkamp

    Beste Dan

    Die universiteite wat Afrikaans behou het, is almal meertalig. Hulle neig tot wisselende mates ook na Engels. Hierdie realiteit verg 'n nuwe pragmatiese benadering. Die "kompromislose" houding wat jy verlang, kon dit immers nie verhinder nie.

    Vriendelike groete

  • Henning Janse van Vuuren

    Hierdie rondte is ek Afrikaner gebore en aanvaar ek my lot so soort van gelate ‒ dit kon erger gewees het, ek kon Engels gewees het. (Ek verneem onlangs vertroulik dat swart mense dankbaar behoort te wees vir die Brit se alomteenwoordigheid aangesien die Engelsman Hitler verslaan het, en sodoende alle swartes van gewisse uitsterwing gered het.)

    Enigiets is seker moontlik.

    Vanweë Hermann Giliomee se boeiende en heerlike boek, "die Afrikaner", verstaan ek hoekom moedertaalsprekers van hierdie unieke heksebrousel met trots vir die behoud daarvan mag baklei. Die aard van die Afrikanerpakket is onder meer oorlewing en opstaan teen massas, die kleine Dawid wat ʼn arrogante Goliat anderhalfeeu planke toe moet stuur.

    Hoofstuk 10 van die boek is getiteld “AFRIKAANS: ‘DIE ENIGSTE BAND WAT ONS AANMEKAARBIND’ ” en vertel van die geboorte, vormingsjare en volwassewording van Afrikaans. Ná afloop van die Anglo-Boereoorlog wou Alfred Milner Engels “as die enigste amptelike taal en as enigste voertaal in skole in Suid-Afrika afdwing.” In hierdie opsig herinner hy my aan Pankop Lesufi en die res wat graag wil hê almal moet eerstens South Africans wees onderhewig daaraan dat jy Engels moet wees. Andries Pretorius het dit só gestel: “Ek wil my nie aan die Britte of enige ander moondheid in die wêreld onderwerp nie. Ek is geen Brit nie en ek hoop en vertrou dat ek nooit een sal moet word nie.” Teen middel 1900 skryf Milner aan ʼn vriend: “I have saved the British position in South Africa and I have knocked the bottom out of ‘the great Afrikaander nation’ forever and ever.”

    Nog nie ou grote.

    Afrikaans het met moeite staanplek gekry, en dit is ʼn helse stryd hom staande te hou. Op p. 105 skryf Giliomee: “Maar die grootste vyande van Afrikaans was die statusbewuste koloniale Afrikaners.” Die Stellenbosch Kollege het in 1887 sy naam na Victoria Kollege verander. Onze Jan (JH Hofmeyr) was nie bereid om sy nasionaliteit te laat vaar nie, maar baie Kaapse Afrikaners was trots daarop om deel van koningin Victoria se ‘Empaaier’ te wees. Jannie Marais, wat buite Stellenbosch geboer het, het geld nagelaat om die totstandkoming van die Universiteit van Stellenbosch in 1918 moontlik te maak. Marais was die hoofaandeelhouer van De Nationale Pers met DF Malan as redakteur van De Burger. Malan word beskryf as: “ ʼn fel teenstander van imperialisme en ʼn voorstander van Afrikaner-nasionalisme.”

    Hoofregter John Henry de Villiers het sy oortuiging uitgespreek dat Afrikaans nooit ʼn literêre taal sou kon word nie en Afrikaners eerder aangeraai om Engels ‒ “that rich and glorious language” ‒ te bemeester.

    O koud is die windjie
    en skraal.
    En blink in die dof-lig
    en kaal,
    so wyd as die Heer se genade,
    lê die velde in sterlig en skade.
    En hoog in die rande,
    versprei in die brande,
    is die grassaad aan roere
    soos winkende hande.
    O treurig die wysie
    op die ooswind se maat,
    soos die lied van 'n meisie
    in haar liefde verlaat.
    In elk' grashalm se vou
    blink 'n druppel van dou,
    en vinnig verbleek dit
    tot ryp in die kou!
    (Winternag, 1905 – Eugène Nielen Marais)

    Leef ek in die verlede? Nee, ek leer uit die geskiedenis. https://www.youtube.com/watch?v=i_xmPD28IA8

  • Conrad Steenkamp

    Beste Barend

    Mens kan inderdaad hande in die lug gooi en sê allesverloren.

    Groete

    Conrad

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top