Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument: ’n simbool van hoop, nasiebou en sosiale samehorigheid

  • 0

Bo: Die huidige raad van die ATM, van links: Jurie Saal, William Langeveldt, Logan Munsamy, Janis Grobbelaar, Elvis Saal (voorsitter), Penny Magona (ondervoorsitter), Cecil le Fleur en Steward van Wyk. Onder: Michael Jonas (direkteur).

In 2020 vier die ikoniese Taalmonument by die Paarl sy 45ste jaar. In die aanloop daarna toe neem Michael Jonas, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se direkteur van die afgelope twee jaar, bestek van die verlede en deel sy visie oor die monument op Paarlberg, die museum in Paarl asook Afrikaans. Hy belig ook die belang van linguistiese diversiteit en waarom die ATM nie net ’n baken van hoop vir Afrikaans is nie, maar vir álle Afrikatale.

My eerste werklike kennismaking met die wonders van Afrikaans en die taal se opvoedkundige waarde was rondom standerd 5 (graad 7) danksy Groot verseboek onder redakteurskap van DJ Opperman. Hierdie meersterstuk met sy blou omslag het in die Jonas-huishouding in ’n Stellenbosch-woonbuurt beland as ’n boekprys wat my ouer broer, Johnny, as toppresteerder in Afrikaans in sy matriekjaar ontvang het. Sy liefde vir en studies in tale aan die Universiteit van Wes-Kaapland, asook sy anti-apartheid aktivisme, ook ín Afrikaans, in die 1980’s het blywende indrukke op my in my vormingsjare gelaat.

My interaksie met veral Afrikaanse letterkunde het nie net ontvlugting gebied uit die daaglikse realiteite waarmee jou tipiese werkersklasgemeenskap geworstel het nie, maar ook gedien as ’n katalisator vir die bewusmaking van watter bepalende rol die gebruik en misbruik van taal in mense se lewens kan speel. Dit was ander, aparte tye, en die Taalmonument, net ’n paar kilometer van my huis, was beslis nie vir my ’n welkome struktuur waar ek omarm sou voel nie.

Ná die voltooiing van my museumstudies aan die Universiteit Stellenbosch het ek as kontrakwerker by die Stellenbosch Museum begin werk. Eendag in 1995 toe ek by my ouerhuis aankom, word ek deur my (nou oorlede) pa ingewag met ’n uitgeknipte advertensie vir die posisie as hoof van die Taalmuseum in die Paarl. Die opgewondenheid in sy stem en liggaamstaal sal my altyd bybly. Terselfdertyd onthou ek ook die teleurstelling op sy gesig oor my redes waarom beide die tyd en ek nie gereed was om hierdie instelling – met soveel geskiedenis, emosie, simboliese waarde en politieke bagasie – te kon bestuur nie. Maar die saadjie was geplant en ek het toe reeds gedroom om aan die hoof van die ATM te staan sodra die tyd ryp is – iets wat 21 jaar later tog bewaarheid is.

Die uitdaging waarmee ek en die vorige direkteurs gekonfronteer is, is hoe om die ATM suksesvol te bestuur siende dat ons werksaamhede, dienste en programme diverse taalgemeenskap moet verteenwoordig en weerspieël. Hoe bewerkstellig die ATM ’n omgewing waarbinne sosiale samehorigheid, taaltrots en inklusiwiteit geskep word? En hoe dien die instelling, wat grootliks van belastinggeld afhanklik is, die Afrikaanse gemeenskap en die Suid-Afrikaanse nasie?

As moedertaal spog Afrikaans reeds met die grootste rassediversiteit van alle tale in die land, en hoewel ou en nuwe Afrikaanse kultuurorganisasies die afgelope drie dekades reusetreë vorentoe gegee het, is daar nog baie werk nodig om negatiewe narratiewe te besweer. Afrikaansmediumskole moet byvoorbeeld dringend meer leerders en onderwysers hê wat Afrikaans se demografie verteenwoordig – iets waarvoor beurse aangewend kan word. Dit is immers hierdie leerders wat later in posisies gaan wees waar hulle die onbetwisbare waarde van moedertaalonderrig kan bevorder. 

Inheemse tale bevind hulself op die rand van die politieke landskap en Afrikaans nog meer so weens haar verbintenis met die apartheidstaat. As na hofuitsprake oor taalaspekte by die universiteite van Pretoria, Stellenbosch en Vrystaat, asook gebeure by Hoërskool Overvaal gekyk word, is daar duidelike tekens van ʼn berekende poging om die voortbestaan van Afrikaans as onderrigmedium verder af te skaal. Die redes wat Hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy hofuitspraak oor die toekomstige, eksklusiewe gebruik van Engels in die howe aanvoer, suggereer vyandigheid op owerheidsvlak en bevestig dat Afrikaans steeds onder sommiges as die taal van die verdrukker gesien word.  ʼn Instelling soos die ATM word beskou as ʼn sigbare manifestasie van die hoogty van wit Afrikaner nasionalisme, terwyl dit in feite Afrikaans in haar volheid bedien.

Afrikaans was immers ook ’n slagoffer van dié nasionalisme, ’n nasionalisme wat die taal vir korttermyn politieke gewin gekaap het en ter wille van mobilisering misbruik het. Al was en is wit Afrikaner-nasionaliste ’n minderheid van Afrikaanssprekendes, het Suid-Afrikaners (Afrikaans- en nie-Afrikaanssprekend) nie hierdie kaping hard genoeg probeer keer nie. Onder die apartheidregime is daar boonop later talle Afrikaanse boeke, toneelstukke en musiek verbied, om nie van die ramp van 1976 te praat nie. Die natuurlike verhouding tussen Afrikaanssprekendes is ook versuur deur die taalgroep op ’n rassegrondslag te skei.

Eers in die laaste drie dekades is daar ’n daadwerklike optrede deur voorheen gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes om die taal op te eis; ’n energie wat die ATM ondersteun deur gesprekke en interaksies tussen Afrikaanssprekendes te bevorder. Die samestelling van die ATM se personeel en raad weerspieël die diverse realiteit van die sprekers en dit word toenemend beskou as ’n ruimte waar mense ’n gedeelde liefde, Afrikaans, saam vier. Die totaliteit van Afrikaanssprekendes is besig om die taal te eien, tot almal en veral die taal se voordeel. Sedert die taal se bevryding in 1994 is daar ’n geskiedkundige opwelling van Afrikaanse literatuur, musiek en rolprente. In die kuberruim is dit net so besig; Google gerus “Afrikaans” en kyk self.

Die ATM streef na die welstand van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse gemeenskap en poog voortdurend om wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bevorder deur, onder meer, die invloed van die tale op mekaar te erken. Ekologiese diversiteit is belangrik vir die planeet se inwoners; so ook ’n diversiteit van idees. In dieselfde asem voel ons ook sterk dat taaldiversiteit, in Suid-Afrika en elders, ’n absolute aanwins is wat gevier en ondersteun moet word. Die Ugandese akademikus Mahmood Mamdani het in 2017 in Kaapstad die ontwikkeling van Afrikaans voorgehou as die suksesvolste dekolonialiseringsinisiatief ooit. Volgens hom en vele ander kan Afrika, en spesifiek die vasteland se universiteite, ons koloniale mantel afskud slegs as Afrikatale aktief ontwikkel en op alle vlakke gebruik word. In hierdie lig beskou ons die monument as ’n simbool van hoop nie net vir Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale. Wat moontlik was vir Afrikaans, ís moontlik vir almal.

Terwyl daar een werklikheid – ’n progressiewe, maatskaplike samehorigheid – by die monument en museum te siene is, ervaar baie Suid-Afrikaners egter Afrikaans op ’n negatiewe manier; van persoonlike interaksies met Afrikaanssprekendes tot wat hulle te siene en te hore kry op die internet. Voorts word die debat oor die toekoms van Afrikaans steeds ten dele oorheers deur tradisionele (wit) Afrikaner- en burgerlike organisasies wat boonop soms namens alle taalgenote oor kultuursake wil onderhandel. ’n Houding van meerderwaardigheid en opeis van die taal as eiebesit deur sekere sektore binne die Afrikaanssprekende landskap, die “loopgraafbenadering” om vir die taal te veg, asook onaanvaarbare “tradisies” word in die postapartheid samelewing voortgesit. Dit is iets wat veral op sosiale media opgemerk word, waar ’n minderheid mense agter skuilname wegkruip en kliphard skel.

Wat wel opval, is dat variëteite van Afrikaans wat die afgelope eeu nie tot hul reg gekom het nie, nou ’n bloeitydperk beleef. Die opneem van sekere woorde in die nuutste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) gee meer erkenning aan die gedeelde verlede van Afrikaans en die bydraes uit ander variëteite, terwyl Christo van Rensburg se publikasie So kry ons Afrikaans klem lê op die diverse wortels van Afrikaans. Tog word die niegestandaardiseerde variëteite, so wil dit voorkom, steeds verkeerdelik as agterlik, komies en/of minderwaardig beskou. ’n Houding om slegs die gestandaardiseerde gesproke en geskrewe variëteit as aanvaarbaar voor te hou, dien as instrument vir die doelbewuste uitsluiting van seker die grootste groep Afrikaanssprekendes se unieke omgang met Afrikaans.

Die ATM is deels in apartheidsonde gebore, maar dit beteken nie die baba moet met die badwater uitgegooi word nie. Die opening van beide die museum (op 14 Augustus 1975) en monument (op 10 Oktober 1975) is moontlik gemaak deur privaat inisiatiewe wat probeer het om Afrikaans van politiek te skei; dit was egter die hoogbloei van wit Afrikanermag, wat beteken het dat die taal weer as ’n speelbal misbruik is.

Die monument het egter van meet af historiese taalfeite erken, veral omdat Afrikaanse skrywers en anti-apartheid aktiviste hul stem dik gemaak het. Die ikoniese beeldhouwerk op die Paarlberg lê sterk klem op Afrikaans se Afrika-herkoms en die simboliek is klokhelder dat die toekoms van Afrikaans in Afrika is, met ander Afrikane. Die opening van die monument het onder meer ’n voorlesing van Adam Small se Afrikaanse gedig “Nkosi sikelel' iAfrika” (“God seën Afrika”) en ’n koorfees wat ’n wye verskeidenheid Afrikaanssprekendes verteenwoordig het, ingesluit. Aan die ander kant is die amptelike toespraak deur die destydse apartheidspremier, BJ Vorster, behartig.

Museums as kulturele landskappe is openbare ruimtes wat as “kontaksones” beskou word waar uiteenlopende opponerende idees, opvattings en perspektiewe tot uiting kom. Afrikaans het boonop deels as ’n kontaktaal tussen verskillende taalgroepe ontstaan en besoekers bring hul eie vertolking en perspektiewe na die ATM. Permanente versamelings of tydelike uitstallings is ekosisteme of habitatte wat bestuur, ontwikkel, uitgebrei en soms teruggesnoei moet word. Die ATM poog om prosesse te fasiliteer en vennootskappe te vorm vir die versameling en bewaring van Afrikaanse gemeenskappe se voorwerpe, lewende erfenis en kultuurgebruike in situ. Ons is al vir ’n dekade aktief besig om onopgetekende Afrikaans en Afrikaanse leefwêrelde, veral in die Noord-Kaap, op te teken en in ’n digitale formaat vir die nageslag te bewaar. Uiteraard speel die museum self ook ’n belangrike rol met die bewaring en digitalisering van ongelooflike Africana Afrikaanse manuskripte en ander bronne van inligting, waaronder die fassinerende rol van Arabiese Afrikaans.

Hierdie monument, en selfs die taal, is niks sonder die gemeenskap wat hier woon en die mense wat Afrikaans praat nie. Daarom bied ons pieknieks ten behoewe van die “Laat ons Lees!”-geletterdheidsprojek vir kinders en ’n drafkompetisie vir die Boland Skool vir Outisme aan, en bied ons ook aan studente die kans om werkservaring by die monument op te doen. Elke week kom skoolgroepe van ’n wye verskeidenheid sosio-ekonomiese en taalagtergronde om meer oor Afrikaans se ontstaan te leer en die natuurskoon te ervaar. Ons herdenk verskeie nasionale en openbare dae, soos 16 Junie, en vanjaar het ons op Afrikadag gratis toegang aan alle buitelandse Afrikane in Suid-Afrika gebied.

Dit lyk asof die Taalmonument toenemend as ’n moet-sien toerisme-attraksie deur binnelanders en buitelanders beskou word. Deur die skep en handhawing van die bogenoemde besoekerservarings en -dienste wil ons die ATM uitbou tot ’n dinamiese en inklusiewe instelling wat die talige diversiteit van Afrikaans bevorder in die konteks van ’n veeltalige gemeenskap.

Ek moet pa staan vir ’n instelling wat sommiges steeds in ’n negatiewe lig beskou, maar vir hulle vra ek om met ’n oop gemoed ’n draai te kom maak. Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan fokus op wat Afrikaans en die ATM nog altyd veronderstel was om te wees. As my pa, wat baie onder apartheid moes ontbeer, hier was, sou hy ’n lewende getuie kon wees van hoe tye verander het. En hoe Afrikaans ’n integrale, opbouende deel van ons land se toekoms is; iets wat hy sterk ondersteun het.

Vrae oor die toekoms van die ATM

Wat is die agtergrond van die Taalmuseum?

Rakende die instellings se ontstaansgeskiedenis, veral die museum s’n, kan daar wesenlike parallelle getrek word met die geestesingesteldheid van wit Afrikanernasionaliste gedurende daardie tyd. Die sosiale en ruimtelike konteks is uiters belangrik, aangesien dit die tuiste van die beplande museum en monument, sowel as die kommunikasiestrategieë, sou bepaal as terreine van kulturele herinneringe en viering van Afrikaner-identiteit.

Hoewel Afrikaans nie spesifiek in die Paarl ontstaan het nie, was die keuse vir die huisvesting van die Taalmuseum ’n baie spesifieke een gegewe dié konteks. Dit was die huis van Gideon Malherbe, een van agt stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat 14 Augustus 1875 in die eetkamer byeengekom het om ’n vereniging te stig wat sy merk op die Suid-Afrikaanse landskap sou laat. Die GRA wou Afrikaans (nie Nederlands nie) as ’n erkende, amptelike taal op alle terreine van die samelewing bevorder. Hulle was ook teen die verengelsingsbeleid en die latere besetting van die twee Boererepublieke gekant. Die oprigting en die totstandkoming van die museum het die tradisies van kultuurhistoriese museums in 1960’s en 1970’s gevolg. Die fokuspunte was die aanwending van artefakte as tasbare bewyse om “geloofwaardige” verbintenisse met die politiek, ekonomie en gedeelde geskiedenis van die wit Afrikaner te skep.

Sedert die vroeë 2000’s fokus die museum egter op ’n narratief van ’n gedeelde taalherkoms en viering van talige diversiteit deur middel van verskeie mediums.

Wat is jou gevoel oor die uitstallings en volhoubaarheid?

Uitstallings moet konteks verskaf, inligting ontsluit en mense prikkel om merkwaardige artefakte of literatuur in ons kultuurlewe te verken. In ons pogings met die uitbouing van ons bestaande versameling moet ’n groter poging aangewend word vir erkenning en insluiting van die ryk erfenis en inheemsekennisstelsels van alle Afrikaanssprekendes. As ’n kulturele fasiliteerder wil ons, sonder om ons mandaat en kernfunksies te verander, ’n wesenlike bydrae lewer in die daarstelling van ’n volhoubare samelewing. Die ATM dra by tot die ontwikkeling van menslike vermoëns, opvoeding en nasiebou .

Voorts sien ek ’n instelling wat volhoubare rapportering nastreef; nie net in terme van die finansiële ekonomiese balansstaat nie, maar ’n drievoudige balansstaat wat die sosiale, ekologiese en ekonomiese impak van werksaamhede insluit. Volhoubaarheid kan ekonomiese doelwitte komplementeer en ’n balans moet dus tussen die ekonomiese doelwitte, die omgewing en die samelewing geskep word. Ons missie sluit in om die instelling as ’n leidende en gerekende rolspeler in die erfenissektor te vestig.

Hoe wil julle toegang tot die ATM vergemaklik?

Ons het dit reeds vergemaklik vir gestremdes en blindes, en ook oudiogidse in ses tale, onder meer Xhosa en Frans, geskep om die boodskap beter oor te dra. Voorsiening moet gemaak word vir groter universele toegang ten opsigte van besoekers met spesiale behoeftes (fisiek-, sig-, gehoor- en intellektueel gestremdes) asook finansiële hulp of vervoer vir onder meer vir behoeftiges, senior burgers en leerders, en ander instellings. Om groter sigbaarheid in ander provinsies te bewerkstellig, kyk ons na virtuele portale, beskikbaarstelling van inligting deur elektroniese media, uitreikprogramme, asook satelliet- en reisende uitstallings. Derhalwe sal bestaande strategiese bondgenootskappe met ander instellings onderhou word en pogings aangewend word om dit na ander potensiële vennote uit te brei.

Watter impak gaan die aanbevelings in die voorgestelde witskrif vir kuns, kultuur en erfenis en nasionale museumbeleid op jul werksaamhede hê?

Die voorgestelde witskrif fokus grootliks op die transformasie, herstrukturering van die erfenislandskap, effektiewe bestuur en lewering van dienste aan voorheen benadeelde gemeenskappe binne die genoemde sektore. Vanweë die afhanklikheid van staatsbesteding wat nagenoeg 70% van die ATM se begroting beloop, word daar van dié openbare entiteit verwag om uiting te gee aan die nasionale strategiese doelwitte soos uiteengesit in hoofstuk 15 van die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030. Dit het ons gedoen deur ons visie, missie en aksies op een lyn te bring met die departement s’n.

  • Die ATM is ’n skedule 3A openbare entiteit ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur van 1999 (PFMA) en is geproklameer in terme van die Kulturele Instellingswet, 1998 (Wet 119 van 1998). Dit is ’n nasionale instelling waarvan die tema fokus op die vestiging en ontwikkeling van Afrikaans. Die minister vir kuns en kultuur stel ’n nie-uitvoerende raad aan wat ’n oorsigrol oor die implementering van beleid en strategiese aangeleenthede vervul. Die instelling doen verantwoording aan die minister, Nasionale Tesourie en die parlement van die Republiek van Suid-Afrika.

Die ATM se visie is om dit tot ’n dinamiese en inklusiewe instelling uit te brei wat die talige diversiteit van Afrikaans bevorder binne die konteks van ’n multikulturele samelewing.

Die missie van die ATM is om:

  • Die diversiteit van Afrikaans deur inklusiewe programme en aktiwiteite te bevorder.
  • Inligting te digitaliseer om dit beter te bewaar en toegang daartoe te verhoog.
  • ’n Omgewing te skep waarin verskillende rolspelers en agente van Afrikaans met mekaar in gesprek tree om maatskaplike samehorigheid te bewerkstellig.
  • Uit te reik na ander taalgemeenskappe en entiteite deur opvoedkundige programme en kulturele aktiwiteite.
  • “Miskende” of verplaaste geskiedenisse van Afrikaans na te vors en ’n verskerpte fokus op Afrika-epistemologieë en -kennisleerstelsels te plaas as deel van ’n groter dekoloniseringsproses.
  • Wedersydse respek en verdraagsaamheid tussen lede van die Afrikaanse taalgemeenskap te bevorder om sodoende ’n sterker gedeelde kulturele identiteit te help skep.
  • Die ATM op gesonde en deursigtige finansiële en administratiewe beginsels te bestuur wat die instelling sal vestig as ’n leidende en gerekende rolspeler in die erfenissektor.
  • Afrikaans se diverse taalerfenis, kultuurhistoriese geboue en erfenisterreine te beskerm en te bewaar.
  • Verskeie kulturele groepe deur werkswinkels en programme te bemagtig
  • Die personeel en groter gemeenskap te bemagtig.

Die ATM streef na die welstand van Afrikaans in die Suid-Afrikaans gemeenskap. In hierdie gees wil ons Afrikaans bevorder en ondersteun, veral onder die jeug en niemoedertaalsprekers. Ons poog voortdurend om wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bevorder deur onder meer die invloede van die verskillende tale op mekaar te erken.

Die ATM se waardes sluit in:

  • Die nastreef van hoë vlakke van integriteit, betroubaarheid, deursigtigheid en professionaliteit in wat ons doen.
  • Om verdraagsaam en respekvol in ons omgang met kulturele groeperinge en ander tale te wees.
  • Die nastreef van uitnemendheid in ons werksomgewing en in dit wat ons aan die publiek aanbied.
  • Om by te dra tot die bemagtiging van die Suid-Afrikaanse samelewing.
  • Om skeppend en innoverend te wees in terme van die programme en aktiwiteite wat ons aanbied.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top