Die afgesaagde swart gevaar-foefie – Chris

  • 0

Chris. Jy skryf: “Watse toekoms staar die blankes en sy nageslag in die gesig in RSA ?”

Die antwoord is eenvoudig. Die toekoms wat blankes self vir hulself hier in SA uitkerf, en soos dit vir my lyk, lyk die toekoms vir hulle heel rooskleurig, nie aan die ANC te danke nie, maar wat blankes steeds op elke terrein van die samelewing besig is om vir hulsel en ten goede vir die breër samelewing te verrig.

Jy sanik selektief oor sekere negatiwiteite in hierdie land, jy sê daar is geen oplossing in die DA te vinde nie en die feit dat dit mettertyd ’n oorwegende swart party gaan word (en wat daarvan?), maak van dit ook in jou oë outomaties ’n soortgelyke ANC (nie waar nie).

Jy vra ’n klomp gelaaide vrae, waarvan jy self geen antwoord of oplossing aanbied nie. Dit is heel duidelik jy is anti-swart, gekant teen die multikulturele samelewing waarin jy jou bevind gekant en een van daardie Afrikaners wat verewig net skoorsoek. Die soort Afrikaner wat ’n slegte smaak in die meerderheid Afrikaner se monde laat, eintlik vir hulle ’n erge verleentheid is, die soort wat Yuri raak beskryf as: “Dit is daardie rou, rassistiese baasskap-mentaliteit van ’n MINDERHEID Afrikaners wat swartes koud teenoor Afrikaans laat.”

FEITE VIR NADENKE OU!

Die Afrikaner is ’n krimpende volk. Sy getalle kwyn as gevolg van kleiner gesinne en emigrasie. Nie die swartes se skuld nie.

’n Volkstaat sal jy nooit kry nie. Logisties is dit nou onmoontlik en onhaalbaar, nie omrede die swartes dit van die Afrikaner weerhou nie, maar omrede die oorgrote meerderheid Afrikaner deur die stembus te kenne gegee het hy soek dit nie.

Kultureel doen die Afrikaner sy eie ding suksesvol, en daar is weinig wat enige vyandiggesinde daaraan kan doen. ’n Algemene trots op Afrikanerskap is so sterk as ooit tevore.

Die DA se funksie is nie om die Afrikaner of enige blanke saak te bevorder nie, maar uitsluitlik, tesame met ’n meerderheid swartes, Indiërs, kleurlinge en blankes (wat Afrikaners insluit), die rassistiese ANC party te ontsetel, en ’n vreedsame multikulturele alternatief daar te stel.

Dat die Afrikaner homself feitlik in ’n politieke multikulturele staat bevind is ’n uitdaging vir hom om dienooreenkomstig aan te pas vir oorlewing, net soos die setlaar van die 17de eeu, die trekboer, van die 18de eeu, die Voortrekker van die 19de eeu en die arm-blanke van die 20ste eeu heel suksesvol gedoen het. Hulle het nie teruggesit en heeltyd soos jy, gesanik nie, hulle het iets daadwerkliks gedoen om hulle lot te bevorder en te verbeter. Die 21ste eeu bied nuwe opwindende uitdagings vir die Afrikaner, wat nuwe strategie vereis, en daar is Afrikaners wat heel suksesvol daaraan werk soos AfriForum.

Word deel van die Afrikaner oplossing ou, en nie deel van sy probleme nie!

Jaco Fourie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top