Die aarde is ’n eierblou ark
Susan Smith
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307167
Susan Smith debuteer in 2012 met die bundel In die afwesigheid van sin (Protea Boekhuis). In haar debuutversameling was die oorkoepelende tema singewing of sinskepping, wat in verskillende mates van intensiteit in die vier afdelings van die bundel verwerk is.1 In haar tweede bundel, Die aarde is ’n eierblou ark, fokus die digter op dit wat in haar debuutbundel beperkter aandag ontvang het: die omgewing.
Die kort openingsgedig van Die aarde is ’n eierblou ark (11) suggereer reeds aan die leser hoe die omgewing in hierdie bundel benader gaan word:
huls
die droë peul knal naatlangs oop
die halwe huls ’n ligte boot
waarin ’n klein swart alfabet
van sade stroomaf
na ’n beskutte hawe vaar.
Die metafoor van die aarde as ’n ark word hier vir die eerste maal gebruik, en dien as die raamwerk wat talle ander gedigte in die bundel ondersteun. Hierdie ark is nie bloot ’n ark wat net oor die see vaar nie, aangesien die hooftema wat die digter se eerste bundel gekenmerk het – singewing en sinskepping – ook weer hier opgeroep word. In ’n saadpeul wat stroomaf dryf, sien die digter “’n klein swart alfabet”. Dit is hierdie alfabet wat die saadpeul betekenis gee, en sy betekenis opteken, om uiteindelik na “’n beskutte hawe” te vaar waar hierdie saadjies hopelik weer bome sal word.
Die beeld van die skip, eenvoudig uitgebeeld in “huls”, word voortgesit in die tweede gedig, “eierblou ark”, waaruit die bundeltitel geneem is (12). Die aarde word geskets as iets wat nie staties is nie, maar as ’n tuig wat “deur die melkweg veer”. Die skakeling van die opeenvolgende gedigte maak die kompleksiteit van die aarde in die groter heelal vergelykbaar met die eenvoudige saadpeul en saadjies in die stroompie. Die nosies van enersyds die ondenkbare grootheid van die heelal en andersyds die piepklein peul word gelykgestel en gevolglik opnuut vreemd gemaak.
Die gebruik van die woord ark in die titel sinspeel nie net op die gedagte van die Bybelse watertuig nie, maar roep ook die beeld van die heilige reliek op. Sodoende word die natuur tot heiligdom verhef, soos in die gedig “mangliet” (22):
in vleesblare dreunsing sappe
’n namiddagkoraal
lugwortels vinger opwaarts
in ’n ademende pyporrelingleef met die voete
fluister die heiligste boom
fluister die water
fluister die borrels lugin die klam geheue
van ’n onderaarde-bestaan
vermoed die vrou haarself
reeds ’n witmangliet’n druipende sterkandelaar
wat die twyn van oergeskiedenisse
in vlegsels mos vergaar
’n drifselbehangde houtkatedraal.
Kerklike beelde word hier een na die ander opgenoem, van die “dreunsing” tot die “lugwortels” wat na bo “vinger” in ’n “pyporreling”, totdat die mangliet saamgevat word as ’n soort “houtkatedraal” met “’n klam geheue.” Laasgenoemde frase sal die oplettende leser herinner aan die gedig “quinera” (67–70) in In die afwesigheid van sin, waarin die gelyknamige Oos-Kaapse rivier as “’n klam geheue/ van al die voortye” beskryf word.
Die verhewe aard van die natuur en gepaardgaande sinskepping word in talle ander gedigte in Die aarde is ’n eierblou ark voortgesit, en word tot ’n klimaks gevoer in die gedig “ark” (89), waarin die interafhanklikheid van die mens en natuur geprojekteer word op die verband tussen enersyds plante en diere, en andersyds die mens se natuurbenamings en drang om sin te skep. Die gedig word voorafgegaan deur ’n aanhaling van Carl Linnaeus, die vader van die moderne botaniese nomenklatuur: “As die name onbekend is, gaan ook die kennis van dinge verlore.”
ark
waarin ons saam oor die geheuebank
vaar waarin ek paar-paar uit Linnaeus se drie naamryke
vergaar:kamassie-soet kleinpypgras en harsgeurige
kasuur die ligweergewende
skubbe van rivierspringers
strepies en seisoenale besoekers
die halfmaan-skoenlappervis
metamorfies ingeklipte
kwartsiet en lidianiette water laat
in ’n gevlegte boot van gras en taal.
Hierdie en ander gedigte in die bundel wen aan nog talle mooi beelde en beskrywings: Die gedig opgedra aan Sylvia Plath, “tuin van mondings” (33–4), spreek as ’t ware in diep kleure, terwyl die onthutsende “renosterveld” (37) tematies in gesprek tree met Marlene van Niekerk se “Teorie en praktyk van die digkuns in ’n era van aardgas” (Kaar, 2012:172–4).
Hier en daar blyk dit ongelukkig dat die digter nog te maklik ingegee het aan maklike woordspel en beelde. In “uit die lewe van bye” (31) word die ars poëtikale stramien wat die gedig onderskraag, ondermyn wanneer die werkerby “’n zoemende rymelaar” genoem word “wie se lyf/ in tale praat”:
sy ruimtegeheue is sy landkaart
sy kompas drieledig
die son
die aardmagneet
die polariserende patrone
van blou lugligging lees hy
uit hierdie lig.
Veral die woordspel in die laaste drie reëls doen gedwonge aan, en die indrukwekkende gewoontes van die heuningby word nie deur die gedig vasgevang nie.
Die beeld van die vrou, en veral dan van die natuur en God as vroulik, wat ’n sterk tema in In die afwesigheid van sin is, word ook weer hier gebruik. In “water (II)” kom hierdie geykte beeld voor in die reëls “ek draai my gesig na U/ sien in die transparante lig/ fyngenerfde vlegwerk/ Abba-Moeder God-wat-Is” (57). Hierdie swak punte kontrasteer ongelukkig taamlik duidelik met die grootste gros goeie gedigte in die bundel.
In Die aarde is ’n eierblou ark toon die digter ’n verfynde ekokritiese bewustheid, en in teenstelling met haar debuut vertoon hierdie bundel ’n baie hegter tematiese eenheid. Uiteindelik is dit die sterker beskrywende gedigte in hierdie bundel – en nie die enkele swakkeres nie – wat ’n blywende indruk op die leser maak. Die natuurfokus en die gedigte se ingewikkelde skakels met aspekte van Smith se debuutbundel dien as belofte op nog diepgaande digterlike verkennings van die aarde.
1 Sien my LitNet Akadmies-resensie-essay oor In die afwesigheid van sin.