


Ingrid Winterbach word gelukgewens met die Groot Roman en daar word na resensies verwys:
Joan Hambidge in Die Burger
"Die nimlike Crito"
Christel Stander in Rapport.
Voordat die gesprek tussen Ingrid W en Louise V afskop, word die volgende Groot Roman-wedstryd aangekondig. Vanaf 1 Januarie 2014 ontvang NB-Uitgewers graag weer manuskripte vir hul volgende romankompetisie, met die grootste pryse op die spel in enige skryfkompetisie in die land.
Daarna luister ek na die gesprek tussen Ingrid W en Louise V. Ek sit te ver agter en met ’n uitsig te veel versper om die gesprek te kan sien.


Louise Viljoen vra eerstens vir Ingrid oor die aspekte van die skryfproses. Sy benadruk dat sy nie wil vra oor die interpretasie van die teks nie, want sy meen skrywers wil dit aan die lesers oorlaat.
Ek hoor Ingrid instemmend hierop knik.
Die verhaal is twee verhale, vertel Ingrid: die verhaal van Karl Hofmeyr en van Maria Volschenk. Albei van hulle onderneem reise vanaf Durban na Kaapstad. Daar is een raakpunt, één gemeenskaplike mens wat hulle albei ken.
Ingrid gesels oor ’n toneel wat nooit plaasgevind het nie, een waarvan sy baie gehou het. Louise wil ook graag daardie toneel lees, is duidelik uit haar reaksie. Sy stel voor dat Ingrid ’n addendum skryf met die ekstra toneel (dit klink soos ’n toneel tussen Joy Parks - die masseuse - en ’n vreemdeling, ’n enigmatiese man, wat nooit plaasgevind het nie).
Ingrid stel laggend voor sy skryf die addendum vir die volgende druk.
Louise Viljoen vra oor die vertel-tegniese aspekte van die skryf.

Sy peins eers en kies dan haar woorde, soos wat sy dit deurlopend doen, ook wanneer sy skryf: met net die nodigste byvoeglike naamwoorde.
Ingrid: "As ’n mens sukkel met plot, help ’n reis."
Op persoonlike front was sý, Ingrid, besig om ’n reis te beplan. ’n Trek. Vanaf Durban, waar sy en haar gesin 21 jaar lank gebly het, na Stellenbosch.
Die skryf van haar karakters en haar intrige onafwendbaar beïnvloed deur haar persoonlike lewe. Soos dit gaan met skrywers, voeg sy by: die storie ontstaan nie in isolasie nie. Waar die skrywer hom bevind, gaan ’n simboliese ruimte wees waar die karakters hul bevind - of ’n reaksie daarop.
Louise vra haar oor ruimte en Ingrid praat oor die kontras tussen Durban se welige hitte en Stellenbosch se andersheid.
En toe praat sy oor Maria Volschenk se allesoorweldigende leegheid. Die leegte.
Waarom my woorde aan Ingrid Winterbach oor die "wonnerlike titel" so lomp en onvanpas sou wees, blyk duidelik uit die paar sinne tussen Louise en Ingrid wat hierop volg.
Dit nadat sy en Louise gesels het oor die titel waaronder die manuskrip voorgelê is (Die leegte). Ingrid se eerste keuse bly steeds Die leegte, maar die gevoel was dit is te negatief vir ’n lesersmark.
Louise verwys na Christel Stander se resensie en die "polsende rock-klankbaan" tot die roman, waar die rock-liefhebber ter sprake is. Hoe het sy hieroor navorsing gedoen – is sy self ’n liefhebber van hierdie musiek?
Ingrid glimlag (onsigbaar): Nee, maar ’n mens hoef nie dieselfde hartstogte as jou karakters te hê nie.





Ware eerste indrukke: En toe, die boek self, die aand na die bekendstelling al. Met die lees van die eerste paar bladsye begin die boek se lewende wesens my insleep.
"Was dit hierdie vroeë skoolervaring, bied dit dalk ’n sleutel? Miskien een van baie sleutels? Skool was nie vir die fyngevoeliges of teerhartiges nie. Sommige van die kinders het vir haar sleg geruik: na vissmeertoebroodjies, na galsterige botter, na pie. Mevrou Roodt, hulle graadtwee-onderwyseres, het op ’n dag haar eie kind uit sy bank gepluk en hom ’n verdomde loesing gegee, ten aanskoue van die verskrikte klas. Mevrou Roodt het witblonde, gekartelde hare gehad soos ’n mofskaap (Maria het haar ma-hulle hoor sê mevrou Roodt is baie ouer as haar man.) Sy het pêrels en ’n hemprok met driekwartmoue gedra, waarvan Maria nog die wollerige tekstuur onthou. Haar maatjie Dalena het ’n keer vir Maria gefluister dat mevrou Roodt groot tieties het.
Is dit waar dit begin het, in haar eerste skooljare - in vaal, depressiewe juffrou Hendrikse se graadeenklas, in mevrou Roodt met die skaaphare en groot tieties se graadtweeklassie? Vroeë verwonding en verdriet, want skool was ’n mynveld van reuke en onvoorspelbare (dikwels wrede en inkonsekwente) optredes van onderwysers sowel as kinders." (bl 40)
Ek vermoed elke keer wat ek hierdie boek gaan neersit, gaan dit dieselfde probleem wees. Wanneer gaan ek hom weer kan optel?
Ek lees dit reeds soos ’n verslaafde. Ek gee klaar te veel om vir die karakters. As ek dit gaan moet neersit omdat ek ongelukkig klaar is daarmee, weet ek wat in my gaan bly. Die oorspronklike titel van die boek. Alhoewel die boek my opvul en lank in my sal bly, sal ek, as die boek uit my dag weg is en ek dit klaar gelees het, inderdaad agterbly met die leegte.


