LitNet Akademies-resensie-essay: Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach – 'n Postmoderne quest-verhaal

  • 1

Die aanspraak van lewende wesens
Ingrid Winterbach

Human & Rousseau
ISBN: 9780798157063
Koop Die aanspraak van lewende wesens by Kalahari.com

Die aanspraak van lewende wesens as reisverhaal

’n Mens kan jou nie ’n roman indink waarin reis nie ’n rol speel nie – soms ’n ondergeskikte rol, soms ’n dominante een. Die reistema bied allerlei boeiende moontlikhede vir ’n romanskrywer. Karakters wat nuwe ruimtes betree, ontdek nuwe lewensmoontlikhede wat tot verrassende keuses aanleiding kan gee; die reis kan nuwe insigte en ontwikkelinge by die reisiger meebring. Reise is meestal doelgerig – daar is ’n bestemming wat bereik en ’n doel wat verwesenlik moet word; die reis kan daarom eindig in sukses of mislukking. Al hierdie moontlikhede kan ’n bydrae lewer tot die spanningselement wat noodsaaklik is om die belangstelling van die leser te behou.

Ingrid Winterbach se roman Die aanspraak van lewende wesens kan as reisverhaal getipeer word omdat reise so ’n dominante rol daarin speel.

Daar is twee verhaallyne wat albei met ’n reis te make het. Karl Hofmeyr kry ’n oproep van Josias Brand, eienaar van ’n plaas aan die voet van Tafelberg waar randfigure ’n herstelkans gegun word, en waar Karl se broer Ignatius (Iggy) hom bevind. Volgens Josias het Iggy egter nou ontoerekenbaar geword, en hy dring daarop aan dat Karl sy broer moet kom haal. In die tweede verhaallyn is Maria Volschenk op reis na Stellenbosch om te probeer uitvind waarom haar suster Sofie selfmoord gepleeg het; en op ’n tweede reis is sy op pad na haar seun Benjy, wat in Kaapstad woon en in ’n krisis verkeer. Die reise in die twee verhaallyne begin albei in Durban en eindig op Josias se plaas.

Verskeie vrae, moontlikhede en verwagtings word deur die reise geskep. Wat is met Iggy verkeerd? Gaan Karl vir Iggy vind, die rede vir sy aggressiwiteit agterkom en verligting in sy broer se situasie bring? Wat sou die rede vir Sofie se selfmoord wees, en sal Maria agter die waarheid kom? Wat is die probleem met Maria se seun, en sal sy hom in sy nood kan help? En verder: beide Maria en Karl het ’n geskiedenis van mislukte verhoudings; Maria ervaar tans ’n psigiese leegte en Karl is oorgelewer aan allerlei irrasionele angste – sal hul reise hulle by mekaar uitbring en die geluk skenk wat hulle steeds ontwyk? In watter mate sal die verskillende reise in sukses of mislukking eindig?

Na aanleiding van die veranderinge wat die reise meebring, sal ek kyk na die openbaring van die ruimtes waardeur die reisende karakters gaan en die selfopenbaring wat daarmee gepaard gaan; die mate waarin die doel van die reis verwesenlik word; en die veranderinge wat by die hoofkarakters plaasvind in die loop van die reis.

Die reismotief in Die aanspraak van lewende wesens sluit aan by ’n eeue oue motief in die literatuur, naamlik die quest-motief. Helaas het ons nie ’n Afrikaanse ekwivalent vir quest nie. In Nederlands word van ’n queeste of queste gepraat – moet ons dalk hierdie verlore woord in ons taal opneem? Ek het ’n óú metgesel van my, H van Gorp, se Lexicon van Literaire Termen nader getrek en daardeur geblaai om te kyk wat oor queeste geskryf is. Ek gee ’n samevatting en parafrase van die dinge wat direk op Winterbach se roman van toepassing is.

Die quest vorm die kern van die sogenaamde ridderromans, waarin die hoofse wêreld van die Middeleeue weerspieël word. In die ridderromans gaan die ridder op ’n soektog (quest), wat die belangrikste struktuurelement vorm in ’n andersins episodies-opgeboude verhaal. Die doel van die quest is om die orde wat versteur is, te herstel; om die hoofse waardes uit te dra na ’n buitewêreld wat arm aan norme is. ’n Bepaalde tipe ridderroman is die sogenaamde graalroman, waarin die graal die doel van die soektog is. Oor die oorsprong van die graalmotief is daar onsekerheid, maar een moontlikheid is dat dit teruggaan op die soeke na die legendariese “steen der wijzen”. In die ridderromans word die graalmotief verchristelik, en is die graal die beker wat Jesus tydens die Laaste Avondmaal gebruik het, of die skottel waarin Josef van Arimatea die bloed van Jesus opgevang het. Die quest is dus ’n soektog na iets van besonderse waarde; daar is struikelblokke wat oorkom en vyande wat verslaan moet word; dit stel besondere eise aan die krag en volharding van die ridder.

Die aanspraak van lewende wesens sluit nie alleen by die queste van die ridderromans aan nie; dit herinner ook aan Christelike reisverhale soos die 17de-eeuse The Pilgrim’s Progress van John Bunyan, wat handel oor die mens se reis van die aarde na die hemel en uitstippel wat nodig is om veilig te kom by die doel van die reis, die hemelse bestemming.

Winterbach se roman bevat vele eggo’s van hierdie vervloë wêreld. So is daar byvoorbeeld die tema van die siel van Ignatius wat bedreig word deur demoniese magte en gered moet word. Die hoofkarakters reis ook by Winterbach deur ’n wêreld waarin die orde versteur is, en daar word gesoek na waardes wat dit kan herstel. Dit is wesentlik ’n speurtog na die “steen der wijzen”, die sleutel tot die alchemistiese transformasie van die mens. Soos in Bunyan se Pilgrim’s Progress word daar gesoek na die essensies van die lewe en na etiese rigsnoere wat kan standhou.

Maar Die aanspraak van lewende wesens het nie net ’n Middeleeuse en 17de-eeuse aanslag nie; dit is ook ’n postmoderne werk, gevul met ambivalensie, onsekerheid en ironie. Dit is inderwaarheid ’n postmoderne quest-verhaal.

Argief van die onbewuste

Ek kry dikwels die indruk dat die werk van Ingrid Winterbach in gesprek verkeer met die oeuvre van Etienne Leroux. Winterbach se roman het raakpunte met Leroux se Die derde oog: in albei gevalle gaan dit om ’n reis wat dieper wil dring as waartoe die oppervlakkige rasionalistiese samelewing bereid is; ’n reis op soek na die sin van die lewe en die wese van goed en kwaad. Verder bevat Die aanspraak van lewende wesens, soos Magersfontein, o Magersfontein! en Onse Hymie, ’n protes teen die oppervlakkige rasionalisme van die tyd. Ook word Winterbach se werk, soos dié van Leroux, sterk gekenmerk deur ironie en ambivalensie. Hierdie roman het my veral laat dink aan Sewe dae by die Silbersteins, wat, soos Die aanspraak van lewende wesens, handel oor ’n reis waarin die individuele en kollektiewe onbewuste tot openbaring kom; die vreemde plaas van Josias Brand het my herinner aan die Silbersteins se Welgevonden – wat nie slegs ’n plaas is nie, maar ook ’n mikrokosmos bevolk met tipes uit die hedendaagse samelewing sowel as argetipes uit die onbewuste. Let wel, die verband met Leroux is geen swakheid in Winterbach se werk nie – die “gesprek” voeg ’n ekstra boeiende element by haar oeuvre.

Die twee hoofkarakters reis albei na Josias se plaas. Dit is, volgens die getuienis van Jacobus Coetzee wat op die plaas woon , “’n Pleegplaas, standplaas, varkplaas [...] waar die slaap van die rede monsters voortbring” (12). Op die plaas kan dus, deur die “slaap” van die rede, die “monsters” van die onbewuste tot openbaring kom.

’n Lesingreeks wat Maria oor die naakfiguur in die kuns bywoon, sluit hierby aan. Dit is veral die naakfiguur as beliggaming van ekstase wat ter sake is:

Die naakfiguur as beliggaming van ekstase doen afstand van die wil – die liggaam word in besit geneem deur een of ander irrasionele mag. Saters, bos- en seenimfe verteenwoordig in die Griekse verbeelding die irrasionele elemente van die menslike natuur, die oorblyfsels van die dierlike impuls wat die Olimpiese godsdiens probeer sublimeer of tem het. (42-3)

Die reise in die roman is ontdekkingsreise wat indring in die domein van die onbewuste. Die soeke van Karl en Maria na Iggy en Sofie openbaar konflikte en verlangens wat in die hedendaagse rasionalistiese en sekulêre samelewing verdring word – die stryd teen demoniese magte by Iggy, die spirituele verlange by Sofie. Sterk emosioneel-gekleurde werklikhede wat in ons tyd veelal bedek of geïgnoreer word, word hier blootgelê: die werklikhede van leegheid en verlange; van woede, aggressie en frustrasie; van verganklikheidsbesef en, gepaard daarmee, spirituele verlange. Die reise in die roman bring ongekaarte wêrelde in kaart; dit bou ’n argief op van die individuele en kollektiewe onbewuste.

Verlore woorde

Koop Die boek van toeval en toeverlaat by Kalahari.com
Koop Die benederyk by Kalahari.com

By die aanvaarding van die CL Engelbrecht-prys vir Die boek van toeval en toeverlaat het Ingrid Winterbach die volgende opmerkings gemaak:

’n Mens wil nog iets kan sê oor die ewige dinge – maar dit word steeds moeiliker. Ons bemoei ons deesdae nie meer met die ewige nie, dit het ’n té relatiewe begrip geword. Dit het verdring geraak deur kennis van die eindigheid van alles – selfs van die uitdyende heelal. Al wat oorbly, is om die lieflike woorde van die sterflike taal aan die agterpoot te probeer beetkry, voordat hulle soos meerkaaie, soos jakkalse, in die erdvakgat verdwyn. Dorskuur en dorsnood, dos, douraam, doodsjordaan en doodvalsiekte. Begrafnisbanket en bedroewend. Edelmoedig en erbarming. Erbarming, so lieflik, die woord, en net soos ewigheid, in onbruik verval.

Woorde wat in onbruik verval, hou verband met begrippe wat verlore gaan, waardeur die lewe verarm word. Die skrywer se taak is, volgens die bostaande aanhaling, om “die lieflike woorde van die sterflike taal aan die agterpoot te probeer beetkry”, om dit wat verlore geraak het, te probeer red. “Aan die agterpoot beetkry” suggereer dat dit wat verlore is, vandag nie meer maklik teruggekry kan word nie; dat hulle half verlore is en tog nie heeltemal laat vaar mag word nie.

Dit is veelseggend watter woorde en begrippe Winterbach hier aandui: onder andere “dood” en “ewigheid”, “bedroewend” en “erbarming”. Dit is almal woorde wat in Die aanspraak van lewende wesens ’n belangrike rol speel. Erbarming is die dryfveer vir die reise wat die twee hoofkarakters onderneem; deur erbarming word kennis geneem van en gereageer op die aanspraak van ’n naasbestaande. Die dood is van wesenlike belang in die verhaal, onder andere in Maria se soeke na haar gestorwe suster; en “sterflikheid” gaan gepaard met ’n teenstellende begrip, naamlik “ewigheid”.

In Die aanspraak van lewende wesens word die kwessie van woorde wat verlore gaan, eksplisiet genoem: “Sy wonder of sy behoefte aan ’n ander woordeskat het: Ootmoedig. Swygsaam. Noulettend. Vergifnis, suiwerheid, berou” (41).

In die roman word ruimskoots gebruik gemaak van ’n religieuse woordeskat om oor wesenlike aspekte van mens-wees te kommunikeer. Die romanwêreld word bevolk deur redders en demone; daar is siele wat gered word en ander wat verlore gaan. Daar is iets Middeleeus-Christelik in die voorstelling van die plaas van Josias, en in sonderheid van die worstelstryd van Iggy. Dit het my laat dink aan die skilderye van ’n Middeleeuse skilder soos Giotto, byvoorbeeld Die laaste oordeel. (Dit is interessant dat daar herhaaldelik in Die benederyk waarderend na Giotto verwys word; en in Die aanspraak van lewende wesens is Sofie ook vol bewondering vir sy werk – bl 120.)

Die laaste oordeel van Giotto

Detail uit Die laaste oordeel van Giotto – 'Die hel'.

Iggy se stryd

Iggy se stryd word uitgebeeld met behulp van woorde en begrippe wat vandag byna verlore geraak het. Dit gaan om die redding van Iggy siel, om ’n worsteling teen demoniese magte, gevare van die hel en onsigbare spirituele werklikhede agter die waarneembare werklikheid. ’n Geheimsinnige man, Joachim, ontmoet vir Karl op sy reis en praat in hierdie half vergete taal met hom. Joachim het in ’n ski-ongeluk by die dood omgedraai, maar het oorleef – sy hande, wat persrooi is en na mismaakte kloue lyk, is die tekens van sy naelskraapse ontkoming. Nou kom hy, as’t ware uit die dood, na Karl met ’n “belangrike boodskap” oor sy broer: “Ignatius verkeer in doodsgevaar” (69). “Die opponerende magte is sterk. Hulle is uitgeslape en demonies.” (70) Ignatius is, volgens Joachim, aan die stry met “’n mag wat sluimerend in die hele skepping teenwoordig is”. (70) Joachim beklemtoon die kritieke toestand waarin Iggy verkeer: “Jy begryp dat Iggy se siel, sy wese, hier bedreig word, dat hy op die rand van ’n bodemlose afgrond beweeg, nè?” (70). Joachim vrees dat Iggy reeds in die Sheddim, die ryk van die demone, verkeer (71); sy situasie is gevaarlik juis omdat hy oor kennis van die spirituele wêrelde beskik – “kennis van [...] die wêrelde agter die waarneembare wêreld – [agter] die materiële of fisiese dimensie van realiteit, die laagste van die vier spirituele wêrelde” (71).

Is Joachim ’n profeet of ’n charlatan? Joachim opper self die kwessie teenoor Karl: “‘Jy dink ek praat nonsens, nè, jy dink ek is ’n freak en ’n charlatan,’ sê die man (for sure, dink Karl)” (72). Op Karl se vraag waarmee hy hom besig hou, kom sy antwoord: “Met die ware aard van dinge [...] met die waarheid agter die illusie” (72). Die gesprek word beëindig deur die binnekoms van drie mans, en Joachim gee sy telefoonnommer en ’n kaart aan Karl en verdwyn.

Sommige van Joachim se stellings, byvoorbeeld oor “die waarheid agter die illusie”, gee die indruk van valse sekerheid en grootheidswaan, maar daar is geen betroubare verteller wat ontwyfelbaar uitsluitsel gee oor die mate van betroubaarheid van Joachim se insigte nie. Joachim en Karl se sienings word naas mekaar gestel: Karl se skeptisisme teenoor Joachim se geloof aan onsigbare, spirituele kragte. Is Joachim ’n dwaas of ’n profeet? Is Karl se skeptisisme geregverdig of mis hy deur sy rasionalisme wesenlike aspekte van die werklikheid? Die leser word in onsekerheid gelaat.

Iets soortgelyks gebeur met die uitbeelding van Iggy se sielestryd. In die afdeling “Die senuwees van God” (165 ev) vertel Iggy van ’n bose man wat daarop uit is om hom stelselmatig skade berokken, na liggaam en siel (165) – hy verwys beslis na Josias, die baas van die plaas. Hy vertel verder hoe hy seksueel misbruik is (167). Aanvanklik klink sy verslag geloofwaardig, maar wanneer hy oor God praat, begin die leser wonder oor sy stabiliteit: “Maar God is uitslúitlik senuwees. Hierdie senuwees van God verbind Hom met alles in sy ganse skepping” (170). Is dit volslae onsin, of hou sy siening verband met die wyd-aanvaarde teologie van ’n God van erbarming wat saam met die skepping ly? Aan die einde van sy verslag raak Iggy egter kennelik die kluts kwyt:

Ek dink, ek weet dit trouens nou vir seker, dat God besig is om my te transformeer vir ’n hoër doel. God is besig om my in ’n vrou te verander, dit is die teken wat Hy my gegee het. Sodra die transformasie volledig is, sal ek onoorwinlik wees, en dit sal die einde van die Hoofman en sy verdorwe ryk beteken. (171)

Tog is dit nie heeltemal seker in watter mate Iggy waansinnig of diepsinnig of ’n komplekse mengsel van die twee is nie. Karl merk op dat Iggy se taalgebruik nie dié van ’n waansinnige is nie, “dat mens nooit van Iggy se taalgebruik sou kon aflei hoe geblaas sy kop is nie” (175). Iggy is sekerlik die spoor byster, maar “sê nou net die hélfte, net ’n fráksie, net ’n greintjie van wat Iggy sê, is waar, hoe onwaarskynlik en off the wall dit ook al klink?” (175).

Die moontlikheid dat Iggy seksueel misbruik is, word nie buite rekening gelaat nie. Wanneer Karl op die plaas van Josias aankom, vra hy vir Jakobus, wat daar woon, uit oor die moontlikheid van perverse praktyke, en Jakobus se antwoord is ontwykend:

“Maar perverse praktyke – jong, ek weet nie. Perverse praktyke,” en hy gee ’n kort laggie. “Josias sou dit miskien self ’n mooi beskrywing van sy aktiwiteite vind.” En hy lag weer, duidelik geamuseer deur die gedagte. As Jakobus so geamuseer is deur die idee, moet daar tog miskien ’n grein van waarheid in steek, dink Karl. (322)

Dit is nie ondenkbaar dat Iggy se begeerte om in ’n vrou te verander die gevolg is van seksuele misbruik nie – dat hy daardeur ’n afkeer van gewelddadige manlike seksualiteit ontwikkel het.

Josias se plaas is ’n ambivalente ruimte: dit skep die moontlikheid van redding óf ondergang. Die plaas is vir Jakobus ’n reddingsoord waar hy ’n holte vir sy voet vind; vir Iggy, daarenteen, is dit ’n “ryk van die varkhoewiges”, ’n domein van die Bose wat sy siel bedreig.

Jakobus verduidelik: “Daar is ewe veel goeie as negatiewe energie hier. Soms vat dit nie veel om die skaal te tip nie” (323). Dieselfde ambivalensie geld ook vir Josias, die baas van die plaas: “Josias is soos Charles Dickens, van alles wat jy oor hom kan sê, is die teenoorgestelde ook waar” (335). Die plaas is dus ’n mikrokosmos van die wêreld, waar redding sowel as ondergang moontlik is; Josias is ’n tipe ambivalente godsfiguur wat kan red of vernietig.

Albei hoofkarakters, Karl en Maria, ervaar ’n negatiewe energie op die plaas. Maria sien die varkkop met valletjieskraag wat vir Iggy die simbool van die uiterste boosheid is, die “siél van boosheid”, die “prins van die onderwêreld” (201); en ook sy ervaar dit as skrikwekkend: “Genoeg gesien. Dankie, sê sy vir Jakobus, dit is soveel as wat ek in een dag kan inneem” (293). Karl neem soortgelyke angsaanjaende dinge waar op die plaas: “Karl het [...] vir sy eie beswil en behoud besluit om nie te veel rond te kyk nie. Veral nadat hy die varkkop gesien het, het hy besluit om liewer nie in te zoom op alles om hom nie [...] bang om ingesuig te raak soos in ’n fokken tonnel waaruit hy nie weer kan ontsnap nie. Soos Iggy” (333-4).

Iggy is dus nie totaal die kluts kwyt wanneer hy negatiewe kragte op die plaas waarneem nie, kragte wat jou in ’n afgrond van die hel kan dompel. Die twee hoofkarakters se reaksies op die plaas ondersteun ten dele Iggy se ervaring – siele kan daar gered word of verlore gaan. Uiteindelik gee die roman geen uitsluitsel oor die vraag of die mens “werklik” ’n siel het wat gered kan word of verlore gaan en oor die vraag na die “objektiewe werklikheid” van demoniese magte nie. Wat egter wel blyk uit die reise wat in die roman onderneem word, is die realiteit van die ervaring van ’n sielestryd en van demoniese magte in die domein van die onbewuste.1

Die geheim van Sofie se lewe en dood

Ook Sofie het, soos Iggy, in haar lewe ruimte gemaak vir spiritualiteit, maar dit geskied by haar op ’n totaal ander manier as by hom. In baie opsigte vorm hulle teenpole van mekaar: Iggy is vol angs en woede, sy lewe disintegreer; Sofie, daarenteen, vind (miskien) ten slotte gemoedsrus en heelheid. ’n Mens sou die twee karakters kon sien as voorbeelde van ’n siel wat verlore gaan teenoor een wat vrede vind. Wanneer Maria deur die rooi sagtebandboekie begin blaai wat Sofie vir haar nagelaat het, ontdek sy interessante dinge. Daar is byvoorbeeld ’n kaart van die Acheron-rivier, geleë in ’n streek wat “ongetwyfeld die land van die dood is” (118). Daar is verwysings na “God se energie”, na “’n heilige uitstraling, na spirituele herstel”, asook ’n “uiteensetting van die sogenaamde vier spirituele wêrelde” (121). Die pendant van Sofie se doodsbesef is haar belangstelling in spiritualiteit en in die mistiek. Kan mistieke spiritualiteit dit moontlik maak om die dood sonder verskrikking binne te gaan?

Die antwoord is moontlik geleë in die sogenaamde “Tien Hekke – tien opeenvolgende stappe op die spirituele weg van die mistikus” (121).2 Deur hierdie tien stadiums in die ontwikkelingsgang van die aspirantmistikus raak hy of sy bewus van spirituele waarhede wat hom of haar herskep tot ’n nuwe, suiwer mens. Die eerste hek lei tot die verkenning van die natuurlike wêreld om daardeur vervul te raak met ontsag en verwondering. Dit word gevolg deur hekke wat lei tot ewewig, tot vertroue in die sorg van God en die Goddelike orde, en tot aanvaarding. Vervolgens word die mistikus se opregtheid getoets, word sy blootgestel aan vertwyfeling, verwarring en wanhoop. Die hek van vertwyfeling word gevolg deur hekke wat lei tot nederigheid en boetvaardigheid. Die daaropvolgende stappe op die mistieke weg is die gerigtheid op die innerlike wêreld, waardeur die siel gesuiwer word, en die aanleer van onthouding. Die finale stap is ’n onbesoedelde en suiwer lewe (121-2).

Van besondere belang hier is die hekke van aanvaarding en van vertroue in die Goddelike orde. Dit sluit die aanvaarding van die siklus van lewe en dood in. Vertroue in die sorg van God neem die plek in van verset en angs oor die dood: Het Sofie hierdie stappe meegemaak sodat sy in vrede kon sterf? Die dood spreek in hierdie uiteensetting nie die laaste woord nie, want daar is die suggestie van ’n ewige God aan wie die mens sigself kan toevertrou. ’n Soortgelyke suggestie vind ons later in die roman: “Om feitekennis te hê, beteken waarskynlik niks – die leerling, of dissipel, of aspirant-mistikus [...] moet dieper kan delf – haar verwondering moet in iets ánders ingebed wees” (140). Beteken dit dat daar agter die fisieke werklikheid ’n spirituele werklikheid bestaan, dat die verwondering oor die waarneembare werklikheid moet oorgaan in verwondering oor die Ontstaansgrond van die dinge waarin dit “ingebed” is? Subtiel kom een van die woorde wat Winterbach genoem het wat dreig om verlore te raak, hier na vore: ewigheid.

 

Maria wonder of Sofie hierdie uiteensetting ernstig of ironies bedoel het (123). Dit lyk egter, volgens Maria se vertelling van wat sy van haar suster onthou, of Sofie in bepaalde stadiums van haar lewe wel die mistieke weg betree het. Een aand het sy byvoorbeeld “soos ’n derwisj” in die rondte getol, en Maria kom tot die gevolgtrekking: “Sofie was die aand in Dionisiese vervoering. Die verlange wat hierdie oorgawe ten grond lê, is ’n verlange na levitasie en ontsnapping – so het die dosent dit aan hulle tydens die lesingreeks uitgelê. Die Dionisiese dans is ’n manifestasie van die oudste van alle religieuse impulse – die hergeboorte van lewe na ’n doodse winterslaap” (124).

Op ’n keer het Sofie vir Maria ’n Blake-aanhaling gestuur, waarin onder andere die volgende woorde voorkom: “And I know that This World is a World of Imagination and Vision [...] [T]o Me this World is all One continued Vision of Fancy or Imagination” (145). Die feit dat Sofie deur hierdie aanhaling aangegryp is, suggereer moontlik dat sy, wat ’n digter is, ook deur haar verbeelding die verborge lewe en betekenis van dinge wil ontdek en dit in haar kuns wil weergee. Ook hierin herken ’n mens die mistikus; dit herinner aan die religieuse digter Guido Gezelle wat geskryf het: “Als de ziele luistert, spreekt het al een taal dat leeft.”

Die tweede laaste van die Tien Hekke lei tot onthouding. Dit wil voorkom of Sofie hierdie stadium wel betree het, want kort voor haar dood gooi sy ’n plastieksak vol van haar besittings weg, wat Maria laat dink: “Die Tien Hekke was dan waarskynlik waarmee Sofie besig was” (310). Sofie, wie se naam “wysheid” beteken, het moontlik die noodsaaklikheid van aflegging besef sodat sy in vrede die dood kan binnegaan.

Die laaste afdeling in die boek, getitel “Sofie”, is in die eerste persoon geskryf, vanuit Sofie se perspektief. Dit vertel van Sofie se besoek aan ’n lykhuis net voor haar dood – blykbaar met die doel om die realiteit van die dood vreesloos te konfronteer, om te sien wat met die liggaam gebeur wanneer dit sterf. Na haar besoek sê sy dan ook: “Nou weet ek, het ek gedink, hoe dit voel” (355).

Maar dan, in die laaste twee sinne van die boek, is Maria aan die woord: “Is dit hoe dit gebeur het, Sofie, Suster? Antwoord my!” Die suggestie is dat die voorafgaande gedeelte, uit Sofie se perspektief, ’n toneel is wat Maria haar verbeel het. Sy het haar ingedink in Sofie se posisie en ’n situasie geskep wat Sofie se dood moontlik kon voorafgegaan het. Maria, wat ’n rekenmeester is, het nou ’n nuwe taak gekry, die taak van skrywer: sy herskep haar gestorwe suster Sofie deur haar verbeelding en met haar woorde.

Hierdie ontwikkeling sluit aan by wat Sofie vroeër aan Maria geskryf het, dat Maria haar suster se hande moet erf, “sodat Maria Esegiël met die beendere kan speel” (118). Die verwysing is na Esegiël 37, waar die doodsbeendere van Israel tot lewe gewek word. Ter sake hier is ook die feit dat Maria nege maande (die tydsduur van ’n swangerskap) ná haar suster se dood begin om oor haar te wonder – Sofie word nege maande na haar dood in Maria se gedagtes “herbore”. Een van die take van die skrywer kan dus wees om aan gestorwenes nuwe lewe en betekenis te skenk deur hul “heropstanding” in die skrywer se verhaal.

Dit is wel belangrik om daarop te let dat die roman met ’n vraag en ’n dringende aanroep van die suster eindig. Tydens Maria se speurtog word nié al haar vrae beantwoord nie – die skrywer skryf nie om alle raaisels op te los nie, maar eerder om moontlikhede te verbeeld. Onsekerheid het die laaste woord.

Veranderinge by die reisigers

Die twee hoofkarakters se soektogte voer hulle na bestemmings buite hulself – Karl se broer, Maria se suster en seun. Maar miskien is die belangrikste doel van die reis in hulle eerder as buite hulle geleë – van groot belang is hóéhulle op die reis reageer, hoe hulle verander. By sowel Maria as Karl is daar duidelike positiewe ontwikkelinge merkbaar. Maria ontwikkel, soos reeds genoem, van rasionele rekenmeester tot verbeeldingryke skrywer. Sy word ook verander deur haar suster se spirituele soeke. Sy sien nie kans vir die somtotaal van Tien Hekke nie, maar begin wel met die eerste Hek, die eerste stap in die ontwikkeling van haar spiritualiteit: deur die noukeurige bestudering van die natuurlike wêreld begeer sy “om weer met ontsag en verwondering vervul te raak” (125).

Haar soektog na die suster is ’n erkenning van aspekte van haar psige wat sy verwaarloos het, onder andere die aanspraak wat haar gestorwe suster op haar maak: “Uit watter laag van haar psige kom hierdie skielike erkenning van Sofie se dood?” (15).

Maria leef in hierdie stadium in isolasie: sy was getroud en is geskei van ’n selfgesentreerde beeldhouer; daarna was sy in ’n verhouding betrokke wat min emosionele eise gestel het en wat sonder drama tot ’n einde gekom het. Sy is ’n emosielose, afstandelike mens, ’n tipiese produk van ’n onpersoonlike samelewing waarin elkeen op sy eie belange fokus en die aansprake van ander ignoreer.

In die loop van die verhaal kom sy uit haar isolasie: sy raak betrokke by haar suster en haar seun en sluit ook ’n sterk erotiese verhouding met ’n besoekende hoogleraar in Stellenbosch. Dit gaan veral om aansprake wat ander op haar maak en waarop sy reageer. Maria is pas terug van haar besoek aan Stellenbosch in verband met haar suster wanneer haar seun Benjy laat weet dat hy in ’n krisis verkeer, en Maria vertrek dadelik na Kaapstad om hom te help. Dit blyk dat hy aan liefdesverdriet ly, en Maria neem hom op ’n rit weg uit Kaapstad, die ruimte van sy trauma. Dit gee hom kans vir ’n ontboeseming; hy begin te huil, en dit bring verligting. Volgens Benjy het sy ma se koms sy lewe gered (243).

Maria verander in die loop van die verhaal tot ’n warmer, meer simpatieke mens. Ons sien dit ook in haar gesprek teen die einde met Laura, Sofie se dogter. Maria toon berou en erken dat sy haar suster verwaarloos het: “Ek moes op ’n vliegtuig geklim en haar kom sien het. Ek moes geweet het haar stilte beloof niks goeds nie” (348). Teenoor Laura openbaar sy veel erbarming; sy sien vir die eerste keer in hoeveel Laura moes gely het, en “toe Maria haar susterskind groet, hou sy haar lank styf teen haar vas” (348).

Uit hierdie gesprek word dit duidelik dat Sofie se geringskatting, en uiteindelike aflegging, van die lewe ook ’n negatiewe kant het. Laura het ervaar dat haar ma haar aan die einde van haar lewe van haar kinders weggekeer het; selfs vroeër het Laura soms gevoel dat haar ma afwesig is (346). Sofie het ’n las op haar kinders gelê, omdat “sy ons die boodskap gegee het dat die wêreld nie ’n bewoonbare plek is nie” (346).

Dit is asof die roman paradoksaal twee teenoorgestelde waarhede verbind, dié van onthegting en van gehegtheid. Onthegting, dit het Sofie ervaar, is noodsaaklik om die dood in vrede binne te gaan; gehegtheid maak dit moontlik om te reageer op aansprake wat jou naasbestaandes op jou maak – dit is die les wat Maria moet leer. Hierdie paradoksale verbinding kry Maria skynbaar reg in ’n kortstondige erotiese verhouding met ’n besoekende akademikus op Stellenbosch. Dit is ’n heeltemal ander tipe verhouding as haar vorige verhoudings – veel meer intens, maar ook met ’n besef van die verbygaande aard daarvan. Sy ervaar ’n sterk verband tussen erotiek en sterflikheid: “Alles wat afstuur op uitwissing gee aan hulle samesyn ’n dringendheid, ’n bitter skerpte” (226). Sy raak lief vir hom: “Sy dink: My Here, kan dit wees, raak ek nou verslinger op hierdie man?” (265). Wanneer sy finaal van hom afskeid neem, wil sy eers aan hom vasklou (348), maar dan dring die besef deur: “[H]ulle samesyn staan in die teken van uitwissing en eindigheid” (349).

Karl ondergaan in die loop van sy reis veranderinge wat ten dele ooreenkom met die ontwikkelinge by Maria. Soos wat sy aanvanklik haar suster uit haar gedagtes verban het, is hy eers onwillig om Iggy op die plaas te gaan haal – albei weier die aansprake wat op hulle gemaak word deur ’n naasbestaande. Karl sien homself as ’n stabiele persoon wat sy paranoïese broer moet red, maar dit is duidelik dat hy sy eie psigiese probleme het. Hy het ’n verhouding met Juliana gehad, maar dit het verbrokkel omdat hy so behep met homself is dat hy haar nie kon help toe sy in nood verkeer het nie (128). Hy is ’n obsessiewe persoon – daarvan getuig sy angs om aan enigiets olierigs te raak, en die feit dat hy soms uit die bloute nommers in sy kop kry wat hom verhinder om voort te gaan met die taak wat hy vir homself gestel het. Die nommers is waarskynlik ’n teken van innerlike weerstand teen die taak waarmee hy besig is.

Dit is ook duidelik dat hy ’n obsessie met heavy metal het. Die funksie van die motief van heavy metal in die roman verg ’n uitgebreide bespreking, en ek wil my nie daaraan waag nie. Maar ek wil tog wys op vier songs van bands (heavy metal en rock) wat in die roman genoem word en wat in sowel die lirieke as die uitvoering daarvan verband hou met die openbaring van Karl se karakter:


Balls to the wall

In “Balls to the wall” van Accept is die element van aggressie heel sterk – soos trouens in ál die voorbeelde wat ek gevind het. Dit hoor ons byvoorbeeld in:

One day the tortured stand up
And revolt against the evil
They make you drink your blood
And tear yourself to pieces.

Can u deliver

Die naam Armored Saint dui op oorlog, ’n oorlog waarin tradisionele etiese waardes bestry word. In hul lied “Can u deliver” word liefde soos volg beskryf: “Do you know what love means/ A push and then a shove”. Hierdie “saints” het ’n demoniese voorkoms en neem deel aan ’n sataniese nagtelike ritueel; hulle voer ’n stryd waarin die konvensionele rolle van heilige en demoon omgekeer is.

Freedom at 21

Jack White sing in “Freedom at 21” van ’n meisie van die 21ste eeu wat haarself vrygemaak het: “She does what she damn-well please.” Dis ’n vryheid wat die ondermyning van alle etiese kodes impliseer.

Killed by death

“Killed by death” van Motörhead is ’n lied van geweldige protes teen ouerlike gesag, en van vasberadenheid om aan teenstrydige drifte uiting te gee: “I’m a romantic adventure/ And I’m a reptile too.”

Is Karl se meelewing met die musiek van heavy metal en rock ’n teken van sy eie irrasionele drifte waaraan hy slegs indirek, via hierdie musiek, aandag skenk? Is hy soos ’n “armored saint”, met sy eie demone? Is hy, soos sy broer Iggy vir wie hy moet help, self vol aggressie? Is ook sý innerlike wêreld besig is om uitmekaar te val, soos dié van sy broer?

Die verwysings na musiek in die roman sou as gids gesien kon word tot onderdrukte innerlike energieë in Karl – en ook as ’n gids tot die kollektiewe onbewuste van die miljoene mense van ons tyd wat opgaan in die musiek waarna verwys word.

Wat belangrik is in die karakterontwikkeling van Karl is dat heavy metal vir hom, op pad na Iggy, ’n struikelblok word. Hy raak soms so betrokke by gesprekke oor musiek dat hy vergeet van die dringendheid van sy eintlike taak, naamlik om sy broer te vind. Wanneer hy uiteindelik by Iggy kom, is dit waarskynlik te laat, want Iggy is nou heeltemal verdwaas. Maar dan laat vaar Karl al die opgekropte angs en weerstand van die afgelope dae en, soos Maria, bely hy sy skuld: “Ek is jammer ek het so lank geneem om hier uit te kom” (325). Hy is nou heeltemal bereid om sy broer by te staan met wat hy ook al nodig het: “Jy kan enige tyd ’n ruk lank by my kom bly” (326). Hy doen sy bes om Iggy moed in te praat: “Moenie worry nie, Iggy. Die bose of wat jy dit ook al genoem het, is verslaan. ’n Nuwe tyd breek aan, ek is seker daarvan. Jy is veilig” (326). Daar kom trane in sy oë oor die lot van sy broer (332), en hy vertel nou vir Iggy alles wat in sy gemoed opkom (332-3). Uiteindelik het Karl volledig gehoor gegee aan die aanspraak van sy broer – helaas moontlik te laat – en wanneer hy na Durban terugry, word hy geteister deur die vrees dat hy sy broer verloor het (338). Hy is nou so ingestel op Iggy dat hy verras word deur ’n onverwagte ontwikkeling: toe hy tuiskom, “besef hy dat hy die hele terugreis nie een keer getel het nie” (340). Hy het sy beheptheid met getalle verloor – sy erbarming oor sy broer het hom van sy obsessie genees.

Pastorale postmoderne roman

Die aanspraak van lewende wesens voer die leser op reise waarin die individuele en kollektiewe onbewuste geopenbaar word; onderdrukte energieë kom in die loop van die verhaal na bo. Irrasionele psigiese werklikhede wat as gevolg van ’n rasionalistiese ingesteldheid geïgnoreer word, kom na vore: gevoelens van leegheid en eensaamheid, van angs en aggressie; die worstelstryd van die siel teen demoniese magte; die oorweldigende werklikheid van die dood en die verlange na spirituele waarhede wat vrede kan bring en betekenis aan die lewe gee. Op die verhaalvlak is daar spesifieke doelstellings: Maria wat die raaisel van haar suster wil oplos en wat haar seun wil help; Karl wat sy broer moet red.

Die doelstellings word slegs ten dele verwesenlik: Maria vind sommige dinge in verband met haar suster uit, maar baie onsekerheid bly bestaan. Sy slaag wel daarin om haar sensitiewe seun te hulp te kom, maar dit bring slegs tydelike verligting. Karl vind sy broer, maar dit is miskien te laat om hom te red.

Die een onbetwisbaar sinvolle uitkoms van die reis is egter, in albei gevalle, dat die reisende karakters verander, dat hulle die aanspraak van ’n naasbestaande aanvaar. Daardeur word hulle van selfbeheptheid en isolasie verlos en in staat gestel om ander te help. Hulle het ’n woord en begrip leer ken wat in ons onpersoonlike samelewing dikwels vergete raak: erbarming.

Maria se vriend Jakobus Coetzee sê vir haar dat Josias se plaas goeie stof bied vir ’n “postmoderne pastorale roman” (126). In ’n sekere sin is hierdie frase ’n raak tipering van Die aanspraak van lewende wesens. Die roman is pastoraal in die sin dat daar ’n hunkering is na ’n vervloë wêreld van sekerhede, waarin die stryd tussen goed en kwaad ondubbelsinnig was, toe daar ruimte gemaak is vir ’n spiritualiteit wat die verskrikking van die dood getemper het. Aan die ander kant is die werk deurtrek van die ambivalensie, ironie en onsekerheid wat die postmodernisme kenmerk. Die postmodernistiese ingesteldheid maak dit onmoontlik om met sekerheid te weet of die spirituele wêreld ’n werklikheid of ’n illusie is. Wat egter wel seker is, is die voortbestaan daarvan in die argief van die onbewuste.

Eindnotas

1 In meer moderne taal kan die “stryd van die siel” geformuleer word as die mens se soeke na heelwording en die stryd teen disintegrasie.

2 Ek kon nie ’n bron opspoor wat ooreenkom met hierdie uiteensetting van die “Tien Hekke” nie. Ek kon wel op die internet, in die weergawe van ’n praatjie van die Boeddhistiese jogi CM Chen, lees van “the ten mystic gates of causative functions of truth which belong to the Avatamsaka School – the foundations of Buddhist Tantra” (my kursivering), en het ’n boek gevind met die titel Ten Gates. The Kon-an Teaching of Zen Master Seung Sahn; maar geeneen kom ooreen met die Tien Hekke in Winterbach se roman nie. 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Bernard Odendaal

    Dankie, Chris van der Merwe, vir hierdie essay as gids by die lees van 'n fassinerende roman.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top