Die aand toe ek die maan gevang het

  • 0

Ek, sussie Lira en Ouma soek-soek die rondloperkat.

Ek het geen kat nie. Pappa is allergies vir kathare. Sy oë word rooi en dan nies hy.

Dit is skemeraand. Ons sien hom! Die buitegemmer met die lang snorre. Hy kom nader, ruik en lek-lek aan die gebreekte stukkies wors wat ek neersit. Ek verbeel my dit is my Kietiekat.

Ek streel en kiele-kielie rondom sy ore, maar Lira is nog ’n bietjie bang om aan hom te vat. Sy ry op haar swart skopfietsie wat eers myne was. Ek het vir Kersvader geskryf. Nou wag ek vir my regte fiets met die klein wieletjies.

Mamma kom ook buitentoe om ons te soek. Ek wil asseblief nog nie gaan bad nie.

Toe gebeur ʼn wonderlike ding. Ouma kyk op en wys na die ronde maan. Dis groot en helder en lyk vanaand so naby soos die boom voor ons voordeur. Sy steek haar arms uit en maak hulle wyd oop. Toe gryp sy die maan uit die lug uit en gooi die groot bal vir my.

“Vang!”

Ek vang die groot maanbal met my vingerpunte. Amper val ek agteroor. Ek lag kliphard. Die bal voel so lig soos ʼn veertjie. Ek gooi die bal vir Mamma.

Sy spring in die lug op en vang die bal hoog in die lug. Sy gooi die bal vir Ouma.

Ouma kyk vir my sussie wat grootoog op die fiets sit. Sy buk af. “Wil jy die maan vang?”

Lira frons.

Ek skree kliphard: “Speel-speel, Lira, speel-speel!”

Sy lag en maak haar arms oop.

Ouma gooi.

Lira vang en gooi baie skeef na my kant toe. Ek is goed. Ek vang die maan en gooi dit weer vir Mamma.

“Vir my, vir my,” skree ek. Dis lekkerder as fietsry of Kietiekat soek.

Lira klim van die skopfiets af: “Vir my, vir my!”

Ek lag uit my maag, spring hoog in die lug, gryp die maanbal en gooi dit vir Lira.

Haar handjies vang vinnig. Sy gooi vir Ouma.

Ouma vir my. Ek weer dadelik vir Ouma.

Ouma vang mis. Die maan hop-hop. “Oeps,” sê sy. Die maan wip hoog. “Oeps,” sê sy weer. Sy kyk in die lug op. Hoog. Sy wys met haar vinger en skud haar kop. “Hy’s nou te ver.”

Die maan skyn groot en blink in die donker lug.

“Badtyd,” lag Mamma.

Lira trek haar skouertjies op en laat haar kop sak. Sy maak so as sy vies is.

“Toemaar Lira, môre speel ons weer.” Ek vat haar hand. “Het jy lekker gevang?”

“Ja.” Sy lig haar kop, maak haar arms oop en omsirkel speel-speel ʼn yslike maan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top