Die AA tot OE van seks – ’n resensie

  • 1

Titel: Die AA tot OE van seks
Skrywer: Riette Rust
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624054023

Ag tog, dink ek eers, net nie nóg ’n seks-ensiklopedie nie, net nie nóg ’n wat-vrouens-moet-doen of wat-mans-wil-hê nie.

Wat kan tog nuut wees daarin? Wat op aarde is daar wat ons nog nie weet nie? En hoekom in die eerste plek nóg ’n boek skryf oor seks – kan mense nie net hulle probleme oplos deur te praat nie? Maar dis juis waarmee Riette help – sy gee vir mense die lekkerste woorde om te gebruik wanneer hulle nodig het om te praat. Ek en my kollegas het eers ’n histeriese lagsessie beleef oor die taalgebruik in die boek. Die vermaakwaarde daarvan is hoog en heerlik. Riette verdien regtig spesiale erkenning vir haar oorspronklike name vir seksposisies en -speelgoed, soos vloerwoer, kopgalopwysneus, snoeswoes en vibreerbroekie! Dis absoluut pragtig, maar wragtie nie soos ek al ooit enigiemand hoor praat het nie. “Ag, skatlief, bring gou my vibreerbroekie sodat ons ’n bietjie kan hang-pangelang, toe?” Uhm, I don't think so.

Omdat ek uit ’n agtergrond kom waar die grafiese beskrywing van seks so algemeen soos braaivleis is, het ek al vergeet dat dit nie vir almal ewe maklik is om daaroor te praat nie. Selfs in my werksomgewing, die koerantwêreld, is grafiese gesprekke aan die orde van die dag, en niemand is regtig ongemaklik daarmee nie. Maar Riette is braaf en baie gaaf teenoor diegene wat nie hierdie voorreg het nie.

Wat ek wel betwyfel, is of die 45 posisies met die skreeusnaakse name hoegenaamd ’n vaal sekslewe kan omkeer. Pomp mense regtig op 45 verskillende maniere? Skuif en wriemel ons nie maar in elk geval spontaan tydens die gevryery op 45 onberekende naamlose maniere rond nie? Die uitstippel van seksposisies is dalk van waarde vir uiters verbeeldinglose, sekslose paartjies, en selfs dán wil ek sê: as jy werklik nodig het dat iemand vir jou moet wys hoe om seks te hê, is jy waarskynlik ’n lost case. Dis tog natuurlik, is dit nie? Dis amper soos om vir ’n leeu te verduidelik hoe om te brul. En is dit nie effe seksisties om vrouens aan te moedig om tog net van sweetpakke af weg te bly en liewers in lingerie voor hul mans te verskyn nie? Hierdie smaak so effe na Gretha Wiid. Dan moet mans ook mos heeltyd in speedo’s of uniforms rondhol sonder om te sweet? Riette moedig vrouens ook aan om te leer paaldans vir ’n goeie sekslewe. Maar chemistry en feromone is tog nie afhanklik van paaldanse nie, is dit? Ja, dit kan ’n vreeslike stywe vroutjie dalk help om ’n bietjie selfvertroue te kry, maar dis weer eens nie die essensie van goeie seks nie.

Verder vermoed ek dat die boek gemik is op vrouens bo 40 wat in die seks-is-sonde-era grootgeword het. Daai soort vrouens wat nie veel gewoond is nie en in hul 40’s skielik hul klitorisse ontdek en dan graag die hol uit die hoender wil ruk, maar nie heeltemal weet hoe nie.

Tog is daar hoofstukke waaroor ek wil jubel, soos die een oor anale seks en die hoofstuk oor tantriese seks. Ek is bitter bly daar’s ordentlike inligting oor anale seks en hoe om dit te benader. As elke man in die land maar net daai hoofstuk wil lees. Elke man wat dink sy vrou is te koekig om anale seks te hê – dis dalk omdat jy dit heeltemal verkeerd benader, Meneer. Hats off, Riette! Die inligting oor tantriese seks is nog ’n hoogtepunt – en dit nogal in Afrikaans! Ander gunsteling- en lekkerlees-hoofstukke is “Seks per dag laat die dokter wag” en “Die Groot O”.

My wens vir hierdie boek is dat elke Afrikanerman in die land dit onder hande kry, want die vet weet, dit is húlle wat die meeste nodig het om te leer gemaklik praat oor seks. Vrouens praat lankal al daaroor, al is dit met meer of minder moeite. En stel jou voor as elke man tantriese seks met sy partner probeer – wat ’n liefdevolle nasie sal ons nie wees nie!

Baie geluk, Riette, jou boek is ’n reis deur allerhande kleurryke landskappe wat in die regte hande dalk net ’n aardskudding kan oplewer!

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top