DF Malherbe-gedenklesing 2018: Die politiek van die alledaagse

  • 1

Bettina Wyngaard het Donderdag 17 Mei die 34ste DF Malherbe-gedenklesing by die Universiteit van die Vrystaat gelewer.

Vice-Chancellor, esteemed guests, ladies and gentlemen

It is a real honour and a privilege to be here tonight, to share a little of what has been on my heart and mind. And while English is the language of my head, Afrikaans is the language of my heart. So, as I speak from the heart, I beg your indulgence in letting me do so in the language of my heart.

In lig van die toenemende gesprek oor taal, en hoe dit verruim kan word, gaan ek verder versoek dat u my toelaat om in die variant van die taal waarmee ek grootgeword het, te praat. Dit beteken ek mix my tale.

In albei my leefruimtes, as prokureur en as skrywer, is woorde een van die belangrikste stukke gereedskap in my gereedskapstassie, en ek gebruik dit presies dieselfde, om stories mee te vertel. Wanneer ek ’n beëdigde verklaring opstel, is ek besig om ’n storie te vertel, met die hof as my gehoor en die kliënt as my hoofkarakter. Wanneer ek ’n opinie skryf, is ons land en sy mense baie keer die hoofkarakters van die storie.

Ek hoef u nie te vertel dat woorde, my gereedskap, versoenend kan wees, en kan kwets nie. U weet dit. Elkeen van ons ervaar woorde deur die lens van ons eie ondervindinge, en juis daarom verloor woorde en konsepte soms hul onskuld. Soms verstaan ons woorde op verskillende maniere, en daai misverstande veroorsaak spanning.

Wat ek vanaand wil doen, is om met u my gedagtes te deel rondom die storie van Suid-Afrika. In hierdie storie is daar sekere woorde wat gereeld voorkom, en ek wil by sommige van daai woorde stilstaan. Soos met enige storie wat sy sout werd is, gaan hierdie een ook oor verhoudinge, en konflik en die hoop op redemption. Hoop, en nie versekering nie, want die storie is nog in wording.

Die woorde is politiek, taal, rassisme, armoede en grond.

Politiek

Ek gebruik politiek in die filosofiese sin van die woord. Die Stellenbosse wysgeer Johan Degenaar het by geleentheid politiek beskryf as “an interplay of pressures”. In daardie sin verwys dit dus na veel meer as net partypolitiek. Dit maak nie saak hoe entertaining, of ontstellend, afhangend van u perspektief, die woelinge in die DA-De Lille-skermutselinge is, of wat in die ANC aan die gang is, of wat Julius nou weer aanvang nie – in ons alledaagse bestaan is dit nie belangrik nie.

Wanneer daar ’n krisis is, is ons knieskop-reaksie altyd een van twee: ons gaan howe toe, of ons beroep ons op ’n politieke oplossing. Maar wat gebeur as die politici klaar hulle toesprake gemaak het, of die hof het uitspraak gelewer? Dan moet ons, Jan en San Publiek, nog steeds met mekaar saamlewe. In daai saamlewe, daai skuur teen mekaar, is howe en politici op die agtergrond.

Kom ek maak ’n eenvoudige voorbeeld. ’n Paar jaar gelede is die wetgewing verander sodat kinders nou op 18 jaar oud meerderjarig word. Dit het spesifieke regsimplikasies, soos dat agtienjariges nou kontrakte kan sluit sonder die bystand van hul ouers; hulle kan mediese besluite op hulle eie neem; hulle kan trou sonder bystand of toestemming; hulle kan lenings aangaan, ens.

Maar wat was die kulturele impak van die wetgewing? Niks. In die meeste kulture is daar ’n rite of passage wanneer ’n jongeling as volwassene in die groep opgeneem word. In my kultuur word daar ’n partytjie gehou waar al die familie, vriende en bure teenwoordig is. Dan word daar seremonieel ’n houtsleutel, gemonteer op een of ander ornamentele blok, oorhandig. Dis simbolies om aan te dui dat die nuwe volwassene nou verder die deur van hul toekoms moet oopsluit. Hierdie ritueel het nie ná die wetgewing verander om gehou te word met die kind se agtiende verjaarsdag nie. Dit word steeds gedoen wanneer die kind 21 word, en eers daarna word die kind as volwassene aanvaar en opgeneem in die groep.

Net so, met soveel ander situasies in ons gemeenskap, is dit nie die wetgewing, of die politieke besluite, wat bepaal wat van die social fabric van ’n dorp of stad of provinsie of land word nie. Dis ons interaksies onderling, die interplay of pressures wat ons op mekaar uitoefen, wat bepaal hoe ons saamlewe.

Wat beteken die politiek van die alledaagse? Dit beteken die oplossing vir soveel van ons probleme word op voetsoolvlak, weg van die politieke arena, gevind in die manier hoedat ons elke dag met mekaar in interaksie gaan.

Die diskoers wanneer daar gepraat word oor verhoudinge in ons land is baie keer negatief. Wat baat dit tog? is die vraag, want ons kan niks verander nie. Vir die meeste van ons is dit miskien waar omtrent die groter politieke speelveld, maar elkeen van ons het tog ’n sfeer van invloed – by die skool, in die klaskamer, in ons huis, by die winkel wanneer ons inkopies doen. Hoe ons daar optree, stuur ripples deur ons samelewing.

Hierdie afgelope jaar het ons op die wêreldverhoog gesien wat gebeur wanneer mense besluit om die bietjie wat hulle kan doen, te doen. Ek praat natuurlik nou van die #MeToo- en die #TimesUp-bewegings. Vir jare het vroue gebuk gegaan onder die onwelkome seksuele aandag van mans in magsposisies. Wanneer hulle wel gekla het, is hulle gepenaliseer daarvoor, soos wat met die aktrise Ashley Judd gebeur het toe sy in Hollywood geblacklist was.

Ons almal ken die verhaal. Harvey Weinstein, die man wat haar en soveel ander aktrises geteister het, is nie meer die Hollywood-magspeler wat hy was nie. Komediant Bill Cosby word krimineel aangekla en skuldig bevind. Hier by ons is Danny Jordaan en Mduduzi Manana besig om agter te kom hulle politieke mag beskerm hulle net tot op ’n punt.

Selfs die Nobelprys vir letterkunde is hierdie jaar te midde van omstredenheid uitgestel.

Dit sou nie gebeur as een vrou, en toe twee, en meer, nie besluit het dat stilbly nie meer ’n opsie is nie. As genoeg mense besluit om mekaar te ondersteun en voet neer te sit, kan dinge verander. Dis hoe die Arab Springs gebeur het.

Dis die politiek van die alledaagse. Dit begin met een persoon, dan twee, dan meer. Dit begin met een interaksie, dan twee, dan meer.

Iewers is daar ’n tipping point, en elke magsvergryp, elke wandaad, gebeur en hou aan gebeur slegs totdat gewone mense in hul alledaagse omstandighede sê: Genoeg is genoeg. Not in my name. Ons is nie almal so nie.

Rassisme

Die volgende woord wat gereeld in ons storie voorkom, is rassisme. Ek dink nie hier is een enkele persoon in hierdie vertrek wat reken rassisme is aanvaarbaar en kan maar toegelaat word nie. Maar dis nie altyd maklik om rassisme uit te ken nie, is dit? As ons dit wil beveg, moet ons weet hoe dit lyk.

Elke enkele Suid-Afrikaner het op een of ander manier al ’n swart gordel in rassepolitiek verkry – sommiges deur entoesiastiese beoefening. Vir die meeste van ons gebeur dit uit noodweer.

Ons almal herken rassistiese taalgebruik. En na Vicky Momberg weet ons almal ook less is more, en om ’n goedtoegeruste wag voor jou mond te plaas is die heel beste.

Institusionele rassisme is moeiliker om te herken, meestal omdat ons dit normaliseer. Dis normaal dat daar baie meer bruin en swart mense in die tronk is as wit mense. Dis normaal dat daar disproporsioneel meer wit mans in bestuursposisies is as enige ander groep. Ons besef nie dat ’n ingewortelde verstaan van hoe ’n uitstekende bestuurder behoort te lyk, die keuse van persone om ’n pos te vul kan beïnvloed nie.

Ons almal weet wat wit-op-swart-rassisme is. Ons is sensitief vir die geringste misstap wat as rassisme beskou kan word. Maar wat van swart rassiste? Daar is ’n argument wat sê dat swart mense nie rassiste kan wees nie. Die ondersteuners van daardie argument verbind mag/power en rassisme met mekaar. Omdat ekonomiese mag nog grootliks in wit hande is, so gaan die argument, kan net wit mense rassiste wees. Met ander woorde, jy kan net ’n rassis wees as jy in ’n magsposisie is om iemand te benadeel.

Maar hoe genuanseerd is daai argument? Daar is tog ook ander oorwegings wat ons in gedagte behoort te hou.

Die filosoof Paul Taylor het die volgende te sê in sy boek Race: a philosophical introduction:

[W]e seem to be complaining about an ethical disregard for people who belong to a certain race. “Disregard” in this context means the withholding of respect, concern, goodwill or care from members of a race ... speaking of disregard allows us to cover a range of attitudes all at once, from outright hatred, to the simple failure to notice that someone is suffering, to the related failure to notice that there is a person in front of you, as opposed to the personification of a pre-existing stereotype.

Ek wil aan die hand doen dat daardie “disregard” die wortel is van heelwat van die skermutselinge wat daar tussen verskillende groepe onderling is. Daai disregard kan net soveel vanaf swart mense teenoor ander swart mense, of teenoor wit mense uitgeoefen word.

Ons is almal so besig om die slagoffer, die verontregte party te wees dat ons vergeet van verhoudinge. Ons is so besig om te stry oor grond, of taal, of identiteit en oor wie reg en verkeerd is dat ons vergeet aan die ander kant van ons argument is ’n persoon. En daai persoon kom met sy of haar eie baggage, en sien die argument deur ’n lens gekleur deur hul eie ondervindinge.

As daar een wens is wat ek vir ons land se mense kan wens, dan is dit dat ons mekaar kan begin sien as mense. Nie die weergawe van wat jou groep veronderstel is om te wees nie. Nie dit wat nuusberigte of Facebook echo chambers ons wysmaak die groep behoort te wees nie. Ek wens en ek hoop dat die dag sal aanbreek waar ons verby ’n velkleur kan kyk en net ’n persoon met unieke persoonlikheid sal sien. Ek hoop dat die dag sal aanbreek waar ons mekaar se taal en kultuur en gewoontes kan leer verstaan op face value, sonder om ons eie emosionele bagasie uit te pak. Of soos wat dit in Kaaps uitgedruk word: Don’t koppel feelings.

Ons is baie goed daarmee om met mekaar te debatteer. Debat veronderstel ’n wenner en ’n verloorder. As ons op daardie manier met mekaar in interaksie wil gaan, verloor ons almal. Het dit nie tyd geword dat ons eerder met mekaar in dialoog gaan nie? Dit beteken ons moet met mekaar praat, maar meer belangrik, dit beteken ons moet aktief na mekaar luister. Luister om te verstaan, nie om mekaar te antwoord nie.

Die grootste gevaar vir ons verhoudinge met mekaar is gebrek aan kommunikasie. Om mekaar stil te maak, help niemand nie. Selfs meer kommerwekkend is hoedat ons toenemend al meer selfsensuur uitoefen. Mense is so bang om te offend dat hulle eerder nie ’n bydrae maak nie. Ons almal word armer gemaak deur daai stiltes, want in daardie stiltes kan resentment broei, en nuwe idees doodgesmoor word. Meer as dit, in daai stiltes word geleenthede om mekaar beter te verstaan, verloor.

Ons elkeen het ’n unieke bydrae om te maak. Dis die politiek van die alledaagse.

Taal

Een van die maniere waarop ons uniekheid uitdruk, is die taal wat ons gebruik. Maar taal word al meer net nog ’n slagveld waar ons mekaar verwond en probeer doodmaak.

Een manier om mekaar te regard, is om mekaar se taal te erken. President Mandela het by geleentheid gesê: “If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. But when you speak to him in his language, that goes to his heart.”

Is dit nie waar ons as Afrikaanssprekendes soms die pot mis sit nie? Ons verwag dat ons regte om ons taal te gebruik, erken moet word, maar ons disregard ander se tale. En ek wil u herinner: in terme van Taylor se definisie kan die disregard “simple failure to notice” wees.

Hoeveel van ons is in staat om ten minste te groet in tale anders as Engels en Afrikaans? Hoeveel van ons probeer basiese taalvaardigheid in ’n derde of vierde landstaal opdoen?

Dit bring my by die taal wat ons vanaand hier bymekaar bring: Afrikaans. Ek het begin deur te sê Afrikaans is die taal van my hart. Soms is dit die taal wat my hart breek. Ander kere is dit die taal wat die brokstukke weer optel en aanmekaar sit. Maar, ten beste of ten slegste, dis die taal waarin ek skep, bid, droom en hoop.

Ek is nie vanaand bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie. Ek is heeltemal bewus van die argumente dat sodra ’n taal sy funksie van hoër onderrig verloor, dit die begin van die einde is vir daardie taal. En ek sê weer: ek is nie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie. Hofsake kan nie die taal vernietig nie. Net die houding van die partye tot die saak kan die taal skaad. Amptelike beleid kan nie ’n taal vernietig nie. Die houding van die amptenare wat die beleid toepas, kan die taal skaad. Goeie, opbouende verhoudinge gebaseer op respek kan houdinge en verhoudinge verander.

Die doeltreffendste manier om ’n taal te vernietig, is deur te kies om dit nie te praat nie. Ek hoef u nie te vertel dat al meer Afrikaanssprekendes kies om hulle kinders Engels groot te maak nie, om te ontsnap aan die persepsie van stigma wat daar aan die taal kleef.

Ons doen ook die taal skade aan wanneer ons voorskriftelik wil wees oor wie nou eintlik die taal mag praat, of hoe die taal gepraat moet word. Of – en dis baie keer die groot probleem – om die konserwatiewe sektor van die taalgemeenskap carte blanche te gee om te praat asof hulle namens die hele groep praat. Evil triumphs when good men (and women) do nothing.

Afrikaans lewe, en daarom het ek hoop vir Afrikaans. Ons moet gewoon net die taal gebruik om op te bou en nie te kwets nie. Ons moet sensitief wees vir die feit dat juis omdat die taal so swaar dra aan die bagasie van die verlede, ons ’n verantwoordelikheid het om in elke interaksie met ander as ambassadeurs van die taal op te tree. Dit beteken dat ons moet onthou dat in elke interaksie, reg of verkeerd, die groep beoordeel word in die manier waarop die individu optree.

Wit Afrikaanssprekendes spesifiek kan nie nou verantwoordelikheid abdikeer deur die spreekwoordelike baton aan te gee vir bruin mense, soos wat Antjie Krog en Tim du Plessis voorstel nie. Ons almal, wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes, moet saamwerk om die taal in ere te herstel.

Van die 11 amptelike tale in ons land het net twee ooit die voorreg gehad om die onderrigtaal aan universiteite te wees. Die ander nege floreer steeds, omdat die sprekers van daai tale dit gebruik in hul daaglikse wandel. Deesdae word daar gereeld gepraat daarvan dat die ander tale opgehef moet word. Die persepsie is dat dit maar net lippetaal is, ’n dekmantel waaronder sommige mense nog steeds eintlik maar net vir die behoud van Afrikaans veg. Sou ons nie meer legitieme beskerming aan Afrikaans verleen as ons in alle erns daadwerklik optree om die ander tale op te hef en te beskerm nie? Dink net watter positiewe impak dit kan hê indien Afrikaanssprekendes byvoorbeeld help om te verseker dat boeke in Sotho of Xhosa of Zulu gepubliseer word, of hul kundigheid op ander maniere beskikbaar stel om die tale te bevorder nie. Dink hoeveel welwillendheid teenoor Afrikaanssprekendes, en per implikasie teenoor Afrikaans, daaruit kan voortvloei.

Dis die politiek van die alledaagse.

Armoede

Oudpresident Zuma is nou al ’n paar maande nie meer die eerste burger van die land nie. Daar word egter nog steeds heelwat kritiek ingebring teen hom, miskien juis omdat hy deur sy doen (en veral late) groot armoede in ons land veroorsaak het.

Die een ding wat hy egter baie goed reggekry het, en dit is vermoedelik ’n unintended consequence van sy dade, is om ons te genees van ons verknogtheid aan die idee dat die regering als wat verkeerd is, sal regmaak. Ons betaal belasting, en voilà, ons het paaie en skole en hospitale en huise. Hy het ons geleer die een volg nie op die ander nie, en dat ons self moet inspring om reg te maak wat verkeerd is. Dit sluit nie net infrastruktuur in nie, maar veral ook verhoudinge.

Die afgelope ruk word daar gestry, gestrike, gemarch oor die minimumloonwetgewing wat op 1 Mei in werking moes getree het. Dit het nie. Hoekom het werkers tot aksie oorgegaan? Dis nie net om paaie te versper en soveel ontwrigting as moontlik te veroorsaak nie. Dit gaan oor iets veel meer basies.

Rob Nixon praat in sy boek Slow violence and the environmentalism of the poor van die “slow violence of poverty”. Ons behandel die armes in ons samelewing as onsigbaar. Dit maak ons ongemaklik om herinner te word dat daar mense in HOP-huise bly, of in informele nedersettings waar daar dalk een kraan vir 20 mense is. Ons maak asof die persoon wat buite die restaurant of die winkelsentrum of by die robot bedel, nie bestaan nie, totdat hulle iets doen wat ons gemaklike bestaan disrupt. En natuurlik, as die enigste manier om aandag te trek is om ons gemaklike bestaan ongemaklik te maak, dan sal hulle dit doen. Soos wat nou by Mitchells Plain gebeur het. Soos wat met die busstaking en elke ander staking gebeur.

Martin Luther King jnr sê nie verniet “A riot is at heart the protest of the unheard” nie. Mense staak omdat hulle voel hulle word nie gehoor nie.

Maar wat is die “slow violence of poverty”? Ek haal aan uit Nixon:

We are accustomed to conceiving violence as immediate and explosive, erupting into instant concentrated visibility. But we need to revisit our assumptions and consider the relative invisibility of slow violence. I mean a violence that is neither spectacular nor instantaneous but instead incremental, whose calamitous repercussions are postponed for years or decades or centuries.

Ek wil amper byvoeg dat dit tyd geword het om ’n eenvoudige realiteit in die oë te staar. Ons is besig om nou die resultate te sien van die slow violence of poverty wat deur apartheid veroorsaak is. Ons is besig om die wrang vrugte te pluk van ’n stelsel wat doelbewus en stelselmatig seker gemaak het dat sekere dele van ons samelewing nie vooruit kon gaan nie. Natuurlik spreek ek nie die huidige regering skoon nie. In meer as twee dekades moes daar al aansienlike verbeteringe gekom het, as geld en vaardighede reg gekanaliseer was.

Ek wil u vra om te dink uit die perspektief van die arm persoon. Dink wat dit doen aan ’n persoon wat in armoede lewe, dag na dag, maand na maand, jaar na jaar om te weet daar is geen hoop op beterskap nie. Dink aan wat dit aan ’n persoon se siel doen as jy weet dit maak nie saak hoe hard jy werk nie, jy gaan ten beste ’n loon van R20 per uur ontvang. Probeer u indink wat dit doen wanneer ’n persoon elke dag harde arbeid verrig, en hulle verdien nie genoeg om brood op die tafel te sit nie.

Probeer u indink hoe ’n persoon voel wanneer hulle besef dit maak nie saak dat jy jou kind na ’n skool stuur in die hoop dat opvoeding hulle gaan help om die siklus van armoede te breek nie, want (1) daar is nie boeke nie, en (2) die onderwysers is nie behoorlik bemagtig om hulle te leer nie. Dis nie die tipe geweld waar daar kneusings en oop wonde sigbaar is nie, maar net omdat die wonde onsigbaar is, beteken dit nie dis minder traumaties nie.

Dit kan reggestel word deur die politiek van die alledaagse, in ons verhoudinge onderling.

Elke jaar gedurende laat Mei, begin Junie is daar binne die staatsdiens onderhandelinge vir verhogings, en wanneer die onderhandelinge tot stilstand kom, begin die stakings. Dit was in die verlede die begin van “strike season”. Die afgelope paar jaar het strike season elke jaar vroeër begin, omdat werkers die ekonomiese skoen voel druk. Die slow violence of poverty begin spoed optel.

Sou dit nie verhoudinge verbeter indien elke werkgewer besluit om ten minste ’n living wage te betaal nie? Watter verskil sou dit nie maak aan verhoudinge as werknemers, veral in sulke skeefgetrekte magsverhoudinge soos tussen huiseienaar en huishulp, weet hulle behoeftes word erken nie. Watter verskil sou dit nie maak indien elke werkgewer ’n besluit maak dat hulle nie die minimum in terme van die wet sal betaal nie, maar dat hulle meer sal betaal. Dink watter verskil dit in welwillendheid tussen werknemer en werkgewer maak wanneer die werknemer behoorlik betaal word en nie voel hulle word uitgebuit nie.

Dis die politiek van die alledaagse.

Grond

Grondbesit en grondonteiening is tradisioneel ’n taai tameletjie. Dis te verstane in ’n samelewing wat histories landboukundig is. Almal wil grond besit.

In my tuisdorp, Grabouw, het ons in die 1990’s begin met die eerste oordragte van landbougrond aan werkers. Van die boere het in vennootskap gegaan met hul plaaswerkers. Hulle het in sommige gevalle grond aan die werkers oorgedra. In ander gevalle het hulle die werkers aandeelhouers en medebesluitnemers in die besighede gemaak. Die boere het betrokke gebly, en die werkers deur middel van opleiding, mentorskap en die voorsiening van gereedskap bygestaan. Vandag is elke enkele een van daai plase suksesvol, hulle voer internasionaal uit, en hulle is ten volle deur die werkers oorgeneem.

Die boere het ’n besluit geneem dat hulle hul werkers selfstandig wou sien. Hulle het nie gewag totdat daar dreigemente van onteiening sonder vergoeding is om iets te probeer doen nie. Juis as gevolg daarvan het ons van die mees suksesvolle emerging boere in ons gemeenskap, en daar is maar min wrywing tussen die nuwe boere en die gevestigde boere.

Ek maak nie daarmee uitsprake oor grondonteiening nie. Ek wil eerder die vraag vra: Watter verskil sou dit nie maak indien gevestigde boere in ander dele van die land hul kundigheid en hulle ervaring deel met jong, opkomende swart boere nie? Hoeveel welwillendheid sou boere nie kon opbou deur te help in plaas van te verhinder nie?

Dis die politiek van die alledaagse. Dis in daardie interaksie waar vriendskappe en vennootskappe gevestig kan word.

Afsluiting

Ter afsluiting.

Aartsbiskop Tutu se reënboognasie bestaan wel. Dis in elkeen van ons. Dis in elke interaksie wat ons elke dag, alledaags, met mekaar het. Daar is soveel pragtige verhale, soveel pragtige verhoudinge wat elke dag op verskillende klein en groot maniere in ons land uitspeel. Al wat nodig is, is dat ons mekaar moet regard.

Ons kan nie wag vir die regering om in te spring nie. Om weer ’n Kaapse uitdrukking te gebruik: Ons moet self dala. Dit beteken ons moet self inspring en doen wat gedoen moet word. Ons onderling, in ons verhoudinge wat ons elke dag uitleef, moet mekaar opbou.

Dit is die politiek van die alledaagse, en dit dra soveel meer versoeningskrag as wat ’n kruisie by die stembus ooit kan dra. Dis daar waar welwillendheid opgebou word.

Ek dank u.

 

Foto verskaf.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Ek wou die spreker loof omdat sy Afrikaans gepraat het aan die nieu-Engelse Free State University. Maar sy het 'n karikatuur van Afrikaans gemaak deur die oorvloedige gebruik van onnodige Engelse woorde. Myns insiens is daar geen heil in die oorlewing van Afrikaans in hierdie vorm nie. DF Malherbe behoort met suiwerder Afrikaans gedenk te word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top