DF Malherbe (1881–1969)

  • 1

Gebore en getoë

Daniel Francois Malherbe is op 18 Mei 1881 op die plaas Kleinbosch in Daljosafat in die distrik Paarl gebore. Hy was die seun van Petrus Jacobus (Piet Borrie) Malherbe, ’n wynboer van die Paarl en stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners, en Susanna Maria Elizabeth Brink.

Hy het as kind alleen grootgeword en wat hy veral uit sy jeugjare kon onthou, was die boerderybedrywighede op die wynplaas en hoe bang hy was vir die drosters se vuurtjies in die nag teen die hange van die Drakensberge en die vreeslike bangmaakverhale van Antjie  Somers.

Toe hy nege jaar oud was (in 1890), is hy na die Hugenote Gedenkskool wat deur SJ du Toit gestig is. Daar het hy saam met Totius en AG Visser op dieselfde skoolbanke gesit. Daar het SJ du Toit aan die kinders geleer dat godsdiens en nasieskap tot in die diepte met mekaar verbind is – eienskappe wat Malherbe altyd probeer nastreef het in sy latere jare.

Hy het grootgeword met ’n gevoel van trots wees op sy taal en liefde vir sy vaderland in ’n godsvrugtige en vrome agtergrond. Hy het later vertel hoe hy saam met sy vader op ’n Donderdagaand na die Bybelvertaling is. Die byeenkoms was in die gebou van die Paarlse Drukkery. Die besprekings waarna die elfjarige Malherbe daardie aand geluister het, het hom die res van sy lewe bygebly.

Ook kon hy die opgewondenheid baie goed onthou waarmee hulle die verskyning van die eerste Afrikaanse tydskrifte ingewag het en dat hulle as kinders ver gehardloop het om Ons Klyntji te gaan haal. Daar was ook baie plegtige samekomste onder die akkerbome waar ernstige sake rondom die taalkwessie bespreek is, asook stigtelike aangeleenthede rondom die kerk.

In My jeugland: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers (Afrikaanse Persboekhandel, 1953) het DF Malherbe vertel van sy grootwordjare: "Toe ek begin aansluit by die seuns van ons buurt – ons was ’n sestal – het my tyd van alleen-wees opgehou. Rondloop en kattekwaad doen – lang dag. Die slag om ’n tol te gooi dat hy sing, het my voorgekom as ’n groot daad. Dit eerste dat dit my geluk het, was by kerslig op die plankvloer van die kombuis – heldewerk.

"Toe voëltjies jag met ’n rekker. Die rooibekkies wat in die fluitjiesriet boer, wat deur die wingerde streep al met die bergstroom, is ’n wakker volk, ’n donker bank aan wegswerm voor jy hulle bykom. Maar die onskuldige glasogies met geelgroen veredos, geselserig in die granaatheining, was maklike prooi. My maters was handiger en verder gevorder met die rekker as ek. Maar eendag het ek ’n glasogie wat oorhang in ’n gebarste granaat, nogal tamelik hoog, netjies geraak. Die diertjie het met bewende vlerkies grond toe gesak. Hartkloppend het ek hom in my hand geneem, na die watersloot gehardloop en gelaaf. Maar sy ogies het gesluit oor die wit boog onder. Die prys wat ek begeer het, brand nou in my hand. Wat ’n verwyt! Waarom tog so? Die vervulling van ’n wens is nou ’n misdaad: ek het ’n onskuldige diertjie vermoor. Ek het nooit weer die rekker gebruik nie.

"Van toe af was ek vir my maters ’n plaag op die jagtog: voëls wegjaag as hulle aanlê. Behalwe gifdraers kon ek nooit ’n dier doodmaak nie. Ek kon nooit ’n jagter wees nie."

Malherbe het verder in My jeugland vertel dat hy ongeveer 12 jaar oud was toe daar ’n groot verandering in sy lewe plaasgevind het: "Onvermoeide ywer om behulpsaam te wees by die plaaswerk, het gewyk vir ’n onversadigbare drang tot die spel. Maar nou nie meer kinderspeletjies nie. Albaster en tol en dergelike dinge het gaan rus. Nou krieket. Van 12 tot 18 krieket. Min leer, baie speel. Ek herinner my dat ek, toe al op dorpskool, Saterdagaande uitgeput was – Sondag bied geen leergeleentheid nie – en dat ’n mens Maandagmôre op die kar dorp toe na Allen's Latin grammar gryp om haastig die Latynse rympies te leer. Dan heet dit: 'begin' – en daar rol die Latynse woorde soos ertjiekorrels uit ’n peul, en 'again' – daar rol dit soos klippe onder jou voet uit by bergklim, en 'again' - en nogmaals rits jy dan die ellendige rympie af.

"Dan is jy gered, die angs verby, want by die ander meesters was jy minder masjien, meer mens. Dat ek die binneland kon sien, die plantlewe en wydtes van die Karoo, magtige indrukke, dit dank ek dan ook aan ’n kriekettoer na Grahamstad. En dat ek vandag in my jare met groot dankbaarheid ’n ongeskonde gesondheid geniet, wil my voorkom as die vrug van die taaiste strawasies wat die ou liggaampie van vroeg af moes verduur. Waarby kom in die vroeë tyd altoos kaalvoet loop, in wintermodder en koue, op songestoofde grond, baie tekere gaan in water, swem en hardloop."

Oor sy skooljare het hy ook vertel in My jeugland: "De Gedenkschool der Hugenoten het bedoel om aan boerseuns ’n Christelik-nasionale opvoeding te gee. En so agterlik was die onderwystoestande in ons land dat daarheen gekom het vanuit die Republieke en Kaapland manne van oor die 20, manne met baard, om in die onderste klasse te begin. Maar aangesien die skool, aanvanklik vry, nie belas was met die raamwerk van standerds nie, kon hulle volgens vermoë vinnig vorder en met spronge aandruk na die hoogste klasse.

"Met die koms van die Gedenkskool het drukte ingetree binne die sleurgang van plaaslewe. Ek was ses-en-’n-half jaar leerling hier tot by School Higher wat egter minder leerstof omvat het as die hedendaagse standerd agt. Maar die skool was nie vir eksamens ingerig nie, en in vergelyking met vandag sou sy metodes sonder praat as onnut bestempel word. Vir Hollands was daar Stucki se grammatika en Chanquoin se Series, drie dele bestaande uit woordelyste, byvoorbeeld: arrival – aankomst; attention – aandacht.

"Onsmaaklike goed om te leer. En tog het veel hiervan gaan vassit, sodat ’n mens onmiddellik die woord het, asof jy dit so aflees uit Chanquoin. Maar geskiedenis was die lieflingsvak van die hoofonderwyser, en daarom het dit omtrent ’n kwart van die skooltyd in beslag geneem. Hy het in plesierige trant vertel, eintlik lesings gegee, waarby geen leerling ooit ’n nota geneem het nie, want daar was handboeke om in na te lees. Bybelgeskiedenis voorop, Algemene geskiedenis, Kerkgeskiedenis met sterk beklemtoning van die eerste eeue ná Christus en die Hervorming, Kaapse geskiedenis, British history.

"Um en mijn cijferboekje van Hoogenhout het ons leer somme maak, maar op die tweede bladsy reeds was optelkolomme met vier of vyf syfers in die ry. Metode van aansukkel en deursukkel teenoor vandag se resep- en inlepelmaniere. Die eerste boekie in aardrykskunde was in Nederlands, daarna Findlater, Physical geography, en dan die laaste bult op. (...)

"Hoog in aansien was die vak: Skoonskrif. Pryse is hiervoor uitgeloof. Die kuns om ’n pen te hou, die Copybook-model getrou na te skrywe, uit die staanspoor letters te verbind, die pen nie maar net op en af te beweeg nie, maar by die afkom effe te druk om so sierlikheid te verkry – dit was die grondslag van skoonskrif-onderwys. (...)

"Om algemene kennis te bevorder en belangstelling gaande te maak vir dinge van openbare belang, is pryse uitgeloof vir dié wat beste verslag kon doen van die wêreldgebeure en Suid-Afrikaanse politieke lewe gedurende die lopende jaar. Maar speellus het my teruggehou van meeding in wat my voorgekom het as ’n wedstryd wat van jou verlang om ’n vervelige snuffelry in koerante aan die gang te sit en dit vol te hou vir ’n jaar lank."

Hy het sy stuk in My jeugland só afgesluit: "In ’n tyd wat tot veel mistroostigheid en ontmoediging in menseverhoudinge om jou aanleiding gee, bly dit ’n dankbare erkentenis dat jou jeugervaring in ’n lewenskring wortel, wat ’n diep gemoedslewe geken het, ’n rustigheid en geloofsblyheid en geluk, ’n blywende skat, uiteraard ontoeganklik vir die wetenskap of die kuns; mense vertroud met ’n ordening van die lewe wat nóg in vooruitgang nóg in materiële gerief te vind is; mense met ’n onafwysbare rigting. En so word wat later bykry, op onnoemlike wyse en onbewus gekleur met insypeling van dinge uit die vertel. Almal is nou heen, maar die stemme en gesigte bly, onuitwisbaar, troosryk."

Hy is later na die hoërskool op Wellington waar hy na twee jaar in 1898 sy matriek gemaak het.

Verdere studie en werk

In 1899 is hy na die ou Victoria-kollege (vandag die Universiteit Stellenbosch). Na slegs ’n jaar het hy sy studies onderbreek en het hy gaan onderwys gee op Montagu. Hy het teruggekeer na Stellenbosch om sy studies klaar te maak. Hier was hy so begeesterd deur dr WJ Viljoen se lesings in die taalwetenskap dat hy besluit het om, nadat hy sy studies voltooi het, sy studies in Duitsland voort te sit. In 1902 het hy sy BA-graad aan die Victoria-kollege verwerf en het kort daarna na Duitsland vertrek.

Hy is aan die einde van 1903 na Halle an der Saale waar hy hom as student ingeskryf het. Hy het hom egter vreeslik vererg toe een van die dosente gesê het dat die Toring van Bybel ’n sprokie is, dat hy net daar na Freiburg gegaan het. Daar het hy sy studie onder die bekwame leiding van proff Kluge en Woerner voortgesit. Kluge was ’n baie bekende taalkundige en blind.

Sonder dat hy enigsins in Duits onderleg was, het hy binne twee-en-’n-halfjaar jaar sy D Litt-graad magna cum laude verwerf met ’n uitstekende taalkundig-leksikografiese tesis getiteld Das Fremdwort im Reformationszeiltalter.

Reeds voordat hy na Duitsland vertrek het, volgens B Kok in Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, het Malherbe begin om notas te maak in klein boekies wat eers na sy dood bekendgemaak is. Hy het eers in Nederlands, daarna in Engels en daarna soms iets in Afrikaans geskryf. Uit die aantekeninge straal sy geloofsoortuiging wat volgens Kok amper aan dweepsug gegrens het, asook sy hoë moraliteit.

DF Malherbe as taalstryder

Malherbe het teruggekeer na Suid-Afrika as ’n entoesiastiese akademikus en ’n patriot in murg en been. Hy het dadelik sy stempel op talle terreine in die samelewing laat geld. Op 12 Oktober 1906 het hy sy bekende geskiedkundige lesing met die titel "Is Afrikaans ’n dialek?" in die Goodnow-saal op Wellington gelewer en dit het beroeringe op vele terreine veroorsaak.

Gedurende daardie tyd het hy aan die Hugenote-seminarie klas gegee en ongeveer 500 mense het met gespitste ore na sy vurige pleidooi vir die bestaansreg van Afrikaans as selfstandige en volwaardige taal geluister. Hy het later in sy ongepubliseerde memoirs (Uit my lewensboek) geskryf dat hy baie bly was dat hy die kans gegee is om "taalkundig gegrond, die spinnerak voor die oë te help wegruk".

Sy doel met hierdie toespraak het hy só gestel: "Dit is vooral omdat ik dit gevoel, dat bij ons mense ’n groot gebrek aan gesonde taalbeginsele sig openbaar, dat ik beslote het om hierdie voordrag te hou. En als dit mij geluk om sekere beginsele bij u ingang te laat vind, dán sal uw oge geopend word voor de waarde van ons Afrikaanse moedertaal. Dón sal ik ’n beskeie bijdrage gelewerd hê om ons spreektaal uit die verpestende poel van skromelike verguising en  minagting op te help, om te reinig wat snodelik onder wréde voete verpletterd word, om te suiwer wat deur onreine gif aangeval is, om te laat waardeer wat vandag met groot onreg belasterd word. Dit is maklik om te beweer, maar ik wil die langere weg met u gaan, namelik eers taalbeginsele vasstel om die dan toe te pas. In die naam van die wetenskap vraag ik dus uw aandag."

In sy artikel in Bylae tot Die Volksblad (23 Junie 1981) het GS Nienaber geskryf dat Malherbe daarna op ’n kalm wyse betoog het hoe elke taal ’n "dialek was en is, dat die grammatika en taalreëls in elke taal noodsaaklikerwys aanwesig is en uit die taal self afgelei moet word, en so meer. Sy argumente, meestal vandag nog geldig, is dié van ’n deeglik geskoolde taalwetenskaplike en dus nie maklik om te weerlê nie, gestel iemand sou die stryd met hom wou aanknoop."

Daar was ook daardie tyd in De Unie ’n bewering gemaak dat om Afrikaans tot skryftaal te verhef "net so belaggelik is as wanneer mens in Europa een of ander dialek tot skryftaal wil verhef”. Hierop het Malherbe as volg gereageer: "Teen hierdie onwaarheid is g’n stomme woord gesê nie. Waar is dan nou ons taalmanne, wat waak voor die eer van ons Moedertaal? Dit is verontwaardigend, dat sig daarteen nog geen stem verhewe het nie! Daar is tog werklik g’n 'taalgeleerde' toe nodig, om die waterigheid van ’n sodanige logika in te sien! Ik voel mij daartoe geroepe die eer van mijn Moedertaal hoog te hou, en ten minste teen growwe onjuisthede op te tree."

Malherbe het hierdie vurige rede só afgesluit: "Eerst dan als ons Afrikaanse moedertaal haar onbetwisbare regte gehandhaafd hê, eerst dan als die skrijftaal van die Afrikaner die taal van sijn hart gaan wees, sal die magtige o'erwinningslied van die toekom in oorverdowende akkoorde o'er ons hoofde donderend heenrol." (Bylae tot Die Volksblad, 23 Junie 1981)

DF Malherbe was ook een van die leidende figure in die taalstryd in die suide van die land. Hy het op ’n weeklikse basis in gesprek getree met JHH de Waal en hy het sterk ondersteuning verleen aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging op 3 November 1906 in die Wichtsaal in Kaapstad. Hy was ook die voorsitter van die eerste vergadering van die hoofbestuur van die ATV op 1 Desember.

In 1907 is hy aangestel as die hoof aan die Hoërskool Carnarvon. Hier was sy vorige skoolmaat, AG Visser, onderwyser en waar die twee voorgeloop het in die kulturele oplewing in die dorp daardie tyd.

Malherbe was net vir twee jaar op Carnarvon voordat hy vir nege maande vir WJ Viljoen op Stellenbosch ingestaan het. Daar het hy Duits en Frans doseer en ’n sekere ds Botha wat deel van die Universiteitsraad was, het aan Malherbe gesê dat hy teen hom gestem het aangesien hy die jeug beïnvloed het om Afrikaans te praat en te skryf.

Volgens Kok was Malherbe se volgende skuif die "beslissende wending" in sy lewe. Generaal JBM Hertzog het hom gevra om as professor in moderne tale (Nederlands, Duits en Frans) aan die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein te begin werk. Op 7 Februarie 1910 het hy begin met sewentig studente en net Malherbe en A Francken wat die Nederlandse lektor was, het Afrikaans gepraat.

In 1918 het hy professor in Afrikaans geword – die eerste persoon in Suid-Afrika om so ’n betrekking te beklee. Hy het nog tot 1928 Nederlands, Afrikaans en Duits gedoseer, voordat hy eksklusief in Afrikaans klas gegee het. Malherbe was ook rektor van die Universiteit van die Vrystaat vanaf 1929 tot 1934. Hy het in 1941 afgetree as akademikus om hom voltyds aan sy skryfwerk te wy.

Met DF Malherbe se aftrede in Desember 1941 het daar ’n berig in Die Burger verskyn wat net so oorgeplaas is in Die Volksblad van 6 Desember 1941. In die berig word die koppe van die Raad van die Universiteitskollege van die Vrystaat behoorlik gewas omdat hulle die byna eenparige aanbeveling van die Senaat dat DF Malherbe nog ’n tyd lank aan die universiteit moes klas gee, verwerp het.

"Selfs die agt raadslede wat die aanbeveling van die Senaat afgestem het, kan nie so onkundig wees dat hulle nie terdeë besef dat hulle die universiteitskollege ’n onvergeeflike ondiens bewys het nie. Vir die handhawing van die reël dat ’n dosent outomaties aftree wanneer hy die ouderdom van 60 bereik, sou daar wel regverdiging gewees het indien die Raad graag van ’n middelmatige hoogleraar afskeid wou neem of van tanende kragte moes kennis neem. In die geval van Malherbe geld geen van dié twee oorwegings nie. Sy skeppingsdrang en sy werkkrag is onverminderd en geestelik beleef hy nog die fleur van sy lewe. En aan hom, die sieraad van die kollege, ontleen die inrigting sy luister. As veelsydige kunstenaar het hy ons letterkunde verryk, as kultuurstryder, as spreker en redenaar het hy aan die Afrikanersaak groot dienste gelewer en as geïnspireerde en beminde hoogleraar, as ons eerste professor van Afrikaanse taal- en letterkunde, het hy sy stempel afgedruk op geslagte bevoorregte studente. (...)

"Die meerderheidsbesluit van die Raad sal seker nie daartoe bydra om die vertroue van Afrikaners in die hoogste liggaam van die inrigting te versterk nie. Dit staan vas. Dit staan ook vas dat die Raad die inrigting ontsaglik verarm het."

DF Malherbe as taal- en kultuurman

Malherbe was sy hele lewe lank ’n vurige en ook by tye driftige ondersteuner van die Afrikaanse taal en lektuur. Hy is tot in Augustus 1939 geskors omdat hy hom uitgespreek het teen die dinge wat sy volk se "geestesgoedere" bedreig het. Nadat sy skorsing opgehef is, het sy studente hom by sy huis gaan haal en hom in ’n "feestelike optog" na die universiteitskampus vergesel. Hy het gelukwensingsbriewe vanoor die hele land ontvang.  

Gedurende sy ampstermyn aan die Universiteit van die Vrystaat was een van sy vernaamste kenmerke die oortuiging waarmee hy hom beywer het vir die bevordering en handhawing van sy moedertaal Afrikaans. Hy was onder andere een van die ywerigste lede van die kultuurvereniging Ons Taal in Bloemfontein, het ’n deurslaggewende rol gespeel in die stigting van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst en hy het op 5 Junie 1914, saam met ds W Postma, die bewoording van die Vrystaatse Onderwysordonnansie in so ’n mate gewysig dat die woord "huistaal" ook Afrikaans sou insluit. Dieselfde middag is die mosie op NC Havenga se voorstel deur die Vrystaatse Provinsiale Raad aanvaar.

Die eerste offisiële taalonderwys in Afrikaans aan ’n opleidingskool of staatsinrigting in Suid-Afrika is op 29 Julie 1916 deur DF Malherbe aan die Bloemfonteinse Normaalskool begin. Onder die 63 kursusgangers was heelwat beroeps- en sakelui.

’n Mens kan aflei uit Malherbe se taalwetenskaplike artikels en publikasies dat hy net so ’n goeie taalkundige as letterkundige was. In 1917 is sy Afrikaanse taalboek uitgegee as ’n verdienstelike en omvattende taalboek terwyl sy Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme van 1925 vir baie jare ’n standaardwerk in die spesifieke veld was. Hy was baie lank lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was ook voorsitter van die taalkommissie. Malherbe was ook vir 17 jaar redakteur van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns.

DF Malherbe as romanskrywer

Hoewel DF Malherbe gedebuteer het met ’n digbundel, was dit as romanskrywer wat hy sy merk in die Afrikaanse letterkunde gemaak het.  In 1913 verskyn sy eerste roman Vergeet nie met ’n subtitel histories-romantiese verhaal uit die Anglo-Boereoorlog.

In Die Brandwag van 15 April 1913 het die resensent (naam onbekend) geskryf dat hy/sy hierdie roman van Malherbe met ’n "sekere teensin opgeneem" het, aangesien die meerderheid van mense wat die Anglo-Boereoorlog beleef het, nie sommer vrywillig ’n boek daaroor sal lees nie. "Die episode uit ons volksbestaan is daarvoor te droewig."

Die oorgrote hoeveelheid boeke wat oor daardie tyd en gebeure handel, word geskryf met ’n "souteloosheid en ’n gebrek aan pit, wat dit ’n kwelling maak om dit tot die einde te moet lees".

Maar, het die resensent voortgegaan, hierdie nuwe boek van Malherbe is vanuit die staanspoor anders as die voriges. "En hoe verder ’n mens met die boek vorder des te meer krij hij vrede met die gekose onderwerp en des te meer moet hij erken, dat hij hier te doen het met ’n degelike stuk werk, wat baje welkome bijdrage vorm tot die biekie prosa-werke wat ons al besit. Ofskoon ons die boek nie sonder vooroordeel begin het nie, was dit dus ’n aangename verrassing."

LvN het in Die Huisgenoot (Junie 1918) geskryf Malherbe "lewer hier egter ’n baie verdienstelike proewe van uitbeelding van gemoedslewe, en om die rede verwelkom ons die boek van harte. (...) Nie alle aandoeninge is ewe goed uitgebeeld nie, (...) [m]aar dit is kleinighede vergeleke bij die goeie eienskappe van die roman, wat ons prosa ’n groot stap vooruit bring deur beskrijwingskuns psigologiese insig en sorg aan die taal bestee."

B Kok (Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek) teken aan dat met Vergeet nie het ’n Afrikaanse skrywer vir die eerste keer "veel meer as ’n blote uiterlike verhaal met allerlei geforseerde intriges gelewer. Verrassend was die ruising van die ritmiese volsinne, die meeslepende sfeeruitdrukking, die indringende weergawe van gemoedsgesteldhede en die suggestiewe uitbeelding van die landskap.

"Dit het spoedig duidelik geword dat hy bo alles die simbolis, die idealis en die romantikus was wat hom daarin verlustig het om skerp beeldend en sonoor suggestief te skryf. Sy oordrewe liriese gevoelsuiting en sy verbalisme het hom dikwels heftige kritiek op die hals gehaal. Dat sy styl soms te vermoeiend weelderig en oordadig was, kan niemand ontken nie. Net so onteenseglik waar is dit egter dat sy verhewe siening en die singende ritme van sy afgestemde sinne in baie opsigte vernuwing en verryking gebring het."

Malherbe se volgende roman, Die meulenaar, het in 1926 verskyn en daarvoor het hy die eerste van sy drie Hertzogpryse ontvang (saam met JFW Grosskopf en AG Visser).

MSB Kritzinger (Die Volkstem, 3 Julie 1926) het gemeen dat die storie in Die meulenaar nie die belangrikste is nie, hoewel "hy die verskillende dele van die boek soos ’n draad aanmekaar ryg. Tussen die verskillende hoofstukke, wat deel van die verhaal vorm, word sekere tonele uit die plaaslewe ingevleg en hier en daar is die skrywer op sy beste. Dink maar aan die plaasvendusie, die meulenaar in sy werk, die kleurlinge wat gaan oes, parstyd, die piekniek op die plaas, die verjaardagmaal, wingerdspit, en dan tussen hierdie brokstukke uit die lewe, die eintlike liefdesverhaal tussen Leonore en die meulenaar, prokureur Louw en Koos Bester, die jong koringboer.

"Of ons ’n goeie beeld van al hierdie en ander persone kry, is van minder belang. Die skrywer wou in die eerste plek die meulenaar weergee en daarin het hy uitstekend geslaag. Besonder fyn word hy op baie plekke geanaliseer en ons voel dat hy sielkundig waar gegee word. Verder wou die skrywer die plaaslewe gee en dié is ook geslaag. (...)

"Hier en daar mag die verhaal onnatuurlik wees, (...) maar die plaasatmosfeer is eg. Die skrywer vertel goed, die dialoog is deurgaans natuurlik, daar is afwisseling, geestigheid, realisme en mooi passende spreekwoorde. Dr M is ’n knap stilis. (...)

"As uitbeelder van die natuur blink die skrywer veral uit. Daarom is sy taal in die beste betekenis van die woord so bloemryk. Daar word nogal beswaar hierteen gemaak, want die styl, so word beweer, trek ons aandag van die verhaal af. Persoonlik hou ek van die skilderende woord van die fyn navoeler van die natuur. Die skrywer se natuur-uitbeelding is nie opgeplak nie, dis deel van sy styl, dit help hom om die nodige atmosfeer te skep; dit besiel alles met die lewende asem van die natuur. Dit belemmer nie die vooruitgang van die verhaal nie, want dit doen ’n mens goed om so nou en dan stil te staan om rond te kyk en krag en besieling uit die heerlike natuur te put."

H Venter het in Ons Eie Boek (Junie 1952) geskryf dat Die meulenaar seker nie ’n groot roman is nie. "Daar is baie dowwe plekke en baie wat aan die intrigeroman herinner, maar dit bly een van Malherbe se gaafste werke en ’n welkome aanwins in ons nog baie skrale romanliteratuur."
Malherbe se volgende roman was Hans-die-Skipper (ook in 1926) wat seker sy werk is waarvoor hy die bekendste is. Dit het vele herdrukke en heruitgawes beleef en is in 1953 verfilm met André Huguenet in die hoofrol. Herbert Kretzmer, Johan Bouwer en Bladon Peake het die roman verwerk. Dit is in 1930 met die Hertzogprys bekroon.

“In Hans-die-Skipper vind ons die vissersdorpie met sy skoolmeester en ’n kinderliefdesverhaal op die voorgrond. Dan kom die karakter van Hans-die-Skipper en laastens as agtergrond die see,” het AC Cilliers in Huisgenoot van 30 Augustus 1929 geskryf. Maar vir Cilliers bly die beeld slegs "mosaïek; hoewel die skrywer ’n verdienstelike poging aanwend, ontbreek die diepere samesmelting van die aparte bestanddele tog nog. Want die sintese wat die skrywer probeer bewerkstellig, is, as ’n gevolg van ’n myns insiens verkeerde siening van die probleem, ’n kunsmatige. Sy modus operandi word daardeur ook te deursigtig. (...)

"Die skrywer toon vir ons die handelende werklikheid soos die gewone, alledaagse mens dit sien, meganies-fotografies. Maar dit is nog geen kuns nie. Dit ontbreek die handeling aan ’n eie besieling, ’n innerlike warmte wat die leser meevoer en tot in sy siel ontroer. (...)

“Wat die taal en styl betref – by Malherbe ontbreek dit nie aan woorde en sinswendinge nie. Meestal is dié goed versorg, soms ontaard dit ook wel in ’n bewuste poging tot mooiskrywery. Maar ons wil nie verder daaroor uitwei nie. Liewers voeg ons by die woorde van kritiek wat ons gebesig het, ’n woord van dank en aanmoediging aan Malherbe vir die ondernemingsgees wat hy openbaar. Hy is ’n soeker en ’n werker, ’n baanbreker op nuwe weë, en ons waardeer sy strewe. Met belangstelling sal ons uitsien  na sy volgende werk."

MSB Kritzinger het Hans-die-Skipper in Die Volkstem van 17 Augustus 1929 bespreek. Vir hom het Malherbe veral twee persone in die roman geteken, naamlik Meester, die baie populêre onderwyser op hierdie ongenoemde dorpie, en Hans, die visserman. Volgens Kritzinger kon Malherbe net sowel die boek Meester genoem het. "Meester is ’n liewe verskyning," het Kritzinger geskryf. (...) Meester steel ’n mens se hart waar hy soos ’n sorgsame vader oor daardie gemeenskappie waak. (...)

"Hans-die-Skipper is ’n heeltemal ander tipe, maar nes Meester leef hy net in en vir sy werk. Trouens, dis ’n kenmerk van feitlik al die mense in hierdie boek: hulle lééf in hulle werk, hulle het dit lief. "

Om hierdie twee hoofkarakters word ’n groot stuk lewe geskilder. "Ons maak met daardie mense kennis in hulle werk, maar ook in hulle ontspanning en hulle alledaagse praatjies. Dis nie die grootste wat die skrywer gee nie, maar daardie eenvoudige stuk lewe word mooi uitgebeeld. (...)

“Dr Malherbe het die jeug ook mooi uitgebeeld. (...) Die skrywer het die see lief en hy slaag daarin om hom in verskillende stemmings te laat lewe. (...) Die skrywer is digter; dit merk ’n mens byna op elke bladsy. Dit het sy voordele, want nou laat hy die leser besef dat prosa nie sommer iets is wat ’n mens kan afskeep nie. Nee, ook dit eis die hele hart van die skrywer."

Maar soos baie ander sou Kritzinger ook meer direktheid en eenvoud in die skryfstyl verkies het, maar hy het tog Hans-die-Skipper as ’n" verdienstelike" roman beskryf.

In Die Brandwag (Mei 1930) het PC Schoonees sy resensie van Hans-die-Skipper as volg afgesluit: "Daar is stukke prosa in hierdie roman voortreflik van sonoriteit, ryk van beeldende krag, blyverrassend deur oorspronklike metafoor! Steeds word die digter se aandag vasgehou deur 'die lang lyn van vervaarlike branding, die spel van ewige selfvernietiging en ewig-onvermoeide heropstanding', steeds jubel sy hart oor die wisselende kleurespel in 'die perlemoenpaleis van die see', steeds luister hy gespanne na die singende golfruisings. ’n Enkele keer is daar wel ’n pronkerige swierigheid in sy styl, of bederf hy die ritmiese effek deur elke nuwe sin met ’n eentonige en-en-en te laat begin. Maar Malherbe het tog sonder enige twyfel deur sy hoogstygende siening ons brokstukke gegee van ’n prosagedig oor die see, trillend van ritmiese bewoënheid en magistraal van skone woordbou."

B Kok het die dramatiese konfrontasie tussen die pa en sy seun as "onvergeetlik" beskryf en so ook Hans se passie vir die see en Johan se "onbesuisde arbeidsdrif in die smedery".

Hierna het DF Malherbe drie Bybelromans die lig laat sien: Die hart van Moab (1933), Saul die worstelheld (1936) en Die profeet (1937). Die Hertzogprys is in 1939 aan laasgenoemde twee toegeken.

Volgens MSB Kritzinger (Die Huisgenoot, 20 Oktober 1933) is Die hart van Moab die eerste Bybelroman in Afrikaans. Die hooftema van die boek draai om die storie van Rut. Askar, die Moabitiese leier is op Rut, die dogter van die koning, verlief, maar sy vertrek na Palestina saam met haar skoonma, Naomi. "Of die Moabitiese leiers historiese figure is, weet ek nie. Ek betwyfel dit. Die skrywer moes egter ’n studie van die geskiedenis, sover dié bekend is, van die Moabiete gemaak het, maar die Bybel het hom daartoe besiel, want vir elke Afrikaner het die mooi geskiedenis van Orpa en Rut, maar veral dié van laasgenoemde, wat haar maagskap vaarwel sê, haar nasionaliteit versaak en deur die Hebreërs geabsorbeer word, ’n dieper betekenis."    

Kritzinger se laaste gevolgtrekking nadat hy Die hart van Moab gelees het, is dat dit een van die eerste "voorbeelde van die nuwer historiese roman in ons letterkunde" is. "Al ons geskiedkundige verhale is na die lees van Scott en sy navolger, Jacob van Lennep, geskoei. Dit lyk of Malherbe hier gedoen het wat Adriaan van Oordt en andere aan die end van die vorige eeu reeds in Holland gedoen het: hy het die metode van die sielkundige roman op historiese stof toegepas. Hulle gee, met ander woorde, nie te veel onverwerkte geskiedenis nie en vertel ons nie af en toe, om onsself na die verlede te kan verplaas, wanneer die gebeure plaasgevind het nie. Hulle probeer ons eenvoudig na die verlede te verplaas, en wanneer hulle dit nie regkry nie, is dit ’n mislukte geskiedkundige verhaal."

Oor Die Hart van Moab het PJ Meyer in Die Volksblad van 14 Oktober 1933 geskryf dat daar nie ’n groter tema in ons eie nasionale kuns is as die een wat in hierdie roman gevind word nie: "dit gaan nie om die sielestryd van ’n indiwidu nie, maar om die worstelstryd van ’n nasiesiel wat bewend hunker na selfverwesenliking. (...) Hierdie werk van Malherbe sal altyd voortleef as ’n magtige uiting van nasieliefde, en juis daarom nimmer gedek word deur die stof van die vergetelheid nie."

Oor Saul die worstelheld het PC Schoonees in Die Huisgenoot (10 April 1936) geskryf dat Malherbe in hierdie roman, net soos in Die hart van Moab, nie net die Bybelverhaal oorvertel het nie, maar dat hy in baie van die vernaamste aspekte daarvan afgewyk het. "Ook was dit nie sy bedoeling om Saul tot ’n gewone romanheld te maak nie. Die historiese Saul het die sentrale figuur geword van ’n epiese herskepping waarin die fantasie van die kunstenaar vry beweeg het. (...) Ons moet hierdie roman beskou as ’n talentvolle begeleiding van die sobere Bybelse gegewens en ons daaroor verheug dat Malherbe met soveel suiwerheid die essensiële boodskap van Saul se val vertolk het."

Die profeet wat saam met Saul die Hertzogprys verower het, is gebou rondom die figuur van die profeet Jeremia en die liefdesverhaal van Jeremia se leerling en sekretaris, Baruch en Hélea, die dogter van een van die koning se raadgewers, Pashur. In Volksblad van 6 November 1937 was die resensie van SPE Boshoff. Hy het gemeen dat Die profeet geen "intrigeroman met spannende verwikkelinge is nie. Hoofsaak is dit ’n milieuskildering. In hoe ver Malherbe van hierdie milieu ’n studie gemaak het, is my nie bekend en kan ek ook nie beoordeel nie. Vir die gewone leser gee dit egter die indruk van egtheid. Maar dit is nie natuuromgewing wat hier van die grootste belang is nie; die wese van die verhaal skuil in die geestelike milieu, die nasionale stryd van die Jodedom in die tyd van Jeremia. En van hierdie milieu kon Malherbe hom uit die Bybel en uit ander lektuur goed op hoogte gestel het. Dit wil my voorkom dat daar in hierdie roman, soos in die vorige twee Bybelromans, ’n verskole simboliese strekking is, dat die skrywer in hierdie worstelstryd die prototipe sien van die nasionale beweging in die algemeen, ook van ons volksgeskiedenis. Hier is geen opsetlike tendens nie, maar die leser voel dit onbewus aan, of die romanskrywer dit nou al so bedoel het of nie.

"Tog voel ons die botsing hier as minder aktueel as in die geval van die vorige twee Bybelromans van Malherbe. In hierdie opsig kan ons miskien ’n daling van gevoelsintensiteit konstateer, hoewel daarmee nie gesê is dat die roman as geheel soveel laer as sy voorganger staan nie. Daar is hier nie die grootsheid van siening, in die tekening van die voorbereiding vir die stryd wat ons in die ander twee opmerk nie, ook nie in die skildering van die stryd self nie; maar aan die ander kant kom die politieke meningsverskille beter op die voorgrond. En daarby is daar ’n selfbeheersing en soberheid van taal wat weldadig aandoen. Hier bereik Malherbe sy hoogste punte in sy byna liriese uitbeelding van die arbeidsgenot. (...) As geheel sien ek in Die profeet in vergelyking met sy vorige romans geen styging nie, maar dit is mooi werk en ’n besliste aanwins vir ons prosaliteratuur."

DF Malherbe se volgende drie romans gaan oor die lotgevalle van die vroeë setlaars in die land, die swaarkry van die Trekkers en hul vaste geloof en hulle afhanklikheid van die grond. Die eerste was Die bergstroom ruis wat in 1940 verskyn het. In 1943 is Vlam van die Suurveld uitgegee en in 1945 En die wawiele rol.

Die hoofkarakter in Die bergstroom ruis is August Fenting wat in die vroeë dae van die Kompanjie vir sy nageslag ’n pragplaas, Fentinghof, in die wilde wêreld van die Drakenstein aanlê.

Twee uiteenlopende menings oor Die bergstroom is dié van G Dekker in Die Burger van 12 April 1941 en SC Hattingh in Die Brandwag van 22 November 1940. Vir Dekker was die roman nie geslaagd nie en kom Malherbe se gebreke as skrywer sterk na vore. Die liriek bied nie baie afwisseling nie en die tekening van die karakters is teleurstellend. Ook is dit veronderstel om ’n historiese roman te wees, maar dit beeld nie vir die leser die verlede "in sy uiterlike verskyning" uit nie. Ook is daar ’n "totale afwesigheid van lokale kleur", volgens Dekker.

SC Hattingh beskryf Die bergstroom ruis as ’n "verheerliking, ’n himne van bewondering vir die moed, die taaie volharding van die eerste Voortrekkers, die baanbrekers." Volgens Hattingh is hierdie boek, soos Malherbe se ander, "in liriese taal geskrywe – taal wat opborrel uit ’n bewoë gemoed en getuig van waaragtige belewing. Die roman sal sy weg vind tot die harte van alles liefhebbers van ons Afrikaanse literatuur."

Die tweede deel in hierdie "trilogie" is Vlam van die Suurveld wat aan die oosgrens van die Kaapkolonie afspeel met Rooi-Willem as hooffiguur. As grensboer verpersoonlik hy die "taaie wil tot verset en uitbreiding, wat dit vir die Boer moontlik gemaak het om Suid-Afrika te onderwerp,” het WEG Louw in Volksblad van 3 Desember 1943 geskryf. Die ander karakters in die roman is almal min of meer ondergeskik aan hom. Vir Louw bied hierdie roman stilisties ’n interessante ontwikkeling: "dit is nugterder gestel as wat ons in die werk van Malherbe gewoond is. Hier is nog aanwesig die breë swier van die volsinne, die wyd uitwaaiende ritmiese periodes en die liriese tussenpassate, maar daar is betreklik min spore van sy kenmerkende bloemryke en versierde taal. Dit is ’n roman wat ’n mens met groot aandag end-uit lees en dit neem ’n waardige plek in in die werk van hierdie produktiewe en veelsydige kunstenaar."

In En die wawiele rol het Malherbe die geskiedenis van die vroeë trekkers ’n ent verder geneem en word die lewens van die trekkers wat toe al oor die Grootrivier getrek het, uitgebeeld. Die hoofkarakter is Groot-Gert en sy familie. Vir MSB Kritzinger (Naweekpos, 24 Januarie 1946) is die oorsake van die Groot Trek op oortuigende manier en baie natuurlik verweef met die ander intriges van die roman.

"Stilisties is die beste dele van die boek dié waarin die geesdrif van die verskillende persone, maar veral van Groot-Gert en Jakob, vertolk word. Hier is geen gesoek na woorde nie – dit borrel voort uit die oorlaaide gemoed van die kunstenaar. Dikwels verlustig die skrywer hom egter in ’n oordaad van woorde en ’n swierigheid van taal. (...) ’n Mens moet egter die taalvernuf van die skrywer bewonder. (...)

"Afgesien van wat reeds gesê is, lê die waarde van die roman daarin dat die skrywer hom, nes in sy Bybelromans, van die tegniek van die nuwe historiese roman bedien het. Die geskiedenis word nie hoofsaak nie, maar die mense, en hulle word in die regte raamwerk van die tyd behandel."

Volgens B Kok in Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek het DF Malherbe se romans na bogenoemde drie ’n "duidelike agteruitgang" getoon. Hoewel die verhale nog leesbaar was, het die "stuwing" ontbreek en is daar nie veel in die romans wat die leser vasgenael sou hou nie.

SC Hattingh het in Helikon (31 Oktober 1953) oor Malherbe as prosaïs geskryf en hom beskryf as "simbolies-liriese ekspressionis".

"Hy is die romantikus wat nie soseer aangegryp word deur die sintuiglik waarneembare werklikheid nie, of juister gesê, nie in die regstreekse uitbeelding daarvan belangstel nie, maar eerder wat hy waargeneem het omskep tot ’n simbool, tot ’n eie innerlike lewensstemming. En in die daarstelling van hierdie geïdealiseerde werklikheid het hy verrykend ingewerk op taal en letterkunde. Deur hom verkry Afrikaans ’n soepelheid en uitdrukkingsvermoë wat dit vantevore nie gehad het nie. Die skoonheid en welluidendheid van die woord, die ritmiese deining van sy volsinne, die aanskoulikheid en beeldrykheid van sy taal bestempel hom onteenseglik as een van ons grootste woordkunstenaars. Maar ook om die uitbeelding van die Afrikaanse lewe en natuur sal sy werke, veral Die meulenaar en Hans-die-Skipper, ’n ereplek in die Afrikaanse letterkunde bly inneem."

DF Malherbe as digter

In Die Huisgenoot van 6 Junie 1941 het G Dekker in ’n artikel "Malherbe as digter" geskryf dat Malherbe self die beste beskrywing van sy digwerk gegee het in die voorwoord tot sy bundel Somerdae:

Dis glansies in die land van my arbeid,
dis glimpsies wat af en toe kom,
plesiertjies soos kindergesiggies
wat lag en weet nie waarom -
verliefdheidjies skielik gebore,
wat skuiwe oor my eensame pad,
skimmer en drome van gister,
in vandag se gedaante vervat.

Die heel klein vertroostinkies hierdie
uit donker gevoelsland gerys,
wat niemand die paadjies van ken nie,
wat niemand die grond van kan wys;
dis huiwering van awendgebede
gestem op snare van smart,
dis dankbare môrebeloftes
gestroom uit gevoelvolle hart.

Volgens Dekker het Malherbe as kunstenaar hom meer uitgeleef in sy prosa en nie in sy poësie nie. "En hoewel hy wel enkele werke van epiese opset en van langer adem geskryf het, is die meeste van hierdie gedigte inderdaad 'glansies in die land van (sy) arbeid', 'glimpsies wat af en toe kom'. Hewigheid, direktheid, essensiële kuns waarin die kunstenaar sy hele geestelike bestaan as’t ware op die spel sit, moet ons dan ook nie soek nie. Volgehoue spankrag, die dinamiese gevoelstroom wat ’n hele gedig tot in sy fynste geledinge deurstu en tot ’n fel lewende organisme maak, ontbreek dikwels. Baie van hierdie gedigte doen eerder aan as digterlike parafrases van die ontroering as daardie ontroering self in al sy geheimsinnige onmiddellikheid. Dit bring gevare mee waarop die kritiek uitvoerig gewys het. (...)

"Interessant is die musikale grondtoon in Malherbe se poësie. Veral in sy 'Die timmerman' kom dit duidelik uit. Die werk set in met die langsaam bewegende verse van eenvoudige droefheidsepiek:

Daar is ’n droewig-soet verhaal
waar weinige van weet (...)

"Hierdie hele digwerk is musikaal opgebou, nie omdat die digter opsetlik klanknabootsend daarna gestreef het nie, maar omdat die verskillende momente, die teenstellinge in die verhaal van menslike smart en vreugde vanself die karakter aangeneem het van musikale beweginge. (...)

"Malherbe het betreklik selde die sonnet beoefen. Hierdie kunsvorm, met sy eis van strenge konsentrasie, skyn hom, net soos die kortverhaal, nie te leen vir sy kuns nie. Tog is 'Slaap' tereg beroemd en word dit tereg beskou as ’n besonder geslaagde voorbeeld van die musikale digvorm by uitnemendheid. (...)

"Juis omdat Malherbe hom nie in die eerste plaas in sy poësie uitgeleef het nie, is dit moeilik om ’n eenheidsbeeld te gee van daardie poësie sonder die breë opgesette studie waarvoor die geleentheid my hier ontbreek. Hy was egter altyd ’n digter wie se kuns altyd so verbonde was aan die lot van sy volk."

In Helikon van 31 Oktober 1953 het die redaksie geskryf Malherbe is as digter "ekspressionis en simbolis wat agter tydelike verskynsels na ewige waardes soek. Sy verse munt veral uit in die skoonheid van woordmusiek en ritmiese deining. Hy het die Afrikaanse letterkunde verryk met ’n aantal gedigte wat tot die skoonste uitinge in ons taal gereken kan word."

Dit was op Carnarvon waar DF Malherbe se eerste letterkundige pogings gepubliseer is, naamlik sy digbundel Karroo Blommetjies wat in 1907 uitgegee is.

Volgens B Kok (Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek) "het die verskyning van die werkie nie gespruit uit ’n begeerte om te bewys dat Afrikaans geskik was om as kunstaal aangewend te word nie, maar die verse het spontaan ontstaan deurdat die eiesoortige bekoring van die Karoolandskap hom so sterk aangegryp het".

In ’n saamgestelde inligtingstuk by NALN (uit: Daniel Francois Malherbe deur SPE Boshoff in Perspektief en profiel saamgestel deur PJ Nienaber) is geskryf dat die publikasie van Jan FE Celliers en Totius se bundel as motivering vir Malherbe gedien het om sy bundeltjie uit te gee. Dit het hoofsaaklik uit natuurverse bestaan "met te veel bespieëling en redenering en te min uitbeelding van dinamiese natuurverskynsels. Dit moet in ’n groot mate as jeugwerk en digproewe beskou word."

Sy tweede bundel Rivier en Veld wat in 1922 verskyn het, bevat "proefnemings in verskillende versmate en verssoorte en hier word tekens aangetref van die temas wat later in sy romans en dramas tot rypwording gekom het: Bybelse insidente, plaaslewe, gehegtheid aan die grond, onstuimige natuurkragte en liefde vir die arbeid, terwyl Somerdae (1928) ’n ondertoon van weemoed het, maar tog ook vol arbeids- en lewensvreugde, asook vreugde oor die arbeid van die digterskap." In Somerdae is daar ook drie ballades, naamlik "Antjie Somers", "Jakob Ontong" en "Die wolfhuis" wat beskou kan word as van die beste ballades in Afrikaans tot op daardie stadium.

Brood in die weg is in 1939 gepubliseer en staan in die tyd van die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Dit "toon ’n versombering van stemming en het ’n elegiese en satiriese inhoud". Malherbe het hier ’n deernis met die lyding van sy nasie getoon, maar terselfdertyd stem die verdeeldheid onder sy mense hom terneergedruk.

Malherbe het ook ’n bydrae tot die epiese digkuns in Afrikaans gelewer met die publikasie van Vir vryheid (1916), Die timmerman (1921) en Die skaduwee van die vrou (1923). In eersgenoemde vind ons ’n aantal gebeure uit die Groot Trek wat met ’n liefdesgeskiedenis verbind word, maar die leser moet nie verwag dat dit ’n werk is wat groot hoogtes gaan bereik nie. Met Die timmerman het Malherbe se digkuns ’n styging in gehalte toon, maar met laasgenoemde bundel was daar egter weer ’n daling.

DF Malherbe was self nie altyd baie tevrede met sy digwerk nie en dit kan gesien word as "’n uitstekende vooroefening, afgesien van werklik geslaagde verse vir sy latere prosa."

DF Malherbe as dramaturg

DF Malherbe kan nie beskou word as ’n groot dramaturg nie en het nie groot hoogtepunte gelewer nie. Daarvoor was sy drama se romantiek te oppervlakkig, sy taal was nie goed nie en die sielkundige uitbeelding het nie altyd oortuig nie. Hy het baie van sy dramas geskryf om te voorsien in ’n behoefte aan opvoerbare stukke in Afrikaans. Sy eerste poging was die vertaling van Die skoonseun van meneer Poirier van Augier en Jule Sandeau wat in 1919 uit Frans vertaal is. Daarna het hy in 10 jaar drie oorspronklike dramas geskryf naamlik Koringboere (1921), Die mense van Groenkloof (1925) en in 1931 Op die trekpad. Hierin is die plaaslewe die agtergrond, maar daar is nie goeie uitbeelding van die karakters nie en hy het nog te veel tot die romantiek geneig.

Meester wat in 1917 verskyn het, kan as Malherbe se beste drama beskou word. Hier word ’n "suiwerder beeld van menseverhoudings onderling uitgebeeld. Werklik dramaties uitgebeeld is die konflik in die siel van Meester, die Hollandse swerwer, wanneer hy moet besluit of hy die jong liefde, hom aangebied, durf aanvaar of nie. Die verloop van die handeling is egter te onverwikkeld om tot iets groots uit te brei. Al die karakters is egter so simpatiek uitgebeeld dat hulle ook die meegevoel van die toeskouer verdien."

 

DF Malherbe se aandeel in die beryming van die gesange in Afrikaans

Die gesamentlike kommissie van die NG Kerke en die Ned Hervormde Kerk in Suid-Afrika het na die Eerste Wêreldoorlog en na die voltooiing van die psalmboek besluit dat daar in alle erns begin moes word met die beryming van die gesange in Afrikaans. En dit was gedurende die laat 1930's dat daar verskeie digters en taalgeleerdes was wat deur die kommissie genader is om deel te neem aan hierdie proses.

CJO Groenewald het in ’n inligtingstuk wat  by NALN is, geskryf Malherbe het "die oorsettingstaak nie net as ’n vertaling beskou nie, maar veel eerder as ’n ontboeseming van die volksgesteldheid, van ’n diepe geloofsuiting en eerbetoning aan God".

Malherbe is in 1937 gevra om sekere berymings te doen. Dit was onderhewig aan die goedkeuring van die gesamentlike Revisie-komitee. Daar is ’n vergadering gehou, waaraan Malherbe deel gehad het, waarin daar na die ou gesangbundel gekyk is en besluit is watter gesange behou sou word, watter verwyder sou word en deur ander vervang sou word. Hoeveel van Malherbe se berymings in die destydse gesangbundel opgeneem is, is nie duidelik nie. Van die voorbeelde wat Groenewald gegee het, het van Malherbe se berymings klein verskille getoon van die destydse gesangberymings.

Hier is ’n voorbeeld:
Gesang 20 (A is die Malherbe-beryming; B is die vorige beryming en C is die 1930's-beryming)

A:
Kom! Tree ons dan gemoedig voort
in vas vertroue op sy woord;
hoe moeilik ons die weg ook skyn,
die end is seker salig-syn.

B (vers 9) en C (Gesang 28 vers 7)
Kom, tree ons dan bemoedigd voort,
in vast' vertroue op sy woord;
al lei ons weg deur smart en vrees,
tog sal die einde salig wees!

 

Van die gesange wat Malherbe berym het, is opgeneem in sy digbundel Brood op die weg wat in 1939 uitgegee is.

DF Malherbe as professor

JJ Kruger het in Die Huisgenoot van 30 Mei 1941 vertel: "In die 31 jaar sedert hy as hoogleraar in die moderne tale aan die Grey-Universiteitskollege gekom het, is sy naam, persoon en invloed soos ’n goue draad verweef in die lewenspatroon van geslagte van studente. Ons, sy ouer studente, was almal stempellose en kleurlose produkte van die Engels georiënteerde neutrale skool toe ons by hom gekom het. Hy het die skoonheid van die Afrikaanse taal soos die rooidag oor ons laat breek en die groot, onbekende Afrikaanse lewe en studieveld voor ons verraste oë ontvou. Sy lewe en werk onder ons het aldeur in die teken van die nasionale gestaan. Daarmee het hy ons met hom tot ’n onverbreekbare eenheid saamgesnoer in diens van die volk. In ons universitêre lewe is hy vir ons die simbool van die voortbestaan en behoud van ons alma mater op die enigste, bestendige, eg-Vrystaatse grondslag; in ons alledaagse werk die besieling van ’n vrugbare Afrikaanse lewe. En dwarsdeur die onstuimige geskiedenis van die UKOVS het hy altyd by die studente, en die studente by hom gestaan.

"DF Malherbe was by die studente bekend onder die bynaam Stoffel. Hierdie bynaam dagteken uit die eerste jare toe hy onder andere die Duitse klas waargeneem het. Die stelsel dat ’n student wat nie Duits vir matriek gehad het nie, in een jaar soveel Duits moes leer as wat gewoonlik in die vier jaar tot matriek plus die eerste jaar aan die universiteit geleer word, het dit vir die studente sowel as professor moeilik gemaak, en dr Malherbe is veeleisend! Dit het soms erg in die klasse gegaan, en die professor het dinge gesê waaroor hy later in die wesenlike teerheid van sy hart spyt gehad het. Onder behandeling was Goethe se Faust – en die kwaai professor met sy bokbaard het sommige plaaggeeste alte veel herinner aan Mephistopheles, die inkarnasie van die Bose in Goethe se drama. Die vindingryke het die lang naam toe verkort tot sy middelste komponent, Stophel, en Stoffel sou dr Malherbe se bynaam, sy erenaam, onder sy studente bly."

DF Malherbe was drie keer getroud: op 27 Junie 1912 is hy in Kaapstad getroud met Maynie Mostert. Sy is op 21 September 1959 oorlede. Daarna is hy op 23 Junie 1960 met die weduwee Louisa Elizabeth Mostert getroud en na haar dood in 1963 is hy met Maria Francina Lubbe getroud. Twee seuns en vier dogters is uit sy eerste huwelik gebore.

Malherbe het vir hom in 1926 ’n vakansiehuis op Kleinmond naby Hermanus in die Wes-Kaap gebou en hy het teenoor Benedictus Kok erken dat hy dáár ’n ander mens was. "Daar was iets in die natuur, die atmosfeer, die seegesig en die gemeenskap van Kleinmond wat hom besiel, opgewek en geanimeer het; dat hy sy skryfwerk daar met groter lus, konsentrasie, toegewydheid en inspirasie kon verrig." (Toespraak by die onthulling van gedenkplate voor die huis op Kleinmond op 14 Januarie 1976.)

Dit was tydens die eerste vakansie in Kleinmond dat hy Hans-die-Skipper klaar geskryf het, het Dini Esterhuizen in Rooi Rose (9 September 1981) vertel. "En net daarna, toe ’n rooivlerkspreeu in ’n bos voor die strandhuis neergestryk het, het hy die gedig 'Medelyde', later die 'Rooivlerkspreeu' genoem, geskryf.

Toekennings

In 1959 is die Stalsprys vir Taalwetenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Malherbe oorhandig.

In 1967 is DF Malherbe deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gehuldig as die persoon wat verantwoordelik was dat Afrikaans die voertaal van die Vrystaatse Universiteit geword het. Prof B Kok het die huldiging waargeneem. Na Kok se huldigingswoord het DF Malherbe gesê: "Ek herken myself nie ná al die dinge wat prof Kok van my gesê het nie. Daar is so baie ander van wie daar niks gesê word nie. Dit is onregverdig. Ek glo dat daar altyd ’n swakheid ingemeng is in menslike verering. Ek weet dat die toespraak van prof Kok uit die hart was en ek voel besonder klein. Ek hoop dat die byeenkoms sal strek tot die opbou van die Afrikanergevoel. Laat ons voortgaan op die pad van ons volk wat nou in sulke krisistye verkeer." (Volksblad, 8 April 1967)

In 1968 het die FAK vir DF Malherbe met ’n erepenning vir Volksdiens vereer. As deel van sy motivering vir die erepenning het HB Thom gesê dat Malherbe een van die "groepie versiende Afrikaners wat in 1929 die behoefte aan ’n omvattende, verteenwoordigende organisasie soos die FAK dadelik raakgesien het, en hy het dan ook ’n wesenlike bydrae gelewer om die FAK tot stand te bring. (..) So het DF Malherbe dan van vroeg tot laat gestaan in die diens van sy volk en moedertaal: as vurige taalstryder, gesiene akademikus en wetenskaplike navorser; as belangrike skeppende kunstenaar met ’n omvattende letterkundige produksie; as besielde en besielende volksman en geestelike leier. En dit was hy in ’n tydperk van meer as 60 jaar. Hy is vir ons inderdaad die simbool van ’n tydvak in die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner.

"Daar kan geen twyfel oor bestaan nie: Deur die rykdom van sy eie gees het DF Malherbe die gees van sy volk blywend verryk. As hy nie saam met ons geleef en gewerk het nie, sou die Afrikanervolk baie armer gewees het. Ons is uit ons harte dankbaar vir ’n man wat werklik ’n gawe van God aan ons volk was." (Handhaaf, September 1968)

In Julie 1969 sou hy ’n erepenning van die Afrikaanse Studentebond ontvang het. Hy het van drie Suid-Afrikaanse universiteite eredoktorsgrade ontvang – in 1957 van die Universiteit van Potchefstroom, in 1959 van die Vrystaatse Universiteit as blyk van erkentlikheid en waardering vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur en die waardevolle dienste wat hy aan die Afrikanervolk gelewer het as taalkundige en kultuurleier. Die universiteit van Stellenbosch het ook in 1959 ’n eredoktorsgraad aan Malherbe toegeken.

In 1963 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Malherbe tot erelid verkies.

In Januarie 1969 het DF Malherbe lewenslange lidmaatskap van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys ontvang.

In 1996 het die Hoërskool DF Malherbe in Port Elizabeth ’n DF Malherbe-gedenklesing ingestel. Die destydse hoof van die skool, Pierre Hauman, het gesê dat die skool met hierdie lesings nie net die naam van DF Malherbe wil onthou nie, maar ook hulde bring aan die baie groot bydrae wat hy gelewer het vir die opbou van die Afrikaanse taal en kultuur.

Die eerste lesing is in 1996 deur prof Tony Links gelewer. Hy het gefokus op die liefde vir Afrikaans wat Malherbe by hom as skoolkind deur sy poësie gekweek het.

Dit het gevolg nadat die Universiteit van die Vrystaat reeds in 1981 so ’n lesingreeks daar gestel het.

Op 12 April 1969 is DF Malherbe in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein op 87-jarige ouderdom in sy slaap oorlede. Sy wens soos hy dit in sy bekende sonnet "Slaap" wat hy vir sy dogter Heleen geskryf het, gestel het, het waar gekom:

Wat is die slaap ’n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.

Vir laas beef oor haar lippe ’n fluistering:
"Nag, Pappie." Ek merk hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak:
in vaderarms rus my lieweling.

Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.

Huldeblyke:

  • FEJ Malherbe: "Volksman by uitnemendheid, unieke leermeester, onverskrokke taalyweraar, dienswillige kultuurleier, begenadigde woordkunstenaar, skerpsinnige akademikus ... en soos al ons groot manne het die Goeie Gewer hom op die regte tyd aan die Afrikanervolk geskenk." (Die Bult, 1976)
  • Die Volksblad Hoofartikel: "Die spore van prof Daniël Francois Malherbe lê onuitwisbaar diep ingetrap op die Afrikaner se taal-, kultuur- en volksakker. Hy was een van die grootste seuns van Suid-Afrika en veral Bloemfontein en die Vrystaat is bevoorreg met die werk wat hy hier gedoen het en sy invloed wat hiervandaan uitgegaan het.

    "Dit was veral as kampvegter vir die erkenning van Afrikaans dat die werk van Malherbe besonder hoog geag word. En daarmee word sy werk as skrywer, akademikus en taalmaker nie gering geag nie. Hy was die eerste taalwetenskaplike wat die erkenning van Afrikaans as amptelike voertaal bepleit en onomstootlik bewys het dat Afrikaans ’n selfstandige taal met ’n eie siel is.

    "Dit is dan veral as professor aan die destydse Grey-Universiteitskollege dat hy dit sy lewenstaak gemaak het om die saak van Afrikaans te dien. Die vrugte van sy en ander eendersdenkendes se onvermoeide ywer vir die wonder van Afrikaans word vandag met dankbaarheid geniet.

    "Malherbe is op die regte tyd aan Suid-Afrika en die Afrikaner gegee. In die eerste helfte van hierdie eeu toe ’n groot deel van die Afrikanervolk nog aan die opstaan was uit die puin van die Tweede Vryheidsoorlog, gebuk het onder imperiale oorheersing, geworstel het met aanpassing en handhawing in die stede, erg geknou is deur die Depressie en Afrikanerverdeeldheid, en gesoek het na ’n eie identiteit, was Malherbe een van die leiers wat sy volk op sy voete help kom het." (23 Oktober 1981)

  • PJ Nienaber: "Prof Malherbe het ons skool, die Rooidakskool op Boshof kom toespreek in 1929. Toe hy begin praat oor 'Die jeug van ons volk' was sy stem soos die wind deur ’n koringland, eers sag, en dan styg dit geleidelik, hoër en hoër en voller. En daar was stilte in die saal. Die staalgrys oë het gevonk. So mooi het die Afrikaanse taal nog nooit in my ore geklink nie. Deur die jare kon ek my altyd verluister na die wyse waarop hy die Afrikaanse taal gebruik het: met digterlike woorde het hy die oor gestreel. Sy gelyke as redenaar het ek nie geken nie, veral as hy die jeug toegespreek het, hulle geïnspireer het om die vaandeldraers van hul volk te wees." (Volksblad, 17 April 1969)
  • SPE Boshoff: "Malherbe was een van ons vrugbaarste en veelsydigste woordkunstenaars – veelsydig in die verskeidenheid letterkundige vorme wat hy beoefen het, maar eensydig in die gebrek aan verskeidenheid van uiting en lewensuitbeelding binne daardie vorme. In sy romankuns het hy die hoogste bereik, terwyl sy dramaturgie verdiensteliker is as sy digkuns. Hy is in sy wese simbolies-liriese ekspressionis en moet in laaste instansie van homself sing, van wat hy tot sy eie gemaak het en van wat so met hom vergroei het dat daar tussen subjektiewe en objektiewe nie meer skerp te skei is nie. Maar hy is ’n grootse profetefiguur wat in magistrale prosasange van sy eie innerlike lewe getuig en hom in sy beste werke na sy eie liriese stylaard uitgeleef het en die Afrikaanse prosa met ’n skat van woorde en beelde verryk het, hoewel hy vanweë die wese van sy stylaard nie altyd aan die gevaar van retoriek ontkom het nie." (Uit: Perspektief en profiel / saamgestel deur PJ Nienaber)
  • Willie Mosterd, Malherbe se tweede vrou se seun: "Hy kon hom goed oriënteer. Hy het die vermoë gehad om rigting te bepaal as hy ry en so was sy lewe ook. Hy het geweet waarheen hy gaan en hy het sy hoogtepunt bereik sonder om vol naywer te wees of ’n oormaat van ambisie te hê. Hy het die pad geloop wat hy wou loop sonder om mense opsy te stoot en op ander te trap." (Rooi Rose, 9 September 1981)

Oor Malherbe as mens het B Kok in Bylae tot Die Volksblad (23 Junie 1981) vertel dat hy ’n baie onpraktiese mens was. Hy het ’n plaas in die distrik Koppies in die Vrystaat gehad, maar hy was heeltemal "oningelig" oor alles wat op die plaas aangegaan het. Hy was ook baie verknog aan sy pyp, asook aan sy klere. "Hy het niks van opgesmukte goed gehou nie. Dit was vir hom werklik ’n inspanning om nuwe klere te gaan koop. (...) Sy stewels (hy het nooit iets anders gedra nie) was altyd slordig opgeryg. Meer as die helfte van die gaatjies het hy eenvoudig oorgeslaan. Dit was te veel moeite en te omslagtig om ’n veter deur elke gaatjie te steek.

"Malherbe was bo alles ’n beskeie mens. Wanneer hy op toekennings, lofredes en huldebetuigings moes antwoord, het hy altyd in diepe ootmoed na homself as 'my weinigheid' verwys. Sy belangrikste kenmerke was sy absolute opregtheid, geloofwaardigheid en integriteit. Hy kon net nie aanvaar dat daar mense was wat die waarheid verdoesel of miskien net so effe omgebuig het."

In 1981, die jaar van die 100ste herdenking van DF Malherbe se geboorte, is hy gehuldig om sy bydrae tot die Afrikaner se kultuur en taal te huldig. ’n Spesiale datumstempel wat die huisie van Hans-die-Skipper uitbeeld, is gemaak vir 22 Oktober 1981 en daar was ook ’n spesiale eerstedag-koevert met sy gesig op. Akpol, die Suid-Afrikaanse Polisie se destydse kultuurtak, het ’n vasvra waaraan amper 20 hoërskole van die destydse Transvaal deelgeneem het.

Die SAUK het ook ’n boekeveiling aangebied waartydens ’n volledige versameling van eerste drukke van al sy werke te koop aangebied is. Die Hoërskool DF Malherbe in Port Elizabeth het ’n spesiale aand gehou waartydens ’n borsbeeld van Malherbe wat deur die beeldhouer Joan Couzyn gemaak is, onthul is en sketse van sy lewe en werk deur leerlinge van Port Elizabeth opgevoer is.

Die Drakensbergse Heemkring en die Stigting Simon van der Stel het ’n gedenkplaat ter ere van DF Malherbe by sy geboortehuis op Kleinbosch aangebring, nadat daar reeds in 1975, Taalfeesjaar, gedenkplate by sy strandhuis en by sy rotsskryfplek in Kleinmond aangebring is. 

Al vyf sy kinders het die verrigtinge ter ere van Malherbe in Bloemfontein bygewoon. Die eerste DF Malherbe-gedenklesing is op 21 Oktober 1981 deur die destydse kanselier van die UV, Benedictus Kok, gelewer.

Publikasies

Publikasie

Karroo blommetjies: Afrikaanse gedigte

Publikasiedatum

  • 1909
  • 1981

ISBN

0869841939 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Van de Sandt de Villiers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vergeet nie: histories-romantiese verhaal uit die Anglo-Boereoorlog

Publikasiedatum

  • 1913
  • 1918
  • 1920
  • 1922
  • 1927
  • 1936

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: Het Westen
  • Bloemfontein: Het Volksblad
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klokgrassies

Publikasiedatum

  • 1914
  • 1927

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Volksblad
  • Potchefstroom: Het Westen

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Afrikaanse taalboek: praktiese wegwijser bij die vernaamste moeilikhede in verband met die Afrikaanse grammatika

Publikasiedatum

  • 1917
  • 1920
  • 1921
  • 1923

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vir vrijheid = Vir vryheid

Publikasiedatum

  • 1919
  • 1921

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Koringboere: toneelstuk

Publikasiedatum

  • 1921
  • 1926

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die timmerman: verhaal in verse

Publikasiedatum

  • 1921
  • 1922
  • 1923

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Rivier en veld

Publikasiedatum

  • 1922
  • 1932
  • 1939
  • 1941

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die skaduwee van ’n vrou

Publikasiedatum

1923

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme

Publikasiedatum

1924

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die mense van Groenkloof: toneelstuk in vier bedrywe

Publikasiedatum

1925

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die meulenaar

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1927
  • 1928
  • 1929
  • 1930
  • 1939
  • 1940
  • 1942
  • 1950
  • 1958
  • 1967
  • 1973
  • 1978

ISBN

0624003787 (hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1926 (saam met JFW Grosskopf en AG Visser)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hans-die-Skipper

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1931
  • 1932
  • 1935
  • 1936
  • 1937
  • 1939
  • 1940
  • 1946
  • 1951
  • 1952
  • 1954
  • 1955
  • 1956
  • 1958
  • 1961
  • 1962
  • 1964
  • 1970
  • 1971
  • 1975
  • 1980

ISBN

0624006395 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1930

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Somerdae

Publikasiedatum

  • 1928
  • 1933

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Loutervure

Publikasiedatum

1931

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Op die trekpad: toneelstuk in drie bedrywe

Publikasiedatum

1931

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Meester

Publikasiedatum

  • 1927
  • 1933
  • 1934

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die seeman: Hans-die-Skipper gedramatiseer

Publikasiedatum

  • 1933
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die hart van Moab

Publikasiedatum

  • 1933
  • 1936
  • 1939
  • 1942

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Saul die worstelheld

Publikasiedatum

  • 1935
  • 1941
  • 1942

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1939 saam met Die profeet

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die profeet

Publikasiedatum

  • 1937
  • 1940

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1939 saam met Saul die worstelheld

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die siel van Suid-Afrika

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Brood op die weg

Publikasiedatum

1939

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die bergstroom ruis

Publikasiedatum

  • 1940
  • 1964
  • 1965
  • 1966
  • 2974
  • 1975

ISBN

0624005941 (hb)

Uitgewer

· Kaapstad: Nasionale Pers

· Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vlam van die Suurveld

Publikasiedatum

  • 1943
  • 1945
  • 1946
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Roman

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die meul dreun en ander toneelwerk (verwerking van Die meulenaar)

Publikasiedatum

1943

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

En die wawiele rol

Publikasiedatum

  • 1945
  • 1946
  • 1947
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Moeder en seun

Publikasiedatum

1945

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

 

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Spore van Vlieland

Publikasiedatum

1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Abimelech: drama in drie bedrywe

Publikasiedatum

1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Müller stamboom, 1735–1949

Publikasiedatum

1948

ISBN

(sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Mosselbaai Advertiser

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die uur van die rooi maan en ander eenbedrywe

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hulle wat verbygaan

Publikasiedatum

1951

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Duine en pioniere

Publikasiedatum

1951

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die skeur van Vaalspruit

Publikasiedatum

1952

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Boerprofeet

Publikasiedatum

1953

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Sacum

Literêre vorm

roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hulle het ’n boom afgekap; en Goue appels

Publikasiedatum

1953

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Uitgesoekte gedigte van DF Malherbe

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Spel van blank en swart

Publikasiedatum

1955

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Rooiland

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Silo is krank; en, Van mense en gode; en, In die Namib

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Fariseër

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kruis en kraai

Publikasiedatum

1957

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

 

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vergeet nie: histories-romantiese verhaal uit die Anglo-Boereoorlog

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sisera

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Boeta van Skeurfontein

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kind van die sonde

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Lamgs groen weivelde: drie radiopraatjies oor die boer

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Sacum

Literêre vorm

Landbou

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Driehonderd jaar nasiebou: stamouers van die Afrikanervolk

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Stellenbosch: Tegniek

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Over-die-berge

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Stamregister van die Suid-Afrikaanse volk = Family register of the South African nation

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Stellenbosch: Tegniek

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Opening van kunsuitstalling

Publikasiedatum

1968

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Skrywerskring

Literêre vorm

Kuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die slagmes en ander nagelate verhale

Publikasiedatum

1980

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Twee nagelate novelles

Publikasiedatum

1980

ISBN

0628017340 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Uit my lewensboek (faksimilee van die oorspronklike ongepubliseerde manuskrip)

Publikasiedatum

1980

ISBN

0628018258 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Ongepubliseerde gedigte

Publikasiedatum

1981

ISBN

(hb)

Uitgewer

Roodepoort: CUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Agterland

Publikasiedatum

19-?

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Sacum

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vertellings van dae as onderwyser op Carnarvon, 1907

Publikasiedatum

19-?

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Skrywerskring

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

DF Malherbe as samesteller

  • Afrikaanse woordelijs en spelreëls. Bloemfontein: De Nationale Pers Beperkt, 1917, 1918
  • Afrikaanse letterkunde : ’n bloemlesing. Bloemfontein: Nasionale Pers, 1921, 1923, 1924, 1925, 1926, 1927, 1934, 1939
  • Die Voortrekker : Afrikaanse leesboek vir Standerd V. Bloemfontein: Nasionale Pers, 1924, 1938
  • Die Afrikanerkind : skoolleesboek vir Sub-standerd B. Bloemfontein: Nasionale Pers, 1925
  • Afrikaanse verse : ’n bloemlesing vir die middelbare skool. Kaapstad: Nasionale Pers, Nasionale Boekhandel, Tafelberg, 1935, 1936, 1937, 1938, 1942, 1944, 1955, 1957, 1958, 1959, 1961, 1963, 1965, 1970, 1975
  • Afrikaanse verse : ’n bloemlesing vir die middelbare skool. Deel l. Kaapstad, Bloemfontein: Nasionale Boekhandel., Nasionale Pers, [1935], 1937, 1939, 1944, 1945, 1952, 1957
  • Afrikaanse verse : ’n bloemlesing vir die middelbare skool. Deel ll. Bloemfontein: Nasionale Pers, 1937, 1938, 1947, [195-?]

DF Malherbe as vertaler

  • Sandeau, Augier en Jule: Die skoonseun van Meneer Poirier; en, Die koerantskrywers. Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt, 1919
  • Twee dramas / saam met JFW Grosskopf. Kaapstad: Nasionale Pers, 1919
  • Von Schiller, Friedrich: Wilhelm Tell. Bloemfontein: Nasionale Pers, 1944, 1950
  • Shakespeare, William: Die koopman van Venesië. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1949

Artikels oor en deur DF Malherbe beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Kok, B. 1981. Malherbe, Daniël François. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Deel IV. Durban: Butterworth vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Mariann Ochse

    My kleindogter, Lize Booyens, is in Laerskool DF Malherbe, Vanderbijlpark. Sy moet 'n mondeling voorberei en het besluit op DF Malherbe. Uiteraard sal ek die stof moet baie vereenvoudig want sy is net sewe jaar oud. Waar kan ek enige illustrasies kry, want dit is deel van die assessering. Daarby wil voeg dat dit baie moed kos om dit aan te pak aangesien kinders oor die onderwerp"My Held" nie dit sou kies nie. Groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top