Dexys, 27 jaar later

  • 0

Dexys – One Day I’m Going To Soar


 

Soms word ek snags wakker van drome oor musiek. Ek droom oor CD’s wat só wonderlik is, maar wanneer ek wakker word, is daar geen kans dat hulle bestaan nie. Daarom dat ek altyd deur boeke soos 1001 Albums You Must Hear Before You Die blaai op soek na meesterstukke wat ek in die geroesemoes van tyd misgeluister het.

So ’n maand gelede het ek op een daarvan afgekom: Dexy’s Midnight Runners se Don’t Stand Me Down van 1985. Dit het drie jaar geneem om op te neem, en teen die tyd dat dit uitgereik is, het almal al gedink sy voorganger, Too-Rye-Ay, was die groep se swanesang. Die nuwe album had geen kortspelers nie, en die sleutelwerk, “This is what she’s like”, was ’n mini-opera van meer as twaalf minute.

Destyds het die album ’n stille dood gesterf, ten onregte. Dit is ’n puik, aweregse versameling buitengewone musiek. Gaan soek dit – dit is die moeite werd, veral oor wat nou gaan kom.

Verlede week sit ek en Danie Marais op Bloemfontein se lughawe die tyd en omkry. Hy wys my toe ’n berig oor die nuwe Dexys-album, One Day I’m Going To Soar. Tuisgekom het ek dit dadelik gaan koop en afgelaai, en dis waarna ek sedertdien luister.

Dit is ’n absoluut befokte album.

Altesame 27 jaar het verloop sedert Don’t Stand Me Down. Kevin Rowland is nou 59 jaar oud. Mick Talbot (lid van die eerste inkarnasie van DMR) speel nou klawerbord, Jim Patterson blaas die tromboon, Pete Williams speel baskitaar en Tim Cansfield die kitaar, en ’n magdom ander musici help om die klank kwaai dig te kry. Madeleine Hyland sing saam met Rowland, en die enigste afwesige DMR- groot gees is die violis Helen O’Hara.

Twee dinge moet jy altyd met Kevin Rowland onthou. Die eerste is dat hy ’n perfeksionis is. Die tweede is dat hy ’n storieverteller is. Met Mick Talbot as medekomponis is daar niks verveligs op hierdie album nie. Alles klink vars en lewenskragtig. Dis só tight ’n mens kan jou tande op die maat daarvan kners. Dit gebeur maar met ’n intense new soul-profeet soos Rowland.

Die album kan as ’n musiekspel in die kleine gesien word. Dit vertel die verhaal van ’n sanger wat verlief raak op ’n vrou, maar uiteindelik nie trou aan haar kan sweer nie. “To be honest,” sing Rowland vol intense hartseer, “I’m so confused.” En dít terwyl die musiek die onderliggende tema van jagsheid in elke snit al huppelend uitdra.

Jagsheid is die motoriese krag, maar daar is baie drama. Rowland wissel hupsheid af met hartseer en introspeksie. Hy kan net so gemaklik ’n monoloog aan die gang kry as wat hy soos ’n midnight crooner ’n liedjie sy storie kan laat vertel. Daar is humor ook (sy samesang met Hyland op “Incapable of Love”) en hy slaan sensuele munt uit die beskrywing van hoe hy aan sy geliefde se gekruisde bene dink – asook wanneer hy hulle ongekruis in herinnering roep.

Ek het nie gedink ek sou ooit weer so lekker na Rowland se musiek luister nie.
Ek sal nou, in Julie, al ’n paar bokke wed op die moontlikheid dat hierdie album die CD van die Jaar gaan word.

(Onder die videogrepe is daar ook ’n toegif: “Come On Eileen”.)

 

 

 

 

 

Beth Hart & Joe Bonamassa – Don’t Explain

Iemand het vir my ’n lys aangestuur van die tien albums wat Amazon glo beskou as die beste blues-albums van 2011. Ek weet nie hoeveel geldigheid sulke lyste het nie, want ek vermoed hulle word gemaak en gepubliseer om ekstra verkope te genereer.

Ek sal nietemin in die weke wat kom ’n paar van die albums bespreek wat daarop is, omdat die een waarna ek eerste geluister het, Don’t Explain van Beth Hart en Joe Bonamasso, serieus kwaai is.

Hart is van Los Angeles en maak al sedert die vroeë negentigs musiek. Sy sing die blues met haar ongelooflike stem-soos-’n-voice. Daar is soveel emosie en sensualiteit daarin opgesluit dat wanneer sy by die hartseer en pyn uitkom, mens haar sommer met bybedoelings wil soen. As sy en Kevin Rowland mekaar in die hande kry, gaan daar moleste wees.

Joe Bonamasso is ’n blues-kitaarspeler in die beste van tradisies; sy helde is Paul Kossoff, Eric Clapton, Peter Green en Jeff Beck. Sy spel is die ideale teenpool vir Hart se sang. Hy laat die note lui, en hang en huil.

Sterk aan te beveel.

 

 

Kortliks:

Beach House – Bloom:

Hierdie duo van Baltimore maak musiek wat mens laat voel of jy ingeskakel is in hul droomwêreld. Selfs wanneer die slaginstrumente  op die voorgrond is, retireer die musiek in ’n droomwêreld in. Victoria Legrande se sang vorm nou die middelpunt van die musiekvermenging, die fokale punt van die groep se chillwave-musiek. Alex Scally se kitaarspel is hewiglik gedokter, sodat mens altyd die gevoel kry daar is ’n hele saal vol musici ingebou op die agtergrond. Die totale effek is een van oorrompelende, strelende klanke, gevoelens so groot soos die kosmos en 100% welluidendheid.
 

Bob Dylan:  

Luidens ’n aankondiging op bobdylan.com word sy nuwe album, Tempest, op 1 September uitgereik. Dit bevat tien nuwe liedjies deur His Bobness, en die produksieleier is Jack Frost, wat nie dieselfde Jack Frost is waarvan die Grateful Dead al soveel jare sing nie. Tempest is die 35ste ateljee-album deur Dylan en gedenk sommer ook die uitreiking van sy eerste album 50 jaar gelede, wat sommer net Bob Dylan genoem is en die moderne lewe soos dit destyds geken is, onherroeplik verander het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top