Derde skoolkwartaal: verwikkelinge rondom die Bela-wet en skoolsake – ’n onderhoud

  • 0

Foto van Jaco Deacon: verskaf

Die nuwe skoolkwartaal het pas begin. Jaco Deacon praat met Naomi Meyer oor verwikkelinge rondom die Bela-wet en hoe sake in skole staan.

 

Jaco, die Bela-wet is weer in die nuus. Ek sien daar is tuisonderrigouers wat meen die nuwe wetgewing perk hul regte as tuisonderrigouers in. Wat is jou gedagtes oor dit waaroor hulle kla, en die wet self?

........
Burgers (organisasies/besighede ens) van die land het die reg om besluite en prosedures van die staat in die hof uit te daag. Die organisasie wat die aansoek bring, is die Pestalozzi Trust en hulle verteenwoordig die tuisonderriggemeenskap. Die aansoek handel oor proses, en daar word aangevoer dat die parlement nie toegesien het dat redelike openbare oorlegpleging tydens die Bela-proses plaasgevind het nie. Dit handel ook met insette wat gelewer is, en daar word aangevoer dat dit nie in ag geneem is nie.
........

Burgers (organisasies/besighede ens) van die land het die reg om besluite en prosedures van die staat in die hof uit te daag. Die organisasie wat die aansoek bring, is die Pestalozzi Trust en hulle verteenwoordig die tuisonderriggemeenskap. Die aansoek handel oor proses, en daar word aangevoer dat die parlement nie toegesien het dat redelike openbare oorlegpleging tydens die Bela-proses plaasgevind het nie. Dit handel ook met insette wat gelewer is, en daar word aangevoer dat dit nie in ag geneem is nie.

Ek dink dit gaan ’n taamlike opdraandestryd vir die applikante wees, omdat daar 27 openbare-deelname-verhore was wat deur die parlement se onderwysportefeuljekomitee gehou is en die komitee ook baie tyd vir skriftelike voorleggings gegee het. Die Trust was saam met Fedsas in die parlement toe beide van ons die geleentheid gehad het om voorleggings te doen. Daarna het die verkose komitee van die Nasionale Raad van Provinsies ook geleentheid vir skriftelike kommentaar gegee en partye ook genooi om voorleggings aan die komitee te maak. Al nege provinsies het ook openbare verhore gehou en daar was 36 geleenthede oor die land. Fedsas was by elkeen van die geleenthede en het by elke geleentheid ’n voorlegging gedoen. Ek het die hele proses as ’n baie omvattende proses van openbare deelname beleef, en baie van die insette wat ons oor die jare gelewer het, is inderdaad aanvaar en het tot wysigings in Bela gelei. 

Die aansoek is direk by die Konstitusionele Hof ingedien, en dit kan etlike maande duur voordat daar enige daadwerklike aksie gaan wees. 

 Die regulasies wat die Bela-wet verfyn, is nou ook uitgereik. Hoe staan sake hiermee? Ek verneem daar was voorstelle oor riglyne en dis afgekeur. Verduidelik asseblief aan enige lesers wat nie regsgeleerdes is nie, die verskil tussen riglyne en regulasies. En of dit enige verskil sal maak aan die praktiese afdwinging van die wet self?

Die Minister het riglyne gepubliseer en nog nie enige regulasies nie. Riglyne het geen regskrag nie en is bloot wat die naam aandui: riglyne. Regulasies daarenteen is ondergeskikte wetgewing wat kragtens ’n wet uitgevaardig kan word en is afdwingbaar. Regulasies kan nie die inhoud van die wet wysig nie, maar gee verdere inhoud, byvoorbeeld proses en tydsraamwerke.

Die Skolewet maak dit vir die minister moontlik om regulasies oor ’n wye aantal aspekte te kan uitreik, en verskillende taakspanne het die afgelope paar maande onder geweldige tydsdruk aan regulasies gewerk en dit saam met die Minister se span verder verfyn. Die eerste twee regulasies wat handel met die bepaling van kapasiteit in skole en toelatings, is tans by die staat se regsadviseurs om gefinaliseer te word vir publikasie vir openbare kommentaar. Ons verwag dat hierdie dokumente binnekort gepubliseer sal word.

........
Die eerste twee regulasies wat handel met die bepaling van kapasiteit in skole en toelatings, is tans by die staat se regsadviseurs om gefinaliseer te word vir publikasie vir openbare kommentaar. Ons verwag dat hierdie dokumente binnekort gepubliseer sal word.
........

Die nuwe skoolkwartaal het pas begin. Hoe lyk die situasie in die middel van die jaar vandat die nuwe wetgewing onderteken is? Sien jy iets wat jou negatief en bekommerd maak – en is daar enigiets wat ouers kan gerusstel of dalk selfs opgewonde kan maak oor wat in die land se onderwys aan die gang is?

Die meeste provinsies is nou besig met toelatings vir die 2026-skooljaar, en beheerliggame se toelating- en taalbeleide gaan nou eers onder die wysigings getoets word. Dit is ook die eerste jaar dat graad R ’n verpligte skooljaar gaan wees, en dus moet graad R-leerders ook nou vir die 2026-skooljaar ingeskryf word. Gauteng se proses maak tans net voorsiening vir graag 1 en graad 8, en ek voorsien dat die inwerkingtreding van graad R op chaos gaan uitloop. Dit lyk eenvoudig of die meeste provinsie nie gerat is nie en nie geld het om die fase te implementeer nie. Die proses vir postevoorsiening vir 2026 het ook begin en daar moet ook volledig vir graad R-opvoeders voorsiening gemaak word. Dit lyk of daar dadels gekom het van die Nasionale Departement se beloftes tydens die Bela-proses oor behoorlike befondsing vir graad R. Hier is ’n werklike risiko vir litigasie, omdat die Konstitusionele Hof reeds jare gelede bepaal het dat die reg op onderwys onmiddellik moet realiseer. Graad R is nou ’n verligte skoolpligtige jaar wat volledig befonds moet word en ouers kan strafregtelik aangekla word indien hulle kinders nie in ’n skool is nie. Die Minister sal dringend moet ingryp om ’n nasionale fiasko te voorkom.

Lees ook:

Bela onderteken: Wat gebeur volgende?

Te min geld vir onderwys: ’n onderhoud oor die regering se plig en ouers se taak

VVA se Boektrommelprojek bring leesvreugde na Stellenbosch se laerskole

Foute in vraestelle: Sal die kinders vir die gelag betaal?

Genadendal-onderwysberaad spreek onderwyskrisis aan

Moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig: kommer oor inheemse tale

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top