Depressie, selfdood en Eugène N Marais

  • 6
  • Erkenning moet gegee word aan Heini Kotzé, 'n direkteur van die Eugéne Marais-stigting, by wie inligting rondom Eugéne Marais verkry is.

If a man has to live in Hell, he prefers to live there drunk rather than sober.
(Manuskrip-kantaantekening deur Marais, die Sotheby-versameling, datum onbekend)

Karel Schoeman se onlangse dood het opnuut die aandag gevestig op ’n ander groot Afrikaanse letterkundige, Eugène Marais, wat besluit het om ’n einde aan sy lewe te maak.

Hoewel Schoeman se dood amptelik aan “natuurlike oorsake” toegeskryf word, blyk dit uit fragmente uit sy boek Slot van die dag: Gedagtes, wat later vanjaar by Protea Boekhuis verskyn, dat dit ’n wilsbesluit was om nie langer te leef nie.

Sonder om enige vergelyking tussen dié twee skrywers of hulle omstandighede te tref, is dit opvallend uit Marais se lewe hoe sy hoop, ambisie en verlange ook begin kwyn het onder die drukkende angs en vernederende stryd om bestaan wat net lyding is.

Vir Marais was die dood, in die woorde van sy vriend Gustav Preller, net soos in die geval van Schoeman ’n ontbinding waarna hy uitgesien het sonder vrees -  die oortog van die Swartrivier of die Styx.

In Schoeman se boek, waarvan uittreksels die afgelope naweek in Rapport verskyn het, skryf hy onder meer: “Ek het na gelang van my gawes gedoen wat ek kan, en op praktiese vlak het my lewe geen aantoonbare nut of doel meer nie, ook nie vir myself nie: die bietjie skryfwerk waartoe ek tot my eie verrassing nog in staat blyk te wees, is ’n toegif, soos ek maar net te goed besef. Wat vir my verdere lewe voorlê, is ’n proses van gestadige en onkeerbare aftakeling na liggaam en gees, wat reeds aangevang het, waarvan ek nog bewus is en wat ek voorlopig nog ten dele kan transendeer, maar waardeur ek in steeds groter mate ’n oorlas sal word vir myself en my omgewing.”

Schoeman, wat altyd ’n baie privaat persoon was, het nie regtig van mense gehou nie en wou eintlik net alleen gelaat word, hoewel hy vir dié wat hom goed geken het, ook ‘’n wonderlike vriend kon wees.

Die laaste jare van sy lewe het Marais in Pretoria rondgeloop, om af en toe ’n ietsie te werk, maar hoofsaaklik ook om as afgesonderde enkeling in die stad te beweeg.

Marais en Schoeman was albei fynbeskaafde mense. In die laaste jare het Marais by sy ou vriend en kollega, Gustav Preller, ingewoon terwyl Schoeman sy laaste jare in ’n aftreeoord in Bloemfontein deurgebring het.

Albei se gesondheid was egter lankal geknak en die einde was, hoewel skokkend, nie onverwags nie.

In die eerste lewensverhaal oor Marais, FGM du Toit se Eugène N Marais, sy bydrae tot die Afrikaanse Letterkunde (1940), skryf Gustav Preller in die voorwoord ’n jaar na Marais se dood in 1937:  "Marais se lewe, en met name die tweede en grootste deel daarvan, was daar een woord wat oorvol was van die smartelike, van ’n huiweringwekkende mensewee (sic) en sieleleed …"

Later voeg Preller by: "Die skrywer van hierdie biografie het volkome gelyk waar hy sê dat Eugène se buie van depressie, soos baie volkome gesonde mense soms bekruip, betrekkelik kort van duur was en altoos gevolg werd deur opgeruimdheid en ’n heeltemal normale omgang met sy medemense en huisgenote. Dit, dié bedruktheid, is ’n onuitsprekelike gewaarwording van neerslagtigheid wat Eugène in sy eie geval ’n 'hesperiese depressie' genoem het, na die aandster en die aandland van die oudheid. Dit is ’n gevoel van verskriklike benouing en beklemming van die gees, sonder blykbare oorsaak. Dit is iets wat grens aan volslae wanhoop, wat ’n ander Afrikaner-kollega beskryf het as 'a frightful sense of impending doom'.

"In die natuur, vér van die stadsgewoel … het hy (Marais) in die laaste tien jaar van ons samesyn die hoogste bevrediging, die grootste geluk gevind …  Sy sin vir humor was van die fynste wat ek geken het. As hy in die stemming en op dreef was, kon hy almal laat skaterlag, en sy eie aansteeklike lag het nie weinig daartoe bygedra nie.

"… Na 1927 was Eugène jarelang ons huisgenoot en tafelvriend; en as die omstandighede en wederwaardighede van die lewe mens eenmaal in soveel geslagte in so ’n noue aanraking bring met só ’n gees, dan mag mens jou bowe verdienste geseën ag.

"Die aand voordat ons die stad verlaat het, – tien dae voor sy dood, – het hy (Marais) nog met ’n vir my bewonderenswaardige belangstelling die ontwikkeling bespreek van ’n deel van ’n groot roman waarmee hy besig was in oorleg met my vrou … Na meer as dertig jaar in Arcadia, moes ons egter gedurende die somer van 1936 plaastoe (Pelindaba) verhuis. Dit het ook heeltemal onverwags gebeur, maar een van die eerste gevolge van ons besef daarvan was ’n ernstige beraadslaging met hom … Hy moes mee, natuurlik. Só het ons gemeen … Hy het geen bedenking teen een en ander opgewerp nie, hoewel hy eendag, by ’n verdere familie bespreking van die trek, toe die erns van die ontworteling duidelik geword het, enigsins bedruk gelyk het. Toe die tyd aangebreek het , het hy ewenwel self sy goedjies ingepak en uitgestuur met die ossewaens, wat ons trek vervoer het. Met sy gerede toestemming van die huurder sou hy nog enige dae op sy kamer (in die Preller woning in Pretoria) bly. 

"Ons het die 19e Maart getrek. Saterdag die 28e d.a.v. het twee van sy jong kennisse hom uitgebreng. Een van hulle vertel my later dat, toe by die stadskerkhof ’n lykstasie hulle verbygaan, het Eugène, wat stil en ingetoë langs die drywer gesit het, sy hoed afgeneem met die enkele opmerking 'gelukkige Duiwel!' Hy het sy intrek in die rondawels geneem … Die Sondag het hy nie vir ontbyt opgedaag nie, en ek het later afgestap, om te gesels. Hy had nie lus om te eet nie, het hy gesê, en het ’n bietjie geklae oor die aanhoudende motreëntjie en die 'skotse mis'. Ek het opgemerk dat hy ’n aansienlike voorraad van sy besondere sigarette meegebring het, en daaruit die gevolgtrekking gemaak, dat hy seker nie van plan was om gou weer na die stad te gaan nie … So ’n entjie van die rondawels af … het ’n klompie melkbeeste kromrug en kroeserig, met die sterte teen die sagvallende reën, gestaan en herkou, en terwyl ons dit had oor die oortalligheid van die jaar se reën, het hy, wat anders so opreg bly kon wees daarmee … ongeduldig opgemerk 'Selfs die arme diere het al daarvan genoeg gehad!'

"Vroeg die volgende Maandagoggend is ek na Johannesburg in verband met ’n werkie vir die Rykstentoonstelling, waaraan hy my sou gehelp het; en dié aand laat, verneem ek dáar op die radio die verpletterende tyding van sy dood – wat voortgekom het reeds die vorige Sondag namiddag, 29 Maart 1936.

"Eugène se heengaan was vir ons almal ’n skokkende verrassing. In teenstelling met die sombere, soms lugebere van sommige van sy verse, was hy in die omgang ’n opgewekte, vriendelike verskyning, wat selde en nooit ligvaardelik , oor die dood gepraat het. Vir hom was dit ’n ontbinding waarna hy uitgesien het sonder vrees – die oortog van die Swartrivier of die Styx."

Uit: Eugène Marais, Die Groot Eensame (Samesteller PJ Nienaber, 1951)

i. "En oor die tydperk wat sy (Marais se) dood onmiddellik voorafgegaan het, skryf dr Preller dat sy gelaatskleur bleek en sy gestalte soos ’n wandelende lyk daaruit gesien het. In sy persoonlike drag het hy sorgeloos geword. Hy was in sy werk en besigheid nalatig en sy familiebande het verslap … Die eerste wat ’n mens jouself afvra is: Hoe het dit dan so gekom? Wat het aanleiding gegee tot hierdie agteruitgang? Watter faktore het die meeste daartoe bygedra? ... Oor hierdie tydperk skryf sy biograaf (Du Toit): 'Dit was ’n gedurige stryd teen die diepste neerslagtigheid wat werk en konsentrasie byna onmoontlik gemaak het. Hoop, ambisie, verlange, alles het begin kwyn onder die drukkende angs en vernederende stryd om bestaan wat net lyding is.” (CA Groenewald, 1937)

ii. "Marais was ’n fyn beskaafde mens, wat sowel om sy veelsydige ontwikkeling as aantreklike natuur baie vriende gehad het en feitlik geen vyande nie. Die laaste jare van sy lewe het hy in Pretoria rondgeloop, om af en toe ’n ietsie te werk, maar hoofsaaklik as afgesonderde enkeling in die stad te beweeg. Hierdie man, met die wye wetenskaplike kennis en die fynste wetenskaplike aanleg …" (Die Burger, 1936)

iii. "In die laaste jare het Eugène by sy ou vriend en kollega, dr Gustav Preller, ingewoon. Sy gesondheid was egter lankal geknak en die einde was, hoewel skokkend, nie onverwags nie."  (Die Vaderland, 1936)

Uit: Eugène Marais (M Nienaber-Luitingh, 1962)

i. "Toe Preller ’n kort lewenskets van hom (Marais) wou skryf as ’n inleiding tot (Gedigte, 1925), skryf Marais vanuit Heidelberg: 'Daar sien ek vreeslik teen op! Al die slegte goed kan maar wag tot ek dood is.’"

ii. "En toe hy op 28 Maart 1936 op die plaas (Pelindaba) aankom, het hy ’n voorraad voëlsaad saamgebring om die voëltjies voor sy rondaweldeur te voer … Maar Marais was nog slegs een dag in die rondawel gevestig, toe daar gebeur wat sy vriende in stilte reeds jare lank gevrees het; in ’n bui van uiterste neerslagtigheid het hy ’n einde aan sy lewe gemaak. Eers die volgende oggend het ’n naturellevrou toevallig sy lyk ontdek wat in die gras langs die pad gelê het. ’n Haelgeweer is langs hom gevind."

  • 6

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    Ek merk uit u skrywe Karel Schoeman se dood word amptelik aan "natuurlike oorsake" toegeskryf.
    Is dit moontlik om 'n bronverwysing vir hierdie stelling te verskaf?
    Nico Ferreira
    Pretoria

    • Die bevinding van natuurlike oorsake was in nuusblaaie gepubliseer. Ek kan ongelukkig nie die datums aangee nie. Daar was egter 'n kwalifikasie, as ek dit so mag noem, deur die geneesheer dat die liggaam net uitwendig ondersoek kon word en dat daar geen beserings en merke van inspuitings was nie. 'n Volledige outopsie kon nie uitgevoer word nie omdat Schoeman se dood nie as onnatuurlik beskryf is nie. Dit was onduidelik of daar enige opdrag sou kom vir 'n geregtelike ondersoek waartydens toestemming vir 'n outopsie dan gemagtig kon word.

      • Nico M Ferreira

        Dankie JC van Dyk vir die kommentaar.
        Ek is 'n gereelde nuuskyker/leser en vind dit vreemd dat ek die storie van "die natuurlike oorsake" gemis het.

        Nico Ferreira
        Pretoria

  • Die haelgeweer, volgens oorlewering, is aan hom geleen deur ene Lood Pretorius. Lood was 'n kanonnier verbonde aan die ZAR Staatsartillerie en was bekend vir sy raakskote, tot die mate dat sy makkers telkens na 'n kolskoot uitgeroep het "skote Petoors". Vandaar die uitdrukking (volgens bronne).

  • Marie (van Rooyen) Seweetnam

    Ek was maar in Std 7 toe Marais so tragies sy uittog geneem het. Die Groot Verlange lê nog diep in my wese. Sy "Winternag" en kosbare boeke is nog op my boekrak, en ek wonder soms WIE sal die baie kosbare goed van my wil neem ... Eendag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top