Deon Stewardson – ’n huldeblyk

  • 2

Andrew Olivier - War Hero Artist (English Short) deur A Maritz op Vimeo.

As ’n jong akteur kruis my pad met die legendariese Joe Stewardson. Dis nie sommerso nie. Ek onthou die superster van ’n fliek wat geëindig het met die grootse Frank Sinatra weergawe van die liedjie met die woorde "I did it my way". As ek kyk na sy flieks sedert 1965, lyk dit my My Way (1973) was die vierde mees prominente fliek waarin hy was. Hy speel ook in Wild Season (1967), Katrina (1969), Target of an Assassin (1976), selfs My Way II (1977), Flatfoot in Africa (1978), Circles in a Forest (1990) en Act of Piracy (1990) om net enkeles te noem.

Die liedjie se woorde weerspieël in ’n neutedop sy lewe. In die internasionale film Circles in a forest – gebaseer op Daleen Matthee se boek, speel Joe my pa. As jong man neem ek minder in as wat ek nou wens ek het, want die energie van die jeug is verstommend. Maar een ding wat my bybly soos ’n paal bo water, is die superster se werksetiek. Etenstyd daar in die Knysna-woud, sluit die meeste van ons af met ’n rusbeurtjie. Sommige slaap vir ’n paar minute. Die begintyd lank voor sonop reeds, vra daarna. Na ete kom almal stadig aan die gang wanneer die AD begin roep na ons. Maar as ek sien hoe Joe dit doen, kry ek eintlik skaam. Met die eerste geluid wat klink na werk – na ete, staan Joe bloot op en stap na waar ons werk. Dis dit. Dan staan hy gereed. Wanneer die filmspan hom nodig het, werk hy.

Natúúrlik was daar later drama. Joe was nie NIE omstrede nie. Maar die drama het verband gehou met sy siekte as alkoholis. Desondanks wou ek hom in watte toedraai. Riskant dat ek myself weerspreek, wil ek sê - ek is ’n groot “fan”.

Ek ontmoet een van sy twee seuns, Deon, in Johannesburg. Sy ander seun se naam is Matthew (oorlede 2010). As regisseur by televisie doen ons stemopnames met kunstenaars vir gebruik in advertensies wat aandui watter TV-uitsendings voorlê. En vandat ons paaie gekruis het, werk ons saam – sonder stamp of stoot, wanneer sy rasperstem die materiaal sou pas, vir die volgende paar jaar.

Alle kollegas word nie noodwendig aanhangers van mekaar nie. Dieselfde geld vir vriendskappe. Alle mense wat saam op projekte werk, word nie noodwendig vriende nie. In Deon se geval geld beide nie. Ek het van hom ’n “fan” en vriend geword. Nie kuiervriende nie. Respekvriende.

In 1997 sterf Joe. Die land is in so ’n swak toestand weens wanbestuur; die kanse dat sy afsterwe in ’n nuusberig genoem sou word, was nul. Daar was te veel mense wat nie weet wat hulle nie weet nie. ’n Besorgde Deon bel. Hy verneem na die kanse om so iets te bewerkstellig. Om sy pa se heengaan op die nuus te kry.

Wat ’n onbenydenswaardige gegewe. ’n Seun moet óm die bestaande, vervalle strukture werk, om reg te laat geskied aan iets wat hy weet reg is. Ek vra gunsies om ateljeetyd te bekom. ’n Goedgesinde redigeerder help, en gelukkig aanvaar SABC News die “pakkie” wat ek hulle aanbied. Joe se dood word op die nuus gedra en Deon was my baie dankbaar. Ek was te bly ek kon help. Om die waarheid te sê – die voorreg om te doen wat ek gedoen het, was massief. Ek ag akteurs geweldig hoog. Ek beskou toegewyde akteurs as die unieke boublokke van ’n kultuur – wat die mens vastrapplek gee; ’n holte vir die voet. ’n Kussing vir die kop. Dit was dalk die laaste keer wat ek Deon gesien het.

Nadat ek uit die SABC en Gauteng padgegee het, het ek en die kort, aansienlike man met die rasperstem mekaar nie weer gesien nie. Ek het gereeld gewonder wat Deon nou doen, of hy oorsee sou wees, getroud was, kinders had.

Deon Stewardson

***

Wanneer ’n mens kontak verbreek met mense, weet jy nie waar hulle is, of wat hulle doen nie. Eendag het ek verward en gebroke gesit en wonder hoe dit sin maak dat ek, nadat ek van ’n ander ou en goeie vriend se dood gewaargeword het, jare na sy dood – dat ek tóé hartseer was. Hoe kon dit my nie pla dat hy dood was, terwyl ek dit nie geweet het nie?

Onlangs lees ek op Facebook Deon Stewardson is dood (27 Oktober 2017). En dit stem my hartseer. ’n Paar van sy, en die familie se nabye vriende, lewer kort kommentare. Dit lyk asof hy aan sy eie hand gesterf het. En ek dink –what a waste. En ek wonder hoe sy naastes oor hom voel? Of die ouderdom, en sy moeilike jeugjare hom dalk gehawend gelaat het. En ek raai die skade van sy jeugjare had dieper vore as wat mens sou kon dink. 

Maar die ander aspek is dié van ons bestes wat onaangekondig sterf ... As bekende mense so onaangekondig heengaan – en dit my hinder – met watter waardes sit ek dan? Is dít wat my kwel, my fout? Moet ek aanpas by ’n veranderende wêreld? Is dit oud-modies om te dink mense “wil van geweet wees”?

Ek troos my daaraan: die wêreld is deesdae wyer as hoe mense dit kan inkrimp en ruïneer – sonder om dit selfs eens te weet. Dalk wás Deon op elke nuusberig dié dag. Dalk het ék dit nie gesien nie. Met ander woorde – dalk wéét ék nie! Sosiale media en YouTube het info oor Deon. Baie. Onder andere wat lyk na sy eerste TV-onderhoud! En dit met internasionale vennote. Ek durf gesels oor ’n profeet, of selfs net die profeet se donkie, nie in sy eie land geëer is nie!

Ek skud my kop in ongeloof. Ek skud my kop in wanbegrip. Al wat ek kan doen is om te sê: Mooi loop, Deon. Ek dink jy het altyd goed bedoel.

NS Die stem op die TV-insetsel is dié van die 1990’s Deon Stewardson. Ek het dit in ’n privaatprogram van my gebruik. Die materiaal van die insetsel sluit mooi aan by aspekte soos hierbo verwoord. Andrew Olivier se verhaal is ingesluit (deur ene JC Strauss) in die nuwe program oor 32 Bataljon: “Brothers in Blood: The men of 32 Battalion”.

  • 2

Kommentaar

  • Die fliek van Joe Stewardson was The Winners, nie My Way nie. Richard Loring het die liedjie gesing, deur Robin Netcher gekomponeer, "You got to be a winner, that's how life is today".

  • Albert.

    Jou treffende huldeblyk is roerend. Almal moet deur iemand onthou word.

    Waag beslis jou hand meer gereeld met die pen as jou "teater".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top