Debuut ontroer ten spyte van oorsentimentaliteit, ’n resensie van The man who never was deur Douglas Kruger

  • 0

...
’n Mens besef gou dat die boek as ’n allegorie, of eerder gelykenis, gelees kan word.
...

Titel: The man who never was
Skrywer: Douglas Kruger
Uitgewer: Umuzi Trailblazer
ISBN: 9781485904854

Uit die pen van die internasionale spreker en skrywer van boeke oor besigheidsbestuur, Douglas Kruger, kom uiteindelik sy eerste roman. Dit is nou wel ’n kort roman, eerder ’n novelle, maar hy kry dit reg om hiermee deeglik sy merk in die fiksiegenre te maak.

Die voorblad wys twee hande wat na mekaar uitreik, die een groter as die ander. Dit skep reeds ’n bepaalde verwagting, naamlik dat dit hier hoofsaaklik oor twee persone gaan en dat die een die ander wil red. Hierdie beeld roep die skildery Hands of God and Adam van Michelangelo op en aktiveer hiermee dadelik ’n Bybelse, of dalk eerder religieuse, tematiek. Die leser kan hieruit ook die verhouding tussen ’n vaderfiguur en sy skepsel (seun) aflei. Verder bedank die skrywer op die eerste bladsy sy ouers, en die motto van die boek is: “O, Absalom!” Die pa in die storie se naam is dan ook David. Vir lesers wat vertroud is met Absalom se storie in die Bybel, word daar hiermee ’n sekere verwagting oor die verloop van die inhoud geskep. Dit is boonop ’n boek in Umuzi se Trailblazer-reeks, wat fokus op korter werke met ’n grondverskuiwende inhoud, vorm en styl.

Die oplettende leser het dus reeds uit die voorblad en motto ’n paar leidrade oor die boek se inhoud en tema ontvang.

Die titel begin met ’n negatiewe stelling oor ’n man wat nooit bestaan het nie, en hierdie begrip word met die roman se eerste woorde geëggo: “How do you explain a negative?” (bl 9) en dan ’n paragraaf later: “[J]ust because people don’t see it doesn’t mean that the negative doesn’t matter.” In hierdie roman het ons dit dus oor die negatiewe of afwesige wat saak maak – voorwaar ’n interessante konsep.

...
Ek sal, alles in ag genome, die boek weer lees, want al is daar oordrewe sentimentele dele, is die inhoud ontroerend en onthutsend op ’n manier wat mens laat met ’n nuwe waardering vir die kosbaarheid en vlugtigheid van ons aardse bestaan.
...

In die boek leer mens vir David en sy agtjarige seun, Chris, ken. Hulle het talle filosofiese gesprekke en Chris is verbasend intelligent vir sy ouderdom. Tussen pa en seun is daar ’n besonder hegte verhouding.

Storiebederwer

David word op ’n wrede manier van sy seun weggevat en dit is waar die konsep van negatiewe teenwoordigheid begin. Die gedeelte wat David se dood beskryf, is besonder ontroerend geskryf.

David kry in die hiernamaals die geleentheid om drie keer ’n kykie in sy seun se lewe te kry. Hy mag egter net ’n toeskouer wees en mag op geen manier inmeng nie. Dit wat David sien, breek sy hart: Sy seun is op ’n uiters destruktiewe pad.

Die res van die verhaal bestaan dan uit hierdie kykies in Chris se lewensverhaal, asook terugflitse van toe David nog gelewe het. Laasgenoemde help om ’n onmiddellikheid aan die boek te verleen. Die skryfstyl is gemaklik, geselserig en met tye selfs snaaks, ten spyte van die moeilike tema. Die skrywer verval egter ongelukkig soms in clichés en mooiskrywery, byvoorbeeld: “The stars followed their ancient trajectories across eternity and invisible birds marked their passage in fading chirrups and hoots” (12). Deurentyd word allerhande wyshede gedeel, maar die skrywer gebruik op plekke geykte beelde, soos op bladsy 22: “[I]f you face your problems head on – run straight towards them and deal with them quickly and bravely – you get it all over with.”

’n Mens besef gou dat die boek as ’n allegorie, of eerder gelykenis, gelees kan word. Hierdie amperse prekerigheid sal baie lesers teen die bors stuit, maar daar sal ook diegene wees wat dit juis oor hierdie wyshede wil lees, wat onder andere temas soos ouerskap, die hiernamaals, geloof, vrye wil en liefde insluit. Hiermee herinner die boek aan werke soos dié van Mitch Albom en selfs The midnight library deur Matt Haig. Dit bevat meer as genoeg pitkos vir diegene wat van hierdie tipe boeke hou.

Die skrywer kry dit reg om deurentyd spanning op te bou en die leser aan die raai te hou. Aanvanklik weet ons byvoorbeeld nie wat die rol van Jen, die ma, is nie. Ons sukkel ook om die kloutjie by die oor te bring oor wat presies met Chris aan die gang is. Hierdie geheime word stadig openbaar gemaak.

Teen die helfte van die boek is David gebroke oor sy seun en hy pleit by die engele in die hiernamaals om in te gryp. Is dit enigsins moontlik om sy seun te red? Is daar ’n manier om aan die noodlot te ontkom?

Die gedeelte wat na hierdie pleidooi volg, is die enigste plek in die roman waar ek verveeld geraak het as gevolg van die herhalende gesprekke tussen David en sy beskermengel. Die einde is egter weer spanningsvol en al die leser se vrae word mettertyd beantwoord.

Ten spyte van die geselserige skryfstyl is dit nie ’n maklike boek om te lees nie. Erg traumatiese gebeure word beskryf en veral die verloop van Chris se lewe is skokkend en hartseer.

Ek sal, alles in ag genome, die boek weer lees, want al is daar oordrewe sentimentele dele, is die inhoud ontroerend en onthutsend op ’n manier wat mens laat met ’n nuwe waardering vir die kosbaarheid en vlugtigheid van ons aardse bestaan.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top