Dansende Digters: Wie luister?

  • 0

Verlede naweek is die eerste (maar hopelik nie die laaste nie) Dansende Digtersfees by die Spier-landgoed te Stellenbosch gehou. Hierdie poësiesaamtrek is deur Breyten Breytenbach gereël, met 'n tiental erkende plaaslike en internasionale digters wat die karavaan volgemaak het.

Die naweek se kunsviering het bestaan uit verskeie gesprekke, onder andere oor die vertaling van poësie en die rol ? of selfs verpligting ? van poësie om eties en betrokke te wees, asook voorlesings deur die indrukwekkende versameling woordwerkers.

Vrydag se tweede gesprek heet "What has ethics got to do with it? Does poetry open a way to an awareness of being and dignity in the process of political and cultural transition?". Die digters wat die onbegonne taak het om hierdie vraag te probeer antwoord, is Antjie Krog, Albie Sachs en die Sjinese digter Yang Lian, met die joernalis Dele Olojede as moderator.

Yang Lian, wat grootgeword het in die tyd van die Kultuurrevolusie en die tirannie van Mao Zedong, noem dat hy hom baie tuis en bekend in Suid-Afrika voel. Vanuit sy eie geskiedenis kan hy goed identifiseer met hierdie land. Hy is geroer deur die landskap, maar nog meer deur die sosiale stormagtigheid wat onder die oppervlak van hierdie skynbaar kalme oseaan van natuurskoon lê. Hy val ook sommer met die gesprektema se deur in die huis wanneer hy by hierdie beeld aansluit: "If the whole of reality is an ocean, society is the boat and poetry the ballast."

Antjie stem nie heeltemal hiermee saam nie: indien daar met dié beeld volstaan word, sal die aanpassing gemaak moet word dat die samelewing ’n duisend bote is wat in meestal verskillende rigtings vaar. Mens moet, volgens haar, met iemand praat, in gesprek tree om uit te vind wat eties is. "We are a country with a fractured morality." (En dadelik dink ek aan die voorafgaande gesprek en die klem wat daar op konteks en kulturele begrip geplaas is.) Daar is oor baie dinge ooreengekom: die nuwe volkslied, die nuwe landsvlag, die Grondwet ? maar onderliggend tot dit alles oorheers spanning en onrus steeds in die land.

Die grootste rede hiervoor is, volgens Antjie, die land se veeltaligheid. In watter taal word etiek uitgedruk, en is dit in alle tale dieselfde? (Weer eens dink ek aan die vorige gesprek, waar beslis is dat direkte vertaling onmoontlik is.) Sy verklaar: "Bad English is our main language. We have to learn how to live in a black majority." Dit wil vir my voorkom asof sy ... gefrustreerd is met die betrokkenheid, al dan nie, en reikwydte van poësie in vandag se Suid-Afrika. "If we have a reading here tonight and profound things are being said, how far does that reverberate?" Dit wil voorkom asof Lian aangedryf voel deur Antjie se frustrasie – hy raak opgewonde en energiek. Vir hom is probleme die baarmoeder van die digkuns: "Poetry is starting from the impulse."

Albie Sachs, diplomaat van formaat, vorm ’n beredeneerde middeweg tussen die ander digters se sterk gevoelens. Vir hom is poësie ’n middel waardeur mense met mekaar verbind kan word, ’n manier om gemeenskaplikhede te ontdek en saam te knoop. Hy lê klem op "diversity and open-endedness" as belangrike faktore wat versoening en transformasie aanbetref. Vir hom is die oorsteek van grense ? en dan veral ook kultuur- en taalgrense ? baie belangrik, en hiervoor is ’n taal- en vertaalbedryf in Suid-Afrika nodig.

Lian stel ’n eenvoudige en sinvolle oplossing vir Antjie en Albie se probleme voor: ’n fees, soos die Dansende Digtersfees, waar swart, bruin en wit Suid-Afrikaanse digters betrek word en daar saamgewerk word om saam te dink en saam te praat ? "Poets sitting down and translating each other."

Weer eens kan mens nie anders as om aan die voorafgaande gesprek te dink nie. As digters mondstukke is wat deur middel van hul poësie met die massas praat, maak dit tog sin dat hierdie digters ook onder en deur mekaar moet gesels om in staat te wees om nog meer breedvoerig en treffend intern (met jou eie "mense") en ekstern (met jou land) te kan kommunikeer.

Die gesprek oor poësie en etiek is deur die Nigeriese joernalis en uitgewer, Dele Olojede gelei.
 
Antjie Krog en Albie Sachs
 
Yang Lian en Antjie Krog
 
Dele Olojede en Yang Lian
 
 
 
Victor Dlamini het die fees bygewoon. Agter hom sit Breyten Breytenbach.
 
 
Breytenbach en Dlamini gesels na afloop van die gesprek.
 
Foto's © Chrizane van Zyl

Lees ook:
Dansende Digters: Digkuns móét deur digters vertaal word

Die dansende digter – ’n blog deur Naomi Meyer

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top