
Sopnat van kop tot tone en gewapen met net ’n plakkaat, het ‘n klomp Kapenaars Saterdag 10 Mei besluit om hul stemme dik te gaan maak teen Boko Haram, die terreurorganisasie wat 276 Nigeriese skoolmeisies ontvoer het. Jamaine Krige heet die optog bygewoon.
Dis nou al langer as maand na die skoknuus van die skoolmeisies – tussen 13 en 18 – wat in die middernagtelike ure uit hulle beddens gesteel is. Intussen is gedreig dat hulle verkoop of onder die rebelle verdeel sou word. Boko Haram, ’n millitante Islamitiese groep wat die land al jare lank terroriseer, het kort daarna verantwoordelikheid vir die ontvoering aanvaar.
Boko Haram beteken “Westerse onderrig is ’n sonde”. Die leier van die groep het in ’n video gesê meisies hoort nie in ’n skool nie en moet eerder tuis bly waar hulle hulle dienste kan verskaf soos wat deur Allah en hulle mans verwag word.
Sowat twee weke na die ontvoering het die wêreld begin aandag gee aan wat deur Amnesty International as een van die ergste menseregte-oortredings ooit beskou word. Die belangstelling in die storie het stadig begin groei, maar na ‘n smeek-twiet uit Nigerië – #bringbackourgirls – het die storie op sosiale media vlam gevat en mense van oor die wêreld betrek. Skielik was ‘n #bringbackourgirls-plakkaat ’n modegier en almal, van Michelle Obama tot film- en musieksterre op die rooi tapyt by die Cannes, het hartlik ondersteuning aan die Afrika-meisies en hulle gesinne betoon.
En ons in die Kaap het besluit om saam te staan, hand aan hand met ons susters van oor die wêreld, en ondersteuning te bied aan die gesinne wat nooit weer heel sal wees voor hulle met hulle kinders herenig is nie. Ek het nie vir een oomblik geglo ons klein protes-aksie sou ’n verskil maak nie. Ons wou net bewusmaking aanmoedig en wys ons gee om. Ek het ook nie geglo dat die Boko Haram-leier skielik sy lewenspad sou verander as gevolg van die liefde, lig en positiewe gedagtes wat aan die meisies gestuur word nie. Boonop het ek nie gedink ek sou kon identifiseer met die ander mense wat deel van die protes was nie, omdat ek nog nooit gemaklik as deel van ’n groep was nie.
Maar ek was verkeerd.
Van die oomblik toe ons daar aangekom het tot ek drie ure later natgereën in my kar geklim het, het ek ’n towerverandering ondergaan. Die kameraadskap tussen die vrouens, mans en kinders wat die gure weer getrotseer het, was ongelooflik. Die rooi plakkate wat die hele straat voor die parlementsgebou volgemaak het en die krete van “Down down, Boko Haram” en “You strike a woman; you strike a rock!” het die lug dik gemaak. Tussen dit en die sagte sing van “All we are saying, is bring back our girls” wat soos ’n ou plaat in die agtergrond speel, was die atmosfeer elektries. Die SABC was daar en verskeie radiostasies was ook op die toneel om verslag te lewer.

Die organiseerder van die byeenkoms, Busi Mkhumbuzi, het die skare aangespoor toe die weer verander van ’n ligte reëntjie na ’n behoorlike, soos dit vir ons gevoel het, wolkbreuk. Sy het bly marsjeer, op en af. “Die weer sal ons nie onderkry nie. As ons nou ongemaklik is, dink net hoe voel daai meisies!” Sy het aangevoer dat ons as ’n land en ’n vasteland die optogte moet lei. “Hierdie is Afrika se dogters wat gesteel is en as Afrika kan stilbly, hoekom sal die res van die wêreld omgee?”
Toe die optog einde se kant toe begin loop, het ons hande gevat en ’n kring gevorm vir ’n laaste lied en ’n minuut stilte voordat die rooi plakkate weer hulle eie paaie inslaan.
Hoewel ek steeds onseker is oor hoe so ’n optog tot die kwessie van vryheid vir die meisies kan bydra, behalwe vir bewusmaking en ondersteuning, weet ek een ding is waar: die ervaring het vir seker meer vir my beteken as wat ek ooit sou kon geraai het. As soveel mense van verskillende agtergronde, geslagte, rasse en kulture saam kan staan vir die gesteelde Afrika-dogters, dan is daar hoop.
Soos die dag gesing is, slaan ’n vrou en jy slaan ’n rots. Maar met genoeg klippe kan ’n muur van beskerming gebou word om te verhoed dat soortgelyke tragedies weer gebeur. En indien dit gebeur, weet ons die kinders van Afrika en die mense van die wêreld sal nie in stilte staan en dit toelaat nie.
Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2014.

