Dank die hemel vir die Afrikaanse media

  • 2

Fotobron: http://johnpavlovitz.com

“Op ’n paar prysenswaardige uitsonderings na het die Engelse media die fakkel laat val van kruistogjoernalisme wat gedra is deur talle, onder meer van Thomas Pringle tot Percy Qoboza, Donald Woods, Max du Preez en Martin Welz, en die Afrikaanse koerante het dit opgetel.” (Rhoda Kadalie, Business Day, 14/10/2004, vertaal)

Ons staan verskuldig teenoor die Demokratiese Alliansie-LP David Maynier se hardnekkigheid en ons adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, se eerlikheid en integriteit. In Mei het hulle die hoof uitvoerende beampte van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), Daniel Matjila, gedwing om toe te gee dat ’n politieke eerder as ’n beleggingsmotief agter die OBK se besluit geskuil het om die meeste van die befondsing te voorsien wat Iqbal Survé in staat gestel het om Independent News Media (Edms) Bpk, die grootste groep Engelse koerante in die land, te koop.

Volgens Matjila was die doel om swart mense die kans te gee om ’n tweede Naspers te skep.

Een van die maatstawwe in die bepaling van die sukses van so ’n onderneming is ondersoekende joernalistiek – kortom: hoe vergelyk die Independent-titels met Naspers-koerante wat dit betref?

Volgens my subjektiewe beoordeling was die twee voorbeelde van ondersoekende joernalistiek wat die afgelope jaar of wat uitgetroon het, dié van Beeld se Erika Gibson met die onthulling oor hoe die ANC Omar al-Bashir se ontsnapping bewerkstellig het en hoe ons howe in hierdie verband belieg is, en Rapport en Beeld se openbaarmaking van diepgaande korrupsie in die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

Ná Janet Heard, hoof van News 24 se parlementêre buro, oor Gibson se eksklusiewe dekking geskryf het, het ek haar (Gibson) om haar weergawe van die gebeure gevra, wat toe op die webwerf van Media Online gepubliseer is. Dit was ondersoekende joernalistiek op sy beste.

Dit sou onregverdig wees om te sê Pieter-Louis Myburgh (Rapport) en Leanne George (Beeld) het met die Prasa-storie die mat onder die Independent-koerante se voete uitgeruk, want eintlik was daar nooit eens ’n mat nie.

Ontneem van sy beste talent deur middel van ’n wraaksugtige suiweringsproses was Survé se koerante ten beste lustelose omstanders met die dek van hierdie sage van korrupsie en wanbestuur wat af en toe skadebeheer toegepas het deur retrospektiewe opvolgartikels te publiseer. Dat hierdie koerantmaatskappy ’n gebrek aan ’n vermoë om ondersoekende joernalistiek toon, is nie juis ’n verrassing nie in die lig van die onlangse nuus oor geweldige personeelbesnoeiings. Die heersende emosie in sy nuuskamers moet een van vrees wees, en dit is nie juis die aansporing wat ondersoekende joernalistiek van wêreldgehalte sal voortbring nie.

Pieter-Louis Myburgh

So beskryf Anton Harber die inskrywings van Myburgh vir die 10de Taco Kuiper-toekenning vir ondersoekende joernalistiek vir 2015 – wat deur Myburgh gewen is:

Na ’n naamlose wenk het Myburgh vier maande lank gewerk om die bewering te staaf dat Prasa R600 miljoen bestee het aan spoorvoertuie wat te hoog vir ons spoornetwerk is. Met die publisering van die storie “SA R600-m train blunder” het Prasa gesê dis ontbloot van waarheid. Maar Pieter-Louis het dit opgevolg met stawende dokumentasie. Prasa het later die massiewe flater erken en, as gevolg van hierdie en ander berigte, die hoof uitvoerende beampte, Lucky Montana, en die hoofingenieur afgedank. Dit was klassieke ondersoekende werk: noukeurige, geduldige en deurtastende ondersoekwerk om bewyse te vind vir die misbruik van openbare geld, gerugsteun deur onweerlegbare dokumentasie, en kragtig aangebied om te verseker dit het impak. En het dit impak gehad!

Ek het die volgende tydlyn opgestel om nie net die talente van hierdie uitstekende verslaggewers te toon nie, maar ook die mate waarin diepgaande korrupsie toegelaat is om onder die ANC se bewind te floreer.

  • Pieter-Louis se dekking van Prasa het begin met ’n berig in Rapport / City Press in Mei 2015 waarin uiteengesit is hoe ’n hele reeks individue met politieke konneksies hulle geposisioneer het om begunstigdes te word van Prasa se massiewe R51 miljard-tender vir nuwe passasierswaens, wat toegeken is aan Gibela, die plaaslike filiaal van die Franse vervaardigingsreus Alstom.
  • In Mei 2015 het Myburgh berig oor ’n verdagte eiendomstransaksie waardeur die eertydse hoof uitvoerende beampte van Prasa, Lucky Montana, verbind is met ’n maatskappy wat kontrakte ter waarde van miljarde rande bekom het om Prasa van sekuriteitsprodukte en -dienste te voorsien.
  • Myburgh se volgende artikel in Rapport / City Press, in Junie 2015, het gefokus op nog ’n eiendom in die duurder prysklas, hierdie keer in Kaapstad, waar Montana se naam gekoppel is aan ’n sakevrou wie se maatskappy hoogs voordelige kontrakte bekom het om Prasa-treine op te knap en te diens.
  • Op 5 Julie 2015 het Pieter-Louis Myburgh in Rapport onthul hoe Prasa lokomotiewe, die Afro 4000’s, gekoop het wat te hoog vir Suid-Afrika se spoorinfrastruktuur is. Terwyl die vorige artikels besonderhede verskaf het oor die duister agtergrond tot die transaksies vir die Prasa-kontrakte, het hierdie artikel vir die eerste keer onthul dat daar fundamentele ingenieurstekortkominge is in die ontsaglik duur treine wat aangekoop is.
  • Myburgh se Julie 5-onthulling oor die Afro 4000-lokomotiewe is begroet deur hewige ontkennings van Prasa, wat op daardie stadium onder Montana se leiding gestaan het. Rapport / City Press het dit egter ’n week later met ’n tweede Myburgh-artikel oor die lokomotiewe opgevolg, hierdie keer met stawende dokumentasie. Dit het ingesluit verslae van Prasa se eie ingenieurs, wat duidelik getoon het die Afro 4000's voldoen nie aan Suid-Afrikaanse spoorspesifikasies nie. Die direksie van Prasa het die week daarna vir Montana gesê hy hoef nie meer die res van sy kontrak as hoof uitvoerende beampte uit te dien nie.
  • In News 24 van 4 Oktober het lesers gelees hoe ’n prokureur wat Montana verteenwoordig het, R25 miljoen kontant vir twee gesogte eiendomme betaal het.

Myburgh het voortgegaan om die Afro 4000's te dek. In Januarie 2016 het hy onthul hoe ’n Angolese sakeman wat aan huis deur Jacob Zuma besoek is, asook ’n prokureur met bande met Zuma se familie, betalings ontvang het van altesaam R80 miljoen van Swifambo Rail Leasing, die plaaslike maatskappy wat die Spaans-geboude Afro 4000-lokomotiewe aan Prasa gelewer het. Geen duidelike redes is verskaf hoekom Swifambo rekeninge van hierdie individue ontvang het of waarom hulle in hierdie verband betaal is nie.

Leanne George

So som Anton Harber die voorlegging van Beeld se Leanne George op:

Dit is ’n storie van aanmatiging. Na die vorige Prasa-storie het Leanne George gehoor hoe die hoof uitvoerende beampte, Lucky Montana, sy hoof van ingenieurswese, Daniel Mtimkulu, as ’n “genie” bestempel. Met bewonderenswaardige joernalistieke skeptisisme het sy speurwerk oor sy “genialiteit” gedoen, en uitgevind dat hy nie as ’n ingenieur geregistreer is nie en dat die dubbele doktoraat waarop hy aanspraak gemaak het – insluitend die een wat hy sê hy gekry het toe hy 15 was – net in sy verbeelding bestaan het. En dit is nie die eienskap wat ’n mens soek in iemand wat oor ’n treinwa-aankoop van R600 miljoen moet toesig hou nie. Hy het sy werk verloor, nes ’n ander kammadoktor by Prasa en uiteindelik die hoof uitvoerende beampte self.

  • Op 8 Julie 2015, drie dae nadat haar kollega die storie onthul het oor hoe die pas-aangekoopte Prasa-lokomotiewe nie vir ons spoorstelsel geskik is nie, het ’n voorbladartikel in Beeld deur Leanne George die eerste aanduiding gegee dat die professionele kwalifikasies van die maatskappy se hoofingenieur, “dr” Daniel Mtimkulu, verdag is. Twee dae later het Beeld in ’n verdere voorbladberig onthul dat Mtimkulu se aanspraak tydens ’n Safm-radio-onderhoud, naamlik dat hy sy doktorale studie gedurende die val van die Berlynmuur in Duitsland gedoen het, nie waar kan wees nie. George het vasgestel dat Mtimkulu in 1974 gebore is, wat beteken dat hy, sou sy aanspraak waar wees, 15 jaar oud was toe hy sy doktorale studie in Duitsland begin het, en dat hy op die ouderdom van agt jaar gematrikuleer het!
  • Op 17 Julie het George die storie oor Lucky Montana se afdanking bekend gemaak.
  • Op 24 Julie, in nog ’n voorbladartikel in Beeld, het George onthul dat “dr” Mtimkulu hoegenaamd geen ingenieurskwalifikasies het nie!

In antwoord op haar navraag het die Vaal Universiteit van Tegnologie bekend gemaak dat hoewel Mtimkulu vir ’n diploma in ingenieurswese daar geregistreer het, hy nooit die kursus voltooi het nie!

  • Op 31 Julie het George en Myburgh ’n artikel geskryf waarin bekend gemaak is dat Prasa nie van ’n “verlore” R17 miljoen rekenskap kon gee nie.
  • Op 15 September het George en Myburgh die heel ontstellendste storie van almal gedoen: nie net is die Afro 4000-lokomotiewe te hoog vir Suid-Afrikaanse spoorlyne nie, hul remme kan ook ’n gevaar inhou.
  • Op 9 Desember onthul George en Myburgh dat Swifambo Rail Leasing, die maatskappy wat die multimiljardrand-kontrak bekom het om die kontroversiële Afro 4000-lokomotiewe aan Prasa te lewer, ’n ekstra R335 miljoen in sy sak gesteek het.
  • Op 14 Desember maak George en Myburgh bekend dat die besturende direkteur van die maatskappy wat die kontrak gekry het om die kontroversiële Afro 4000-lokomotiewe aan Prasa te verskaf, R27 miljoen kontant op ’n wildplaas en gastehuis in Limpopo uitgegee het vyf dae nadat Prasa sy eerste betaling aan sy maatskappy gedoen het.

Trouens, twee jaar nadat Iqbal Survé die Independent-koerante, wat die Cape Times, die Cape Argus, die Mercury, Pretoria News, die Daily News, The Star, die Sunday Tribune, die Sunday Independent, die Diamond Fields Advertiser en Isolezwe insluit, oorgeneem het en met sy suiwering van sommige van die land se beste redakteurs, joernaliste en subredakteurs begin het, is nie een van sy koerante op die lys van finaliste vir die Taco Kuiper-toekenning vir 2015 nie.

Verder is al die aanduidings daar dat daar binnekort grootskaalse personeelbesnoeiings by die koerante in die Sekunjalo-stal gaan wees, met minder personeel wat teen ’n kleiner vergoeding sal moet werk – ’n tragedie vir Suid-Afrikaanse joernalistiek omdat die personeel beter behandel is en meer bereik het as nuusmense voor Iqbal Survé beheer oorgeneem het.

Dit dui daarop dat Dan Matjila se doelwit van die vestiging van ’n swart Naspers niks behalwe ’n swak-oorwoë hersenskim was nie, wat weinig gerusstelling inhou vir die land se staatsdienswerkers deur wie se pensioenfonds hierdie projek gefinansier is.

Dit was nie die eerste in sy soort nie. Snuki Zikalala het daaraan meegedoen om die SAUK bankrot te maak met sy eweneens swak-oorwoë fantasie van die stigting van die “Afrika Al Jazeera”. Honderde miljoene rande is in die instelling van 13 nuusburo’s in stede oral ter wêreld ingepomp vir die vervaardiging van nuusprogramme waartoe net 0,5% van Suid-Afrikaanse huishoudings toegang het omdat die nodige dekodeerder nie plaaslik beskikbaar is nie – ’n briljante sakeplan!

Dank die hemel vir die Afrikaanse media.

  • 2

Kommentaar

  • Dankie Ed vir jou deurtastende navorsing en noukeurige beriggewing. Ek let jy het die afgelope tyd toenemend met insig oor mediasake geskryf. Dit bewys niks klop ervaring nie. Jou pluimpie vir Afrikaanse media is welkom, maar van hulle is ook besig met besnoeiings met jammerlike gevolge vir die gehalte van koerante.

  • Avatar
    francois verster

    Om by Mnr Vosloo aan te sluit: daar is nog 'n storie oor koerante in SA te vertel. Mag dit nooit onderdruk en verswyg word nie. Grenslit, oor die Bosoorlog en die binnelandse konflik ook, geniet nou aandag, maar die konflik van kulture (onder die dekmantel van kru politiek) in ons land is op talle fronte geveg. Daar is altyd 'n storie agter 'n storie - en die waarheid moet uit. Now is the time ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top