Danie Marais oor sy opname in die splinternuwe Groot Verseboek

  • 0

Groot Verseboek is 'n belangrike dokument wanneer dit kom by die kanonisering van digters. Hoe voel dit vir jou, as 'n skrywer wat deel is van 'n nuwer geslag, om vir die eerste keer in só 'n bloemlesing opgeneem te word?

Ek is gewoon bitter bly en dankbaar.

As jy wil skryf, moet jy in die reël bereid wees om jare lank 'n toegewyde skadubokser te wees sonder om ooit te weet of jy iets of iemand werklik getref het; of dit wat jy doen vir enigiemand van duursame waarde sal wees; of jou gegriffel hoegenaamd gepubliseer gaan word, eendag. Jy vertroetel 'n privaat obsessie waaroor jy nagte om wil praat, maar vir iemand wat nie jou belangstelling deel nie, is daar niks verveliger nie. Jy sit dus gereeld met 'n veraf uitdrukking in druk tafelgesprekke omdat jy nie jou vriende en familie gedurig met jou knaende, allesverterende stokperdjie wil lastig val nie.

Daar is baie redes om kanoniseringsprosesse met agterdog te bejeën en daar sal sekerlik ook stemme wees wat nie met al die keuses in die nuwe Groot Verseboek gaan saamstem nie, maar vir my om gelatenheid te veins oor die opname in 'n toonaangewende bloemlesing sou verregaande wees. Erkenning is vir skrywers die broodnodige troos dat al die gespartel nie heeltemal verniet was nie - iémand het gedink dit was die moeite werd.

Hierdie uitgawe van Groot Verseboek verskil taamlik van al sy voorgangers: dit bestaan uit drie aparte dele, dis verpak in blik-vorm, en dit het 'n meer kontemporêre omslag-ontwerp. Wat dink jy van die nuwe visuele aanslag en ontwerp?

Ek hou baie daarvan. Ek en my vrou is boekversamelaars en ons koop gereeld boeke wat eenvoudig te mooi is om nie huis toe te dra nie, byvoorbeeld die onweerstaanbare McSweeney's-reeks.

Juis daarom kla ek ook al jare oor soveel konserwatief-verpakte digbundels. Kon Faber&Faber nie meer moeite gedoen het met Philip Larkin, Wallace Stevens en Derek Walcott se wonderlike Collected Poems nie? Wie het besluit om pensketse van onvleiende paspoortfoto's daarop te plak? Het Czeslaw Milosz se Collected Poems werklik so 'n slaappil van 'n olieverf-stilllewe verdien? Moet ernstige poësie wat so baie vir 'n kontemporêre leser te sê het, dan altyd lyk soos 'n gebalsemde lyk met 'n kispak uit die 1950's aan?

Hoera vir die nuwe blik!

Daar word deesdae baie gepraat van 'n "oplewing" in die Afrikaanse poësie. Dink jy dit is inderdaad so? Dink jy Afrikaanse poësie het 'n helder toekoms? En het poësie nog 'n plek in vandag se Afrikaanse kultuur?

Ek ken 'n paar mense wat reken dat die huidige tekens van lewe ook net rigor mortis kan wees. Dit sou seker ook effe domastrant wees om in die huidige tydsgewrig met sy globale energiekrisis, ekonomiese depressie en omgewingskatastrofes te optimisties oor die toekoms van enigiets te wees.

En tog voel ek versigtig hoopvol oor die Afrikaanse poësie. Dalk is dit juis in sulke donker, radikaal onseker tye dat die poësie baie om te sê het. Soos Jack Hammer, oftewel Piet Botha, sing: "... a bad time for loving was a good time for the blues" ("Time"). Of soos Emily Dickinson in 'n brief geskryf het: "I sing, as the boy does by the burying ground, because I am afraid."

Hoe dit ook al sy, daar is beslis nog baie mense, ook onder 30, wat in Afrikaans dig en daar's 'n relatief klein maar lojale leserspubliek wat die Afrikaanse poësie entoesiasties ondersteun. In die afgelope paar jaar was ek by verskeie poësie-voorlesings waar ek regtig lekker sit en luister het.

Wat my veral positief stem, is die stilistiese verskeidenheid wat daar tans in die Afrikaanse poësie bestaan. Daar het 'n gesonde verruiming plaasgevind. (Ek sê bewus nie "vernuwing" nie, want dit sou impliseer dat ons na een of ander voorafbestemde eindpunt op pad is. Kulturele en literêre voorkeure pendel al eeue lank tussen romantiese en behoudende uiterstes. Is dit wat ons "vernuwing" noem in die 21ste eeu, nie meesal net 'n verrassende mengsel nie - 'n nuwe hibried, wat uit verskillende, reeds bekende elemente bestaan?)

Wanneer ek dink aan die uitheemse wattelbosse in Pretoria waar ek grootgeword het, meen ek daar is niks treuriger as 'n ingevoerde monokultuur nie. Maar as 'n mens kyk na die Versindaba 2008-bloemlesing wat Marlise Joubert saamgestel het, is dit opvallend hoe divers die toonaard van die stemme en die aanslag van die bydraende digters is. Alle poësieliefhebbers gaan beslis nie van alles in dié bundel hou nie, en dis goed so - 'n lewendige literêre kultuur kan tog plek maak vir almal van Fokofpolisiekar tot TT Cloete; vir alles van haikoes en sonnette tot liriese odes, vryevers-tirades, harde rock en hip-hop.

Vir die Afrikaanse poësie om 'n helder toekoms te hê, moet ons kritici en leserspubliek sinvol op dié nuwe diversiteit reageer. Ons sal moet ophou sê dié of daai is poësie, en dié of daardie is nie. Sulke waardeoordele hou vas aan 'n essensialistiese wêreldbeeld wat 'n persoonlike voorkeur tot 'n objektiewe feit wil verhef en nie 'n veelsoortigheid van poëtiese vorme kan of wil akkommodeer nie. Wanneer 'n resensent verduidelik hoe 'n spesifieke digter se poësie werk; wat die sterk en swak punte, die moontlikhede en slaggate of beperkings van 'n spesifieke manier van dig is, kan 'n konstruktiewe openbare gesprek gevoer word. Ek twyfel of die vele is-is-nie-is-debatte wat al jare lank op LitNet en in ons dagblaaie woed, die saak van die Afrikaanse poësie bevorder.

Noem 'n paar van jou gunsteling klassieke Afrikaanse verse wat al in Groot Verseboek opgeneem is. Hoekom is hulle jou gunstelinge?

Die eerste gedigte waarvan ek van kinds af gehou het, was verhalende werk wat ek kon verstaan. As ek reg onthou, was vroeë gunstelinge gedigte soos "Besoek aan die dieretuin" en "Die skoolhoof" van SJ Pretorius, "Rietfontein" en "Kaalvoet klonkie" van ID du Plessis of Ernst van Heerden se "Die bokser". Dié gedigte was almal in Junior Verseboek, maar ek sien daardie twee van Pretorius het nie die 2000-uitgawe van Groot Verseboek gehaal nie. Ek was ook gek oor goed soos AG Visser se "Die ruiter van Skimmelperdpan" (dis blykbaar ook weggelaat uit die 2000-uitgawe van Groot Verseboek) en ek het groot plesier aan Eugène Marais se "Winternag", "Skoppensboer", "Mabalel" en "O diep rivier" gehad.

Ek is nou nog baie erg oor ballades, veral in folk- en ou country-musiek. Wat my betref, kan Koos du Plessis se "Op pad na Nooitgedacht" gerus ook in Groot Verseboek opgeneem word.

Maar die eerste digter wat my werklik in vervoering gehad het, was NP van Wyk Louw - sy woordwerk is so welluidend, die beelde oorweldigend. "Ballade van die bose" en "Raka" maak my steeds opgewonde, net soos wat Nick Cave se Gotiese rock-gesange my bloeddruk opjaag. En Van Wyk Louw se "Karoo-dorp: someraand" is 'n hoogtepunt in die Afrikaanse digkuns. G'n wonder nie dat een van my ander groot inspirasies, die Karoo-digter Gert Vlok Nel, genoop was om daarheen terug te keer in "die dag toe hulle vir Donkie Viviers". Laasgenoemde is nie in Groot Verseboek nie, maar die onontbeerlike "i sagte reën het agtermiddag", "Rita", "Oupa Louw in memoriam" en "nee nee nie dit nie, nie noodwendig dit nie" is wel. Vlok Nel het my finaal oortuig dat goeie gedigte weer aan eenvoudige woorde 'n oergeweld kan gee; dat die gedig 'n ruimte kan wees waar alledaagse menslike tragedie galm; dat die volksboukuns meer as voldoende is om die mees ongenadige elemente te trotseer.

Vir Opperman se "Negester en stedelig" sal ek altyd 'n sagte plek hê, veral omdat my Afrikaans-onderwyseres, juffrou Elisabeth Grebe, dit vir my saam met 'n afskeidskaartjie gegee het aan die einde van matriek - en om groot geeste soos juffrou Grebe te beïndruk is moontlik een van die beste redes om gedigte te skryf.

Maar daar is so baie: Peter Blum se "Nuus uit die binneland", Wilma Stockenström se "Dwaas met bril", Die stomme aarde", en "Die eland", Petra Müller se "junie", Elisabeth Eybers se "Ode aan kontroleur de Laar", Antjie Krog se "Van litteken tot rivier" en en en ...

As ek egter net een gedig moet uitsonder, sal dit seker Breyten se "die hand vol vere" wees. Toe ek in Duitsland huis toe verlang het, het hierdie gedig my voete onder my uitgeslaan. Ek het oor en oor probeer om my heimwee, teleurstelling en magteloosheid saam te smee tot 'n gedig wat dieselfde meesleurende momentum en emosionele trefkrag sal hê. Of 'n mens in jou doel slaag, kan jy nooit self beoordeel nie, maar dit is sulke gedigte wat 'n mens weer en weer laat probeer met alles wat jy het.

Kan poësie-lesers uitsien na nuwe werk uit jou pen in die nabye toekoms? Waaraan werk jy tans?

Ek is tans besig met die afronding van 'n nuwe bundel wat hopelik in Maart 2009 sal verskyn. Al is die maan 'n misverstand is die voorlopige titel.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top