Danie Krige, 'n huldigingswoord

  • 0

Danie(l) Gerhardus Krige (1919-2013) is blykbaar reeds op 3 Maart oorlede. Van sy dood is eers op 8 deser kennis geneem toe dit saam met dié van Margaret Thatcher in "Deaths in April 2013" op Wikipedia gepubliseer is. Daarna het enkele huldeblyke in gespesialiseerde tydskrifte verskyn. In die plaaslike koerante het ek geen berig gesien nie.

Krige is op Bothaville gebore, het op 15-jarige ouderdom in Krugersdorp gematrikuleer en op 19-jarige ouderdom die graad BSc (Ingenieurswese) aan Wits verwerf. Later het hy 'n magistergraad aan dieselfde universiteit voltooi. Die grondslag van Suid-Afrika se uraanindustrie is deur hom gelê. Hy het baanbrekerswerk in geostatistiek gedoen met sy wiskundige evaluering van goudmyne. Die kriging-tegniek is na hom vernoem. Hy was 'n wêreldbekende myningenieur en geoloog. In 1981 het hy uit die mynbedryf getree om daarna 'n dekade lank hoogleraar in mineraalekonomie aan Wits gewees. Hy het sowat 90 artikels in vaktydskrifte gepubliseer.

Aan Wits is daar sekerlik nie agteroor gebuig om aan hierdie Afrikaner onderrig in sy moedertaal te gee nie. Dit was immers voordat universiteite vir sommige taaltoeganklik gemaak moes word en die speelveld gelyk moet wees. Wittes, soos Krige, moes self die mas opkom. Wat destyds van 'n student geverg is, is natuurlike talent en toewyding. Op 'n baie jong ouderdom het hy sy formele studie suksesvol voltooi en mettertyd wêreldroem verwerf.

Ek het eers van hom bewus geword toe hy professor aan Wits was. Die punt wat ek wil stel, is dat (al) die hoofstroomkoerante in die ou Suid-Afrika huldigingsberigte oor so iemand na sy dood sou gepubliseer het, want toe was daar nog opregte trots op wat wittes plaaslik tot stand gebring het. As die aankondiging van die dood van Krige saamgeval het met iemand soos Thatcher, sou laasgenoemde aanvanklik die nuus oordonder het, maar na 'n dag of twee sou daar huldigingsberigte oor Krige gewees het.

In Januarie vanjaar is die Afrikaner-sakeleier Jan de Necker oorlede (ook op 93). Ek onthou hom sedert hy die hoof van 'n koöperasie op 'n Bolandse dorp was; sekerlik een van sy eerste poste. Ek het die aandag van Sake24 op De Necker se belangrikheid en dood gevestig en 'n berig oor hom is daarna gepubliseer. Na die dood van Krige kon ek egter nie daarin slaag om joernaliste sover te kry om 'n huldigingsberig oor hom te publiseer nie.

In die nuwe Suid-Afrika word eerder kwaaddoeners wyd en syd gehuldig as diegene wat konstruktiewe, wettige bydraes gelewer het. Hierdie situasie laat my dink aan 'n gedig waarin (min of meer - die bron is nie nou byderhand nie) die volgende staan: "'n Volk wat nie sy helde eer nie, gee God geen helde meer nie."

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top