Dalk met apologie?

  • 0

aan alle skrywers en medewerkers
alle aktiewe en rustende lede
 beide bo
 en benede die groen gras onder die suisende sipresse
al julle kenners en ontkenners
julle geleerde en ongeleerde leerders van lesse
- al dan nie
julle voorstanders van hersiening en herhalings
 uitstaande voor-osse
agtergeblewe agterryers
en al groter gros magtige gematigdes
al stemmend en instemmend midde in die kudde
ook elke ander aap, skaap en apaat
ja die hele dêm spul van julle!!!

sê nou in ’n eeue oue massakoor
met temerig meerstemmigheid agter my aan: 

wie se skuld is ons geskiedenis?

vergeet dit!
vergeet dit!
vergeet dit!

goed dan: ten minste het ons oor een aangeleentheid eenstemmigheid:

ons laaste 1000 jaar hier onder die Suiderkruis was ’n totale boggerop!

en daarom moet ons hierdie uitgemynde myn met al sy onstabiele skagte en verraderlike rotsstortings eerder ontruim
verseël, toesluit, afkamp, opvul met:
bourommel, tuinafval, riool,
politici, kapitaliste, sosialiste
moordenaars, verkragters
e.d.m.

...en elders dieper gaan delf na ’n gemeenskaplike episteem 
veel verder terug en meer grondliggend
iets prehistories, primitief 
anderkant die dynserigheid van ons rookmis en ander ekskreta heen
’n wêreld wat heel was
 voor afkamping, omheinings en vele ander begrensing van lande en mense
’n ware same-lewe waarin niemand werklik iets besit het nie
en daarom was die hemel en aarde een
en almal s’n
en mens, diere, gog, bos, rots
se bestaan en betekenis was naasliggend in-een verweef
...en die gode was orals
party vriendelik
ander kwaai
maar mens kon minstens toe nog met hulle praat 

ja,  dalk te veel romantiek na die silikon smaak van homo meganicus barbaricus vulgaris 
en so deur die retrospektoskoop  dalk oor-geïdealiseerde edele barbarisme
...i.p.v. steen- en beentydperk van pyn en lyding
...van hongersnood en bloeddorstig kastyding
maar dit kan nie een van ons ontken nie:

millennia voor ons swart voorvaders van bo af, links om
en ietwat later ook ons Khoi ouers deur die kale-hari regs om
en meer onlangs die Europeërs, met arme Oosterlinge en ander Afrikane in kettings saamgesleep, van onder af op
ja laaaaaaaaaank voor al ons verdomde bloedvergietende bier- en wynsuipende vaders
met hul assegaaie, pangas, sannas, mausers, R-4s, AK47s en
virusspuwende organe hier uitgehang het

was hierdie die land van die San! 
en nie hoe lank nie:
minstens al vir 25 000 jaar!

  ...voor ons almal te same, binne skaars ’n eeu of drie
hulle uitgemoor het!

party met voorbedagte rade
ander met skape, beeste, jakkalsstreke en drade
sommige verduiwels geregverdig deur wakiste vol bybels
meeste, toegegee: kwasi-onskuldig, gepreokkupeerd met alledaagse bestaan:
die vervelens-toe gestoei om den brode in die pot en in die oond 
...soos meeste Duitsers destyds onder Hitler
...soos meeste  blankes destyds onder Verwoerd
...soos meeste Zoeloes destyds onder Shaka
...soos meeste Britte destyds onder Queen Victoria
...etc, etc, ad nausea

maar beskawings en kulture kom en gaan mos maar
die steen- en ystertydperke blyk orals onverenigbaar
so wat is daar verder te sê en doen oor hierdie tragedie
is daar nog iets te jag en te versamel
iets te weet of te beleef
van die oerprentjie-makers teen die kranse
miskien wel:
dalk is dit nou ons laaste kans om sáám te trans:
…om uit die paar krieseltjies wat hulle vir ons nagelaat het
verdere mites te maak
want baie van ons het dalk nog iets van hulle soort verbeelding oor   
 dalk is ’n paar van ons selfs so verwaand om
skaamteloos met die san-man en sy wêreld van weleer
mito-poëties te wil staan en omgaan

... dalk met apologie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top