In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Vandeesweek weer iets uit die strafreg.
Ons lees omtrent daagliks in die koerante dat daar meerdere mense betrokke is by die pleeg van misdade, en daarom word daar in ons reg onderskei tussen daders, mededaders, medepligtiges en begunstigers. ‘n Dader tree alleen op; hy kry nie vóór of ná die pleging van die misdaad van enigiemand hulp nie. ‘n Mededader maak hom saam met die dader skuldig aan al die elemente van die misdryf. Waar die dader byvoorbeeld iemand met 'n mes doodsteek, sal die mededader die slagoffer vashou. Hy is net so skuldig soos die dader. ‘n Medepligtige is iemand wat so 'n bietjie verder wegstaan van die pleging van die misdryf self. Sy optrede voldoen net aan sekere van die elemente van die misdryf. Hy is byvoorbeeld die ou wat vooraf die mes aan die dader en sy helper verskaf, wetende dat hulle die arme slagoffer daarmee om die lewe wil bring. Hierdie drie groepe mense – daders, mededaders en medepligtiges – is almal betrokke by die stadia vóór en tydens die pleging van die misdryf. ‘n Begunstiger kom op die toneel nádat die misdryf gepleeg is. Soos sy naam aandui, is hy iemand wat die misdadigers ná die pleeg van die misdryf help om aan die gevolge van hulle daad te ontsnap. Die begunstiger sal byvoorbeeld die moordenaar ná die moord help om van die lyk ontslae te raak deur dit byvoorbeeld in 'n rivier te gooi.
Dit bring ons by vandag se storie. Daar was nou wel nie moord nie, maar skote het geklap en glasskerwe het gespat en een of twee ouens het lelik gebloei, maar gelukkig het almal agterna geleef om die storie in die hof te vertel.
Ene mnr Augustine en sy vriende het op 'n middag in Kaapstad lekker gekuier. Goed beneweld het hulle later die aand besluit om per motor na Port Elizabeth te reis. (Dit was in November 1982, toe gewone sterflinge dit nog kon bekostig om op 'n heen-en-weertjie tussen Kaapstad en Port Elizabeth te gaan.) Augustine het agter in die motor aan die slaap geraak en hy was ver in droomland toe sy makkers om en by vyfuur die oggend in Riviersonderend naby 'n kafee stilgehou het. Aanvanklik wou hulle slegs toilet toe gaan, maar die onbewaakte kafee het hulle aandag getrek. Daar is ingebreek en net 'n bietjie meer as 'n duisend rand se kontant, sowel as 'n paar kartonne sigarette en 'n radiokassetspeler, is gesteel. Terwyl die klomp nog in die kafee doenig was, is hulle deur die kafeebaas verras. Hy het 'n skoot afgetrek en die een ou wat op daardie stadium nog in die kafee was, het só geskrik dat hy sommer deur 'n groot ruit na buite gespring het. Sy maats was al in die motor, wat stadig aan die beweeg was, maar as gevolg van die snywonde wat hy opgedoen het, kon hy nie die motor haal nie en het dié uiteindelik sonder hom weggejaag. Die kafee-eienaar het 'n skoot in die rigting van die motor afgevuur en dit het die voordeur getref en die bestuurder skrams gewond. Die beseerde lid van die bende wat in Riversdal agtergebly het, is deur die polisie aangekeer en uiteindelik het hy hulle op die spoor van sy makkers in die Kaap gebring.
Nou terug na ons vriend Augustine. Van die hele inbraak by die kafee wis hy niks, want hy was, soos reeds gesê, in droomland. Hy't egter wakker geword toe daar op die motor geskiet is. Hy het wel die agterdeur van die motor so 'n rukkie oopgehou vir die beseerde (venster-springende) lid van die bende, maar toe dit blyk dat hy nie betyds by die motor gaan wees nie, het hy die deur weer toegemaak. Op pad Kaap toe het hy die volle verhaal van die inbraak by die kafee gehoor.
Terug in die Kaap het Augustine na sy eie huis toe gegaan, maar agterna het sy makkers vir hom R20 gegee van die geld wat hulle gekry het uit die verkoop van die gesteelde kartonne sigarette en die radiobandspeler.
Augustine is in die landdroshof skuldig bevind weens huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Teen dié bevinding van die landdros het hy na die hooggeregshof in Kaapstad geappelleer, en op 31 Julie 1985 het regters Rose-Innes en Marais tot sy redding gekom.1 Die hof het Augustine se getuienis aanvaar dat hy self op geen manier betrokke was by die inbraak by die kafee nie. Hy was dus nie 'n mededader of selfs 'n medepligtige nie. Hy het daar niks mee te doen gehad nie.
Die vraag waarmee die hof egter geworstel het, was of hy, deur te deel in die opbrengs van die verkoop van die gesteelde goedere, 'n misdryf gepleeg het. Was hy, met ander woorde, skuldig aan ontvangs van gesteelde goed wetende dat dit gesteel is? Die spreekwoord lui immers nie verniet nie: "Die deler is so goed as die steler", maar ook hier het die hof in Augustine se guns bevind. Die regters het beslis dat hy nie skuldig was aan die ontvangs van gesteelde goedere nie, want die R20 wat sy makkers vir hom gegee het was immers nie gesteel nie. Dit was weliswaar die opbrengs van die verkoop van gesteelde goedere. Die regters was ook tevrede dat Augustine nie 'n begunstiger was nie, deurdat hy op geen manier sy makkers gehelp het om aan die gevolge van hulle misdryf te ontsnap nie. Hy het byvoorbeeld nie gehelp om die gesteelde goedere weg te steek of om aan sy makkers skuiling te bied nie.
Augustine se skuldigbevinding en vonnis is deur die hof ter syde gestel en hy het as 'n vry man uitgestap.
1 Vgl S v Augustine 1986(3) 294 (C)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

