
Foto: Canva.com
Daddy Issues
Ek wil met my hele self lief wees vir jou
Maar ek kan jou nie vertrou
Want jy is ’n man
Wat wanneer ons koebaai soen
En jy jou rug draai
Ek nie weet of jy gaan terugkom
’n Ander mens gaan wees
Soos my pa wanneer hy by die voordeur uitsluip
Dronk terugkeer en ons almal se ma se goed vloek
En ek hom verwyt oor ek hom moet liefhê
Ek vergeet van vingers inmekaar geknoop warm asems
Sodat ek niks het om aan vas te hou, bou
As jy besef dis nie die moeite werd om te bly, gly
Net soos my pa wat weghol vir sy eie huis
Omdat hy ook vrees vir die liefde
Ek is bang ek maak jou belowe
Wat hy nie kon belowe
Ek koop my eie Nikes vra nie vir airtime
Ek wil moeiteloos loskom as jy my los
Asof ek nooit daar was
Asof jy nooit daar was