Daar's 'n engel in my koskas

  • 2

In Daar is ’n engel in my koskas van Willie Strauss vertel hy van, en sing hy oor, hoe engele daagliks in ons lewens kom baljaar.

Naomi Meyer het gaan uitvind wie Willie Strauss is en nog gaan hoor omtrent sy vertoning vanjaar by die Clover Aardklop-kunstefees.

Willie, wie is die man met die engelvlerke en die granaat in sy handpalm op die foto?

As klein seuntjie op ons plaas Vyfbeker het ek altyd grootoog na my ma gestaar as sy kos gemaak het. Op ‘n skaapplaas was die kombuis nou nie die plek vir ‘n seun om rond te staan nie, maar ek het skelm aanhou bly loer, so asof ek toe al geweet het dat daar engele in meer plekke, maar veral in koskaste, geskuil het. Sy het alles so maklik laat lyk, ‘n paar goed bymekaar gesit, altyd ‘n resep aangepas met ‘n bietjie van dit en ‘n bietjie van dat en ‘n paar uur later het ons heerlik geëet. Sy het op die groen Dover-stoof gekook, presies geweet hoeveel hout moet ingesit word om die ou statige ouvroustoof agter die grys deure warm te kry en met haar hande gevoel of die oond die regte temperatuur was om te kan bak. Sy spot altyd en sê sy is “’n een keer deur die kombuiskok”. Dit het beteken dat wat sy die dag haar oog op lê, word sommer in die kos gegooi, en dit word geskat, nie altyd presies afgemeet nie.

My nuutste kabaret is getiteld Daar is ’n engel in my koskas. Ek vertolk dié keer die rol van die nuwe eienaar van die huis in Malherberstraat 20. Buurvrou Anna sleep ’n stoel nader en vertel vir my die vorige eienaars, Gawie en Magriet, se storie. Die rooi van die granate in die tuin en die ongewone pers vlek teen die sifdeur word simbole wat die lief en leed van ’n gewone gesin uitbeeld.

Algaande deur die vertoning ontvou die eiesoortige liefde van die De Waal-gesin en word dit duidelik dat Gawie en Magriet spesifieke situasies totaal verskillend ervaar. Die nuwe eienaar word geraak deur die lewe van die gesin wat voor hom in die huis gewoon het, en wanneer hy na die granaatboom by die agterdeur kyk, is dit of daar engele in die blare dans en die boom sy rooi vrugte as liefdesoffer aanbied ...

Lyk my jy hou nie net van musiek nie, maar van kos ook. Is ek reg?

Vrydagaande het ek Afrikaanse Treffers (aangebied deur Edwill van Aarde) op Afrikaanse radio geluister en daar was gewoonlik ‘n tert of iets lekker om te eet. As ek nou daaraan terugdink, het my liefde vir musiek en kos toe reeds al, sonder dat ek dit weet, by mekaar uitgekom. Ek kon myself verloor in die ou langspeelplate, wat plek-plek gekrap was. Heerlik saamgesing en die “onthou” daarvan is vir my nou selfs nog lekkerder as daai tyd …

Toe ek my vlerke gesprei het ná skool, moes ek noodgedwonge begin kook in my eie woonstel, want ek moes eet. Eers was dit ‘n vreemde reis gewees, maar later het ek die paaie begin herken en erken as presies hoe my ma kosmaak. Gereeld gebel om raad te vra en toe my eie persoonlike resepteboek begin met geregte wat vir my lekker was. Later het ek vriende oorgenooi om te eet en was ek verlig dat hulle als opgeëet het, selfs dié wat ek beplan het om die res van die week aan te eet. Toe het die skimpe begin van wanneer word hulle weer vir ete genooi, en as ek gaan kuier, is ek kort voor lank die een in die kombuis wat die kos maak en dit boonop geniet. Ek is ook meestal ‘n een keer deur die kombuiskok, maar het met die skryf van die boek begin om die mates en hoeveelhede af te skryf; maar soos enige resep en kookboek is dit mos altyd oop vir interpretasie, en dit is presies wat kos vir my is.

Om kos te maak is vir my soos om ‘n brief te lees van iemand wat jy lanklaas van gehoor het. Die opwinding van die wit Croxley-koevert in jou hand is die nuwe resep wat jy eenvoudig net moet toets; die lees van die brief van die wit lyntjiespapier is die voorbereiding van die kos. Jy moet met jou hande werk en die kos kan voel en ervaar, want so word jy op ‘n reis gevat met die smake en geure om jou. Die tevrede gesigte om jou as iemand jou kos geniet het, is die gedeeltes in die brief wat jy ná die tyd toe teruggaan om weer te lees. As jou gaste die volgende dag bel of SMS is wanneer jy weer die koevert hoor kraak om die brief te bêre om later wee te lees.

Soos ‘n vriendin van my tuisgemaakte konfyt so mooi opgesom het: “Konfyt is suutjieskos wat jy net met mense deel wat jy regtig voor lief is en voor omgee.”

Roelof Colyn en Willie Strauss by Sanna Swart se kunswerk

Vertel vir ons lesers van jou vertoning by Aardklop, asseblief?

Daar is 'n engel in my koskas is die eerste teks wat ek in 'n lang tyd self geskryf het, en ek is baie trots op die produksie. Dit is ook vir my lekker om van Christa Steyn se laaste toonsettings te kon gebruik in die vertoning, en van Fanie Fouche, wat onlangs oorlede is, se werk is ook te hoor. Om weer saam met Sanna Swart te kon werk was vir my baie lekker – om haar kunswerke deel van die vertoning te kon maak, bly 'n groooot voorreg vir my.

Die regisseur van Daar is ’n engel in my koskas is die akteur en sanger Jacques Botes, terwyl die musikale regie deur die talentvolle Roelof Colyn hanteer word.

Vertel asseblief vir ons lesers waar en wanneer hulle jou by vanjaar se Clover Aardklop kan sien optree.

Al die optredes is in die Hoër Volkskool.

Datums en tye:

24 September – 18h00
25ste – 20h30
26ste – 18h00
27ste – 09h30
28ste – 20h30.

 

  • 2

Kommentaar

  • Sal dit moontlik wees om vir my datums en plekke te stuur waar  "Daar's 'n engel in my koskas" opgevoer gaan word?    Dalk in die George/Mosselbaai omgewing?

     

    Groete

    Marietjie

  • Erna Claassens

    Dit was 'n groot voorreg om Willie se vertoning op Neilersdrift by te woon. 'n Kind van ons geweste. Het ook jou ma Lucy net kort geken, maar sy was een van my 90 intekenaars op die Veldblom-blaadjie wat ek die afgelope 20 jaar onder die vroue van Boesmanland versprei. Miskien sal jy onthou dat dit ek was wat vir jou gesê het jou gereg was “bitter... lekker”!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top