Daardie hengse stapel boeke wat keurders moet lees

  • 0

Miep en Stoffel Nienaber in die ’80s

Ek het ontsettend baie respek vir mense wat literêre pryse moet toeken. Al wat hulle kry, is ’n spul (gratis) boeke en baie teenkanting ná enige aankondiging gemaak is.

Vandag is boekbeïnvloeders ’n algemene verskynsel. In die ou dae was dit nie so nie. Die enigste mense wat gratis boeke ontvang het, was resensente wat ’n boek in opdrag van ’n publikasie moes lees, en keurders van literêre pryse.

Keurders se boeke is in stapels aan hulle gelewer.

In jarige tagtig was ek ’n kranige leser van alles wat ek op my oupa en ouma se boekrak kon kry. Daar was baie boeke. Ook was daar tekste, soos Magersfontein, o Magersfontein (Etienne Leroux), Kennis van die aand (André P Brink) en Donderdag of Woensdag (John Miles), wat eens op ’n tyd onder die NP se sensuurwette verban is. My oupa en ouma het hulle trots op die rak gehad en ek hulle gelees. (Terugskouend het ek hulle dalk eers by ’n tweede of derde lees behoorlik verstaan. So slim is ek nou ook nie.)

Daar is tans weer ’n hengse relletjie oor boeke wat gekeur is vir pryse, en al wat ek nog ’n keer wil sê is: Mense, ek het respek vir die arme keurders. Ek het gereeld eie opinies oor watter boeke ek op daardie lyste sou wou plaas, ja, en van my opinies verskil dikwels van die keurders s’n, maar dit is nie nou ter sake nie. Die arme keurders se werkslading, en werkswyse, is wel.

Aangesien my oupa en ouma (dit was Stoffel Nienaber en Miep Nienaber-Luitingh, vir dié wat  nie weet nie) soms keurders was, het ek hulle sien lees. Diep in die nag en vroeg in die oggend wanneer niks en niemand anders wakker is nie. Lees, lees, lees.

Ek kon die vordering dophou soos wat die “gelees”-hopie groei en die “moet nog lees”-hopie krimp.

My oupa is by meer as een geleentheid gevra om keur. In die middeltagtigs was dit weer so. Ek dink dit was dalk vir die Akademie-pryse, maar ek kan nie meer seker wees nie. Hoe ook al. Die stapel boeke wat afgelewer is, was hoog. Van die boeke was reeds in hulle besit, ander was betreklik nuut. My oupa het dadelik aan my ouma en aan ander kollegas by die universiteit gesê daar is heelwat nuwe boeke, hy gee nie om vir insette nie. Maar elkeen van die nuwe boeke moet terugkom sodat hy alles en almal self kan lees.

As skoolseun is ek ook geleentheid gegee om mee te doen – onder dieselfde streng voorwaardes: “Neem, lees, vertel my wat jy dink, maar bring terug dat ek dit self kan lees.”

Dus, laat ek dit weer sê: Ek het ontsettend baie respek vir die arme drommels wat literêre pryse moet toeken.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top