
Thom Pain (based on nothing) is ’n stuk oorspronklik geskryf deur Will Eno, ’n skrywer uit Brooklyn, VSA. Dit is die verhaal van ’n man in ’n wêreld vol teleurstelling. ’n Man wat nie meer soek na betekenis nie, want daar ís nie betekenis nie. ’n Man wat aanvaar dat die wêreld nie regverdig is nie en wat slegs kommentaar daaroor wil lewer aan wie ook al sal luister.
Albert Pretorius vertolk die rol van die erg aandag-afleibare Thom Pain. Die toneel begin met die beeld van ’n jong seun in cowboydrag en sy hond wat prentjies in waterpoele teken. Skielik verander die kinderbeeld in ’n gruwelike toneel van ’n geëlektrifiseerde hond met uitgepeulde oë en die kind in ’n leë huis sonder iemand om hom te troos. Pain vertel ook die verhaal van ’n vrou wat hy eens geken het, hulle romanse en hulle onverklaarbare gebroke liefde. Pain wissel tussen die vertel van hierdie drie verhale totdat hulle by mekaar aansluit en die storie finaal betekenis kry.
Thom Pain is meer as ’n verhaal. Dis die karakter wat ons almal al teëgekom het, die gevoel van mislukking en teleurstelling wat ons almal al ervaar het, en die besef dat alles nie noodwendig “oukei” gaan wees nie. Dit is ’n toneelstuk waarby elke persoon wat al ooit deur die lewe se wisselvalligheid getref is, of eenvoudig gehoor wil word, aanklank sal vind.
Pretorius se spel en Tara Notcutt se regie is onberispelik.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

