Daar is g’n vraag nie ... maar daar is Die Antwoord

  • 2

Nou ja, as daar dan nou so knaend goue medaljes aan Suid-Afrikaners uitgedeel word, wil ek graag enetjie aan Die Antwoord oorhandig. Of drietjies … een elk vir Ninja, Yo-Landi Vi$$er en DJ Hi-Tek.

Suid-Afrika se grootste musikale uitvoerproduk sedert Dave Matthews in 1986 Johannesburg vir New York verruil het, het vermag wat – so ver my kennis strek – nog nie voorheen vermag is nie … om na die Lollapalooza-musiekfees in Chicago, Illinois genooi te word.

Komaan … Lollapalooza!

Vanjaar se line-up sluit in Red Hot Chilli Peppers, The Black Keys, Jack White, Sigur Ros, Florence & The Machine, The Shins, Black Sabbath, Band of Skulls, Oberhofer, Dawes (wat ek graag wil sien) en The Gaslight Anthem (wat ek graagterste wil sien) – enkeles van die 140+ groepe, solokunstenaars en DJ’s wat van 3 tot 5 Augustus in Grant Park aangetree het.

En natuurlik Die Antwoord. Of DEE-ANT-WORD, soos ’n Amerikaanse resensent die Suid-Afrikaanse "rap-rave"-groep se naam die afgelope week in haar rubriek foneties uitgespel het as die een wat feesgangers nie durf misloop nie.

Sedert die groep die “overseas” in 2010 met hul heruitgereikte debuut-CD, $O$, getref het, was daar nog geen keer nie. Danksy ’n viral-veldtog op YouTube was Die Antwoord oornag ’n internet-sensasie, veral ná die snit “Enter the Ninja” die wêreld aan die gons gehad het (die snit is reeds 11 296 797 keer op YouTube gespeel).

En toe kom geleenthede. Dis waar, ja: jy is nie groot tot jy in Amerika groot is nie. Die Yanks bepaal uiteindelik of kunstenaars (in die res van die wêreld) ’n thumbs-up kry, of nie.

Hoekom?

Die rede is natuurlik eenvoudig. Hulle geld praat die hardste. Dit koop ongekende blootstelling op die platforms wat tel, bemarking via goed-geoliede publisiteitsmasjiene; dit verseker toegewyde kenners wat omsien na jou voorkoms; dit gee jou toegang tot die beste vervaardigers, top-ateljees, onverbeterlike klanktoerusting en bowenal geleenthede om op die Groot Verhoog saam met Gevestigde Groot Sterre te speel.

So is Die Antwoord op Late Night with Dave Letterman. Die Antwoord by Coachella. Die Antwoord op radio, TV, in tydskrifte, op die wêreldwye web. So is Die Antwoord oral. Maar veral in Amerika.

Amerika, laat dit gestaaf word, is lief vir ’n "rags to riches"-storie. Een of ander kunstenaar of groep wat jare der jare met hand en tand geveg het om ’n geleentheid te kry in die land van geleenthede. Die Big Break. Die ontwaking van die Amerikaanse Droom. Dis immers die fondasie waarop die supermoondheid gebou is.

So ... toe (“that gold-toothed, jailhouse-looking tattoo-covered rapper”) Ninja en (“modern-day mullet-sporting porcelain spitfire”) Yo-Landi met hul zef-styl uit Donker Afrika vorendag kom, was die versoeking onweerstaanbaar om ’n groot hoe-ha van die vreemde duo te maak.

Nie dat Amerika, of die res van die nie-Afrikaanssprekende wêreld, geweet het waaroor daar gerap word nie. Dit was nie eintlik belangrik nie. Die groep se energieke en gewaagde verhoogoptredes, die vreemdheid van als, die spektakel-effek, het gesorg dat die taalgrens eintlik ’n minor issue is.

Tot vandag toe – lank nadat ’n mens sou verwag het dat die novelty van Die Antwoord al oorsee sou getaan het – bly die groep ’n besprekingspunt, die onderwerp waaroor daar steeds gesels en geskryf word. Miskien het dit te doen met die verwarring wat bestaan oor wat presies die groep is – ernstig, of bloot ’n grap? Dalk gaan dit oor die verbystering waarmee hul optredes gadegeslaan word, hul couldn’t-care-less-houding.

Kort voor Lollapalooza probeer een resensent verduidelik: “(Die Antwoord’s) Zef is the freaky, expletive, poor-but-fancy counterculture movement of post-apartheid white South Africa that can be referred to in American terms as gangster.”

’n Ander een skryf: “Coming from a racially segregated, slum-like area, Die Antwoord write about South African social issues with an underlying grit-punk attitude.”

Ja, whatever.

Niemand weet eintlik nie. Almal bly raai. En solank dié spulletjie voortgaan, gaan Die Antwoord pap skep terwyl dit pap reent.

En daarvoor verdien die groep in my boek ’n goue medalje, of jy nou van hulle musiek hou of nie.

*

Die Antwoord se jongste video, “Baby’s On Fire”, is reeds 4 646 148 keer op YouTube gesien. Kyk hier daarna:

Interessant genoeg het Yo-Landi Vi$$er toevallig in die “gebedstoneel” voor die begin van die snit dankie gesê dat sy “op die voorblad van die nuwe FHM” kon wees. In daardie stadium was daar nie sprake van so ’n voorblad nie, maar die uitgewer van die plaaslike FHM, Brendan Cooper, het vinnig gespring en siedaar …

Die groep het ook pas ’n nuwe snit – “(I rub my dick on) XP€N$IV $H1T” uitgereik, waarvoor nog geen video geskiet is nie. ’n Mens sidder om te dink waarmee hulle vorendag gaan kom, gegewe die lirieke:

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top