Daar gaan ’n man verby: ’n persoonlike huldeblyk aan David Goldblatt

  • 1

David Goldblatt | Foto: Vimeo

My boek ’n Duisend stories oor Johannesburg staan onbeskaamd op die skouers van drie van die biograwe van Johannesburg – die historikus Charles van Onselen, die argitek Clive Chipkin en die fotograaf David Goldblatt.

Van die drie is David Goldblatt dalk die belangrikste. Chipkin en Van Onselen het feit, insig en opinie verskaf. Goldblatt het iets anders gebring; die essensie en gees van Johannesburg.

David Goldblatt het baie foto’s in Johannesburg en omgewing geneem. En vanaf die melankolie van On the mines (1973) oor die lewe op die goudmyne, die ennui van die voorstede in In Boksburg (1982) tot by die geordende chaos van die strate in post-apartheid Johannesburg se middestad is Goldblatt se blik onverbiddelik.

Sy werk het my beïnvloed as mens en as kunstenaar. In Goldblatt se kuns het ek ’n woordeskat gevind wat my gehelp om my plek as wit man in Suid-Afrika te verstaan. Deur sy foto’s het ek besef dat die mens nie net gevorm word deur die politiek van die dag nie, maar ook deur sy betrokkenheid by die omgewing en die mense rondom hom. In sy werk was daar ’n strakheid en ’n eerlikheid wat tot my gespreek het. ’n Onsentimentaliteit wat menswaardigheid vooropgestel het.

Dit het nie saak gemaak of Goldblatt ’n konsentrasiekampbegraafplaas, ’n voorstedelike NG Kerk of ’n passasier op ’n vroegoggendbus afgeneem het nie. Elkeen van sy foto's het ’n storie vertel. Stories van ontheemding, verval en vervreemding. Selfs al was daar geen mense in die foto nie.

Diegene wat Goldblatt probeer reduseer tot ’n politiese of ’n anti-apartheid fotograaf doen hom ’n onreg aan, en verstaan dalk ook nie sy werk heeltemal nie.

In die 1980’s het Goldblatt die jong (meestal wit) nuusfotograwe wat foto’s van townshipgeweld aan die internasionale media verkoop het oor die vingers getik omdat hulle werk so ondeurdag en nuusgedrewe was dat dit ’n uiterste komplekse situasie gereduseer het tot op ’n punt waar dit as propaganda aangewend kon word.

In die 1990’s het hy dit duidelike gestel dat hy geen “joiner” is nie en dat hy by geen politieke organisasie sal aansluit of sal toelaat dat sy werk vir politiese doeleindes gebruik word nie.

Na die veranderinge wat in 1994 plaasgevind het, was Goldblatt se blik op demokratiese Suid-Afrika net so fel as wat sy blik op apartheid Suid-Afrika was.

Daarvan getuig sy foto’s van verwaarloosde monumente, onvoltooide behuisingskemas en die verval van beide plattelandse dorpe en stedelike ruimtes.

Maar daar is iets aan Goldblatt se manier van kyk en sien wat nie net gaan oor sy onderwerpe nie. Daar is ’n betrokkenheid van die kant van die fotograaf wat ook inspeel op die reaksie van die kyker. Ons word genooi om, soos in alle groot kunswerke, sy eie sin daarin te vind. En word telkemale verras deur die feit dat die inhoud van ’n foto nie so eenvoudig is as wat dit aanvanklik voorkom nie.

Goldblatt was ’n onverbiddelike dokumenteerder van ons leefwêreld. Sy inhoud was suiwer Suid-Afrikaans maar nooit parogiaal nie. Hy is internasionaal uitgestal, gepubliseer en bekroon. In 1998 was hy die eerste Suid-Afrikaner om uit te stal in die Museum of Modern Art in New York en in Februarie vanjaar was daar ’n retrospektiewe uitstalling van sy werke in die Pompidou-sentrum in Parys.  

Maar Goldblatt se werk is nie altyd met ewe veel entoesiasme ontvang nie. Die boek Some Afrikaners photographed (1975) het met die publikasie daarvan en ook later vir hom baie Afrikaner-wrewel op die hals gehaal.

In die boek is daar onder andere ’n foto van ’n armlastige wit Afrikanergesin in hulle kombuis besig om ’n doodskis aan mekaar te timmer. Die mense is inderdaad nie ’n voorbeeld van rykdom en sofistikasie nie. Maar wat die kyker nie besef nie, is dat die doodskis gemaak word vir een van hulle swart arbeiders.

Goldblatt het dit nie nodig gevind om die feit uit te spel en aan die klok te hang nie. Dit was hierdie benadering wat sy werk dikwels by die kyker laat resoneer. ’n Subtiele en genuanseerde aanslag. Deurweef met die medemenslikheid en deernis wat sy hele loopbaan gekenmerk het.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top