Crime pays? Bringie doodstraf trug, dan kyk ôs

  • 0

Ek wil wiet hoekô het criminals soe baie regte? Hoekô issit soe maklik vi hulle om ʼn judge te vra vi ligtere straf ommat hulle “responsibilities” annie buitekan het? Ek wil wiet hoekô issit soe lekke vi hulle wat anner mense se liewens vewoes deu mense dood te maak, of mense te vekrag, of whateve anne afskiewelik ding hulle doen an anner mense? Hoekô het hulle soe klompie regte? Na hulle self besluit het om te bewys annie res vannie wêreld dat hulle nie mens issie?

Maa hulle is mos maa mense, maak nou nie saak hoe hulleself gedra nie. En elke mens, maakie saak wie hy of sy issie, of wat hy of sy gedoen hettie, maa hulle is mens. En in ʼn land wat ammal se reg om mens te wies beskerm wôd, moet hulle moes oek beskerm wôd. Of hoe?

Daa is mos veskillende soorte kriminele. En die kriminele wat ek van praat is dié wattie twie kee sal dink om jou liewe in ʼn hel in te draai nie. Ek praat van mense wat hulle menswies uit gat trek het om ʼn gedierte te raak wat afbriek waa oekal hulle kom. Die ding is dit voel vekeerd om te sê dat een crime êger is assie neks crime, maa daa moet ʼn invisible lyn getrek wôd tussen iemand wat ʼn stuk kaas steel en iemand wattie liewe van ʼn mens of dier niem. Wan soe kan dinge mossie angannie. Ek meen kyk nou hoe maklik was dit vi die een moodenaar van baba Zahnia om te vra vir ʼn ligtere straf wan hy moet kyk na sy siewe kinners. “Is djy reg, outjie?” wil ek skrie, maa wat baat dit. Ôs sit in ʼn system wattie gemaak is vi mense wat rêrig net ʼn geseënde liewe wil hê nie.

In my binneste bly dit opkô dat ʼn krimineel iemand is wat voel hy of sy stappie onnerie banner van wat dit is om ʼn mens te wiesie. Maa hoeveel mense doen dinge soes kos steel, en soe omdat hulle rêrig honge is, en hoeveel mense doen dit maa net ommat hulle dit kán doen? Wan niemand “sê” vi hulle nie. ʼn Paa jaar trug, toe my kop propvol van akademiese boeke was, het ek ʼn bietjie anners gedink oo die hele storie. En daai tyd wassit nie soe môsag hie buite soesit nou issie. ʼn Mens kon darem nog gat liggies kyk sonner om te warrie dat jou liewe in gevaar is, you know! Die een dag wôd daa toe ʼn discussion op Facebook oepgemaak oo hoe die doodstraf moet trugkô, hoekal vi hulle soot wat somme ʼn mens, kind of dier se liewe sal beëindig sonne dat hulle twie kee daaoo dink. My ding was van dié: Elke mens het ʼn reg om te liewe; en oek: daa is bietere maniere om te deal met die vullis in ôs gemeenskap. En ja, ek vestaan hoekô my jonger self, wat soe diep in akademialand gesit het, sou dink dat daa bietere maniere is om met kriminele te deal. Maa ek is groot en oud genoeg om te admit dat ek vekeerd was. Wan dié issie Canada of Norway nie. Die harde kriminele “moet byrie bek geruk wôd” het antie Des altyd gesê.

Wat issie gevolg vi iemand wat ʼn anner mens vekrag, se liewe vat, of van ʼn anner mens af steel? Die gevolge is dat djy kan weg stap met ʼn klap op jou hand, of ʼn kot sentence waa djy heeldag op jou gat sit ennie taxpayers se geld opiet. Crime pays, mense, crime pays! En hulle wiet dit.

Die gawement wil oek somme nou jou reg wegvat om ʼn gun te besit vi self-defence. Soe, eestens kon djy anyway nie jouself rêrig proetek hettie, wan djy mag toe net jou gun vuur as djy in rêrige gevaar is, wat natuurlik die regte ding is, maa nou kan djy heeltemallie ʼn gun besit om jou self te proetekkie. Maa dis hoe dinge nou is vi ôs as “free” mense in ôs se pragtige Suid Afrika, waa die vullis vannie nasie somme lag-lag jou liewe kan vat, of somme die liewe van jou hele gesin. Dis mos om ienige een mal te maak. Die gawement se mense sal mossie warrie vannie war zone hie annie buitekantie, wan hulle staan stêk met hulle private sekuriteit of die army. Julle kan sieke onthou hoe gou Zuma die army lat roep het om hom te proetek.

Maa issie doodstraf rêrig die antwoord? Ja! sal ek sê. En miskien is daa baie wattie saamstemmie, maa dit kan rêrigie soe angannie. As djy voel om jouself te gedra soes ʼn monster dan moet djy mos die gevolge dra van dit, of hoe? Ek mien, is dit rêrig ʼn slegte ding om te velang na ʼn veliede waa djy nog tot middernag toe ʼn trein kon vat sonne warrie dat djy nie die son môreoggend sal sien opkommie? Ek mien, ek velangie trug na apartheid toe nie, maa ek velang daai tyd waa ʼn mens se liewe iets betieken het. Waa die vullis bang was om te maak en doen net soes hulle wil, wan daa was iets soes die doodstraf. Dis hoe êg die goed hie buite is dat ek velang na ʼn tyd waa my velkleur my dood kon betieken het. Wan dis hoe my oem op ʼn jong ouderdom sy liewe veloorit, wan hy’t ʼn short-cut gevat deu Oubaas se lot. Maa daai tyd het ek gewiet wat ekkie mag doenie om te survive.

Ôs moet rêrig bykom. En annie gawement, los my reg af om ʼn gun te kan dra as ek wil. Dis my reg om myself te kan proetek – my liewe het werd. Genoeg is genoeg, hunting season virrie vullis om te maak en doen soes hulle wil moet nou end kry! Die Bybel sê ‘n oeg vir ʼn oeg. En die kriminele kry te lekke, rêrig.

Ek wens julle maa ʼn goeie nuwe jaa toe. Kom ôs hoep maa dat ôs veilig annerkant sal uitkô, wan dis mos maa hoe ôs ôs liewens moet beskerm, met hoep!

Dankie virrie onnersteuning.

Ek is Livy vannie Rive, bly te kenne.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top