Downs. Cerebral palsy. Outisme. Hidrokefalie. Hierdie woorde het tot onlangs nie veel vir my beteken nie. Dit was bloot etikette vir mense op die periferie van die samelewing. Vir kinders wat ver is. Ver van ons gemaklike lewens af.
By die Marietjie Skool het ons te doen met hierdie randeier-kinders. En een keer per jaar hou ons vir hulle ’n atletiekbyeenkoms.
Oupas en oumas, mammas en tannies kom kyk. ’n Heel vrolike atmosfeer heers.
Daar is lopies vir gestremdes, kreupeles, dié in rolstoele en dié met krukke; en dowes en die enigste blinde kry ook ’n beurt
Een van ons nuwe leerders is in ’n rolstoel.’n CP. Sy naam was nie op die atletieklys nie. Juffrou maak vinnig ’n plan om hom te betrek.
Die hele program kom tot stilstand. Die afsetter roep: “Merke, gereed, gaan!” Lina stoot hom. Van agter af word daar aangemoedig: “Go, Lina, go!” By die wenpaal wag ’n skare hom in. Hy is ’n wenner. Foto’s word geneem. ’n Medalje om die nek gehang.
Maak dit enigsins saak dat hy die enigste in sy wedloop was? Sy oomblik van glorie. Dalk die eerste keer.
Toe hy teruggestoot word tot by die ander kinders, was die glimlag op die gesig, en die medalje om die nek, ’n duisend woorde werd: “Ek is ook iemand. Ek is nie vergeet nie. Ek is ook belangrik. Ek is spesiaal.”
Skielik is CP nie meer net ’n kopwoord vir my nie. Dit het ’n naam. CP se naam is Thapelo.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

