
Foto: Canva.com
Covid
jou stilte raak al meer tasbaar
vandag is dit vier weke
jou hemp lê nog onder die kussing
jou hond langs die bed
jou horlosie langs die wasbak
maar wáár is jy
wat my oggendmens was
gedigte in my ore gefluister het
my lyf laat sing het van begeerte
waar is jy waar is jy
wat saam met my series kon kyk
tot na middernag en dan
sushi by die Griek gaan eet
waar is jy waar is jy
as ek snags omdraai en soek
na jou asem jou lyf
met arms wat vra
waar is jy
as die voordeur nie meer toeklap
jou sleutels nie meer op die kassie kletter
en jy nie meer roep na my nie
waar is jy
as jou selfoon lui
die tandarts bel oor jou afspraak
en ek nie asem het vir antwoord
waar
in hierdie verskriklike braakland van stilte
gaan ek jou lank genoeg kan onthou?

