Twee charismatiese persoonlikhede, Vavi en Hellen, tromp-op op ‘n botsingkoers. Vavi aanvanklik met die wind, skielik en onverwags. uit sy seile onlangs deur Helen geslaan. Die einste Vavi wat suksesvol gehelp het om die Gauteng e-tol stelsel so te sê uit te skakel. Twee persoonlikhede wat eintlik ‘n verleentheid vir die ANC is en bondgenote behoort te wees.
My aanvanklike reaksie was verontwaardiging. Het Helen skielik mal geword? Die optog na COSATU huis sou ooglopend ‘n mislukking wees, wat dit tog uiteindelik was. Wat het Helen gedink gaan sy daardeur bereik?
Ek sit toe en dink daaroor. Die nasionale verkiesing vind plaas oor twee jaar. Die ANC is alles behalwe feitlik in flardes. Tweederdes van die bevolking is onder 35, waarvan 25% werkloos is. COSATU staan die jeug-subsidie, wat moontlik 400000 werksgeleenthede kan skep, openlik uit vrees vir krimpende inkomste van ledebydraes wat verlore kan gaan van ouer persone wat dienooreenkomstig afgedank kan word. Die DA word skielik gesien as die vuurvreter ten gunste van hierdie subsidie. Wat doen dit vir die jeug wat sonder werk sit? Vou die ANC ten gunste van COSATU se versoek, gaan hierdie stemgeregtigde meerderheid dit in 2014 nie vergeet nie. Staan die ANC COSATU tee, loop hy gevaar van ‘n split met COSATU en die dienooreenkomstige split in lojaliteit van persone wat beide ANC ondersteun asook lede van COSATU is. Die ANC sal in sodanige geval tweedebeste daarvan afkom.
Die ANC vind homself in ‘n greep in die middel, met beide die DA en COSATU wat hom gelykmatig knyp. Gaan hy voort met die jeugsubsidie, word hy as bondgenoot van die DA en vyand van COSATU gesien. Verwerp hy dit loop hy gevaar om ‘n aansienlike persentasie ten gunste van die DA in 2014 te verloor, wat moontlike in verandering in regering kan bewerkstellig.
Ek hou duimvas dat Helen se gewaagde aksie (wat ook kan boemarang) suksesvol in 2014 sal wees.
Jaco Fourie

