Cornelius, cherry-pick na hartelus

  • 2

Hello Cornelius

 

Cornelius, as jy bedoel met ’Gilgamesh-ateïsme’ my wêrelduitkyk wat my laat "cherry-pick", sekerlik, dan stem ek saam met jou, maar ek poog om meer as dit te doen wanneer ek die fondamente van hierdie wêrelduitkyk ondersoek. Self-kritiek en kritiese denke is nie altyd maklik nie en ’n algemene standaard, waarmee ek vermoed jy verwys na objektiwiteit, is seker nie moontlik nie, maar dit beteken nie dat so ’n standaard nie ’n mikpunt kan wees nie. Dit klink of jy relatiwiteit wil gebruik ter verdediging van jou geloof/wêreld-uitkyk/Christen-ateïsme, ’n tipe van postmoderne filosofie waarin elkeen sy eie waarheid kan skep, en ’n filosofie wat jy dink ek kan deel met jou. As dit die geval sou wees en as dit is wat jy glo het ons eintlik niks om oor te praat nie. Is daar eenvoudig niks wat ons oor hoef te verskil nie behalwe dat ons waarhede nie dieselfde is nie. My aanhaling uit Prediker het ek gehoop sal jou laat sien hoe maklik dit kan wees om ’n wêrelduitkyk te ondersteun uit die tekste van geloof as jy bereid is om te "cherry-pick".

My brief aan jou was nie werklik ’n poging om jou te "bekeer" tot ateïsme nie, maar eerder ’n moedswillige demonstrasie aan jou oor hoe dit voel vir ongelowiges om voor gepreek of gebid te word. So ’n smakie van hoe dit voel hierdie kant van die draad. Ek neem aan dat jy dit nie waardeer het dat ek bloot aangeneem het dat jou wêrelduitkyk verdag is en dat met die regte benadering jy die lig sal sien nie. Dis min of meer hoe dit voel vir ongelowiges om na Anselm se faith-seeking-reason-argumente te luister wat wil voorgee dat iets in ons denkproses agterstevoor is.

Intussen het Kobus gedoen presies wat ek verwag het hy gaan. Op sy godsliewende manier stuur hy my hel toe en bied sy hand (of is dit nou God se hand?) aan om jou te red, mits jy dinge sien soos hy, natuurlik! Ek hou sommer meer van jou net omdat Kobus ons beskou as godlloënaar broers. Rattle sy hok hard genoeg en hy gaan homself nie kan help nie. Keer op keer stamp hy sy kop teen die tralies en wys sy ware kleure.

Mooi bly,
Gilgamesh

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Gilgamesh, baie dankie vir jou gedagtewisseling. Ek is heelhartig van mening dat ons veel meer in gemeen in ons beskouinge het, as wat ons van mekaar sou verskil. Dis algemeen dat gelowiges en ongelowiges met oorgawe "cherry-pick" uit alles van Google tot die Bybel om hul eie werklikheid daarin te vertolk. Hunker na 'n algemene standaard om harte in te klee, is egter tekenend van fundamentaliste soos Kobus de Klerk en selfs die ongelowige spotbeeld Wouter Ferns. Die Protestante leer en grondslag met verwerping van alle afwykende interpretasies, is 'n duidelike voorbeeld waar algemene standaard as mikpunt gestreef word. Ons kan almal van die onderdrukkende gevolge van die Christelike Nasionale politiek getuig. Aan die ander uiterste onder dieselfde Christenvaandel, staan die Anglikane en Katolieke met hul sinkretiese uitdra van die Evangelie (Kobus de Klerk verwys gereeld neerhalend as "hutspot-godsdiens" daarna). Selfs midde die ergste onderdrukking skep elkeen sy eie werklikheid. Godsdiens veronderstel in die reël elkeen se eie intieme en persoonlike verhouding met ons Almagtige Lewende Skepper. Net God ken ons harte; geeneen sy eie. Gilgamesh, ek word daagliks deur Kobus de Klerk en sy ge-aliede bende hel toe gestuur. As katoliek en Afrikaner buite die Calvinisme/gereformeerdheid (regsinniggheid)/Protestantisme, staan ek selfs meer veroordeeld as jy of enige ander ongelowige. Ek deel in jou pyn al is ons waarhede nie dieselfde nie. Net God gee geloof in ons harte; geen mens kan 'n ander geloof in God gee nie. Mag God self sy/haar werklikheid in jou hart bring. Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde.

  • Chris Dippenaar

    Cornelius, ek het nie regtig pyn nie, maar dankie vir die besorgdheid. Ons gesels weer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top