Corlia Fourie (1944– )

  • 0

Corlia Fourie (1944–)

Gebore en getoë

Cornelia Hilda (almal noem haar Corlia) Fourie is op 11 Desember 1944 in Kuilsrivier naby Kaapstad gebore, die oudste uit die tweede huwelik van die skrywer CH Kühn, of Mikro, soos hy beter bekend was, met Ora Steyn. Sy het ’n broer en ’n suster. Op vyfjarige ouderdom verhuis hulle na Oudtshoorn, en later na Pretoria, waar Corlia haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd voltooi.

Corlia vertel aan Kristie Herbst (Rooi Rose, 4 Desember 1991) dat sy haar kinderjare as "wonderlik en sorgeloos" onthou. "Ons het naby Oudtshoorn gewoon en ek het kaalvoet skoolgegaan tot ek elf jaar oud was. Ons het langs die riviertjie gespeel, bootjies in die sloot laat seil en kos in ’n blik gemaak. Dit was heerlik."

Sy meen dat sy wel haar belangstelling vir skryf van haar pa geërf het, want hy het altyd saans vir hulle stories vertel – stories wat hy self opgemaak het – hoewel hulle as kinders nie eens bewus was dat hy ’n groot skrywer was nie. “Hy’t nooit ’n ophef daarvan gemaak nie en gewoonlik geskryf terwyl ons nog geslaap het.” Haar ma was die een wat vir hulle stories voorgelees het. (Rooi Rose, 4 Desember 1991)

Maar sê sy verder aan Herbst: "Ek het skool regtig gehaat – veral die drilwerk. Ek is nie goed met feite memoriseer nie. Maar van opstel skryf het ek gehou, want ek kon onderwerpe draai om my te pas."

As kind was Corlia vreeslik lief vir stories, daarom skryf sy graag stories vir kinders. Dit is ’n heeltemal ander manier van skryf – amper die teenoorgestelde van om vir grootmense te skryf. Van haar pa se vier kinders is sy die enigste een wat skryf.

Corlia vertel aan Terésa Coetzee (Beeld, 14 Junie 2013) dat as sy weer met haar pa, die bekende skrywer Mikro, kon praat, sy vir hom dankie sou sê – "vir ons studeerkamer met die eklektiese boekversameling waar ek as kind enige boek kon lees. Daar was romans van internasionale skrywers soos Feodor Dostojewski, William Faulkner en Charles Dickens, Afrikaanse digbundels van NP Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers, maar ook werke van Agatha Christie, Karl Kielblock en Elma Steyn. Sondagmiddae (as my ouers geslaap het) was die tyd om die kunsboeke – Rembrandt, die impressioniste (Manet en Monet) en die postimpressioniste Van Gogh, Cézanne en Gauguin – te leer ken."

Vir Corlia was haar pa ’n lekker pa vir meisiekinders, vertel sy aan IL de Villiers (Sarie, 25 Maart 1987). "Ek weet nie wat my broer sal sê nie, maar ek en my suster het hom eintlik om ons pinkies gedraai. Ons het altyd geweet wie ons moet vra wanneer my ma dalk sou nee sê. Hy kon nooit vir ons nee sê nie."

Mikro is oorlede toe Corlia 22 was en het ongelukkig nie die voorreg gehad om te sien hoe sy dogter in sy voetspore volg nie. Haar ma is in 1997 oorlede.

Corlia en haar suster was nie eintlik gediend daarmee dat hulle as "Mikro se dogters" bekend moes wees nie, terwyl haar ouer broer hom nie eintlik veel daaraan gesteur het nie. "Ek dink mense reageer op twee maniere wanneer jy ’n bekende se kind is: die een groep is besonder gaaf teenoor jou. Hulle maak ook ’n spesiale ophef van jou. Dan is daar natuurlik mense wat nie daarvan hou nie en hulle wil jou altyd ’n knypie of stekie gee. Óf hulle hou nie van jou pa nie, óf hulle hou nie daarvan dat sekere mense bekend is en hulle nie. Daarom het ons niks daarvan gehou nie.

"Daar was ’n stadium dat ek nie wou hê my pa en ma moes saam by die skool aankom nie. Maar dit was nog voordat ek mooi besef het my pa is bekend. My pa was baie lank en my ma was so kort ... en my pa was baie ouer as my ma. Hulle twee het opgeval en kinders wil tog hê almal moet dieselfde wees."

 

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Corlia na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA-graad in 1965 behaal met Sielkunde en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Na universiteit begin sy werk as joernalis by Die Burger. In 1968 begin sy die Johannesburgse kantoor van Sarie en werk daar tot 1972. Sy trou met Frans Fourie en hulle het twee dogters, Marianne en Carina, wat nou albei oorsee woon.

Na die kinders se geboorte werk Corlia as vryskutjoernalis by onder meer Beeld en Huisgenoot. Tans is sy verhaleredakteur by Rooi Rose en doen sy nog altyd vryskutwerk as joernalis.

Corlia sê sy bly al vir “ewig en ewig” in Johannesburg, maar altyd as sy teruggaan Kaap toe, is dit vir haar die mooiste plek en wil sy trek, maar sy is gewoond aan Johannesburg en al haar vriende is daar. (Rapport, 1 Mei 2008)

In 1980 is Frans Londen toe verplaas as ’n korrespondent vir ’n Afrikaanse tydskrifgroep. Corlia doen ook vryskutwerk in Londen vir Suid-Afrikaanse publikasies. Na meer as tien jaar as joernalis is sy moeg om dieselfde stories oor en oor te skryf en so ontstaan haar eerste drama, Moeders en dogters. Dit neem haar ’n hele jaar om die drama te skryf en dit was vir haar baie moeilik, want sy het nie die tegniek van dramaskryf onder die knie gehad nie. Groot was haar verbasing dus toe daar mense is wat die stuk wil opvoer. 

André P Brink (Rapport, 15 September 1985) skryf dat hoewel Moeders en dogters nie as besonder indrukwekkend beskryf kan word nie, dit tog "netjies en goed versorg" is, maar dit mis daardie "hart van waansin wat die blywendste dramas en literatuur kenmerk".

Die verhaal gaan oor "’n krisis-situasie in ’n gesin van vroue (moeder en drie dogters), agtergelaat deur die dood van ’n vader, vroeër ’n talentvolle skilder, maar mettertyd bloot ’n prentjiemaker. Op elk word ’n bestekopname afgedwing, wat op die een of ander wyse te doene het met menslike – nie net vroulike nie – emansipasie ..."

Vir Brink is dit tot nadeel van die dramatiese dat daar nie "intensiewe interaksie" in die stuk is nie. "Aan die ander kant blyk dit ook wel hoe ver ons dramaturgie gevorder het as mens Moeders en dogters vergelyk met WA de Klerk se Jaar van die vuuros, waarin spanninge in ’n blanke gesin ook onder die druk van ’n gewelddadige situasie binnenshuis geplaas word."

As ’n mens Fourie se stuk vergelyk met De Klerk s'n, is Moeders en dogters nugter, op die mens af gespeel, "met ’n vermoede van groter magte wat kleef aan alledaagse handelinge. Dat daardie groter magte nie genoegsaam losgebreek word nie, maak die stuk yler en kleiner as wat hy kon gewees het. Maar daar is genoeg aanduidinge om te vermoed dat ons hier te doen het met ’n beginpunt wat nog ’n waardevolle impuls tot ons drama sal kan bydra."

Oor die opvoering van Moeders en dogters in die destydse Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap) onder regie van Pieter Fourie skryf Kerneels Breytenbach (Die Burger, 8 November 1985): "Corlia Fourie het met die basiese storie ’n stuk geskep wat so ryk is aan inhoud dat ’n mens skoon nederig voel – as dit Fourie se debuut is, hoeveel groot dinge wag daar nie nog op haar nie? (...)

"Pieter Fourie het die stuk treffend op die planke gebring. Die dramatiese potensiaal is groot, en hy het dit uitstekend benut. Daar is dele van die opvoering waar jy voel asof iemand jou met ’n voorhamer geslaan het, waar emosies en gevoelens só rou blootgestel word dat ’n mens skrik daarvoor.

"Moeders en dogters is die soort toneelstuk wat ek graag weer sal wil sien. Dit is aktueel, maar nie opdringerig nie. Dit is intens, maar nooit onrealisties nie."

Moeders en dogters ontvang die Amstel Meriete-prys vir drama en word in Stellenbosch en Kaapstad opgevoer, sowel as oor die radio en op televisie. Hierdie drama is ook in 2006 gekies as die Suidoosterfees in Kaapstad se vlagskipproduksie met spelers soos Susanne Beyers, Martelize Kolver, Elizabeth de Villiers, Leanne Dreyer en Christy-Ann Julies.

In 1984 keer die gesin terug na Suid-Afrika en word Corlia se tweede drama, En die son skyn in Suid-Afrika, gepubliseer. Dit word in 1987 deur Truk opgevoer en haar man verwerk dit en wen M-Net se prys vir TV-komedies. (Sy en Frans is intussen geskei.) Drie ander dramas word ook professioneel opgevoer: Leuens onder die titel Hoer of heilige deur Die Bywoners, Poppespel deur Swaruk en Erfgoed by 1992 se ATKV-Kampustoneel. Laasgenoemde twee is nie gepubliseer nie. Corlia skryf ook radiodramas soos Om met ’n kat te speel, waarvoor sy in 1989 vir die Idem-prys vir draaiboeke genomineer is.

Leuens is in 1985 in boekvorm gepubliseer. Dit handel oor ’n oupa wat sy kleindogter verkrag. Kristie Herbst (Rooi Rose, 4 Desember 1991) wou by Corlia weet hoekom sy so ’n "gewaagde" onderwerp gekies het: "Bloedskande was ’n onderwerp wat baie in die koerante in Londen (toe ons daar gewoon het) na vore gekom het, en dit het my geboei. Terug in Johannesburg het ek op verskeie berigte oor verkragtings afgekom en dit het my oortuig dat ek iets daaroor te sê gehad het.

"Toe skryf ek ’n drama daaroor. Daar was net twee karakters – albei vroue – en ek dink die stuk was heel geslaag. Elma Potgieter het die hoofrol vertolk en Karen Fourie was die sielkundige.

"Ek het nie nodig gehad om te veel navorsing oor die onderwerp te doen nie. Toe die stuk klaar is, het ek dit vir ’n sielkundige gegee om deur te lees – net om seker te maak dat dit darem geloofwaardig is. Gelukkig het sy nie juis iets verkeerds gevind nie."

Kristie Herbst wou by Corlia weet hoe sy weet wanneer ’n drama geslaag is: "Dis moeilik," sê Corlia, "want die gehoor wissel gedurig. En ’n mens is so afhanklik van die akteurs, wat baie wisselvallig kan wees, want hulle is maar net mense. Soms is hulle so geloofwaardig, en ’n volgende keer glo ek nie ’n woord wat hulle sê nie! ’n Mens voel ook maar uitgelewer aan die gehoor – wat vir een aanvaarbaar is, word deur ’n ander verwerp. Tog is dit baie opwindend om te sien hoe jou stuk op die verhoog werk."

Die drama Leuens speel af in die spreekkamer van, Anita, ’n kliniese sielkundige. Ina, ’n skrywer van kinderboeke, kom haar spreek om kwansuis inligting vir ’n nuwe boek te bekom. Dit blyk egter later dat die kind van Ina se verbeelding sy self as kind was, wie se oupa allerhande sensuele, en ook seksuele, "speletjies" met haar gespeel het.

Vir Barrie Hough (Beeld, 23 Maart 1987) gebruik Corlia Fourie die onderwerp waaroor die drama handel op ’n kundige en gevoelvolle manier. "Sy bied dit geloofwaardig aan; hoewel die sielkundige se te dikwels papegaai-herhaling soms baie steurend is. (...) Dit is ’n baie verdienstelike werk wat behoort gesien te word."

Maar voordat Corlia gedink het aan dramas skryf, verskyn daar reeds twee kinderboeke uit haar pen, naamlik Slepie, die dapper sleepbootjie (1981) en Marianne en die leeu in die pophuis (1982). In 1988 word Corlia saam met Maretha Maartens en Philip de Vos deur die Internasionale Jeugbiblioteek in München vereer deurdat hulle boeke vir ’n internasionale tentoonstelling gekies en vir vertaling aanbeveel is. Die volstruisie wat graag wou vlieg is uit 400 nuwe kinderboeke uit 44 lande in die Internasionale Jeugbiblioteek se invloedryke White Ravens Selection opgeneem. Ander kinderverhale volg en in 1991 ontvang Corlia die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur, asook die MER-prys vir Die meisie wat soos ’n bottervoël sing. In 1994 is Die wit vlinder een van drie Suid-Afrikaanse boeke wat eervolle vermelding gekry het met die Noma-prys vir Uitgewery in Afrika.

Die MER-prys beland vir ’n tweede keer in Corlia se skoot in 1995 vir Die towersak en ander stories en in dieselfde jaar ontvang sy ook die Alba Bouwer-prys vir Die wit vlinder en Die towersak en ander stories.

In sy huldigingswoord tydens die toekenning van die Tienie Holloway-medalje aan Die meisie wat soos ’n bottervoël sing sê prof JP Smuts: "Met Die meisie wat soos ’n bottervoël sing het sy [Corlia] ’n voortreflike kleuterwerk gelewer. (...) Corlia Fourie sluit in haar verhaal op vernuftige wyse aan by tradisionele sprokiespatrone. (...) Maar die werk bly nie vassteek in geykte patrone wat herlei kan word tot die Europese sprokie nie. Die ruimte van Die meisie wat soos ’n bottervoël sing is nie die wêreld van slapende prinsesse, kabouters en trolle nie. Corlia Fourie situeer haar verhaal in Afrika, ’n ruimte wat sy bevolk met krokodille, renosters, hiënas, skerpioene en koggelmanders. Sy plaas dus haar verhaal binne ’n milieu wat nie vir die kind heeltemal onbekend is nie, maar sy doen dit op so ’n wyse dat sy verbeeldingswêreld gestimuleer en uitgebou word.

"’n Geslaagde kleuterboek bevat meer as net ’n verhaal in ’n taal. Dit word voltooi deur ’n illustreerder wat die gees van die verhaal moet snap en dit op so ’n wyse kan verbeeld dat dit toelig én die fantasie verruim. In Alida Bothma het Corlia Fourie so ’n vennoot gekry. Haar tekeninge, met hulle sterk Afrika-ondertone, is evokatief en dinamies, en in die tipografie word daar ’n netjiese balans tussen teks en illustrasie gehandhaaf. Die geheel is ’n estetiese produk van die hoogste orde." (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Jaarboek, 1991)

Die meisie wat soos ’n bottervoël sing is deur Peter Klatzow, die Kaapse komponis, van musiek voorsien en die werk met orkes en verteller is as Tintinyane in Johannesburg en Kaapstad opgevoer. In die verhaal word elke karakter deur een van die instrumente in ’n simfonie-orkes uitgebeeld. Die storie vertel die verhaal van Tintinyane wat in ’n donker bos deur ’n ondier gevange gehou word. Sy haal haar sangstem uit en steek dit weg in ’n neutedoppie wat sy met ’n riempie om haar nek dra.

"Almal is saam met Tintinyane hartseer, maar dan word sy gered. Sy haal haar sangstem uit en sing weer soos ’n bottervoël."

In Die Burger van 6 April 1991 skryf Marina le Roux dat Corlia Fourie in Die meisie wat soos ’n bottervoël sing die "huislike fantasie” vir “die oerfantasie van Afrika” verruil.

"Hier word al die behoorlike elemente van die tradisionele sprokie gekombineer in ’n onweerstaanbare prenteboek. Daar is die stryd tussen goed en kwaad wat hier benede nooit volstry sal wees nie, daar is die magiese getalle en voorwerpe, die gevaarlike soektog wat eintlik ’n pelgrimsreis is, die towerformules en herhalende inkantasies, die sirkulerende simbole en die gelukkige slot. (...)

"Fourie se poëtiese teks word ondersteun en aangevul deur Alida Bothma se dramatiese en evokatiewe illustrasies. Die eindproduk is intellektueel, emosioneel én esteties besonder bevredigend."

Corlia se kinderboeke Die meisie wat soos ’n bottervoël sing (1991), Ganekwane en die groen draak (1993) en Die deurmekaardier (1994) is as naaswenners in die ATKV Kinderboek-prys aangewys.

In Ganekwane en die groen draak en ander nuwe Afrika-sprokies (1992) is daar ses sprokies met ’n heldinnetjie as hoofkarakter wat vernuf en sensitiwiteit inspan om vraagstukke op te los wat niemand anders kan oplos nie. Vir Barrie Hough (Insig, Augustus 1993) kon die titel van hierdie bundel net sowel Supermeisie gewees het.

Hough beskryf Ganekwane as ’n "lewendige bundel wat die belangstelling in elke sprokie enduit hou. Corlia Fourie woeker so met die bekende elemente van die sprokie – monsters, reuse, drie wense, toetse, ensovoorts – dat hulle in die nuwe kontekste verrassend aandoen. Die manier waarop die groen tema en natuurbeskerming terloops aangeraak word, is nogal vindingryk.

"Die verteltrant is boeiend en die Afrikaans sterk, eenvoudig en toeganklik. (...) Die strekking van die seksuele simboliek – ook tradisioneel ’n element van die sprokie – wat ’n mens plek-plek kan inlees, gee stof tot nadenke."

In Die wit vlinder (1993) is daar drie verhale wat al drie eienskappe van die klassieke sprokies uitbeeld: "Animisme, antropomorfisme, magiese realisme ensovoorts. Hoofkarakters is die gebreklikes, banges of buitestaanders," skryf Marina le Roux (Die Burger, 22 Junie 1993).

Le Roux gaan voort: "Fourie se taalgebruik is liries en ritmies, gepas in die sprokietradisie. Die handeling word egter soms opvallend uitgerek om die verhale substansie te gee, ’n deursigtige truuk wat die spanning laat verslap. Die skepper van kunssprokies het natuurlik meer vryheid van inkleding as in die tradisionele sprokies, maar geforseerde kunsmatigheid is onaanvaarbaar. (...)

"Die wit vlinder se sukses sal in groot mate afhang van die sensitiwiteit van voorleser, verteller en luisteraar."

Die towersak en ander stories (1994) bevat vyf verhale. Barrie Hough het in Insig van Junie 1994 geskryf dat Fourie ’n onuitputlike bron het waaruit sy haar verbeeldingryke en boeiende skep. Met hierdie sprokies verryk en verbreed sy die sprokiesliteratuur in Afrikaans.

Hough het verder geskryf: "Die towersak en ander stories is ’n soeke na ewewig en tevredenheid met die lewe. En in die vyf verhale van hierdie opwindende en toeganklike bundel is daar ’n tematiese eenheid eerder as los verhale. Soos Corlia Fourie se vorige sprokies is ook hierdie in ’n wye sin Afrika-sprokies, ontdaan van enige spesifieke etnisiteit. Hulle hoort dus ’n wye spektrum jong kinders se storie- en leeslus te bevredig."

Ook met Stories met stertjies (2007) gee Corlia aan sewe tradisionele sprokies ander kinkels en ontknopings. Sy omskep die sprokies sodat daar nie aan die einde ’n prinses wag vir die prins om haar wakker te soen en hulle saam in die sonsondergang wegry nie.

"Met haar herskrywings span Fourie haar vermoë as skrywer van volwassene-literatuur én kinderboeke in," skryf Annemarié van Niekerk (Rapport, 16 September 2007). "Haar werk tref veral vanweë die aktualiteit en die wyse waarop sy Afrika en Europa tematies verbind. As verhaalredakteur van Rooi Rose is sy ook daagliks in voeling met ontwikkelings in die kortverhaalgenre sowel as dit wat vroue skryf en lees.

"In Stories met stertjies pas sy hierdie eienskappe toe in humoristiese sprokies waarin stereotipes ontmasker en magsordes spelenderwys omgekeer word. Rykes is nie altyd gelukkig nie, prinse is nie altyd die redders nie, mans is nie altyd dapper nie en vroue is nie altyd die slagoffers nie. Trouens, die teendeel is waar – die vroue in hierdie verhale put krag uit hul eie diep bronne van wysheid, intuïsie, durf en kreatiwiteit.

"Die verhale is goed gebalanseerd, want dit is nie net deurspek met humor nie, maar ook gepeper met ’n goeie dosis sinisme. Die gevolg is ’n werklikheidsgetroue eindproduk. (...)

"Die skertsende manier waarop Fourie die klassieke verhale herskryf en Alzette Prins die illustrasies maak, is nie net vermaaklik nie, maar bied ook ’n kritiese blik op tradisionele sprokies. Ons kom agter dat onskuldige verhale waarmee kinders deur die eeue die nag ingestuur word, nie so onskuldig is as wat hulle lyk nie. Dieselfde kan van Stories met stertjies gesê word: die boek verskyn in mooi geïllustreerde kinderboekformaat, maar tussen die bladsye laat Fourie die poppe dans – op ’n nuwe maat."

Corlia se eerste kortverhaal, "Lewe met hoofletters", is in 1988 as een van die tien beste kortverhale aangewys in De Kat en Potpourri se kortverhaalwedstryd.

Haar eerste fiksie vir volwassenes is die kortverhaalbundel Liefde en geweld, wat in 1991 gepubliseer en in 1992 met die ATKV-prys vir gewilde prosa bekroon word. In hierdie verhale is die vrou in al haar fasette die hooffiguur. By die ontvangs van die prys sê Corlia: “Afrikaans moet sy kettings kan afruk. Hy moet oop word vir al sy sprekers. Hy moet ’n taal word waarin almal hulle kan uitdruk. Want pryse alléén gaan Afrikaans nie red nie” (Beeld, 31 Maart 1992).

Corlia voel dat ’n skrywer met kortverhale kan eksperimenteer, en dít geniet sy baie, vertel sy aan Kristie Herbst. "En jy het ook meer beheer daaroor – jy kan besluit waar ’n punt moet kom en niemand kan dit verander nie. Mense lees deesdae eerder kortverhale, want hulle het nie meer tyd vir lang romans nie.”

Oor die geweld waaroor sy skryf, is sy van mening dat dit nie net negatiewe geweld, sonder hoop, is nie. "My karakters oorleef dit meesal aan die einde. Dit handel ook oor die geweld binne mense. En tog is daar ook baie 'speel' in."

Die vrou as mens is vir Corlia baie belangrik. Sy verduidelik dit só aan Kristie Herbst (Rooi Rose, 4 Desember 1991): "Ek stel belang in die vrou se hele sosiale status. Daar word soveel aansprake op ’n vrou se lewe gemaak en dit veroorsaak baie stres – dalk nog meer as by mans! Sy is vasgevang tussen al haar rolle as vrou en ma en beroepsmens, en dit maak haar lewe ontsaglik ingewikkeld. Sy wil ook ’n mens uit eie reg wees, maar word nog dikwels as ’n versiering gesien. Sy kan so maklik ’n slagoffer word – veral as sy glo die liefde is al wat tel."

AP Grové het die bundel vir Beeld (10 Februarie 1992) bespreek: "Die geweld waarvan die titel praat, keer in verskillende gedaantes en in verskillende grade van intensiteit in hierdie bundel kortverhale terug. Daar is die growwe geweld (van oorlog, terrorisme, moord). Dan is daar ook die geweld van die huwelik. (...)

"Kortom, ons het hier situasies wat ons elke dag in die nuusmedia kan teëkom. In dié sin sou mens die bundel as aktueel kan bestempel. (...)

"En tog doen die meeste van die verhale nie werklik aktueel aan nie. Die geweld waarvan die verhale gewag maak, bestaan wel in die wêreld rondom ons, maar word nie altyd in die verhale beeldend tot ’n geloofwaardige en oortuigende realiteit herskep nie. Soms wil dit voorkom of die skryfster terugskrik voor die rouheid van die geweld; of sy dit nie in al sy gruwelikheid wil aandurf nie en die besonderhede liewer aan die verbeelding van die leser wil oorlaat. Teen so ’n gevoeligheid en subtiliteit kan daar natuurlik geen beswaar ingebring word nie, mits die suggestie van brutaliteit sterk genoeg is om die gruwelikheid van die geweld as geweld by die leser tuis te bring."

Vir Grové is hierdie begrip (geweld as geweld) wel te vind in verhale soos "Lewe met hoofletters", "Die oog wat alles sien", "Die vreemde seun" en in die beste verhaal in die bundel, "Tombani en Thoko".

Corlia se tweede bundel kortverhale, , word in 1994 gepubliseer.

Op Skrywers en boeke wat op die destydse Afrikaans Stereo (vandag RSG) uitgesaai is, sê Etienne Britz dat daar in verskeie temas behandel word wat op Suid-Afrika van toepassing is. Onderwerpe wat Fourie op sensitiewe wyse benader, is persoonlike en sosiale probleemsituasies wat veral op vroue en kinders van toepassing is.

Britz gaan voort: "Die ouderdom met sy aftakeling en magteloosheid wat die ouma tref, huwelikstwis tussen vader en moeder wat die kind uiteindelik die seerste maak, ’n lewe van prostitusie wat op ’n jong meisie afgedwing word omdat haar vader nie werk kan kry nie, die griewe en opwellings van die huisvrou wie se man blykbaar ’n vriendinnetjie het – dís die soort onderwerpe wat Corlia Fourie in toeganklike verhale van tipiese tydskriflengte aan die orde stel. (...)

"Ek het my by die lees van die bundel soms afgevra wie die bedoelde of ideale leser van die boek as geheel is, want die verhale wissel van fantasieryke, byna soet stories wat ’n mens vir ’n kind sou kon voorlees, tot verhale waarin volwasse probleme en seksuele ervarings in betreklik eksplisiete besonderhede behandel word. Corlia Fourie berg eintlik twee skrywerspersoonlikhede in haar: enersyds die liefdevolle, moederlike, selfs konserwatiewe kindervriend, en andersyds die vrou wat haarself probeer laat geld, wat in gevaarlike waters wil vaar. Soos gesê, is dít die probleem met hierdie boek, ook vir sover ’n mens jou ’n ideale leser probeer voorstel. (...)

"Die verhale is maklik en aangenaam om te lees, met heelwat afwisseling van styl en vertelwyse. Corlia Fourie het ’n geoefende aanslag, haar verhale is byna modelmateriaal vir ’n skryfskool. Dis sogenaamde 'goeie gewilde prosa', ’n gesogte kwaliteit wat egter nie sonder meer met buitengewoon hoë literêre waarde gelykgestel moet word nie."

Om haar veelsydigheid verder te onderskryf: Corlia ontpop ook as samesteller en in 1992 verskyn ’n bundel kortverhale deur vroueskrywers, Vrou : mens. Vir hierdie bundel het sy letterlik alle skryfsters wat sy teëgekom het, gevra of hulle nie ’n storie in die laai het wat sy kan gebruik nie.

In 2003, met haar pa Mikro se herdenking van sy 100ste verjaardag, stel sy ’n keur saam uit sy werk getiteld Want die lewe is so goed: keur uit die werk van Mikro. In 2008 stel sy ’n bundel saam met die titel Ware liefde: bekende Suid-Afrikaanse paartjies, waarin die liefdesverhale van Suid-Afrikaners vertel word: Jan en Isie Smuts, Theunis en Tibbie Steyn, Beyers en Ilse Naudé, Eugène Marais en Lettie Beyers, en Philip Boyd en Phyllis Spira, om maar net ’n paar te noem. Hierdie versameling is ook in Engels gepubliseer onder die titel Romances to remember: South Africans in love.

In 1996 verskyn Corlia se eerste volwasse roman, Die oop deur, wat ook oor die radio voorgelees is.

Die oop deur het Kaapstad as agtergrond en dit speel af vanaf vroeg-1966 tot Oujaarsaand van dieselfde jaar. Volgens JP Smuts (Insig, November 1966) was 1966 nogal in meer as een opsig ’n belangrike jaar in Suid-Afrika se veelbewoë geskiedenis: die eerste Republiekfees is gevier; daar is reeds begin om Distrik Ses met ontruiming te bedreig; by die stembusse het die Nasionale Party ’n baie groot oorwinning behaal; dr Verwoerd, eerste minister, is in die parlement doodgemaak en BJ Vorster was sy opvolger. Apartheid het hoogty gevier, maar daar was tog twyfel onder die jonger geslag oor die etiese sy van hierdie beleid.

Twee niggies, Julie en Suzette, begin hulle loopbane in die joernalistiek. Albei se agtergrond is behoudend, veral dié van Suzette, wat in die Karoo op ’n plaas grootgeword het. Hulle is dan ook die sentrale karakters en, skryf Smuts: "Die personasies en plasing is goed gekies om bogenoemde aspekte te reflekteer: die hoofkarakters is jong verslaggewers by ’n Kaapse Afrikaanse koerant wat die regeringsbeleid ondersteun, en die ander figure skakel almal op die een of ander wyse by hierdie groep in. (...)

"Soos in van Corlia Fourie se ander werke kry jy ook hier ’n bewus wees van politieke aktualiteit en die neerslag wat die Suid-Afrikaanse situasie van die apartheidsjare op die gewone mens, veral vroue, gehad het. Die roman word dus deel van ’n groeiende groep verhale in die Afrikaanse letterkunde van die afgelope paar jaar wat krities, maar nie sonder ’n mate van pyn, skuld en nostalgie nie, terugkyk op ’n verbygegane periode in die redelik resente geskiedenis van Suid-Afrika. (...)

"Soos verwag kan word in ’n werk van hierdie aard, het die verhaal ’n sterk dokumentêre inslag. Die personasies is wel fiktief, maar deur aanhalings uit Die Burger en toesprake van dr Verwoerd asook aanhalings uit trefferliedjies van dié tyd, word die leser deurgaans – en dikwels ook pynlik – bewus gehou van die sosiaal-politieke werklikheid van die 1960's. (...)

"Die oop deur noem Corlia Fourie haar roman, en dié titelmotief word meer as een keer in die loop van die verhaal na vore gebring. Daarmee saam gaan die muur, daardie onverbiddelike grens wat jou inperk en afskei. Hierdie gegewe word deur die hoofstuktitel 'Deure' aangekondig, en daarna in latere hoofstukke uitgebou."

Vir Smuts is daar egter ook kere wat die skrywer die simboliek van die oop deur oorverklaar, wat herhaal word in die "programmatiese hoofstuktitels".

"En daarmee saam is ’n verdere aanduiding gegee van die aard van hierdie roman. Dit is, soos Fourie se ander werk, goed en vlot geskryf en toon dikwels ’n fyn aanvoeling vir situasies en ook vir woorde. (...) Daar is egter ook soms cliché-beskrywings, maar dit is gelukkig eerder die uitsondering as die reël.

"Die oop deur is nie op dieselfde vlak as die romans van Elsa Joubert en John Miles nie, maar dit is nietemin ’n welkom toevoeging tot die groep werke waarin die sosiale problematiek wat die vorige beleid geskep het, tot tema gemaak word. Dié toeganklike verhaal behoort wyd byval te vind."

Alle paaie lei deur Die Strand word in 2008 gepubliseer. Elke hoofstuk van hierdie verhaal is eintlik ’n kortverhaal wat selfstandig kan staan – sommige hoofstukke is voorheen as kortverhale gepubliseer. Die roman word tot ’n eenheid saamgesnoer deur die see, in besonderheid die see by die Strand. Corlia erken dat die agtergrond van die boek outobiografies is en dat haar grootwordjare in die Strand, Somerset-Wes en Kuilsrivier die gemene deler is.

“Alle Afrikaners het ’n plaasstorie, daarom is plaasstories nou so sterk op die oomblik. Ek het dit nooit gehad nie. Hierdie is my onthou-storie. Die boek bring die onthou van hoe lekker dinge toe was, uit by dinge wat almal mee te doen het, soos hartseer en grootword," vertel sy aan Marisa Beeton in Rapport (1 Mei 2008).

Die boek het byna per ongeluk gebeur. As Rooi Rose se verhaleredakteur skryf Corlia kortverhale wat sy in haar laai laat lê. Later besef sy dat daar 'n sentrale tema van grootword agter al die stories is en dat daar ’n sentrale tema van iemand wat grootword agter al die stories is. Sy het die stories volgens die datum waarop sy dit geskryf het, gerangskik en so is Alle paaie lei deur Die Strand gebore.

Alle paaie lei deur die Strand is ’n boek wat teruggaan na die verlede. Dit skets Stella se grootwordjare in die Strand toe dit nog die Strand was. Stella en haar sussie, Jeanette, het elke jaar saam met hulle ma en pa die somervakansie by hulle ouma in die Strand deurgebring.

Soos Stella ouer word, word die verskillende fasette van haar ontwikkeling met ontroering vertel. "Deur haar oë beleef die leser die soet en sout van Stella se grootworddae, die rol wat haar oumas, pa, sussie en maats, maar veral haar ma, daarin gespeel het. Dis 'n eerlike vertelling wat aandui hoe die stem van die kinderjare bly naklink in ’n mens se lewe” (Rapport, 1 Mei 2008).

In Alle paaie lei deur Die Strand is die verwikkelde verhouding tussen ma en dogter, soos in van Fourie se ander werke, weer een van die belangrikste dryfvere, skryf Annemarié van Niekerk in Rapport (29 Junie 2008).

"Die novelle is opgebou uit selfstandige eenhede wat ineenskakel rondom die ontwikkeling van die hoofkarakter, Stella Burger, van jong kind tot ouer volwasse vrou. Haar karakter groei aan die hand van betekenisvolle verhoudings, soos dié met haar Ouma Strand, haar pa, haar vriende, haar jonger suster en veral haar ma.

"Elkeen van die eenhede word gekoördineer met ’n lewensfase en toon hoe hierdie verhoudings telkens op ’n ander en geleidelik meer onthullende manier manifesteer. Dít wat aanvanklik vir die jong kind nog net vae, terloopse gewaarwordinge is (veral die gewaarwording dat sy nie haar ma se gunsteling is nie) beweeg hoe ouer sy word ál nader aan die oppervlak van haar bestaan.

"Uiteindelik is Stella in staat om haarself en later ook haar ma met hul wrang verhouding te konfronteer. Die ma se verstommende reaksie is iets waarmee Stella verder moet leer leef. (...)

"Stella se verhaal is ontroerend, maar onsentimenteel. Die verteller is nugter, realisties en vermy ’n toon van selfbejammering – ’n slaggat waarin ’n ek-verteller met ’n hartseer verhaal maklik kan trap. Die verteller kry dit reg deur humor te benut en ook die ruimte van Die Strand as ’n tipe paradys voor te stel. (...)

"Dié boek van Fourie raak ’n senupunt in die leser aan, maar terselfdertyd lees dit lekker en maklik én is dit ’n nostalgiese terugkyk op die populêre kultuur van die 1950's en 1960's."

In Volksblad van 26 Mei 2008 is dit Stoffel Cilliers se mening dat Corlia Fourie se vakmanskap as skrywer duidelik te sien is in die afgerondheid van die hoofstukke, waarin die ontwikkeling van die karakters, nuwe agtergronde, ryper kerngedagtes en ander invloede op karakters telkens uitgebeeld word.

Hy beskryf die roman as volg: "Dit is ’n lesenswaardige, fyn geskrewe roman hierdie waarin teenstellende emosies oortuigend uitgebeeld word."

In 1999 vertel sy op die ATKV se jaarlikse Skryfskool vir kursusgangers wat van ’n kortverhaal verwag word en in 2002 word sy genooi om ontluikende skrywers touwys te maak tydens die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse slypskool. Gedurende Junie 2008 neem sy ook deel aan die skryfkursus van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.

Corlia se jongste kinderboek, Heleen en die heks met hoofpyn, het pas verskyn en dit bevestig net weer die onweerlegbare feit dat van alles wat sy doen, sy die meeste hou van kinderboeke skryf: “Dis soos om te speel … en ek hou van speel.”

In 2011 word Corlia se derde roman, Die geheime kamer, gepubliseer. Dit is ’n sielkundige riller met Sandra du Toit, ’n joernalis wat deur Gert Cloete ontvoer word. Hy hou haar in ’n geheime kamer in ’n huis by die see aan. Cloete is vreemd – hy obsesseer oor die Mona Lisa en die Maagd Maria en luister na klassieke musiek. Sy huis is hiperskoon en netjies. Sy motief agter die ontvoering is dat hy glo hy is in die posisie om die bose wêreld te verander met die offerdood van die "maagdelike godin" (Sandra du Toit) op die eerste dag van die lente.

Op Goodreads skryf Madri [Victor] dat Die geheime kamer haar vasgenael gehou het, van die begin tot die einde, alhoewel daar nie veel aksie is nie. "Dit is 'n sielkundige spel tussen die ontvoerder en die meisie wat hy in 'n spierwit, kliniese kamer aanhou. Regtig goed geskryf!"

Alta Cloete stem saam: "’n Mens raak beslis bang as jy hierdie storie lees. En geleidelik al hoe banger, want jy weet iets vreesliks moet êrens gebeur. Jy het egter nie die vaagste idee wát presies nie, want die ontvoerder is dan so beskaafd. En hy dra vir haar lekker kos aan en praat sag en mooi met haar …

 "Die een negatiewe resensie wat ek gelees het, het dit basies daaroor dat die ontvoerde meisie nie genoeg vrees vir die ontvoerder (nogal ’n Cloete!) toon nie. Persoonlik dink ek egter dit was juis die idee. Sy is ’n sterk vrou en sy het besef blote vrees gaan haar niks in die sak bring nie, sy sal moet kyk of sy hom kan peil en ’n manier kan vind om hom te uitoorlê. Op die agterblad word dit duidelik aangetoon dat dit gaan om die sielkundige stryd tussen die twee karakters. As sy bloot in ’n bondel onbeheersde vrees verander het, was daar nie eintlik veel van ’n storie nie. Of sy wen? Nee, ek gaan jou nie sê nie. Lees maar self."

In Corlia se volgende roman, Tussen heinings, wat in 2015 uitgegee is, gaan dit oor die voorstedelike lewens waar mense agter hoë heinings of mure woon as gevolg van hul vrees vir misdaad. Maar dit gaan ook oor ander heinings – die skanse waaragter enkelinge leef, ook as gevolg van vrees om mense te na aan hulle te laat kom.

Die agtergrond vir hierdie roman is Johannesburg. Die hoofkarakters is Elize, wat na haar egskeiding weer as joernalis by ’n tydskrif gaan werk; haar tienerdogter Michelle wat deur die egskeiding moet werk; Sarita, ’n ietwat oorgewig kortverhaalredakteur by ’n tydskrif en wat graag self sou wou skryf; Tom, Elize se afgetrede buurman wie se vrou oorlede is; en Welcome, ’n Zimbabwiër wat onwettig agter in Tom se werf woon.

In Vrouekeur (22 Januarie 2016) skryf Willie Burger dat Fourie baie goed daarin slaag om die karakters se vrees vir misdaad wat maar altyd in hulle agterkoppe is, "as bron van spanning in die roman uit te buit. Die leser verwag dat ellende een van die karakters gaan tref, dat iemand die slagoffer van misdaad gaan word. Die effek van hierdie durende onderliggende vrees op almal word duidelik – ook op die leser. (...)

"Die roman bied ’n interessante kykie op die tydskrifwêreld – ’n wêreld waarvan Fourie, met haar jare lange ervaring as joernalis, intieme kennis het. Die stryd tussen ’n idealisme om 'gehalteleesstof' te bied wat sosiaal en polities relevant en intellektueel stimulerend is aan die een kant en ’n anti-intellektualisme en voorkeur vir sensasie en ontsnapping aan die ander kant, saam met die uitgelewerdheid aan die diktatuur van die mark, kom ook ter sprake.

"Tussen heinings sou maklik afgemaak kon word as die blote uitbeelding van die voorstedelike, Afrikaanse mense se vrese (ten spyte van ietwat lomp pogings om ook iets van die wêreld van huiswerkers en ’n hoopvolle Zimbabwiese immigrant te bied), maar anders as baie ander romans, is hier nie sprake van ’n nostalgiese verlange na ’n vorige tydperk nie. Nog belangriker: Fourie bied ook nie ’n moraliserende stem nie, geen beterweterige aanduiding van hoe dit alles behoort te wees nie, geen optimistiese geloof in verandering nie. Die enigste hoop in hierdie land, in hierdie wêreld, is op die alledaagse, klein oomblikkies van intimiteit, van vertroue tussen mense."

Op LitNet sluit Elbie Adendorff haar bespreking van Tussen heinings as volg af: "Dit is ’n lekkerlees-boek. Enkele punte van kritiek kan tog teen die roman genoem word, soos die vinnige laaste paar bladsye wat dit laat voel of die roman stoom verloor teen die einde se kant toe en die 'gelukkige einde' en 'mooi slot' wat tipies in romantiese verhale voorkom, asook die enkele geforseerdhede in die taal en die eensydige uitbeelding van die stedelike lewe as boos en sleg. Ten spyte hiervan is dié ’n roman wat lesers gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van vroue tussen heinings nie, maar verwoord veral die verhaal van oorlewing en aanpassing tussen hierdie heinings. Dit bied ten slotte ’n blik op ’n wêreld waarvan ons daagliks in die koerante lees en op televisienuus; een wat ons moontlik ook self al beleef het."

In 2018 onderstreep Corlia Fourie weer eens haar veelsydigheid as skrywer toe sy haar debuut as digter maak met die bundel Die goeie vrou en ander mites wat by Protea Boekhuis verskyn.

In ’n onderhoud met AJ Opperman (Beeld, 19 September 2018) vertel Corlia dat die bundel deels ’n studie is van besonderse vroue, maar dit gaan nie net oor bekende vroue in die geskiedenis nie, dit kyk ook na aktuele kwessies soos mishandeling.

"Die bundel spruit onder meer uit my belangstelling in vroue en hul posisie op politieke sowel as maatskaplike gebied. My belangstelling in die geskiedenis en my ervaring as joernalis het ook tot die bundel bygedra."

Corlia erken teenoor Opperman dat sy haarself nie eintlik as ’n digter sien nie: "Dit was vir my meer soos ’n eksperiment of ’n spel."

Dit het tien jaar vroeër begin toe sy in Johannesburg se Botaniese Tuin gaan stap het en met haar terugkeer by die huis was daar ineens ’n gedig in haar kop. Sy het dit neergeskryf, maar nooit gedink dat daar iets van sou kom nie, want wat maak ’n mens nou met een gedig.

Met verloop van tyd het ander gedagtes na vore gekom en só het die gedagte aan ’n bundel begin werklikheid word. "Ek sal aanhou gedigte skryf, mits ’n gedagte my beetpak, maar ek is steeds nie iemand wat ’n bestaan maak deur te dig nie."

Gisela Ullyatt bespreek Die goeie vrou en ander mites op Versindaba, en in haar resensie maak sy melding van ’n "gros mankemente" in die bundel wat sy onder vier opskrifte indeel:

  • "Enumerasie: Alhoewel enumerasie op sigself tot voordeel van ’n bundel kan strek (soos byvoorbeeld Walt Whitman se Leaves of Grass) of ’n individuele gedig soos Allen Ginsberg se Howl, kan dit geweldig eenselwig raak as die digter die verstegniek oorbenut.
  • "Gebrek aan beelding: Beelding is een van die hoof-karaktertrekke wat poësie van prosa onderskei. Sommige digters se styl sluit meer beelding in as ander. (...) In Fourie se geval berus haar debuut meer op joernalistieke navorsing en styl (meestal skryf sy bondig) en vertel (in plaas van dig) meeste van die gedigte opsommend. In sommige gevalle help dit wel die leser wanneer ’n agtergrond of twee verskaf word, maar ander kere toets dit die leser se geduld omdat dit op sigself niks nuut verskaf nie en nie noodwendig poësie is nie. 
  • "Onaf eindes/eindreëls: Die eindreël of -strofe kan ’n gedig maak of breek. ’n Voorbeeld waar Fourie ’n pragtige slot bewerkstellig het, is in die program-gedig, “Die goeie vrou” (7): “die onweer/ tegemoet geloop” en “Kinders op pad” (47). ’n Voorbeeld waarvan die slot minder geslaagd is, is “4711”, ‘n gedig wat oor ’n ouma, genaamd Ouma Strand, handel. Die beskrywing van die ouma se lewe is paslik regdeur die gedig, maar die einde lui joernalisties en opsommend van wat reeds in die gedig vertel is. Die wending moes iets nuuts of onverwags aan die leser gebring het. Selfs romanlesers wil nie ’n opsomming van die roman as slot hê nie, maar ’n dénouement.
  • "Clichés en sentimentaliteit: Omdat Fourie so ’n skerpsinnige joernalis, prosaskrywer en veral dan ’n redakteur is, is dit verbasend dat haar poësie nié van clichés en sentimentaliteit gestroop is nie. ’n Hebbelikheid wat hiermee verband hou is outydse taalgebruik of onaf neologismes wat uiteindelik as leesversperrings dien."

Ullyatt sluit af: "Die gevoel wat by hierdie leser gewek is, is dat Fourie nog nie tuis genoeg voel om in die poësie-genre te skryf nie."

In Die Burger van 29 Oktober 2018 sluit Marius Crous by Ullyatt se siening van Die goeie vrou aan en hy eindig so: "As storieverteller en dramaturg het Corlia Fourie vir ons en haar kinders haar 'storiesak as doepa teen die kou' gegee. As digter nie."

Op LitNet skryf Karen de Wet dat Fourie met hierdie digbundel nou in al die tradisionele genres gepubliseer het en dat dit titel in die patroon van baie van haar ander publikasies val, soos Moeders en dogters, Die meisie wat soos ’n bottervoël sing en die versamelbundel Vrou : mens.

De Wet gaan voort: "Die titel van die digbundel word bewustelik beklemtoon deurdat dit ook die titel van die eerste afdeling is en dat die titelgedig nie net die eerste gedig in die bundel is nie, maar ook op die agterste skutblad gedruk is.

“Hierdie vooropstelling van ‘die goeie vrou’ en dat sy ʼn mite is, deel van die ‘ander mites’ wat die titel in die vooruitsig stel, werk beslis bepaalde leesverwagtings in die hand – byvoorbeeld dat die ontmaskering van mites, en spesifiek waar dit vroue aangaan, botoon in die bundel gaan voer. (...)

"Maar 'n leesverwagting wat (op grond van die titel en die titelgedig) daarop reken dat die bundel die klem daarop gaan laat val om mites omtrent vroue aan die kaak te stel, word deur die loop van die bundel enigsins teleurgestel. Vroue en hul lewens en belewinge is inderdaad die belangrikste tematiese gegewe in die boek, maar dit is opvallend dat in die eerste afdeling se gedigte oor merkwaardige vroue en hulle tragiese of triomfantelike lewens, die minimum inligting gegee word oor hierdie vroue of oor mites, of selfs stereotipes rondom (hierdie) vroue. Die gedigte gaan meestal oor tipiese sake of kenmerke van die spesifieke vrou oor wie die gedig handel en met wie die leser reeds vertroud is. Wie ‘mites’ wat met betrekking tot vroue in stand gehou is, wil eien en ontmasker, moet self en interpreterend hierna op soek gaan.

“Kan dit wees dat dit die keuse van genre is wat Fourie in hierdie bundel terughou? Die tema is dit nie. Die manier waarop die temas en stof in en deur die poësie ontgin en aangebied word, dalk wel. Of skryf sy bewustelik verse wat hoofsaaklik fokus op mededeling – en dikwels bykans nie-emosioneel? Dit is hoe die uitgewers die bundel in hulle inligtingstuk aanbied, naamlik dat dit ‘verse met ʼn anekdotiese inslag’ is. Die indruk wat die gedigte laat, kan inderdaad ondervang word deur ʼn eerste beskrywing van die anekdote, naamlik dat dit ‘kort ... interessante vertelling(s)’ is wat ‘gewoonlik om 'n bekende historiese figuur ... geweef’ word (A le Roux in Literêre terme en teorieë, 2017). As die anekdotiese as uitgangspunt geneem was, kon die bundel daarby gebaat het. Ook die uitgewer se aanspraak dat die bundel oorwegend ‘satiriese verse’ bevat, stel enigsins teleur. Waar ter sake word die satiriese in hierdie gedigte onderspeel – satire met die byt van ʼn Toerien of ʼn Walters is dit nie. 

De Wet sluit af: "Afgesien van die gedigte oor vroue, bevat Die goeie vrou ook ʼn gedig of wat oor tuine (30), die natuur (33–5) en reise (43–5), maar dit is die eerste drie gedigte in die afdeling ‘Bloeityd’, wat na my lees, die sensitiefste (want die eerlikste?) geskryf is. Dit sluit aan by die outobiografiese stroom wat deur die bundel vloei en wat uitmond in gedigte oor die afstand tussen 'n vrou en haar ekspat-dogters.

“Die ars poetica wat die bundel onderlê, word verwoord in ‘Spoelklip’ (49). In hierdie bundel verkies hierdie digter om nie klip te breek nie, maar om self glad gemaak te word:

 ... as kunstenaar
wil ek net wees:
'n gladde klippie
in ʼn suiwer stroom.
Nie die stowwerige
splint van ʼn steen.”

 

Publikasies

 

Publikasie

Slepie, die dapper sleepbootjie

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624013685 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Marianne en die leeu in die pophuis

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798114258 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moeders en dogters

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798117923 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Amstel Meriete-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leuens

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118989 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die volstruisie wat graag wou vlieg

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119640 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Eervolle vermelding vir Noma-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

En die son skyn in Suid-Afrika

Publikasiedatum

1986

ISBN

079811861X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Hough, Barrie: Só moet ’n dramateks lyk!

 

Publikasie

Die meisie wat soos ’n bottervoël sing

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798126787 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • Tienie Holloway-medalje 1991
  • MER-prys 1991

Vertalings

Engels vertaal deur Cicely van Straten 1990

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Le Roux, Marina: Corlia Fourie sing soos ’n bottervoël
  • Rooikappie nou slimmer
  • Stolz, Danie: Kleuter sal dié verhale baie geniet
  • Verskeidenheid vir jonges

 

Publikasie

Jakkalsstreke: Afrikastories wat draaie gooi

Publikasiedatum

1991

ISBN

079812878X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • De Bruin, Philip: Jakkals se slinksheid bloot manier van oorlewing

 

Publikasie

Liefde en geweld

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030369 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

ATKV-prys vir gewilde prosa 1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Grové, AP: Oor geweld in sy vele gedaante
  • Scheepers, Riana: Wolf, Wolf hoe laat is dit?

 

Publikasie

Ganekwane en die groen draak en ander nuwe Afrika-sprokies

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129603 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Madeleine van Biljon 1992 (ook gepubliseer in Amerika)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Erasmus, Elfra: Eerste Afrikaanse Afrika-sprokies
  • Roux, Madeleine: Heldinnetjies werk ánders met drake

 

Publikasie

Die wit vlinder

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624029301 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur 1995 (saam met Die towersak)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

·         Le Roux, Marina: Corlia Fourie skryf sprokies in die klassieke tradisie

·         Theron, Leentjie: Mens kan Afrika voel en ruik

 

Publikasie

Die deurmekaardier

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798130237 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Rossouw, Ronelle: Heerlike pretboekies vir die jong lesertjies
  • Roux, Madeleine: Malkopvermaak is pure treffers

 

Publikasie

Die towersak en ander stories

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132191 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • MER-prys 1995
  • Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur 1995 (saam met Die wit vlinder)

Vertalings

Engels 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Le Roux, Marina: Afrika-sprokies wat tref
  • Theron, Leentjie: Afrika-sprokies vir slaaptyd

 

Publikasie

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132493 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Botma, Riëtte: Kleurryke karakterparade
  • Gouws, Tom: "Nuwe vrou" gaan bly

 

Publikasie

Die oop deur

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136243 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Van Manen, Mariette: Verhaal steek nie drumpel oor
  • Venter, LS: Dié romandebuut stel teleur

 

Publikasie

Hoekom-stories

Publikasiedatum

1996

ISBN

0627021611 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Snyman, Maritha: Die avonture van die Arnosterfant en hoekom ratel taai is

 

Publikasie

Nolito en die wonderwater

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798136707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Grütter, Wilhelm: Kort begrip
  • Le Roux, Marina: Dié bundel sprokies is soos soet wonderwater
  • Van der Walt, Thomas: "Nolito" praat op talle vlakke ...

 

Publikasie

Stories met stertjies

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191412 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Kempen, Willem: Dwarstrekstories tot vir ouer insiggewend
  • Nieuwoudt, Stephanie: Geen soet heldinne in Fourie se sprokies
  • Van Niekerk, Annemarié: Kyk net wie se skoene staan buite die prins se slaapkamer

 

Publikasie

Alle paaie lei deur Die Strand

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799341782 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Beeton, Marisa: Mense hou van Corlia se stories
  • Harper, Susanne: Strandpad lei van meisie tot volwassene

 

Publikasie

Heleen en die heks met die hoofpyn

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781869191979

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die geheime kamer

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799352085 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tussen heinings

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624074762 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goeie vrou en ander mites

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781485309567 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Corlia Fourie as samesteller


Artikels oor Corlia Fourie beskikbaar op die internet

 

Artikels deur Corlia Fourie beskikbaar op die internet

Bygewerk: 2019-10-04

Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top