Common names of Angolan plants deur Estrela Figueiredo en Gideon F Smith: ’n resensie

  • 0

Common names of Angolan plants
Estrela Figueiredo en Gideon F Smith
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306801

Ek het al baie oor Angola gewonder. Angola is seker een van die minder-ontwikkelde lande in Suider-Afrika wat toerisme-infrastruktuur betref. Is dit die regte plek om safari’s aan te bied? Is dit veilig genoeg? Is die inwoners ontvanklik teenoor reisigers? En is daar genoeg om te sien en te doen?

Common names of Angolan plants deur Figueiredo en Smith het vir my in baie opsigte duidelikheid oor bogenoemde kwelvrae gegee. Daar is ’n groot genoeg verskeidenheid van inheemse plante om ’n groot bevolking herbivore te onderhou, én om die wetenskaplike navorser en die amateurplantkundige besig te hou. Verder moet die besoeker Portugees magtig wees en bereid wees om wyd deur die land te reis. Common names of Angolan plants bevat ’n volledige versameling gebruiksname van plante in Angola en gaan só bydra om die land vir natuurliefhebbers meer toeganklik te maak.

Dié bygewerkte boek bevat duisende (7 205 om presies te wees) gebruiksname van 184 plantfamilies (beide inheems én uitheems). Dít is reeds ’n groot prestasie en ’n stap vorentoe in plantkundige studies in Angola.

Die boek word opgedeel in:

  • ’n lys van wetenskaplike name van al die saadplantspesies waarvoor daar ’n ooreenstemmende gebruiksnaam bestaan
  • ’n alfabetiese lys van algemene of gebruiksname (saam met die taal waarin die naam opgeteken is, waar moontlik) met die ooreenstemmende wetenskaplike name
  • ’n lys van Portugese gebruiksname wat moontlik in Angola gebruik word
  • ’n lys van plantname en hulle tradisionele en medisinale gebruik soos opgeneem in die Tshwoke-taal deur Arthur W Exell gedurende die Portugese plantkundige ekspedisie na Angola in 1937.

Meer as 120 kleurfoto’s is ook bygevoeg.

Wat die boek so belangrik maak, is die verklarende aard van gebruiksname. Die name dui die tradisionele gebruik van die plant aan. Sulke gebruike is meestal mondelingse oorvertel. Verder was Angola ontoeganklik gedurende die byna 30 jaar lange burgeroorlog en daarom lewer die boek ’n groot bydrae tot die voorheen afgeskeepte inligting oor die natuurerfenis van die land.

Figueiredo en Smith het hard gewerk aan dié publikasie. Angola is groot, met ’n oppervlakte van 1 246 700 km2, en 41 inheemse tale word gepraat. Hierdie grootte en die verskeidenheid tale maak die projek om plantname te boekstaaf al hoe indrukwekkender. Portugees is die amptelike taal en daarom is daar ook ’n lys van Portugese plantname bygevoeg. Die Portugese se invloed in Angola en die res van Suider-Afrika kan nie misgekyk word nie. Paulo Dias de Novais het in 1575 in Angola, by die huidige Luanda, voet aan wal gesit met ’n klein groepie mense wat die stamvaders van die Portugese bevolking in Angola geword het. Hulle het dan ook nie op hulle laat wag nie en sommer dadelik begin boer. Mielies is al in 1590 in Angola verbou en dit is klaarblyklik waar ons Afrikaanse woord mielie vandaan kom – die Portugese woord is milho.

Die boek sal baie waardevol wees vir biodiversiteitskenners, navorsers, spesialiste én amateurplantkundiges wat in die Angolese planteryk belang stel. Die boek sal hopelik ook help om die kollig op spesieverliese te plaas, asook die belangrikheid om riglyne vir biodiversiteitsassessering en biodiversiteitsbewaring in Angola op te stel. Prakties beteken dit dat die wetenskaplike nou maklik ’n plant in die veld kan identifiseer deur ’n voorbeeld van ’n saadplant na ’n plaaslike kenner te neem wat die gebruiksnaam van die plant ken. Die gebruiksnaam kan dan gebruik word om die wetenskaplike naam in die boek op te soek.

Ek verbeel my dat Steve Boyes en sy span tydens National Geographic se Okavango Wilderness Project in April 2017 baie baat by hierdie boek sou kon vind. In hulle soeke om die Okavangodelta se ontstaan in die Angolese Hooglande beter te verstaan, sou Common names of Angolan plants in die mokoro langs die GPS en kamera lêplek kon kry.

Figueiredo en Smith is albei ereprofessore in die Departement Plantkunde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en medewerkers in navorsing aan die Universiteit van Coimbra in Portugal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top