Johannes Comester skrywe ’n verfrissende oopkop kommentaar in ag genome dat hy ’n ateïs is, in ’n artikel van ’n ander ateïs oor God en God se wil en die gevolg daarvan vir God en die mens. Terwyl daar grondige kritiek in te bring is ten aansien van die inhoud en strekking van die artikel waarop hy reageer, bied sy kommentaar in die versameling agnostiese kommentare wat reeds daar gelewer is ’n nuwe, vars (vanuit agnostiese perspektief) gewaarwording – dit dui daarop dat hy blykbaar nie bereid is om sommer, steeds ateïs, maar net saam met die ateïstiese stroompie waarin hy hom bevind, te gaan nie, maar selfs ook daar so onafhanklik as wat hy as agnostikus kán wees, ondersoek in te stel van die plek in sy geestelike lewe waar hy hom bevind. Mens kry die idee dat hy nou die tipe mens is wat eerder die regte ding sal wil doen as die populêre, selfs in die agnostiese kulturele milieu waarin hy hom bevind – as hy maar kon vasstel wát die regte dinge is om te doen. Gee ek hom te veel krediet?
Ongelukkig is sy gevolgtrekkinge waartoe hy geraak, steeds die eggo van die agnostiese kultuur waaraan hy gewoond geraak het, maar daar is bepaald aspekte wat baie belowend lyk uit wat hy sê – belowend, omdat dit blyk meestal sy eie gewaarwordinge te wees en nié deel van die agnostiese milieu waarin hy hom bevind, nie.
In die proses het hy egter al waardevolle gewaarwordinge gemaak, wat, as dit verder sinvol gebruik word om uit die agnostiese paradigma te emansipeer, vir hom baie antwoorde sal verskaf en ook innerlike vrede en wete. Hy sê, byvoorbeeld, “Die probleem is dat ons net ingevolge mensvermoëns, bv mensbegrippe, kan dink … Daar is baie dinge wat ons gewoon (nog) nie weet of verstaan nie. Dit is myns insiens nie verkeerd om antwoorde te soek nie; dit is eerder nodig, selfs noodsaaklik”.
Dit is ingrypend sinvolle en eerlike gewaarwordinge vir ’n agnostikus. Dit stoot direk teen die gewilde agnostiese credo van ‘Vernuft Über Alle’( die Rede bo alles) – juis met verwysing na die ongeassisteerde (agnostiese) menslike rede – aan. Hierdie gewaarwordinge van Comestor aksentueer tereg die tekortkominge van die ongeassisteerde menslike rede, want hierdie fenomeen van die menslike rede word ’n probleem wanneer hy met dinge – en daar is báie daarvan – te doen kry wat wyer strek as sy blote geykte menslike fisiologie gerigte begripsvermoë en ooreenkomstige verwysingsraamwerk.
Hierdie gewaarwordinge, indien dit net effens verder geneem word, kan ook vir die agnostikus die openbaring wees waarom hy God (nog) nie kan verstaan of begryp en kan verwerk, nie, omdat hy dit nie slegs met sy menslike rede en sy agnosties-menslike begrippe sal kán doen, nie. Sy getonnelde fisiologie georiënteerde en veral, gerigte, menslike rede waartoe sy agnostisiteit hom heeltyd nog beperk en telkens na terugdwing, sal moet bevry, opgevoed en gefatsoeneer word (eenvoudiger proses as wat dit oënskynlik lyk) om te kan losbreek van die eng fisiologie-gerigte agnostiese paradigma, sodat die wyer begrippe van die Spirituele werklikhede óók deur die dán vry en onbevange, geassisteerde menslike rede verwerk kan word.
Dus, die inherente Godgegewe en God-geassisteerde redevermoë van die mens strek dinamies vêr en wyd, om ook die spirituele werklikheid waarbinne die mens lewe, te assimileer en die mens ook dáárin te dien en ook om die deur van ware geloof vir die mens, oop te maak – mits, natuurlik, dit nie aan bande gelê word in terme van die baie eng agnostiese fisiologie-filosofies gebonde paradigma, nie.
Só ’n bevryde redevermoë van die mens (waarmee hy geskape is), sal natuurlik ook dan die mens in staat stel om sinvol sy spiritualiteit en verhouding met God te aanvaar en te benut sáám met die fisiologiese. Geloof is nie ’n vreemde of onbekende fenomeen vir énige mens, nie – ook nie vir die agnostikus, nie, want hy glo in baie dinge wat hy nie kan sien, nie en rig sy lewensfilosofie daarvolgens, in. Maar tog is die agnostikus se vermoë om vry en ongebonde te glo, welke hom by die Godheid sal uitbring, egter erg belemmer deur die restriktiewe agnostiese kultuur waarin hy vasgevang is, welke hom net eenvoudig nie dáárdie verhewe vlak van aanwending van sy onbevange, Godgegewe rede tot vrye denke in geloof, toelaat, nie.
Daarom doen dit effens vreemd aan dat juis ’n agnostikus soos Comestor praat van “dit is eerder nodig, selfs noodsaaklik om antwoorde te soek” terwyl hy hom steeds gebonde hou aan ’n agnostiese paradigma en kultuur wat hom verbied om antwoorde op die regte plek te gaan soek. Maar, die behoefte na kennis is darem daar en dit hou baie potensiaal in.
Ongelukkig het Comestor self, nog nie tot op daardie punt gevorder nie, want hy maak dan die tipies denkende, maar agnostiese gebonde konklusie dat “die religieuse aanname absurd [is] dat God behoefte aan mense se verering het”. Ek het hierdie selfde tipe argument al uit die mond van ’n ander, baie oopkop denkende en hoogs intelligente mens gehoor – hoewel daardie mens al gevorder het tot op die punt waar hy die bestaan van God nie meer betwyfel nie, maar wel God se Persoonlike betrokkenheid by die skepping en veral die mens – juis oor daardie rede wat Comestor nou ook noem.
Maar die rede waarom die agnostikus só daaroor voel, is juis omdat hy wéér sy beperkte redevermoë as agnostiese mens inspan en die kwessie van God se betrokkenheid te wil uitredeneer soos dié van ’n (agnostiese) mens – asof God dan soos die agnostiese mens, dink. Dit is eintlik ’n paradoks om te redeneer dat God juis soos die agnostikus sou dink en redeneer, nie waar nie. Eintlik is só ’n benadering van die mens, hoewel nie so bedoel nie, arrogant om dit ook by die Godheid te veronderstel, want dit dui op ’n hoogmoed, wat ’n swak eg menslike produk van verdwaaldheid is, wat geprojekteer word op die Godheid waar die agnostikus dan meen dat God hom nie met só ’n mindere (die mens in alle opsigte) sal wil bemoei nie, net soos die agnostikus hom ook nie met ’n ander mens, wat hy as sy mindere beskou, sal wil bemoei, nie …
Dus, weereens is selfs die Heerlikheid van God aangewese om deur die agnostikus bejeën te word vanuit sy beperkte (agnostiese) menslike en dikwels disfunksionele menslike verwysingsraamwerk en rede, vír die agnostikus.
Die feit is dat die Heerlikheid van God juis nié so werk, nie – gelowiges weet dit, want hulle is nie denkgebonde tot ’n denk-en-redebeperkende tonnel, ’n paradigma (soos agnostisisme), nie. God is immers tevrede met Sy Handewerk (Genesis 1:31), wat die mens insluit en het juis die mens geontwerp soos die mens in sy menslike vermoëns daar uitsien, juis met die potensiaal om met die mens in sy Goddelike potensiaal, interaksie te hê – nie in die beperkte mate waartoe die agnostikus homself as mens sien, nie, maar as mens met ’n haas onbeperkte potensiaal juis in en weens sy verhouding met sy Skepper – God (Jeremia 33:3; Filippense 4:13; Johannes 15:5). Maar, weens sy agnostisiteit, verloor en verbeur die agnostikus selfs daardie dinamiese en haas onbeperkte menslike potensiaal omdat dit slegs te verkry is in ’n verhouding met die Skepper – omdat God dit só wil.
Daarom dan, assosieer God báie graag met SY menslike skepsel op ’n báie Persoonlike vlak en is dié vir Hom van belang (2 Kronieke 7:3, 6; Psalm 111:3; 5; 117:2; 136:1–26; Johannes 3:16; Romeine 8:35-39; 2 Korintiërs 9:9; Efesiers 3:9-11; 1 Johannes 4:8, 16) – God is nie en kan nie en wíl nie arrogant óf hooghartig en snobisties wees, nie, omdat God Homself hoegenaamd nie hoef aanstellerig te hou nie want HY is almagtig en buiten God, is daar niks. Trouens, God sê juis dat HY nié aannemer van persoon is, nie (Deuteronomium 10:17; 2 Kronieke 19:7; Romeine 2:11; Galasiërs 2:6; Efesiers 6:9).
Dit bring my by die laaste aspek van Comestor se kommentaar wat ek wil aanraak – hy sê ook “… dat wat vir dele van ’n geheel geld, nie noodwendig vir die geheel geld nie. Alles in die heelal kon moontlik ’n oorsaak hê, maar die geheel hoef nie ’n oorsaak of begin te hê nie". Klaarheid van denke, is wat ons hier by Comestor bemerk, maar die mag van agnostiese gewoonte rem hom dadelik weer terug. Behalwe dat hy grondige kritiek teen die onaanvaarbare strekking van die hedendaagse standaard model (oerknal teorie) van die kosmos (die agnostiese kosmoloë se evolusieteorie vir die kosmos) opper, gaan Comestor ongelukkig dan heen en kom wéér tot die tipies agnostiese gevolgtrekking dat “Ons kon dus net sowel volstaan met die heelal as ’n gegewe, as iets wat altyd was. Ons hoef nie die probleem onopgelos te verplaas na die aanname dat daar ’n God as skepper is wat altyd bestaan het en alles, ten minste aanvanklik, geskep het nie. Dan liewer ’n heelal wat altyd bestaan het”.
Behalwe dat hierdie houding en benadering hom net weer by dieselfde punt uitbring as die onaanvaarbare standaard model wat hy in dieselfde asem kritiseer – nêrens – bring veral sy laaste opmerking hom in die Thomas Nagel kategorie waar dié ateïs openlik gesê het dat hy hoop daar is nie ’n God nie – nié omdat God nie werklik bestaan nie, (want God bestaan verseker) – maar omdat hy, die ateïs, dit nie so wil hê, nie.
Maar wat Comestor eintlik moet doen en al wat hy nou hoef te doen om op ’n nuwe, dinamiese pad van kennis en gewaarwording te kom omtrent God, volkome in aansluiting met sy eie gewaarwording oor die geheel wat nie ’n begin het nie, is júís om daardie bevrydende paradigmaskuif vanuit die agnostiese gleuf te maak deurdat hy besef dat daardie 'geheel' waarna hy verwys, júís God, is – want God openbaar Homself as onbegrens en ewig (Eksodus 3:6, 14-15; Deuteronomium 33:27; Psalm 90:2, 4; 102:27; 119:89; 121:4; 139:7–21; 147:5; 1 Konings 8:27; Jesaja 40:6–8, 18, 25; 57:15; Maleagi 3:6; 1 Timoteus 1:17; Matteus 5:48; Johannes 1:18; Romeine 1:20; Hebreërs 6:17; 13:8; 1 Petrus 1:24–25; 2 Petrus 3:8; Openbaring 1:8) en te oordeel na Sy Handewerk, is dit inderdaad só. Trouens, een van die kenmerke van God is dat HY onveranderlik en ewig is – slegs die ‘geheel’ kán onveranderlik en ewig wees want buiten die geheel, is daar mos niks – God is daardie ‘Geheel’. Die grondslag vir dinamiese geloof in God, heel waarskynlik sónder dat hy dit só beplan of gewil, het, is dus reeds by Comestor gevestig. Hy moet nog net die assosiasie maak.
Daar moet dus nie gepoog word om God in ’n beperkte dimensie te probeer inpas, nie – dit is só onsinnig. Niémand sal so soiets met die ‘geheel’ probeer doen, nie ... Die ‘geheel’ is ’n konsep vir die ongedefinieerde, dog begryplike, reële werklikheid van IS – God, IS die ‘Geheel’ (Eksodus 3:14-15) en gee ewige substansie en inhoud aan ’n andersins redelik vae, konsep van die werklikheid van die geheel – nie ’n geheel, nie, maar dié Geheel.
Vir Comestor om dié bevrydende paradigmaskuif vanuit die agnostisisme te maak, sal glad nie onmoontlik wees, nie, want die grondslag vir emansipasie daarvan is alreeds in hom gevestig, al wou hy dit dalk nie só nie – die wesentlike aspekte as deel van sy kommentaar, wat hom laat uitstaan bo die ander van hulle, lê alreeds volledig die grondslag om die laaste tree na vryheid te gee. Maar dalk sal dit vir hom baie moeilik wees, want dit sal ’n aansienlike skeut nederigheid van en persoonlike eerlikheid met, ten minste homself, verg, asook die moed om die paradigmaskuif te maak in die lig van sy agnostiese baanrekord en die uitlatings daar gemaak en die las van eweknie druk wat sy elke beweging dophou. Dit sal ’n Comestor-man-op-’n-perd, verg ... óf hy kan daarin faal en dan, al is dit net vir homself, verskonings soek waarom hy dit nie "kan" (eintlik wil) doen, nie. Maar, hy het sedert sy toetrede hier, destyds – al is dit báie langsaam – só vêr vordering gemaak, al besef hy dit dalk nie self, nie …
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus
’n Volle 2 000 woorde se godgegewe dit en godgegewe dat. Die uiteindelike konsekwensie van jou redenasie is dat my ateïsme godgegewe moet wees. Hoe durf jy dus beweer dat my godgegewe gawes nie goed genoeg is nie? Stel jy straks ’n mosie van wantroue in jou eie almagtige god wat dalkies net in my en Angus en Chris se gevalle so bietjie “opgeslip” het?
Wat maak jou so seker dat daar nie met jou “opgeslip” is nie?
Thomas
Johannes Comestor,
In jou kommentaar by Chris se artikel pas jy Occam se kam toe op my kommentaar daar. Maar, as jy reg was, oortree jy self die Occam se kam toets, soos jy dit toepas. Jy maak die aanname dat daar so iets is soos ‘die geheel’ bestaan, sonder dat jy ‘die geheel’ kan definieer – hoofsaaklik omdat jy - niemand nie – met enige akkuraatheid of sekerheid kan definieer wát dié geheel is, nie.
Maar ek kritiseer nie daardie gewaarwording van jou, naamlik dat daar ‘die geheel’ bestaan, nie, ek ondersteun dit. Dit is egter nié ’n oortreding van die Occam se kam – die spaarsamigheidsbeginsel – nie.
Dan maak jy ’n verdere aanname – jy ken ’n naam toe wat jou pas vir dié fenomeen – jy noem dit ‘die geheel’ om die onbegrensdheid van IS te probeer verbeeld en verwoord. Ek kom en ek sê vir jou – ek stem saam, maar die Naam is nie ‘die geheel’ nie, maar ‘die God’. Hoe kan jy nou skielik Occam se kam wil nadertrek vir my en nie dan ook vir jouself, nie? Ons is beide besig met identifisering van wat ons beleef en sien en in daardie proses doen ons sekere stappe om die identifisering te benaam – wyl ek die oorspronklike Naam vir alles wat reeds IS, identifiseer eerder as jou onlangse, ongedefinieerde ‘die geheel’.
Jou voorbeelde van hoe jy Occam se lem probeer verduidelik, is dus hoegenaamd nie nodig nie, dankie, want nie een van ons is besig om bloot in die identifisering van wat jy opgehaal het, Occam se kam te moet op die hals loop, nie.
Jou tweede beswaar is ook ongegrond. Hoe kan jy my kritiseer as ek na God verwys synde die ‘geheel’ waarvan jy praat? Jou beswaar is dat ons moet hou by wat sintuiglik ervaar word. Eerstens – hoe kan jy iets soos ‘die geheel’ sintuiglik ervaar? ‘Die geheel’ is só omvangryk dat jy die geheel dáárvan, nie eens kan kontempleer, nie. Dus, hoe weet ons dat ‘die geheel’ werklikheid is? Daar is net een manier – deur aanwending van ál ons sintuie, fisiologies sowel as spiritueel. Net so met die gewaarwording van die bestaan van God vir die ongeïnisieerde – God se bestaan en teenwoordigheid as ‘Geheel’ word op presiés dieselfde manier waargeneem deur die ongeïnisieerde – julle as agnostici. God se oorspronklike ewige bestaan van IS en dit word waargeneem en bevestig deur wat ons omring tot verby waar ons dit kan waarneem as mense. Dit is wat ek en ander gelowiges wél doen.
Tweedens – ek wil jou nie verveel met aanhalings uit die woordeboek nie – maar jou woordkeuse is klaarblyklik meer omvangryk in betekenis as wat jy bereid is om toe te gee. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal definieer as volg:
"sintuig (sintuie)"
Elkeen van die organe waardeur prikkels uit die buitewêreld in gewaarwording omgesit word: Die sintuig van die reuk is die neus. ’n Sesde sintuig hê, vermoë tot bonatuurlike waarneming, bv. dit was asof ’n sesde sintuig my gewaarsku het.
"sintuiglik b.nw. en bw."
Wat betrekking het op die sintuie, bepaal is deur die sintuie: Sintuiglike waarneminge. ’n Voorstelling wat sintuiglik bepaal is, sintuiglikheid.
Weereens, dink ek nie Occam se kam sal hier kan aanwending vind, nie.
Ons as gelowiges onderdruk geeneen van ons sintuiglike vermoëns nie – ook nie ons spirituele sintuie, nie. Per jou eie beginsel – en ek haal jou verbatim aan – dat ons in verklarings liewer moet hou by wat sintuiglik ervaar word. Dit is juis waar ons die werklikheid van God ervaar – jy, as agnostikus, doen klaarblyklik baie moeite om dáárdie deel van jou menslike sintuiglike vermoëns, te onderdruk.
Aan jou eie definisie en maatstaf, dus, is daar geen rede waarom jy die agnostiese paradigma moet bly dien, nie – behalwe omdat jy wil selfs teen jou beterwete.
Al wat ek dan sê is dat God, ‘die Geheel’ nie beperk kan word deur jou agnostiese denkpatroon, nie. ‘Die geheel’ is veels te groot en onbeperk omvangryk om deur die denkpatrone van sommige mense aan bande gelê te word in die strekking daarvan.
God is dáárdie Geheel. As mens, nietige mens, soos al die ander van ons, moet jy maar net uit jou agnostiese paradigma, wat jou vasketting aan ’n naam wat jou van die ander werklikheid omtrent God wil weghou, ontkom. Jy kan God die Geheel, se bestaan nié ongedaan maak met ’n onwillige gemoed en ander naam, nie.
As jy logies wil dink, sal jy dan ook besef dat Occam se kam nié aangewend kan word om 'die geheel' soos jy dit noem, inderwaarheid ‘die Geheel’ soos ek uitwys, op enige wys hóégenaamd aan bande te lê nie, want dit is ondenkbaar en onhoudbaar om te wil postuleer dat ‘die Geheel’ aan enigiets beperkend onderhewig te maak.
Alles anders, alles wat ons sien en beleef, het egter hul begin, hul oorsprong in die Geheel, asook hul einde – soos God sê, HY is juis die begin en die einde (Openbaring 22:13). ‘Die geheel’, synde ‘die geheel’, is ook nie aan die beperkinge wat die geheel op die dele van die geheel, nie. Daardie beperkinge – natuurwette – word deur die geheel geformuleer vir die dele van die geheel ter wille van ordelikheid en die doel van bestaan.
God is die Geheel waaruit alles hul oorsprong, het (Johannes 1:1-15) – en jý stem saam, net nie met die Naam, nie. Is dit nie baie kunsmatig van jou, nie? Hierdie keer kan jy gerus die onderskeid sien tussen die apostel en jouself, Comestor.
Kobus de Klerk
Kobus, die deel wat jy aanhaal van Johannes demonstreer weereens die tipe oneerlikheid wat ons nou al aan gewoond geraak het en van jou verwag: “Die probleem is dat ons net ingevolge mensvermoëns, bv mensbegrippe, kan dink … Daar is baie dinge wat ons gewoon (nog) nie weet of verstaan nie. Dit is myns insiens nie verkeerd om antwoorde te soek nie; dit is eerder nodig, selfs noodsaaklik”, wat jy dan beskryf as "’n ingrypend sinvolle en eerlike gewaarwordinge vir ’n agnostikus".
Die eerste deel van jou "aanhaling" word onmiddellik gevolg deur: "Dan word die religieuse aanname absurd dat God behoefte aan mense se verering het". Die tweede deel van die aanhaling, heelwat verder af in sy reaksie word onmiddelik vooraf gegaan deur: "Ek het bitter min vertroue in die waarheidsgehalte van sommige aspekte van die hedendaagse kwantumfisika en kosmologie, wat hoogs spekulatief is en dus kwalik op wetenskaplike gefundeerdheid aanspraak kan maak".
Dit is onmoontlik dat jy hom verkeerd kon verstaan het. Die enigste gevolgtrekking wat enige half intelligente mens kan maak is dat ’n leun niks vir jou beteken nie.
Dit is ’n soortgelyke taktiek wat jy gebruik met die Bybel wanneer jy dit gebruik as praatpop vir jou eie verwronge idees. Dit is altyd die moeite werd om te gaan kyk na die verwysings na versies uit die Bybel wat jy links en regs saai deur jou briewe. Nie net om te sien dat hulle meestal geheel en al irrelevant is tot die punt wat jy probeer maak nie, maar ook hoe jy hierdie tegniek (baie ander predikers doen dieselfde) gebruik om te beïndruk en gesag aan jou eie woorde te gee in argumente wat selde meer as wind is.
Thomas, jou gebrek aan insig is verbysterend, Die punt wat gemaak word is dat julle julself bedrieg (al dikwels uitgewys). Jou kommentaar is dus nutteloos, behalwe vir een aspek – jy demonstreer daardie tipiese agnostiese insigloosheid en dan verdraai jy die ding om in te pas binne jou uiters beperkte agnostiese tonnelvisie. Die punt is ook al dikwels gemaak maar selde verskaf jy so ’n sprekende voorbeeld daarvan, soos nou. Feit is, party van julle het die potensiaal om te ontsnap aan die debiliteit – ek meen Comestor het beslis daardie potensiaal.
Kobus de Klerk
Die oomblik as Occam se "kam" nie daarin slaag om spirituele ervarings uit te sny nie is dit net goed om die pitte uit jou dagga te kam. Een van die waardevolste werktuie vir mense om ’n duideliker beeld te kry van realiteit word dan niks meer as ’n boekmerk vir Kobus se Bybel.
Nee, Chris, ek het Comestor nie verkeerd verstaan, nie – jou wilde aantygings en verdagmakery is maar net weer aanduiding van jou onbegrip.
Ek maak juis die punt dat hy, nadat hy daardie helder oomblikke beleef soos ek dit aanhaal, terugval in die agnostiese paradigma en dit is presies (sommige van) die aanhalings van hom, wat jy aanhaal. Maar jy sal dit mos nou nie kan insien, nie.
So, wat ons van jou het, is maar net nog een van daardie gebruiklike en kenmerkende redelose aanvalle sonder fut, van jou, waarmee jy byvoeglike naamwoorde rondstrooi soos haelgeweerskoot korrels in die verkeerde rigting sonder effek. Ek dink dit is Churchill wat aangehaal word op ’n keer, na ’n besoek aan die front, aan die troepe te gesê het "nothing in life is so exhilarating as to be shot at, without result". Nou ja, dalk oordrywe die ou sigaarstoker so bietjie, maar jou vrugtelose onderonsies en verbale skote laat my nietemin elke keer dink aan wat die ou sou gesê, het.
Ek het nie gesê Comestor is ’n gelowige,nie. Ek het gesê dat hy dinge omtrent die werklikheid raaksien wat julle ander klaarblyklik nie die vermoë het om in te sien nie, en dat hy die siklus kan voltooi deur voort te bou op die helder insigte wat hy reeds onder die knie het en op so ’n manier uitbeweeg uit die gekniehalterde agnostiese oogklap-tonnelvisie paradigma.
Sy wantroue in hedendaagse kwantumfisika (oftewel kwantum meganika) en die kosmologie deel ek met hom, dalk juis ook vir die redes vermeld deur hom, maar daardie wantroue van hom is beslis nie ’n veertjie in daardie agnostiese hoed van jou, nie. Verbasend dat jy so dink. Jy begryp klaarblyklik wat jy lees nie, en probeer maak dan ander as oneerlik, uit.
Comestor moet meer net aanhou soek – solank hy oopkop soek, sal hy sal weldra ook uitvind dat sake Gods baie nader aan hom is as wat hy dink en dit glad nie so vaag en ongevoelig is as die kwantumfisika en die kosmologie wat hy tereg om daardie redes, wantrou, nie.
Daar het jy dit nou, met die lepel gevoer.
Wat die Bybel aanbetref, kan jy tog sekerlik nie ernstig meen dat ek en jy sal saamstem, nie? Jy weet dan niks daarvan, nie, al is jy obsessief daaroor. Dit moet vir jou moeilik wees om te verwerk na al die ure van jou dag en jare van jou lewe wat jy daaraan spandeer en dan in gesprekke met ware gelowiges agter te kom, dat jy wragtig niks daarvan begryp, nie – direk as gevolg van jou geslote lewensuitkyk as ateïstiese agnostikus. Dan is dit seker maar dat daardie nuttelose haelgeweer tong van jou werk kry, om bietjie van die frustrasie uit te spuug. Dan moet mens seker ook maar jou agressie oorsien – wetende van waar dit kom. Uiteraard steur mens jou nie daaraan, nie. Het jy al self gesien hoe lyk jou reaksies? Hoe besaai met venyn dit is? Hoe min substansie enige daarvan, het?
Kobus de Klerk
Kobus, die komma wat jy in jou laaste sin gebruik het is onnodig.