Die toneelprogram wat vanjaar by Clover Aardklop (van 6 tot 10 Oktober in Potchefstroom) aangebied word, is gepak met produksies wat ’n wye spektrum dek – van klugte tot groot dramatiese werke.
Feesgangers het pryswennerproduksies, groot name, klein juweeltjies en debuutproduksies om uit te kies.
Drie klassieke werke – groot in skaal en omvang – word aangebied. Bertolt Brecht se Moeder Moed en haar kinders is nog net so relevant soos sewentig jaar gelede. Dit is bekroon met drie Kanna-pryse (onder meer vir Aletta Bezuidenhout se spel in die titelrol) en fokus op ’n wêreld waarin korrupsie en gierigheid hoogty vier.

Siener in die suburbs en People Are Living There is so eg-Suid-Afrikaans as kan kom. Die tydloosheid van P.G. du Plessis se Siener word weer eens bewys in dié produksie met ’n volledige bruin rolverdeling wat onder andere Shaleen Surtie-Richards insluit. Athol Fugard se People Are Living There is een van sy vroegste dramas en uitsonderlik in die geval dat dit nie ’n politieke ondertoon het nie. Die fokus val op ’n viertal mense in Milly (Anna-Mart van der Merwe) se losieshuis op die aand van haar vyftigste verjaardag.
Vyf produksies debuteer vanjaar by Clover Aardklop. Sandra Prinsloo gaan in die skoene van die omstrede rubriekskrywer en joernalis Jani Allen klim in Jani – Saartjie Botha se verwerking van Allen se outobiografie; in MA!, van Marida Swanepoel, word die verwikkelde verhouding tussen ma en dogter verken met Annelisa Weiland en Franci Swanepoel saam op die verhoog; Hemelruim is ’n vertaling van die bekroonde Britse dramaturg Nick Payne se Constellations – ’n verhaal oor die heelal, liefde en heuning (met Tinarie van Wyk Loots en Paul du Toit); Chris Vorster is pure verkleurmannetjie in Aartappels en ammo waarin hy ’n magdom karakters vertolk wat regmaak vir die einde van die wêreld; en Diaan Lawrenson en Jody Abrahams is te sien in Leon Kruger se komedie Klein jakkalsies, wat fokus op ’n verhouding ná die lang wittebrood verby is.
Etlike waagmoediges betree die verhoog op hul eentjie: Shaleen Surtie-Richards (Die woema van ’n windgat wyfie); Neels van Jaarsveld (Innie rof); Albert Pretorius (Lucy’s Party) – wat binne ’n jaar ’n Kanna, ’n kykNET Fiësta en Fleur du Cap as beste akteur ingepalm het; Erik Holm in sy outobiografiese blou-blou; en Marion Holm (Die Kaap is weer Holms)
ATKV-Tienertoneel kry vanjaar ’n ouboet, ATKV-Kampustoneel. Dit is ’n opwindende nuwe toevoeging tot die feesaanbod met produksies van verskeie kampusse wat by die fees te sien sal wees.

Gewilde en hoog aangeskrewe produksies van ander feeste is ook op die program. Jong ouers sal beslis aanklank vind by Pienkvoet (met Chanelle de Jager en Paul du Toit), terwyl dramaturg Wessel Pretorius se Sandton City Grootdoop die kollig plaas op ’n ma (Joanie Combrink) se verhouding met haar jong volwasse dogters (Hannah Borthwick en Roeline Daneel), wat duidelik nie maklik is nie.
Die akteur-egpaar Elize Cawood en Wilson Dunster span weer kragte saam in Die wagkamer waarin hul verhuising na Huis Herfsblaar sy eie uitdagings bied. Barry van Rensburg se komiese drama Die waarsêer (met onder andere David Rees) is gegrond op ’n ware verhaal en dien as ’n waarskuwing vir skinderbekke om liefs hul woorde te tel.
Op ’n ernstiger noot is daar die twee vertaalde dramas, Kinders van stilte en Son. Maan. Sterre. Eersgenoemde, waarin Zane Meas te sien is, verken die wêreld van ’n jong dowe vrou (Mark Medoff se wêreldbekende Children of a Lesser God) en laasgenoemde lig die sluier op gevaarlike geheime waaroor daar liefs geswyg word. Onder leiding van Christiaan Olwagen met Louis van Niekerk, Wilna Snyman, Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt en Greta Pietersen in die rolverdeling beloof dié vertaling van Alice Birch se Many Moons om teatergangers hard in die maag te tref. Son. Maan. Sterre. is benoem vir vier Woordtrofees
Daar is twee klugte op die spyskaart. My boetie se boetie se boetie se baba (nog ’n wegholtreffer van die Britse Ray Cooney) en Twee vir die prys van een van Donald Churchill (ook van Britse herkoms) – albei met sterbelaaide rolverdelings – sal broodnodige ontvlugting van die daaglikse bekommernisse bied.
Onder die vaandel van woordkuns is daar die première van Totius: Die rus is elders – ’n produksie met musiek en voorlesings (Louis van Niekerk) ter viering van die negentigste verjaardag van Afrikaans as amptelike landstaal.

Byderhand is die oorkoepelende titel van ’n interaktiewe leesfees. Dit is die eerste keer dat so iets by ’n fees aangepak word en bied ’n heel nuwe ervaring vir feesgangers wat met behulp van ’n QR-leser rustig op hul eie tyd verse en verhale in Potchefstroom oor Potchefstroom kan lees. Skrywers en kunstenaars wat by die projek betrokke is, sluit in T.T. Cloete, Strijdom van der Merwe, Hans du Plessis, Harry Kalmer, Khayalethu Mtshali, Roela Hattingh, Johan Myburg, Sophia Kapp, Franci Greyling, Frederick J. Botha, Susan Smith, Gerrit Jordaan, Zinelda McDonald en Deon Meiring.
Nog ’n nuutjie is die ATKV Blits-gedigtewerkswinkel wat op die eerste dag van die fees onder leiding van die bekende digter Danie Marais en Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool en verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, aangebied word. Diegene wat belang stel om van ’n gedagte ’n gedig te maak moenie talm om kaartjies te koop nie, want getalle word beperk.
Die volledige program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

