Clover Aardklop-resensie: Oorsee – Ver oor die see, maar tot op die been

  • 0


Oorsee, ’n Clover Aardklop-produksie

Geskryf deur Tertius Kapp
Vervaardig deur Saartjie Botha

24–28 September, Clover Aardklop

Vyf mense op ’n boot op ’n oseaan sonder einde. Daar is die esoteriese en filosofiese grysaard Mossie Waterboer (vertolk deur Gerben Kamper), wat sy dae slyp deur die wondere van werke van onder andere NP Van Wyk Louw en Opperman aan sy medevlootbewoners te verkondig; die seningrige Josua Verfkan (Brendon Daniels), die kaptein van die vloot, getroud met ’n baie ontspanne, verstrooide Verfkan (Nicole Holm) met ’n magtige liefde vir haar barbaarse dom seun, Abraham Verfkan (Geon Nel); en Mossie se mooi dogter, Canola (Karli Heine), wat met ’n geel reënjas wat soos ’n Voortrekkerkappie om haar kop gevou is, dae lank op ’n leer sit, visvang, na die see staar en verveeld swyg. Dit is hierdie potsierlike gemengde volkie van vyf wat op ’n see dobber wat die spil is waarom die toneelstuk Oorsee by vanjaar se Aardklop draai.

Oorsee is ’n skreeusnaakse en vlymskerp satire oor die toekomsblik van ’n groep wat saam moet staan ten einde te oorleef. Hulle is op soek na die Nuwe Wêreld waar hulle nuut sal begin, ’n heenkome sal vind, ’n nasie sal bou – en die see is daar as beproewing om seker te maak hulle is sterk genoeg om daardie toekomstige land van melk en heuning te bewoon. Die eintlike toets is egter om te sien of hulle met mekaar oor die weg sal kom en ’n manier sal vind om Canola in die vuil en stinkende Abraham te laat belangstel sodat daar vir hulle ’n nageslag in die Nuwe Wêreld sal kan wees.

Sonder om té ernstig of dramaties te wees, ondersoek Oorsee die toekomsvisie van ’n groep bruin en wit Afrikaners wat nuut wil begin en ’n krom verlede agter wil laat. Op hierdie boot probeer hulle om sin te maak van wie hulle is, waar hulle vandaan kom en waarheen hulle op pad is. Hulle pad van herkoms word as ’n “skewe paadjie” beskryf. En die ruimte rondom hulle as plek met bedreigende  metaalmonsters – wat skerp sinspeel op Raka van Van Wyk Louw. Om sin te maak van waar hulle is en wie hulle is en wat hulle tot “groep” maak wat iets deel, vertel hulle vir mekaar mites en verhale. Hulle dink nostalgies terug aan die ou wêreld wat hulle agtergelaat het. En vertel vir die twee jongmense, wat nooit hierdie ou wêreld geken het nie, van rugby, “rooinekke” en allerhande goue kalwe. Ook die geografie van die plek wat agter hulle lê, kom op verbeeldingryke manier ter sprake, met plekke soos “Skelmbos” en “Slaapstad” wat genoem word en sekere belangrike plekke (soos Soweto, Nyanga en Sharpeville) wat verswyg word. Hulle lees voor uit die baie boeke – die “gewyde letters” – wat Mossie seker gemaak het op die vloot bewaar gebly het – ’n kulturele verlede wat tog ten einde dreig om die twee jongmense te laat sink. Om die Nuwe Wêreld te bewoon moet hulle die kulturele bagasie van hulle ouers agterlaat en die finale storm op die see – met daarin die tale, liedjies en stemme van hulle taal en kultuur – oorwin.

Oorsee  ondersoek dus op ’n ligte trant wat nooit melodramaties of kitsch word nie, temas van emigrasie, ’n (distopiese) toekoms en die identiteit van ’n groep Afrikaanssprekendes. Met puik spel deur gesoute en minder bekende akteurs, indrukwekkende choreografie deur Wolf Britz (wat ’n bewegende swart sak soos ’n enigmatiese seil van ’n boot laat lyk), treffende klankontwerp deur Pierre-Arnold Theron, en ’n teks wat tot op die been sny, maar ook kielie en terg, is Oorsee beslis die mees geslypte en vindingryke produksie wat ek op vanjaar se Aardklop gesien het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top