Clover Aardklop-resensie: Land van wit skedels en swart skaduwees

  • 0

Land van skedels
24–27 September, Aardklop
Moontlik gemaak deur kykNET en Die Burger.

Teks en regie: Nicola Hanekom.
Vervaardiger: Haas en Kaas.
Musiek: Braam du Toit.
Klankontwerp: James Webb.
Choreografie: Fiona du Plooy.

Op Erfenisdag  teen sononder stap ek in gelid saam met ongeveer 60 ander teaterbesoekers oor klippe, stof en veld wat nog na verbrande winter ruik oor “die Slagveld” – ’n simboliese naam vir ’n oop stuk veld net buite Potchefstroom. Hier word Nicola Hanekom se Land van skedels, ’n opdragstuk van Die Burger en kykNET, tydens Aardklop 2013 aangebied. Dis ’n uitdagende ruimtelike teater wat met ’n geselskap van 12 akteurs, vyf dansers en ’n kinderkoor elemente van die Anglo-Boereoorlog en veral die vroue se ervaring in die konsentrasiekampe uitbeeld.

Die besoekers stap verby verskillende bruin tente – almal stasies van ’n lewende museum – waarbinne lydingstonele uitgebeeld word. ’n Gewonde boer maan vir “Sussie” wat langs hom sit om tog nie sy hand te los nie; ’n groep bleek kindertjies speel mistroostig met blokke en poppe in die stof; ’n trekklavier huil en ons word begroet met onheilspellende vioolmusiek, ’n ossewa, diereskedels, ’n kermende ma wat ’n pop met ’n bloederige oog vashou en vyf stom swart dansers wie se liggame met die lendelam boere kontrasteer.

Later beweeg ek ongemaklik saam met die stoet teaterbesoekers na ’n ander deel van die veld waar ’n potsierlike Kitchener vanaf ‘n stellasie ’n Union Jack swaai en met aanstellerige stem sy verskroeide-aarde-beleid verkondig. ’n Entjie verder sit ’n karikatuur van Paul Kruger – ook op stellasie – so maer en onvas dat mens hom net nog erken aan sy baard en woorde wat aan slagsspreuke herinner: “volk”, “vaderland”, “plig”, “heldedood”, “noodlot”, “geloof”. Ook Emily Hobhouse maak haar verskyning nadat die werklike son gloedrooi oor die veld ondergegaan het: engelagtig  beweeg sy in wit gewaad. Haar opera-stem weergalm oor die ruwe veld.

Hoewel ek meegesleur word deur die enigmatiese musiek van Braam du Toit en die landskap, danse en estetiese kontraste van hierdie teater, bring dit opdringende vrae oor die etiese implikasies van die voorstelling van die Anglo-Boereoorlog na vore. Waarom vandag nog die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe as tema behandel? Hoe doen Nicola Hanekom dit anders, dalk meer dringend, meer outentiek as haar voorgangers? Bring sy nuwe insigte oor wat vandag amptelik as die Suid-Afrikaanse Oorlog bekend staan, na vore?

Want om nog vandag die Anglo-Boereoorlog as tema vir teater te behandel moet dit ’n nuwe verhaal vertel, of ’n ou verhaal op ’n nuwe manier, in plaas daarvan om stereotipes in stand te hou. Deur die gebeure en lyding in die veld uit te beeld in plaas van op die verhoog en die gehoor uit te daag om saam met die gebeure te beweeg en as’t ware aan die narratief deel te neem, word daar gedeeltelik aan hierdie vereiste voldoen. Die reuk van die veld, die tekstuur van die klippe, die ondergaande son is alles elemente wat deel vorm van die teaterervaring en mens op ’n ander manier – dalk ‘n meer outentieke manier – daarna laat kyk. Een van die treffendste oomblikke in Land van skedels is wanneer die karakter genaamd Bokamoso (die naam beteken “hoop”) die gehoor direk in haar geboortetaal aanspreek. Sy konfronteer ons met die feit dat ons haar taal nie verstaan nie, dat daar geen monument vir die 14 125 gevalle swart soldate in Suid-Afrika bestaan nie. Met haar kort, dog kragtige, monoloog, reklameer sy vir haarself ’n plek in die geskiedenis van wat vandag tereg as die Suid-Afrikaanse Oorlog bekend behoort te staan. Ten einde is die werklike skedels in Land van skedels die swart figure wie se lywe met wit skedelmaskers onsigbaar in die donkerte is. Hiermee probeer Hanekom om die geskiedenis van ’n bloeddorstige tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te herskryf en haar gehoor te konfronteer met hulle opvattings – en wanopvattings – daarvan.

Nog ’n vraag wat die stuk by my opwek, kom van Hanekom se skrywersnota wat in die feesgids afgedruk is. Hierin beweer sy dat dit vir haar ’n voorreg is om aan Land van skedels te werk vanweë haar lewenslange obsessie met Hitler se konsentrasiekampe. Kan die konsentrasiekampe van die Jode in die Tweede Wêreldoorlog egter met die Boere-konsentrasiekampe vergelyk word? Trek sy hierdeur ’n parallel tussen die Boere en die Jode? Suggereer sy daardeur dat beide lydende volkere op soek is na die mitiese Beloofde Land? Hanekom probeer baie spesifiek haar gehoor met die lyding van verskillende volke konfronteer – nie net met die lyding van die Boere in die konsentrasiekampe nie, maar met verskillende menseslagtings wêreldwyd – deur onder andere ook na die Jode in die Tweede Wêreldoorlog en die massamoord van die Toetsi’s in Rwanda te verwys. Sy beweer in haar skrywersnota dat sy haar kykers wil konfronteer met hierdie bloedige verlede wêreldwyd sodat die gruwel daarvan nie weer herhaal kan word nie. Herhaal soos dit inderdaad herhaal is in ’n meer onlangse bloedige Suid-Afrikaanse verlede wat slegs gesuggereer word in die stuk. Ons as Afrikaners word uitgebeeld as die “swape wat die ape na-aap”, omdat ons “vergeet” het. Maar word daar deur so ’n uitspraak van die boervrou Lenie – dat ons slegs na-apers van die werklike swape is – regtig verantwoordelikheid vir die gruwel van apartheid aanvaar?

Land van skedels is ’n uitdagende dramatiese stuk wat gebruik maak van talle kontraste: lig en donkerte, lewe en dood, skedels en skaduwees, skuld en lyding, skuldenaars en slagoffer, hemelse stemme en ruwe aarde. Dit is geensins esteties gestroop nie, maar span talle formele elemente – lig, klank, kleur, vorm, beweging – in om ongemaklike etiese vrae te stimuleer oor wat ons voorouers ervaar het, wat ons ouers gepleeg het en hoe ons daarop reageer. Dit ontvang tereg die prys vir die mees aardverskuiwende werk op vanjaar se Clover Aardklop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top