Pussycat se Toni Willé vir die eerste keer by Clover Aardklop

  • 0

Met reuse treffers soos “Georgie”, “Mississippi” en “Teenage Queenie” is die Nederlandse groep Pussycat dekades reeds ’n groot gunsteling onder Suid-Afrikaanse gehore. En by vanjaar se Clover Aardklop is die stem agter die treffers – Toni Willé – vir die eerste keer in Potchefstroom waar sy die verhoog met groot name in Afrikaanse musiek gaan deel.

“Hierdie sal my derde besoek aan Suid-Afrika wees,” sê Toni. “Dit is ’n pragtige land met lieflike mense en ek hoop ek kan nog gereeld terugkom.”

Vir die spesiale konsert by Clover Aardklop gaan Toni solo-liedjies asook duette sing. Saam met haar in die konsert is Steve Hofmeyr, Andriëtte Norman, Nádine, Elzabé Zietsman, Jan Blohm, Wynand & Chereé, Melissa van der Spuy en Anrika.

“Ek het nog altyd samewerkings geniet en sien baie uit na hierdie konsert,” sê Toni. “Ons gaan duette van die Pussycat-liedjies doen, maar ek gaan ook van my solo-liedjies sing. Daar is ook ’n verrassing met ’n bekende Afrikaanse liedjie wat ek saam met die ander gaan sing.”

In haar loopbaan van meer as 40 jaar het sy verskeie hoogtepunte gehad.

“As solo-kunstenaar was dit my konserte in die Fiji-eilande in 2010 en as ek iets moet uitsonder in my tyd saam met Pussycat, sal dit ons toer in 1978 na Suid-Afrika wees,” sê sy.

Haar gunsteling Pussycat-liedjie is “I’ll be your woman”; Gert Vlok Nel – “my dierbare vriend” – is haar gunsteling Suid-Afrikaanse kunstenaar en wanneer dit by ander sangers kom, is haar gunsteling vrouesanger Gladys Knight en gunsteling manlike sanger Peter Kingsbery van die groep Cock Robin.

Sy sê dat sy nie juis country musiek gekies het nie. “Ek hou van alle musiek solank dit my hart raak. Country musiek pas egter my stem soos ’n handskoen,” sê sy.

In haar vrye tyd spandeer sy so veel moontlik tyd saam met haar kinders en haar eerste kleinkind, die driejarige Genyva.

“Ek woon ook graag musiekkonserte by en drink gereeld saam met my susters Betty en Marianne koffie.”

Toni het in die laaste paar maande nuwe opnames vir ’n CD gemaak, maar fokus deesdae meer op haar lewendige optredes. “Ek verkies die kontak met gehore,” sê sy.

As sy haar loopbaan kan oorkry, wat sal sy verander? “Ek sal nie die raad van bestuurders volg nie,” sê sy.

Toni, wat in Junie 60 jaar oud geword het, glo sy het nog ’n paar jaar oor as sanger. “As my gesondheid dit toelaat, glo ek ek het nog vier of vyf jaar oor,” sê sy.

Wat doen sy die paar minute voor sy op die verhoog gaan? “Ek wag dat hulle my naam roep. . .”

En wanneer mense eendag terugkyk na haar loopbaan, hoop sy mense sal haar onthou as iemand wat altyd alles gegee het wat sy het.

Biografie

Toni Willé is as Antonia Johanna Cornelia Kowalczyk op 26 Junie 1953 in Treebeek, Nederland gebore. Haar pa was ’n myner uit Poland. Saam met haar ouer susters Betty Dragstra en Marianne Veldpaus het hulle in 1963 as The Singing Sisters begin optree. Hulle het later The BG’s geword en verander in 1973 hulle naam na Sweet Reaction.

In 1975 het die drie Kowalczyk-susters die sangers in die groep Pussycat geword en in 1976 het hulle ’n internasionele treffer met “Mississippi”. Ander treffers soos “Hey Joe”, “Smile”, “Georgie” en “My Broken Souvernirs” het gevolg. Die groep is in 1984 uitmekaar en Toni het ’n solo-loopbaan begin. Sy wen in 1989, 1990 en 1990 die Nederlandse tydskrif Country Gazette se toekenning as beste vroue countrysanger.

Toni tree deur die jare gereeld in lande soos Duitsland, Bulgarye, Griekeland en Slovenië op en in 1994 stel sy die album “Pussycat – The Collection and More” vry. Vir die album het sy nie net van Pussycat se grootste treffers opgeneem nie, maar ook ander bekende liedjies soos “Desperado” en “Pearl’s a Singer”.

Pussycat, Steve en (Afrikaanse) vriende is op 27 September by die kykNET-verhoog by Clover Aardklop. Die konsert begin 20:00 en die kaartjiepryse is R200 (goue sirkel), R120 (onbespreek) en R70 vir skoolgaande kinders. Besprekings kan by Computicket gemaak word.  

 

Lokaal: kykNET Musiek-verhoog, Feesterrein Duur: 150 min Ouderdom: A
Taal: Afr./Eng. Prys: R 120.00    
27/9/2013 - 20:00

Koop kaartjies by Computicket

Besoek die Clover Aardklop-portaal vir nog feesinligting

Besoek Clover Aardklop se webwerf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top