Clover Aardklop 2013: Tien skole ding mee om die titel van ATKV-Tienertoneelwenner

  • 0

Toneelgroepe van tien hoërskole ding tydens Clover Aardklop in die finaal mee om die gesogte titel van ATKV-Tienertoneelwenner vir 2013, met prysgeld van R45 000. Naomi Bruwer het by Lizané Basson van die ATKV uitgevind wat die gehoor kan verwag.

Die ATKV-tienertoneelkompetisie is vanjaar vir die 49ste keer aangebied. Vanjaar het 170 skole aan die kompetisie deelgeneem. Vertel ons meer oor die kompetisie se omvang en die streeksuitdunne wat reeds plaasgevind het.

Dis reg: die ATKV het vanjaar 170 inskrywings van regoor Suid-Afrika en Namibië ontvang wat tydens tien streeksfeeste beoordeel is.

Die streeksfeeste wat gedurende Augustus plaasgevind het, sluit in Namibië (Windhoek Gimnasium-ouditorium), Noordwes (Sanlam Ouditorium, Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit), Oos-Kaap (Savoy-teater), Gauteng-Wes (Joburg Promusica-teater), Mpumalanga (Hoërskool Ermelo-ouditorium), Gauteng-Suid (Etienne Rousseau-teater), Vrystaat (Wynand Mouton-teater), Gauteng-Noord (Unisa Little Theatre), Wes-Kaap (Durbanville-ouditorium) en KwaZulu-Natal.

Die beoordelaars by die streeksfeeste in die Oos-Kaap, Gauteng-Wes, Gauteng-Suid en Wes-Kaap was Pedro Kruger, Gustav Gerdener en Retha Pool.  By die ander streeksfeeste het Ira Blanckenberg, Ilne Fourie, Johny Klein en Tina Kruger opgetree as beoordelaars.  Tien finaliste uit al die bogenoemde streeksfeeste is na die finaal genooi.

Hoekom is hierdie kompetisie belangrik vir die ATKV en die Suid-Afrikaanse dramabedryf?

Die droom van ATKV-Tienertoneel is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hulle eie kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel. Die kompetisie bied ’n unieke platform waar jong talent geslyp word.  Deelnemers word aangemoedig om by al die aspekte van die projek betrokke te raak, met ander woorde by die regie, kostuums, dekor, grimering, beligting, klank en verhoogbestuur. Só word leerders aan alle aspekte van teater blootgestel.

Gehoorontwikkeling word aangespreek met die projek, en teater en/of drama groei op skool- en gemeenskapsvlak.

Hoër Meisieskool Bloemhof met Spektakel, die wenner van ATKV-Tienertoneel 2012

Die tien finaliste wat by Clover Aardklop 2013 optree, is pas aangekondig. Watter skoolproduksies kan ons by die fees sien?

Die tien toneelstukke wat deurdring na die ATKV-Tienertoneelfinaal, is: 

Hoërskool Durbanville met Roet

Hoërskool Durbanville met Vlieg in die salf (amper ’n kabaret)

Heatherdale Sekondêre Skool met Lyflik

Hoër Meisieskool Bloemhof met Sneeuwitjie en die Sewe Zombies

Hoërskool Jan van Riebeeck met Kragbox

Hoërskool Louis Trichardt met Flikker

Hoërskool Louis Trichardt met Stemtoon

Hoërskool Martin Oosthuizen met Die Les

Potchefstroom Gimnasium met Spel

Hoërskool Zwartkop met Danny Twist.

Die finaal vind plaas tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 24 tot 28 September by die Hoër Tegniese Skool Potchefstroom. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Hier is die finale program:
 

Watter temas word deur hierdie toneelstukke aangespreek? Wat kan die gehoor verwag?

Die gehoor sal vermaak, bekoor en ontroer word. Verskeie genres, temas en style word aangepak: eksperimentele/fisiese teater kraai koning; ’n woordkunsprogram; komedie; ligte dramas; kaberette; en ’n riller … iets vir almal!

Beplan die ATKV iets spesiaal vir volgende jaar se 50ste verjaarsdag van die kompetisie?

Die ATKV sal vir seker nie die geleentheid laat verbygaan sonder om dit behoorlik te vier nie! Meer hieroor later …

 

Koop kaartjies by Computicket

Besoek die Clover Aardklop-portaal vir nog feesinligting

Besoek Clover Aardklop se webwerf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top