Closet: The remarkable wardrobe of Nataniël: ’n resensie

  • 0

Closet: The remarkable wardrobe of Nataniël
Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174374

Ons het almal geraamtes in die kas wat ons verkies om vir die wêreld weg te steek. Nie Nataniël nie. In plaas van ’n kas vol donker geheime en pynlike herinneringe is Nataniël se kas gevul met dramatiese en unieke uitrustings wat kenmerkend van hierdie ikoniese Suid-Afrikaanse persoonlikheid is. Met die publikasie van Closet: The remarkable wardrobe of Nataniël, klim Nataniël op fotografiese wyse uit die kas en wys ons van die merkwaardige kostuums wat die afgelope meer as 30 jaar reeds daarbinne hang.

Heel voor in die boek, nog voor die titelblad, tussen ’n paar collages met foto’s van Nataniël in sy uitspattige en soms omstrede kostuums, is agt volbladfoto’s van kostuummateriaal. Hierdie agt foto’s is almal nabyskote wat fokus op die fyn besonderhede van ’n spesifieke kostuum, wat nie net die gevoel van tekstuur weergee nie, maar ook die doel van Closet as’t ware vooropstel: hierdie versameling foto’s dwing die kyker om op die noukeurige detail van elke kostuum te fokus en hulself daardeur te laat wegvoer. En dis uiteindelik wat ek uit Closet met my saamneem: die belangrikheid van fyn besonderhede om iets uitsonderliks selfs uit die gewone te maak. Of soos die Italiaanse modeontwerper Giorgio Armani dit verwoord: “To create something exceptional, your mindset must be relentlessly focused on the smallest detail.”

Nataniël as storieverteller tree met hierdie boek op die agtergrond. Met rede, want hierdie kostuums het nie nodig om vergesel te word van ’n magdom woordtekste nie. Hierdie kostuums praat vir hulself en vorm ’n visuele narratief van ’n eksentrieke kunstenaarskap. Boonop beeld die versameling foto’s ook die ontwikkeling in Nataniël se kunstenaarskap uit deur middel van sy eksperimentering met vorm, styl, materiaal en kleur.

Benewens ’n voorwoord deur die Suid-Afrikaanse kuns-en-leefstyl-joernalis Diane de Beer is daar ook ’n voorwoord deur Nataniël self. Hierin skryf hy hoe hy weier om dinge uit sy verlede op te gaar, behalwe twee dinge: boeke en kostuums. Omrede albei volgens hom magic besit, het hy dit goedgedink om dit met hierdie projek te kombineer. Die eindproduk is ’n flambojante fotoverhaal verdeel in 12 afdelings, met die meeste van die afdelings wat deur ’n kort inleiding oor hierdie modefase voorafgegaan word.

Die fotoverhaal begin met ’n kort vertelling getiteld “The first one”, waarin Nataniël vertel hoe hy aan die begin van sy loopbaan eendag op toer ’n foto in ’n tydskrif gesien het wat sy lewe vir ewig verander het. Dit was ’n foto van ’n kort baadjie van nagemaakte Dalmatian-pels met ’n groot kraag, rooi binnevoering, en ’n baie nou middel. Onderaan was die nommer van die maatskappy, Blue Zoo. Die volgende dag het hy die maatskappy gebel en gevra om die einste baadjie vir hom te maak – sonder om die prys te vra – en so het Nataniël die towerkrag van kostuums ontdek wat hy voortaan op verstommende wyse by sy repertoire sou inkorporeer.

Die eerste afdeling in Closet is daarom getiteld “Blue Zoo”, en bevat foto’s van Nataniël se eerste kostuums wat te danke aan ontwerper Shani Boerstra ’n eksperimentering met lycra, plastiek, ritssluiters en nagemaakte pels was. Die tweede afdeling, “James Edward Moulder”, is ’n reeks foto’s van hierdie ontwerper se kostuums met hulle donker en gedempte kleure, multilaagmoue en krae, en jasse en hemde met Japannese vorme en onverwagte detail. Floris Louw is die ontwerper op wie daar in die gelyknamige derde afdeling gefokus word, met sy kostuums wat inspirasie uit sekere periodes in die geskiedenis put en tot lewe kom deur middel van krale-, borduur-, verf-, druk- en selfs sweiswerk. Soos die vierde afdeling se titel, “The knee-length coat” aandui, is hier ’n versameling van Nataniël se klassieke maar ook uitspattige driekwartjasse, en in “The floor-length coat”, die vyfde afdeling, word daardie lang dramatiese jasse tentoongestel wat deur die jare sinoniem met Nataniël se teaterproduksies geword het. In die sesde afdeling, “Red”, vind die leser nie net rooi kostuums van Nataniël nie, maar ook ’n gedig, “This is the colour”, waarin daar aan ’n gewese geliefde verklaar word hoe die dra van die kleur rooi, saam met die beëindiging van die verhouding, vir hom selfvertroue en as’t ware ’n nuwe lewe gegee het (met baie van die reëls wat ook direk met die kyker praat en op Nataniël se gewaagde kostuumkeuses inspeel):

I have been locked up, now I am learning
I love a stranger and now I am one
I live alone, I live unguarded
I dress to kill and I dress to stun

This is the fashion that you don’t know baby
This is the style you know nothing about
This is the person who had to be silent
This is the lover who never could shout
This is the colour that I love. (162)

Die sewende en agtste afdelings, “Black & white” en “Gold”, fokus eweneens op hierdie spesifieke kleure, met laasgenoemde afdeling wat ook ’n gelyknamige gedig bevat waarin die magiese helingskrag van die kleur goud besing word:

You put me back together
with your heavenly glue
I’ve never known anything
as beautiful as you [...]

Don’t you let this end
Don’t you let me die
Don’t make me remember
the days I couldn’t fly. (196)

“Sculpture”, die negende afdeling, verskuif die grense tussen klereontwerp en beeldhouwerk. Die tiende afdeling, “Nantes”, is ’n versameling foto’s van Nataniël se gunstelingkostuums gefotografeer deur sy boer, Erik le Roux, op verskeie plekke in Frankryk se Nantes, waarvandaan die Franse Hugenote – van wie Nataniël ’n direkte afstammeling is – na Suid-Afrika gevlug het. Ingesluit by hierdie afdeling is die tragikomiese verhaal “Jas” wat in 2016 in Nataniël se storiebundel Zip! verskyn het, waarin ’n plattelandse weduwee met die dra van ’n helderkleurige 17de-eeuse Oosterse jas skoon van haar oorlede man se vermoede seksuele verhouding met ’n Oosterse vrou vergeet. “Classic Moments”, die elfde afdeling, bevat nog elegante kostuums wat in swart en wit gefotografeer is, en “Candy”, die laaste afdeling, bevat foto’s van ’n paar helderkleurige kostuums wat al voorafgaande elf afdelings of fases se prominentste kenmerke kombineer.

Die gefotografeerde kostuums in Closet is ’n mengsel: daar is foto’s van Nataniël wat dit tydens sy verhoogproduksies gedra het; ander is bloot op ’n mannekyn afgeneem; en dan is daar van die kostuums waarin Nataniël spesiaal poseer. Deel van die kostuumfoto’s wat tydens verhoogproduksies geneem is, is ’n handjievol skermgrepe uit die vertonings se DVD-opname. Hierdie paar foto’s se swak resolusie maak ongelukkig daarvan die los stukkie garing in hierdie andersins stylvolle ontwerp, en kon liefs geknip gewees het voor die skepping die loopplank uit is. ’n Afdeling soos “Nantes” – my gunstelinggedeelte in die boek – laat mens gelukkig verby hierdie faux pas kyk. Die foto’s in hierdie afdeling is nie bloot foto’s van kostuums nie: dit is boeiende kunswerke waar die kostuums met die milieu of agtergrond in gesprek tree.

Vir die modeliefhebbers onder ons sal Closet as baken van inspirasie dien, terwyl aanhangers van Nataniël hierdie boek as gesogte versamelstuk sal wil aanskaf. Die gewone boekliefhebbers wat Closet bloot as koffietafelboek wil etiketteer, sou egter ’n onvergeeflike modeflater begaan. Hierdie boek is daardie “klein swart nommertjie” van jou boekery: ’n staatmaker wat nie net status aan jou boekrak sal verleen nie, maar ook altyd ’n gesprek sal ontketen. Nie net is dit Nataniël se eie Met Gala in portretstudie nie, maar hierdie versameling foto’s dien uiteindelik ook as identiteitstudie: ’n blootlegging van hierdie unieke en visionêre kunstenaar se droomwêreld en ’n blik op sy kreatiewe wese – ’n teatrale en fabelagtige bewys dat die vere wél die voël maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top