CliffCentral: radio se nuwe wending

  • 0

Gareth Cliff se nuwe inisiatief, CliffCentral, het ongeveer drie weke gelede amptelik afgeskop en in ’n merkwaardig kort tyd al meer as 39 400 Facebook-aanhangers ingepalm, met Twitter-volgelinge wat op 19 700 staan.

CliffCentral het op 1 Mei begin uitsaai en hul getal aanhangers groei blitsvinnig. Hier is iets aan die gebeur in die wêreld van aanlyn radio.

Siya Sangweni-Fynn is ’n intern by CliffCentral en ook die een wat insette namens die jeug gee. Volgens hom het radio baie voorspelbaar geraak, en erg gekommersialiseer. Mense wil goeie inhoud hê, en CliffCentral gaan dit vir hulle gee.

Cliff was nog nooit een wat teruggehou het met opinies nie, maar onder die reëls en regulasies van die SAUK kon hy nie altyd doen wat hy wou nie. Oor die jare het hy al heelwat klagtes teen hom by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (BCCSA) gekry en om sy eie rigting in te slaan het al hoe meer aanloklik gelyk.

Die idee van CliffCentral is om ongesensorde radio aan luisteraars te bied. Dit beweeg weg van enige ander radiokonsep in die tradisionele of ontradisionele sin van die woord. Vir ’n klompie jare is aanlyn radiostasies al besig om meer gewild te word. Cliff vat dit egter in ’n heel nuwe rigting.

CliffCentral betrek verskeie ander mediaplatforms. Vir die eerste keer word realiteitsradio (’n televisieprogram wat handel oor ’n radioprogram) bekendgestel, met die DStv-kanaal Comedy Central wat elke weeksoggend die Gareth Cliff-program aanbied. Verder kan Cliff-aanhangers inteken op ’n nuusbrief wat elke dag in samewerking met Daily Maverick, een van Suid-Afrika se grootste daaglikse aanlyn koerante, uitgebring word.

Die gewilde selfoontoepassing WeChat is ook deel van die nuwe inisiatief en CliffCentral kan hierdeur onmiddellike interaksie met luisteraars hê. Dit behels baie meer as om net deur WeChat op CliffCentral in te skakel. Daar word stem- en videogrepe gedeel, lewende meningsopnames gedoen en groepgesprekke gehou wat nie op vorige platforms moontlik was nie.

Daar word na CliffCentral verwys as “unradio”, aangesien mense orals na die programme gaan kan luister, behalwe oor ’n radio. Jy gaan dit net nie op enige AM- of FM-frekwensie opspoor nie.

Volgens Michael Bossenger, programbestuurder van die kampusradiostasie MFM en voormalige KFM-omroeper, is Cliff sonder twyfel baie vernuwend. “Dit is baie positief dat iets soos CliffCentral in Suid-Afrika besig is om te gebeur.”

Hy voeg ook by dat harde werk nodig gaan wees om dit te laat werk, aangesien daar nie baie musiek op CliffCentral gespeel word nie, maar daar eerder ’n groot fokus op geselsradio is. “Die groot uitdaging om dit van dag tot dag ’n sukses te maak, gaan wees om mense geïnteresseerd te hou na die aanvanklike nuutheid verby is.”

Die inisiatief is nou nog in sy beginfase, en of dit gaan aanhou om so suksesvol te wees kan ’n mens nog nie sê nie.

Maar met ateljeegaste soos Johnny Clegg en Julius Malema, gesprekke oor enigiets onder die son, insluitende Cliff se ouers, en met Casper de Vries aan boord met sy eie program, sal jy lank moet luister om iets te kry wat jou nié interesseer nie.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2014.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top