Christopher Hitchens se afsterwe teen die einde van 2011 het die wêreld beslis intellektueel armer gelaat. Alhoewel hy soms omstrede was oor van sy standpunte en uitlatings het hy in alle kringe groot respek afgedwing. As oudstudent van Oxford het sy pragtige gebruik van die Engelse taal hom altyd kop-en-skouers bo meeste van sy kollegas laat uitstaan. Sy ongelooflike geheue en uitgebreide algemene kennis het van hom ’n formidabele debatteerder gemaak terwyl sy ongekwalifiseerde aandrang op rede en die wetenskap groot agting in veral wetenskaplike kringe afgedwing het.
My seuns het my bederf met ’n kopie van sy outobiografie, Hitch-22, vir Kersfees en ek het lanklaas ’n boek so geniet. Terwyl Hitchens die boek geskryf het, was kanker reeds by hom gediagnoseer en het hy geweet dat hy binnekort sou sterf. Sy benadering tot die dood was menslik en rasioneel en ek sou die boek werklik aanbeveel vir iemand wat die dood in die gesig staar. Die volgende aanhaling kom uit die voorwoord: “The irruption of death into my life has enabled me to express a trifle more concretely my contempt for the false consolation of religion, and belief in the centrality of science and reason.
Sy humorsin en elegante gebruik van Engels word geïllustreer in ’n vertelling van hom toe hy baie jare terug as joernalis in Belfast, Noord-Ierland, hom een aand te laat op straat bevind het en ’n onderonsie met ’n spul Britse soldate gehad het wat hom vir ’n Ierse bomplanter aangesien het. Hy is teen ’n muur vasgedruk en deursoek en gevra oor sy teenwoordigheid op die spesifieke plek. “Getting my breath back and managing a brief statement in my cut-glass Oxford tones, I was abruptly recognized as nonthreatening, brusquely advised to fuck off, and off I duly and promptly fucked.”
Hitchens het ’n verskeidenheid boeke geskryf en was veral ’n kenner op die gebied van die politiek. Uit die tien boeke wat hy geskryf het, was een oor godsdiens met die titel: god Is Not Great. Die klein letter waarmee “god” geskryf is en die hoofletters waarmee die ander woorde geskryf is sê ontsaglik baie en is aanduidend van sy ongelooflike vermoë om met die minimum van woorde (in hierdie geval slegs die gebruik van hoof- en kleinletters) tog baie te sê. ’n Kostelike stukkie in die boek is sy vertelling van Salman Rushdie se reaksie op dié boek: “Salman Rushdie, commenting on my book god Is Not Great remarked rather mordantly that the chief problem with its title was a lack of economy: that it was in other words exactly one word too long.”
Dan groet ek maar met die woorde: god Is Not.


Kommentaar
Die debatte waar Hitchens en Stephen Fry saam optree sal vir jou 'n absolute treat wees
http://commonsenseatheism.com/?p=50