Christoffel Coetzee (1945–1999)

  • 0

Gebore en getoë

Christoffel Coetzee is op 10 November 1945 gebore en word in die Oos-Vrystaat groot. Sy suster, Sara Fouché, vertel aan Jannie Ferreira (Beeld, 17 November 1999) dat hy in ’n gelukkige en bevoorregte gesin grootgeword het. Sy pa, Kobus, en sy oupa, na wie hy vernoem is, was albei boere in die distrikte Smithfield en Wepener en later langs die Caledonrivier in die distrik Rouxville. Sy oupa het ’n leidende rol gespeel in die oprigting van die hospitaal op Smithfield. Sy pa was ’n besproeiings- sowel as ’n merinoboer.

Sy ma was Susara Bruwer, die enigste kind van Danie en Anna Bruwer, ’n boere-gesin wat in die Wepener-distrik gewoon het. Anna was ’n nooi Roos van Bethlehem en dit was haar ma wat tydens die Anglo-Boereoorlog self haar huis afgebrand het en onder ’n krans gaan woon het.

Sy ma se kinderjare was bra eensaam en dit kon dalk een van die redes gewees het dat hulle besluit het om ’n groot gesin te hê – teen die raad van die dokters wat hulle meegedeel het dat hulle nie kinders kon hê nie. Christoffel was die oudste van agt kinders. Daarna het nog vier broers en drie susters gevolg.

Tydens ’n onderhoud met Elmari Rautenbach (Boekewêreld, 1 Julie 1998) het Coetzee vertel dat sy ma ’n Libanees was – "[in] daardie jare in die Vrystaat is ons op politieke, sosiale, selfs kerklike vlak verstoot." Sy suster, Sara, het egter aan Jannie Ferreira vertel dat hierdie storie ver van die waarheid was.

Sara het vertel dat die verwerping wat Christoffel as laerskoolkind beleef het, verband gehou het met sy pa se politieke sienings en nie met sy kamtige Libanese afkoms nie: "As buitestaander van die NP Afrikanerstrukture het sy pa hom onder meer skerp uitgelaat oor onreg in die samelewing, byvoorbeeld oor prysbevoordeling van seker boere met die onteiening van plase vir die bou van die Welbedachtdam en begunstiging by die toekenning van Landbanklenings. Verder het sy pa later by die Vrymesselaars aangesluit en ’n senior lid in die Suidoos-Vrystaat geword. Dit het hom in elitistiese Afrikanerkringe ongewild gemaak en Christoffel het hom dit as jong seun sterk aangetrek."

Sara vertel verder: "Oor sy groot ouergesin het Christoffel hom as jong seun geskaam. Wanneer die Ford stasiewa met Pa en Ma en die agt kinders deur die dorp ry, het die oudste seuns dikwels plat gelê. Wanneer die gesin in Bloemfontein inkopies doen, het die oudste twee agterna gedros en gemaak of hulle nie deel van die voorste groep is nie."

Christoffel vertel aan Elmari Rautenbach dat hy wel baie bevoorreg grootgeword het. "My pa was ’n merkwaardige man. Hy het ons met boeke grootgemaak: Faulkner, Marx, Dickens."

Christoffel matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Christoffel na die Universiteit van Stellenbosch vir sy naskoolse opleiding en drie van sy broers en twee susters volg hom na dieselfde universiteit. Hy behaal sy nagraadse kwalifikasie in politieke wetenskap en as Rhodes-beurswenner studeer hy aan die Universiteit van Oxford in Engeland.

In 1988 voltooi hy met lof sy M.A.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met ’n verhandeling oor die Amerikaanse filosoof Willard Orman Quine met die titel The received view of scientific theories: the immediate background to the philosophy of Quine – ’n studie wat hy nou wou opvolg met ’n doktorsgraad.

Hy werk en doen navorsing in Londen en in Oxford voordat hy aan verskeie universiteite doseer. Tydens sy verblyf in Londen was hy ook ’n navorsingsassistent aan die London School of Economics.

Na sy oorsese studie het hy hom in 1992 in Windhoek gevestig, waar hy eers argivaris is by die Staatsmuseum en toe vir lank joernalis by Times of Namibia en daarna The Windhoek Advertiser, vir wie hy die gereelde rubriek "Devil’s Advocate" skryf. Wanneer hierdie koerant geldelike probleme ondervind, is hy in 1997 afgedank en was hy vir ’n ruk verbonde aan ’n konsultasiemaatskappy in Windhoek. 

Etlike akademiese werke het ook uit Coetzee se pen verskyn. Die Universiteite van Durban-Westville en die Witwatersrand het vir baie lank gebruik gemaak van sy boek Mathematical logic, a concise introduction to modern logic and its techniques terwyl The Cape Nguni peasantry 1850-1890: towards the reconstruction of the self-image of an age beskou kan word as ’n gesaghebbende geskrif oor die Nguni-volk. (Die Burger, 20 Julie 1999)

Christoffel het in die sewentigerjare die Oxford Poetry Prize gewen en Claire, sy vrou, vertel dat hy nooit opgehou dig het nie.

In 1998 word Op soek na generaal Mannetjies Mentz by Queillerie Uitgewers gepubliseer, en onmiddellik maak dit sy merk op die Afrikaanse letterkunde-toneel. Dit word bekroon met die De Kat-Sanlam Romanwedstryd se eerste prys in 1998, sowel as die Eugène Marais-prys en die M-Net Boekprys in 1999. Hy was redelik beskeie oor die De Kat-Sanlam-prys. Herman Wasserman (De Kat, Oktober 1997) wou by hom weet hoe hy daaroor voel: "Wel, ek het die geld nodig, want ek het lank daaraan gewerk – vyf jaar. Ek skryf maar stadig."

Die leser ontmoet in die verhaal vir Mannetjies Mentz en sy wraakkommando, vir Ounooi, die bekkige Soph, Japie wat vertraag is, Aunt Jane en Jan Witsie en sy mense – almal wat na die Skuiltes getrek het om van die Engelse te ontsnap.

Op Goodreads word die storie van Mannetjies Mentz só opgesom: "Daar loop gerugte van twee honde en ’n jakkals, gruwelike gediertes, wat snags vreet aan mens en dier in die poorte deur die berge van die Brandwaterkom. Dis waar die Vrystaatse magte futloos aan die Engelse oorgegee het. Waar iemand die Kakie-eskorts in die poorte voorlê en wreedaardig straf – maar ook die hensoppers, tot selfs die pakdiere.

"Drie Boere loop aan die spits van dié geheime Wraakkommando: die dierlike haaslip Niemann, die geslepe Voss en hul ontsagwekkende leier, Mannetjies Mentz. Deur hulle kom talle burgers weer vry om voort te veg.

"En in spelonke hoog teen die berg leef Boervroue en -kinders die Anglo-Boereoorlog deur. Ma, die onverbiddelike. Aunt Soph, die roekelose. Ounooi met die groot ore. En aunt Anne, die ontluikende. Hulle plaas het hulle self laat afbrand, en ’n onderlinge verdrag laat gedy hulle daar saam met Jan Witsie en sy half-Basotho, half-Griekwa mense.

"Maar dis die verkeerde tyd vir Anne om te blom toe Mentz se burgers die gevange jong Kakie-luitenant daar los – verlief soos sy is, en blind vir die onvermydelike: dat die burgers sal terugkom, en dat hulle bloed sal soek. En so word nog ’n konflik gebore, want Soph se eie broer, blink Frans Naudé, is deel van daardie Wraakkommando."

"Botsing en hartstog, ontrou en lotsverbondenheid tussen Boer en Brit, wit en swart, mens en dier … Die mengsel is ryk en kragtig in hierdie verhaal wat diep en ver loop deur Afrika: tot onder sy skoonste berg, Kilimandjaro, en tot in die skadu van die grootste oorlog, in die middel van die vorige eeu."

André P Brink sê dit is ’n manuskrip wat al die beoordelaars van die wedstryd "uitgeboul het". Hy meen dat dit "stof en kruitdampe deur hierdie gaan land laat trek. Dit keer die Anglo-Boereoorlog op sy kop en dwing ons om op ’n nuwe manier na daardie oorlog te kyk. Dit is nie bloot ’n debunking nie, maar ’n blik op wat geskiedenis beteken, hoe geskiedenis geskryf word." (De Kat, Oktober 1997)

Christoffel het dit aanvanklik in Engels geskryf, maar later – asof vanself – na Afrikaans oorgeslaan. "Ek is nie ideologies ’n Afrikaner nie, maar daar was ’n dwingendheid om in Afrikaans te skryf. Ek was self verbaas toe Afrikaans oorgeneem het. Ek praat Afrikaans, maar het nog selde in dié taal geskryf. As joernalis het ek in Engels geskryf. Ek is nie skaam om in Afrikaans te skryf nie, want die taal is nie meer so eksklusief nie," vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt. (Die Burger, 20 Mei 1998)

Stephanie Nieuwoudt skryf dat Mannetjies Mentz ’n boek is wat fyn gelees moet word. Die inleidende hoofstuk bestaan uit redakteursnotas en voetnotas, maar dit moet nie met werklike gegewens verwar word nie. En dit was ook nie bedoel om die oorlog en die hooffigure van die oorlog te ontluister nie.

Op ’n vraag of die verwysing in die openingshoofstuk, "Ons geslag (gebore 1940–1950) is die laaste wat eerstehands die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse oorlog kon aanhoor", nie die skrywer se manier is om die leser bedag te maak daarop dat hy wel met die waarheid te make het nie, het hy geantwoord dat dit maar net die skrywer se speletjie met sy leser is. "Die roman is uit my duim gesuig. Maar ek gaan nie sê Mannetjies Mentz het nie bestaan nie. Dis ’n fiktiewe karakter, maar dalk is hy ’n saamgestelde figuur."

Hy het neutraal teenoor die Anglo-Boereoorlog gestaan. "Ek wou hê dat die leser verbande moet deurtrek van dié oorlog na die huidige lieg en gebieg. Die WVK het die nuwe leuens en waarhede na vore laat kom. Ek het grootgeword met een waarheid oor die Anglo-Boereoorlog. Ek probeer nie om die geskiedenis te herskryf nie, maar om ’n alternatiewe waarheid te skets, want elke oorlog het ’n skadukant," verduidelik hy aan Nieuwoudt.

Volgens Elize Parker in Sarie (17 April 2002) is die roman die eerste keer toe dit by ’n uitgewer voorgelê is, na die skrywer terugverwys. Die keurder was blykbaar nie in staat om die inleidingshoofstuk in verband te bring met die verhaal nie en was van mening dat die skrywer ’n amateur was. Dus het die keurder die skrywer aangeraai om die verhaal voor te lê aan die plaaslike kerkblad. Hierop was Coetzee se reaksie in ’n radio-onderhoud: "Ek het hulle lekker gefool."

Herman Wasserman (Die Burger, 10 Junie 1998) skryf dat die skrywer van Mannetjies Mentz in die roman by uitstek daarin slaag om die aard van geskiedskrywing beter demonstreer as om ’n betoog af te steek: "Deur die weef van ’n fyn gestruktureerde, streng beheerde verhaal herskryf hy die geskiedenis, subtiel maar treffend en onvergeetlik genadeloos."

"Deur verskillende mense aan die woord te stel, neem ’n verhaal vorm aan oor ’n Wraakkommando wat tydens die Anglo-Boereoorlog onder die leiding van ’n enigmatiese generaal, Mannetjies Mentz, ’n skrikbewind gevoer het wat Boerekrygsgevangenes ge-eskort het deur die berge van die Brandwaterkom." (...)

"Die teks is egter meervlakkig, en daar word baie meer gesê as hierdie korrektief op literêre heldeverering van ’n groep mense wat, so laat die roman ons glo, hulle soms skuldig gemaak het aan die growwe skending van menseregte."

"Deur die inweef van ’n ander verhaal, dié van ’n tragiese romanse tussen ’n Boerevrou en ’n Engelse offisier, word kommentaar gelewer op die waansin van oorlog en hoe dit bande tussen mense verbreek. Daarmee saam hang kommentaar wat subtiel gelewer word op rasseverhoudinge en die mens se verhoudinge tot die natuur."

"Die roman ontmasker egter nie net genadeloos die bose van die oorlog nie, dit toon ook fyn begrip vir die mens, sy weerloosheid, swakheid en skuld, en teken hom met deernis."

"Coetzee skep lewendige, oortuigende karakters en sy dialoog is doelgerig, hoewel soms effens strammerig en gemanipuleerd. Die verhaal is boeiend en spanning word veral gewek deur die weerhou van sekere inligting en die groot rol wat die leser moet speel om betekenis voort te bring." (...)

"’n Mens kan verskeie verhandelinge skryf oor ’n teks so sekuur, vindingryk en meerduidig soos Coetzee s’n. Hoe jy dit ook al gaan lees, dit slaan soos ’n vuishou. ’n Verstommende debuut."

JP Smuts (Oor skrywers en boeke, RSG, 31 Mei 1998) sê dat Coetzee met ’n vaste hand skryf. "Hy is in beheer van nie net sy romanstruktuur nie, maar ook sy medium, en hy slaag daarin om aan sy werk ’n groter resonansie te gee. Romandebute van hierdie gehalte is skaars."

Wium van Zyl sluit sy resensie in Rapport van 9 Augustus 1998 soos volg af: "Op soek na generaal Mannetjies Mentz het daarom alles om die eerste klassieke roman oor hierdie deurslaggewende oorlog te word ... maar niks om die Afrikaanse leser rustig te laat slaap nie."

In The Sunday Independent (2 Augustus 1998) het André P Brink geskryf dat Coetzee se roman merkwaardig is en wel om die volgende: "With breathtaking boldness it barges into territory where angels would fear to tread. But Coetzee is no fool. Making his debut at nearly 60, he shows an uncanny insight into the passions that rule the relationships between fathers and sons, or mothers and daughters, between Afrikaner and English, between black and white, between man and woman. And he controls the unfolding of these passions with deftness and maturity, unflinchingly probing even the darkest recesses of a mind.

"The result is a major contribution, not only to our understanding of a recent past, but to our grasp of the present."

Die roman is verwerk tot ’n verhoogstuk wat in 1999 by die Aardklop-kunstefees sy première gehad het met Ilse van Hemert as regisseur. Ilse en Chris Vorster het die teks ontwikkel, wat gegrond is op die verhoudings tussen die hoofkarakters in die boek. Marthinus Basson was verantwoordelik vir die stel- en kostuumontwerp en Marius Weyers en Sandra Prinsloo het teenoor mekaar gespeel. Die drama is as ’n multimedia-produksie aangebied.

Op Oujaarsdag 1998 trou Christoffel met sy tweede vrou, Claire, nadat hy vroeër van Etta, sy eerste vrou, geskei is. ’n Tweeling, Jacobus en Tharina, is uit sy eerste huwelik gebore. Na sy huwelik met Claire het hy politieke wetenskap aan die Universiteit van die Noorde begin doseer, omdat Claire in Pietersburg gewoon het. Tydens sy dood was hy nog verbonde aan bogenoemde universiteit.

Op 17 Julie 1999 is Christoffel onverwags oorlede in Windhoek, waar hy by sy kinders gaan kuier het. Hy is aangetref met ’n bos sleutels in sy een hand en ’n blom in die ander. Riana Barnard skryf dat dit miskien metafories van sy nalatenskap is.

Huldeblyke:

  • Stephanie Nieuwoudt: "’n Moeilike mens wat nie geskroom het om sy sê te sê nie. Dwarstrekkerig. Iemand wat nie met hom laat mors nie. (...) En dit is dié eienskappe wat aan hom in die jare sestig die bynaam Chris Kommunis besorg het toe hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch was." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Johan Roux, ’n vriend: "’n Rebel, iemand wat dit geniet het om stroomop te wees. Hy was briljant en dit was opwindend om sy vriend te wees. Hy het ’n harde, bedonnerde dop gehad, maar hy was ’n sagte mens wat hom dit aangetrek het as hy gemeen het hy het iemand te na gekom. Hy was skugter en dit het soms as aggressie oorgekom. Ek weet dat joernaliste soms uit onderhoude met hom gestap het – hulle het vir hom kwaad geword omdat hulle hom nie verstaan het nie." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Claire, sy vrou: "Chris was ’n Renaissance-man sonder die sport en fisieke bedrywighede. Hy was ongelooflik kompleks, maar hy was ook gaaf en besonder liefdevol. Hy was ’n wonderlike mens." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Sara, sy suster: "Christoffel het ’n vreemde humorsin gehad wat wat sy vriende en familie geken en waardeer het. Die gewoonte om soms ’n lopie met die waarheid te neem, om ’n klip in die bos te gooi, om reaksie uit te lok, het aanleiding gegee tot die ongegronde storie dat sy ma ’n Libanees was." (Beeld, 17 November 1999)
  • Pieter Duvenage, hoogleraar in filosofie aan die Universiteit van die Noorde ten tyde van Christoffel se afsterwe: "Christoffel was in die jare sestig vir ’n rukkie dosent in die filosofie aan die Universiteit van Wes-Kaapland. En hoewel hy die Suid-Afrikaanse filosofiese gemeenskap vroeg verlaat het, het hy nooit kontak verloor nie. In teenstelling met die meeste Afrikaanse filosowe, wat hulle meer by die Europese kontinentale filosofiese tradisie tuis voel, het Chris eerder by die Brits-analitiese tradisie aangesluit het. Dit is ’n soort empiristiese, common sensefilosofiese benadering waar bruikbaarheid en logiese analise sterk ter sprake kom. Op ’n vraag of hy homself as ’n analitiese filosoof sou beskryf, het Christoffel geantwoord dat hy eerder nader aan die pragmatisme staan. Verder het hy ’n hekel in die postmodernisme gehad." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Riana Barnard, Christoffel se uitgewer by Queillerie Uitgewers: "Sy afsterwe, juis op dié stadium, was onbegryplik. Binne oomblikke het ’n merkwaardige debuut ’n hele oeuvre geword. Hierby hoort sy sagte baard en skuifelstappie waarmee hy diep spore in die Afrikaanse letterkunde én in ons harte getrap het. (...) Enersyds kon hy met sy skerp blik nuwe perspektiewe bring, mites deurbreek en ’n alternatiewe waarheid bring. Maar dit was volkome deurdrenk met sensitiwiteit en ’n eie estetiek waarmee hy selfs geweld en kruheid tot kuns kon verhef." (Insig, September 1999)
  • George Weideman: "Ek het tydens my Namibiese verblyf vir Christoffel as ’n barometer vir integriteit leer ken: hy kon bedonnerd wees, ja, maar dan was dit omdat hy ’n wrewel in alle geveinsdheid gehad het. Hy het nie doekies omgedraai wanneer dit by politieke of sosiale ongeregtigheid kom nie, maar jy kon peil trek op sy mening." (Insig Boekeseksie, Sept 1999)
  • André P Brink: "Sy ontydige dood is ’n werklik groot verlies, veral op ’n tydstip toe ons hierdie inset wat hy begin lewer het, werklik nodig gehad het. Sy bydrae was uitdagend, maar eerlik. En van kardinale belang vir ’n gehoor wat sou wou luister." (Insig Boekeseksie, Sept 1999)

Christoffel se suster, Sara, het aan Jannie Ferreira vertel dat die mense na aan hom gereeld onder sy spot deurgeloop het: "So moes sy twee predikantswaers dikwels hoor dat die mense op Stellenbosch regtig eers hul motordeure sluit wanneer die tokkelokke van vakansie terugkeer. Toe sy swaer, Geroge Fivaz, Kommissaris van Polisie word, moes hy dikwels na soustreinstories luister.”

"In gesprekke met Christoffel het mense dikwels – soos by die lees van sy roman – gewonder wat spot en wat erns, wat fiksie en wat nie-fiksie is. So is die jintelmanboer, Kobus, wat hy op bladsy 18 in Mannetjies Mentz beskryf, sy pa en een van die drie tekkiedraers aan wie hy die boek opdra."

"Net soms was hy self aan die ontvangkant, soos toe ’n susterskind hom toevoeg: 'Oom Christoffel, wanneer skeer jy jou baard af, jy lyk soos ’n bostrol!'"

"Waarop sy antwoord was: 'Solank jy die woord net mooi uitspreek, is dit reg. My baard skeer ek eers af wanneer die Vierkleur weer oor Transvaal wapper.'"

Ten tye van sy dood was Christoffel reeds besig met sy tweede roman. Piet van Rooyen, wat ook ten nouste met die groei en redigering van Op soek na generaal Mannetjies Mentz saamgewerk het, het toe reeds die onvoltooide roman van buite geken en hy het dit as vanselfsprekend beskou dat hy hierdie manuskrip ná Christoffel se dood verder sou neem. Die gebeure in hierdie tweede roman, wat in 2003 as Toewaaisand deur Protea Boekhuis gepubliseer is, speel hulle in Namibië af, ’n land en omstandighede wat Van Rooyen soos sy handpalm geken het.

Van Rooyen vertel aan Elize Parker dat toe hy eers begin skryf het, het die teks gevloei: "Amper asof Chris self inspraak gehad het."

Parker beskryf die roman as ’n "meesterstuk in die kleine met die verhaal wat slim geweef word rondom die verdwyning van Meisie, met die uiteindelike grusame klimaks in die woestyn. Toewaaisand is ’n geheel wat, soos Van Rooyen tereg sê, uiteindelik tot die leser se voordeel veel groter is as die som van sy vertellerdele." (Sarie, Maart 2004)

Louise Viljoen (Rapport, 8 Februarie 2004) beskryf die verhaal: "Hierdie roman speel in die dorp Aib in Namibië af, wat omring word deur die woestyn wat deurentyd dreig om dit te oorweldig, soos die titel reeds aandui. ’n Jong man met gemengde bloed (Freddie Chemal), oorspronklik van die Vrystaat, word hier onderwyser en raak verlief op ’n plaaslike dame, wie se ma haar as klein dogtertjie verlaat het. Deur gebruik te maak van ’n veelvoud ek-vertellers word interessante perspektiewe verkry. Dit is ’n vlot en leesbare verhaal waarin heelwat belofte skuil, maar waarin die potensiaal vir ’n werklik onthoubare roman nie gerealiseer word nie."

Publikasies

Publikasie

Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2008 (Klassieke Uitgawe)

ISBN

  • 1874901945 (hb)
  • 9780624046493 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • De Kat /Sanlam Romanwedstryd 1998
  • M-Net-Boekprys 1999
  • Eugène Marais-prys 1999

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

 

 

 

Publikasie

Toewaaisand (voltooi en geredigeer deur Piet van Rooyen)

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190440 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Christoffel Coetzee beskikbaar op die internet

Christoffel Coetzee se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-04-15 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top