Christo van Rensburg (1938–2018)

  • 2

Christo van Rensburg | Foto: Izak de Vries

Christo van Rensburg het volstoom gelewe, en het oral waar hy betrokke was, ’n verskil gemaak. Sy entoesiasme het medewerkers aangesteek en aangevuur om kennis oor Afrikaans na te jaag en bloot te lê. In die Afrikaanse taalkunde was hy een van die baanbrekers wat die taalkundige waarde van taalvariëteite vir die omvattende studie van Afrikaans erken en daadwerklik ondersoek het. Daarby het hy dit geïntegreer by die soeke na ’n onbevange en onbevooroordeelde oopvlek van die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans. Die opspoor van getuienis om die mees werklikheidsgetroue weergawe van hierdie geskiedenis te vind, het sy werkswyse deurgaans gekenmerk.

Die omvang van sy invloed op navorsingsbelangstelling in ons taal kan moeilik gepeil word – geslagte van studente sal daarvan kan getuig. Kollegas wat met hom geskakel het en met hom bevriend was (feitlik altyd ’n gevolg van kollegiale skakeling), sal die geweldige leemte wat sy dood laat, met hartseer en ’n gevoel van verlies ervaar.

Christo het ook ’n beduidende rol gespeel om rigting aan my akademiese loopbaan te gee. As ’n Humboldtianer wat sy navorsingsbeurs ontvang het vir studie aan die Universiteit van Marburg, het hy my destyds by ’n kongres van die Internasionale Germanistevereniging in Göttingen aangespoor om ook by die Von Humboldt-Stigting betrokke te raak – ’n ongelooflik verrykende ervaring. En eendag tydens ’n gesprek by Fritz Ponelis aan huis, toe ek in die versoeking was om die Afrikaanse taalkunde te verruil vir die Algemene Taalwetenskap, het dié twee my met groot oortuiging daarteen laat besluit. Dit het net sy passie vir die studie van Afrikaans as taal onderstreep, en my laat besef wat die waarde daarvan is, ook as akademiese ondersoekterrein.

Oor sy werk op soveel ander gebiede van Afrikaans (bv as lid van die Taalkommissie, waar hy ’n onskatbare bydrae gelewer het) kan ’n mens lank uitwei. Ek wil volstaan deur hom as goeie vriend en kollega te eer en te huldig. Hy was een van ’n geslag van ikone en uitstaande kenners van die Afrikaanse taalkunde wat ’n mens by wyse van spreke in die eregalery van Afrikaans sal vind. Ek groet jou, ou maat.

  • 2

Kommentaar

  • Daleen Fourie ( Van Niekerk, Stapelberg)

    My innige meegevoel. Christo was ‘n wonderlike mentor en vriend.

  • karel.porteman

    Hij was een van mijn beste vrienden sinds 1968, toen hij een jaar in Leuven zat. Ik heb hem vaak teruggezien.
    Nog in 2016 legde hij - weer in Leuven - mij met grote geestdrift zijn laatste opvattingen over de wording van het Afrikaans uit. Het laatste wat ik van hem hoorde was zijn commentaar op de prestaties van de Rode Duivels. Van voetbal begreep hij niet veel, maar na het drinken van een van zijn geliefde 'paters' - hij kende alle soorten - wist hij er alles van.
    Ik mis hem zeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top