Chris Chameleon: Wesenlik anders

  • 0

Om 'n indrukwekkende mens soos Chris (nié Chameleon nie) maar net nog 'n keer op dieselfde ou stokkie neer te sit, doen hom 'n onreg aan. Dis nou dié stokkie waarop die media hom tot dusver grootliks neergeplak het – 'n stokkie waarop Chameleon (nié Chris nie) net een "kleur" het: daardie kleur (eintlik vaalheid) waaraan die meeste van die lesende, luisterende en kykende publiek blootgestel is en word en skynbaar verder aan blootgestel wil word.

Chris is nie cliché-agtig "verfrissend anders" nie. Sy andersheid is nie soos dié van heeltemal te veel ander wat andersheid met allerlei foefies, fieterjasies en allerlei gevathede na-aap nie. Hy is allermins 'n aap, of 'n manteldraaiende verkleurmannetjie, as ek dan nou opsluit sy personasie Chameleon moet bysleep. Nee, hy is wesenlik anders.

Dat daar nie net nóg 'n Chameleon-storie oor hom geskryf gaan word nie, het hy binne die eerste vyf minute van die onderhoud opgetel met sy klaarblyklik gewone, fyngevoelige, intelligente, suutjies trappende self. Immers wéét Chris, nes ek, dat diegene wat juis net in Chameleon belangstel, maar net 'n websoektog op die internet hoef te doen as hulle Chameleon-dinge wil weet.

Wat bedoel ek? Net dit: Tot dusver was dit nog net: "Chameleon het [LW het = besit] soveel pryse, eerbewyse, toekennings; soveel CD’s; soveel CD-verkope; soveel optredes binnenslands en in die buiteland; soveel verskeidenheid … en dit of dat is op pad of in wording." En met "soveel" stik 'n mens in blatant banale materialisme, in die onvermydelike vervlietendheid van uiterlike goed, goeters en goetertjies. Hoe kan of wil enige mens in sy of haar geskape veelkantigheid regtig in net hierdie terme gemeet en uitgedruk word? Hartseer maar waar is daar ongelukkig mense wat hulle enigste identiteit in sulke dinge vind.

Gelukkig nie mense soos Chris nie. Sy identiteit is veel groter, veel meer veelkantig, as dié van 'n verkleurmannetjie wat geneties-instinktief uitgelewer is aan die agtergrond waarteen hy hom bevind.

Chris is een van die oorspronklikste denkers met wie ek nog 'n onderhoud gevoer het en toon – prys die Here! – geen sweem van verstrik wees in ortodoksie of konvensionaliteit of inhoudlose tradisies nie. Hy is inderdaad een van die min "diep seuns" van (Suid-) Afrikaanse musiek.

Neem byvoorbeeld wat hy onder meer sê oor die afgelope twee jaar se vloed benoemings vir en ontvangs van pryse, toekennings en eerbewyse, naamlik dat hy "prys-voos" is.

Is hy dan ondankbaar hieroor, blasé? Gewis nie! Hy is duidelik erkentlik oor hoe sy werk as kunstenaar aangeslaan word deur openbare instellings en die private individue wat sy optredes bywoon en sy CD's koop. Hy is ook erkentlik oor die betreklike welvaart wat daarmee gepaard gaan. Maar: Chris "wéét" net gewoon daar is méér aan die lewe as dit.

Só vertel hy my dat hy in standerd 5 die rol van die skoolmeester moes hakkel-sing in Die skat van Vergelegen. Die gehoor se gunstige reaksie daarop het hom 'n "groter emosionele opwelling" gegee as toe hy byvoorbeeld die Sama vir 7de Hemel gekry het.

Hoogtepunte is dus, so sê hy, "relatief tot eie ervaring".

"Terugskouend is die breër wyse waarop ek ná Boo! weer my eie voete oor maande gevind het, 'n hoogtepunt." En vinnig help hy homself reg: "Nee, eerder 'n hoogte-plato van twee tot drie jaar."

Al is die ophef wat oor Chameleon gemaak word, onteenseglik geregverdig en welverdiend, is daar veel, veel meer aan Chris as wat daar aan Chameleon is. Omdat daar 'n Chris is, is 'n Chameleon moontlik – nie andersom nie.

"Daar is grense tussen wie jy is [Chris] en wie jy voorstel [Chameleon]," sê hy.

Ons gaan almal akkoord. 'n Mens se beeld in sy of haar beroepslewe – sy of haar rol, as jy dit dalk so wil noem – is anders as daardie selfde mens alleen tuis in sy of haar private wêreld, sy of haar "binnekamer".

Chris se kunstenaarsbeeld "beskerm" dus sý privaatheid, nes enige ander se "openbare" beeld sy of haar private lewe "beskerm". Die personasie Chameleon is dus in sy geval daar "om wie ek is, so privaat moontlik te hou". Chris erken egter dat ook hy nie in sy skeppende werk heeltemal aan sy persoonlike biografie kan ontsnap nie. Watter mens kan?

Weens sy privaatheid verstrek hy byvoorbeeld nie sy geboortevan (en straatadres) aan die publiek nie, maar huiwer nie om te noem sy ma heet Jolena en sy suster Marlena nie (en dat hy "naby" Memel 'n plasie het nie). Hy wéét bowenal waar hy in sy geskapenheid vandaan kom, maar meer hieroor later. Daar is by hom nie 'n sweem van die stereotipiese beheptheid met familie nie.

Hy het homself al meermale "die gelukkigste mens" genoem wat hy ken.

"Mense vra my: 'Is jy gelukkig? Dan sê ek: 'Gelukkig nie'." Heerlike ironie!

Met hierdie heerlike sinspeling op twee uiteenlopende betekenisskakerings van die woord gelukkig bedoel hy gewoon die Engels happy en fortunate, sê hy.

Dit dui (het ek ál gesprekvoerende met hom agtergekom) eerder op Chris se bewustheid daarvan in hierdie stadium van sy lewe dat hy in die posisie gestel is om vele geleenthede te hê om die lewe te be-leef en ononderbroke geïnspireerd en begaafd te kan skep, sónder enige dinglike tekorte en mét goeie ondersteuning.

Omdat hy in dié sin gelukkig (fortunate) is – hy noem dit sy "voorspoedige geluk" – werk hy groot en droom hy groot. Sy drome is "onselfsugtig, maar buite bereik soos die meeste" drome in sulke gevalle is.

Chris sal onder meer graag wil hê dat "die mensdom respek vir en empatie met die natuur" moet hê. Ook sou hy graag wou sien dat "Suid-Afrikaners [met mekaar] oor die weg kom" en "werklike voorspoed, werklike geluk" beleef en uitleef.

Hy brei toe vlugtig uit oor die steeds teenwoordige "ongelykheid" wat syns insiens oor die algemeen een van die grootste oorspronge van onder meer kriminaliteit/misdadigheid is. "Ek het al in 24 lande gereis en in 17 gewerk. Waar die meeste gelykheid is, daar is die minste probleme – maatskaplik-ekonomies."

Oor groot en geïnspireerd werk het hy ook sy "voorspoedige geluk" genoem met byvoorbeeld die skep en opneem van die elf liedjies op die CD Ek vir jou. Die opname is in net nege dae gedoen – met, let wel, slegs vyf liedjies wat vooraf geskryf was – die ander ses het in die opname-tydperk gebeur. Die feit dat die album eintlik die verloop van 'n verhouding "vertel", het die skep van die oorblywende ses volgens hom maklik(er) laat plaasvind.

Om te skep, reken Chris, is vir kunstenaars gewoonlik – en ek stuur doelbewus weg van die pronter woorde wat hy gebruik het – óf willekeurig met moeite óf onwillekeurig moeiteloos. Chris se skeppingservaring is vir hom soos laasgenoemde: onwillekeurig betreklik moeiteloos. Dit gebeur sonder dat hy eintlik regtig beheer oor die kom daarvan het. Voorspoedige geluk!

As taalmens kon ek nie die versoeking weerstaan om Chris – veeltalig soos hy is – te pols oor die taal van jou hart nie. "Gebare-taal," was sy refleks-antwoord. Toe beaam hy wat vir veeltalige mense 'n bekende ervaring is: elke taal – in sy geval Afrikaans, Nederlands, Duits en Engels – het sy eie aard. Wanneer jy jou in 'n betrokke taal uitdruk, neem jy as't ware 'n persoonlikheid in daardie taal aan, want dit is daardie taal wat daardie betrokke taalgemeenskap se volksaard/-gees bevat, uitdruk. (O, wee die arme vertaler of kopieskrywer wat byvoorbeeld "'n bielie van 'n buksie" idiomaties korrek na enige ander taal gaan probeer vertaal!)

Chris se Afrikaans is keurig en hy gebruik dit vindingryk – sy spreektaal én sy liriektaal. Hy gee nie toe aan die heersende hebbelikheid om sogenaamde Omgangsafrikaans-lirieke te skryf nie, oftewel Engels-en-vloekwoord-deurspekte taal te gebruik nie. Dankie tog! Chris het dus tans beswaarlik enige gelyke wat die skryf van Afrikaanse lirieke betref. Luister gerus self daarna.

En luister hoe hy sy musikaliteit saam met sy lirieke aanwend. Dit strek veel verder as sang, waar musiek bloot kunssinnig in ooreenstemming met liriek gebruik en gebring word, soos in die sogenaamde klassieke kunslied. Dink aan hoe hy ironie inbou deur byvoorbeeld met allervrolike begeleiding oortuigend in "Stapelgek" te kan sing: "ek hou maar aan probeer, want jy maak so lekker seer."

Ja, dié soort ding val nie uit die lug nie.

Chris glo (hy sal dalk sê "wéét") daar is "voorgeboortelike faktore en bepalings waarvan hy nie bewus is nie" wat dit medebepaal. Net soos hy glo Montreal in Kanada bestaan, hoewel hy nog nie self daar was nie. Al wat hy "nog altyd weet" is dat wat hy doen, hy met "gemak" doen.

Niks is egter vir hom toevallig nie.

"Toeval is 'n naam vir nie weet nie … Toeval is soos chaos."

Chris sê hy is "versigtig" om hom te koppel aan die een of ander groep, aangesien sulke groepe altyd die "neiging tot toe-eiening" toon.

"Ek wil nie toegeëien word nie. Dis nie vir my nie. Ek wil my nie só verbind nie." En hiermee koop hy as't ware 'n stuk vryheid om "gemaklik" voor gehore van watter aard ook al op te tree, én dat sulke gehore by sy werk aanklank vind, ewe gemaklik.

Tog is hy wat sy spiritualiteit betref, nie draadsitterig of afsydig nie. Spiritualiteit is vir hom "nog meer persoonlik, meer intiem" as byvoorbeeld "seks, waaroor 'n mens [deesdae] makliker praat".

"Geloof," sê Chris, "is wat jy doen as jy nie wéét nie. God wéét! Ek het daarom geen probleem met iets soos die uitverkiesing nie."

"Het jy 'n ghoeroe?" vra ek dus aspris inklusief.

"Jesus, met sy geweldig goeie voorbeeld," kom sy antwoord sonder om te aarsel.

"Is jy dus 'n Jesus-gelowige?" waag ek dit verder.

"Nee, ek is 'n Jesus-wétende."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top