Die immer veelsydige sanger/liedjieskrywer/toonsetter Chris Chameleon het pas ’n nuwe album, Posduif, saam met Daniella Deysel vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Chris. Hoe’s alles?
Deur die blou loep van my hede verseker van verandering.

Chris Chameleon en Daniella Deysel
Foto: Jo Spies
Geluk met die vrystelling van Posduif. Dit voel of die album soort van uit die bloute verskyn het – hoe het jy en Daniella Deysel by mekaar uitgekom, en hoe het die konseptualisering en die besluit “kom ons doen hierdie ding” gebeur?
Dankie. Ek het Daniella vir vyf minute aan die einde van 2011 in Stellenbosch raakgekuier, en ’n vriendskap het begin. Maande later het ek van haar digkuns te wete gekom. Dit het dadelik met my geresoneer, maar ek het nie daaraan gedink om dit te toonset nie. Nadat die woorde sowat ’n jaar in my onderbewuste gedwarrel het, het ek een aand die kitaar opgetel en “Ek volg hopeloos” het musikaal vergestalt. Dit was ’n verslawende proses en ek het die volgende en die volgende aangepak. Toe ek dit vir haar voorspeel, het sy ingeval en begin saamsing, in harmonie. Dis toe dat ek geweet het ek sal die album saam met haar wil maak, want dit voel reg, gemaklik, heerlik.
Al die lirieke op die album (buiten dié van “Dit is al”) is deur Daniella geskryf. Jy is natuurlik ook geen vreemdeling vir die proses van toonsetting nie – wat is vir jou die essensiële verskille aan die prosesse van self lirieke skryf en ander se tekste toonset? Wat geniet jy omtrent die toonsettingproses in die algemeen, en wat het jy spesifiek omtrent die toonsetting van die Posduif-tekste geniet?
As jy ’n gedig toonset, is dit soos om te boer. Jy moet die gewas goed versôre, maar ook sy eie gang laat gaan en nie in die pad van sy lig of water staan in jou versorging nie. As jy self die lied se teks en melodie skryf, is dit soos om self ’n gewas te wees. Jy strewe na bo, na die lig, en suig die water en weet self nie veel van wat jy aanvang nie. Die woord “toonsetting” voel nie reg nie. “Ontsluiting” is nader aan die waarheid. Wanneer jy ’n gedig “toonset”, moet jy jou ego, jou verwagtinge, jou kognitiewe impuls en vooroordele so goed moontlik daaruit hou. Elke woord het ’n emosionele waarde wat verkry is deur eeue se ontwikkeling en kontekstuele aanwending. Die woord se ganse geskiedenis sit in hom opgesluit, sy stigma, die gewig van sy verlede. En hierdie aspekte verleen almal saam ’n bepaalde emosionele frekwensie. Die harmonieë, botone en ondertone van hierdie afsonderlike woorde beïnvloed mekaar wanneer hulle in verband met mekaar gebring word, wat ’n emosionele gewaarwording tot gevolg het. Dit is jou taak as “komponis” (ek verkies “ontsluiter”) om hierdie frekwensie musikaal vergestalting te gee. Jy staan dus ten volle in diens van die woord, laat jou lei deur sy waarde. Jy is nie ’n skepper nie, jy is ’n medium. Ek geniet hierdie sg toonsettingsproses, veral vir die feit dat ek so min verantwoordelikheid daarin het. Dis bevrydend om deel van iets te wees sonder enige verantwoordelikheid, die rol van die ten volle onderworpe dienskneg. Van Posduif het ek hierdie proses geniet en ook omdat ek onder leiding van ’n sensitiewe meester was, en ’n meester wat ek baie goed begryp.
Jy het die hulp van Fred den Hartog (van onder meer Die Heuwels Fantasties) ingeroep om as musiekregisseur op te tree. Watter impak het dit op die uiteindelike klank gehad, en hoe het jy die proses ervaar? Wat is in die algemeen die uitdagings daaraan verbonde vir jou om met verskillende regisseurs vir verskillende projekte te werk?
Fred is ’n hoogs ontwikkelde musikale siel. Hy kom ook vanuit ’n ander musikale verwysingsraamwerk as ek en ons is daarom besonder aanvullend. Ek kan van Posduif sê dat ek nog nooit só geklink het nie. Dis ’n nuwe klanklandskap vir my musiekodusseë, iets wat ek met die verwondering van ’n kind kan beleef en waardeur ek my kan laat meesleur. Daar is geen uitdaging daaraan om met verskillende musiekregisseurs saam te werk nie. Die woord “uitdaging” roep beelde by my op van wedywering, strewe, las, konkurrensie – waarvan geeneen van toepassing voel op die samewerking in die ateljee nie.
Gepraat van die verskillende projekte: jy het in die afgelope paar jaar ’n besonder uiteenlopende rits albums vrygestel. As ’n mens net dink aan Droomland, Herleef en nou Posduif, is dit reeds elk ’n album met ’n eie siel. Ons verwag dit natuurlik met die verkleurman-aard van jou werk, maar hoe besluit jy wat kom volgende? Is dit ’n redelike ingewing-van-die-oomblik-besluit, of hoe werk dit saam met die noodwendige onderhandelinge en kontrakte wat met albumbeplanning saamgaan? Is daar elemente aan hierdie prosesse wat jy wens jy kon verander?
Ek word dikwels verdink van beheer oor my kunskeuses. Hoewel dit vleiend is, is dit vals, omdat dit my laat lyk na iemand wat met ’n plan werk en weet wat hy doen. Ek kies nie my projekte nie. Hulle kies my. Dis nie soos om ’n sjef te wees en in ’n kombuis geure saam te voeg ten einde ’n maal voor te sit nie. Dis eerder soos om ’n by te wees en jou aan die neus agter geure aan te laat lei, en die stuifmeel daarvan word die heuning wat uiteindelik as bloekom of appelbloeisel gebottel word, maar jy het dit nie met dien verstande aanmekaargeflans nie. Ek sou niks daaraan wil verander nie. Ek is ’n intuïtiewe kunstenaar (blueg, dit klink al simpel om na myself te verwys as ’n “kunstenaar” – ek berus my hierin, maar noodgedwonge deur konvensie) en dit maak my werk en my reis altyd verrassend vir my. Ek sien net soveel uit na my volgende lewering en het net so min ’n idee van wat dit gaan word as my grootste fan.
Op die webwerf kondig julle aan dat die Posduif-CD direk by jou bestel kan (of moet?) word. Wat is en was die gedagtegang hieragter, pleks van die meer tradisionele verspreiding na musiekwinkels? Wat is die mees wedersyds voordelige opsies vir kunstenaar en aanhanger in hierdie verband?
Dis “kan”, nie “moet” nie. Dit kos R120 000 om ’n CD op te neem – ’n prys wat elke jaar duurder word, omdat alles duurder word. Maar dis ’n feit dat CD-verkope al 20 jaar lank jaarliks aan die taan is. Uiteindelik is dit nie ’n volhoubare gedoente nie. Daar was ’n tyd toe mens inkomste verdien het uit die verkoop van CD's; nou is jou eerste wens dat jy jou insetkoste kan verhaal. Posduif word wel deur Coleske versprei en as dit nie in jou winkel is nie, maak geraas. Die kunstenaar kry die meeste uit ’n CD wanneer jy dit by hom koop, hetsy by ’n optrede of deur ’n aanlyn bestelling via die webwerf. iTunes verdun die inkomste sterk en uit Spotify kry mens darem so elke ses maande ’n staat wat $0,01 beloof vir ’n bepaalde snit (letterlik). Die eerste duik in kunstenaars se inkomste het gekom toe CD-verkope as die een been van die driepootpot (die ander twee is konsertinkomste en tantieme) verwyder is. Maar nou val die sop op die grond omdat die poot nie net weg is nie, maar die geld om die poot daar te sit steeds gespandeer moet word, wat dus invreet op die ander twee beentjies. Dus, ’n mens moedig kopers aan om die CD fisies te koop, en dit by jou te doen. ’n Ander uitweg is om op te hou sop eet en te begin braai, maar ek weet nog nie hoe die allegorie van toepassing op die sake-aspek is nie.
Op daardie noot: jy is al baie lank in die musiekbedryf, en die “bedryf”-deel daarvan is ontsettend vinnig aan die verander. Wat is jou gevoelens of filosofieë rondom digitaal versus harde kopie, en die wyses waarop dit versprei en verkoop word? Hoe sal jy dit graag wil sien ontwikkel (of nié verder ontwikkel nie!) in die volgende paar jaar, en hoe sal jy dit wil ontgin?
So sit ek toe in 2002 met boo! in Beverly Hills in Backstage, die musiekrestaurant van Ian Copeland, broer van Steward Copeland (dromspeler van The Police) en die man wat hulle platemaatskappy was, asook die platemaatskappy van die belangrikste name in ‘70's- en ‘80's-musiek. Hy het geen geheim daarvan gemaak nie dat hy volkome dol was oor boo!. Hy het ons elke keer as ons in Los Angeles was, ’n speelkans in sy plek gegee. Ons het lekker gedrink en gesels en stories vertel en sake-idees uitgeruil. Na ’n paar doppe vra ons toe maar reguit vir hom: “Ian, aangesien jy nou so van ons hou en jy al soveel verrig het, kan jy nie iets vir ons doen nie?” Waarop hy antwoord: “Kêrels, die bedryf het so verander, ek kan geen hond of haar uitmaak van wat vir wat gaan en wie waar hoe maak nie. Ek is nou in die restaurantwese ... mense moet tog eet.”
Nou ja. Jy sê die bedryf-deel van musiek “verander”. ’n Karkas wat in die son lê en vrot en deur die maaiers gevreet word, verander seker ook maar. Die probleem met geskrewe dinge, visuele dinge en klank is dat dit van die internet afgelaai kan word. Jy kan dit nie met vleis of karre doen nie (nog nie). Musikante, koerante en rolprentmakers sit almal met dieselfde tameletjie. Op die oog af is die enigste oplossing tans sterker inmenging en beheer van die owerhede, maar ek dink van ’n owerheid net soveel soos van enige skelm en om een skelm te hê wat jou beskerm teen ’n ander skelm klink vir my ook maar alte veel na ’n mafiaspeletjie.
Dit word al hoe belangriker om jouself te verkoop. Maar daarmee het ek my hele lewe al ’n probleem gehad – daar is vir my iets so goedkoop, so onstylvol en verontwaardigend om jouself te verkoop dat ek eerder krepeer as om dit te moet doen. Die groot ster is die een met die groot bek wat die hardste kan skree: “Kyk vir my! Kyk vir my!”
Aan die positiewe kant: wanneer iets met mense resoneer, as dit die verbeelding van mense aangryp, versprei dit soos ’n veldbrand en verkoop dit homself. Dit is die sterkste en eerbaarste verkopery. ’n Mens kan dit nie bepaal of verseker nie, so die beste is om maar aan te hou doen wat jy geniet en 100% eerlik te wees in jou “skepping”. Want dan het jy net so ’n groot kans as wat jy in elk geval kan hê, maar jy doen wat vir jou lekker is en waarin jy glo.

Foto: Renee Frouws
Die genoemde jare wat jy reeds op die musiektoneel spandeer het, hou sekerlik ’n paar vreemde herinneringe in … Enige spesifieke gevalle of gebeure wat jy altyd as herinnering sal koester? En eniges wat jy eerder sal wil vergeet? Hoe verskil jou toergewoontes en dies meer van, sê maar, tien jaar gelede?
Sien bo. Met boo! het ek baie meer internasionaal getoer. Die Germaanse tale is maar die swart skape van internasionale musiek en jou voetspoor verklein die dag as jy jou ding in Afrikaans doen. Maar dit het vir my gelukkig ’n voetspoor geword wat dieper en deegliker getrap het. Ek toer dus oral in ons mooi land rond (ook maar goed ek hou van ry) en dan jaarliks in Nederland en deesdae ook Australië, Nieu-Seeland, Kanada en die VK.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Chris Chameleon in?
’n Goeie manier om by voorbaat ’n poephol van jouself te maak, is om jouself gesag oor die toekoms te gun.
Wat is die sin van die lewe?
Ek hoop van harte dat die lewe nie sin het nie en volhard dan ook in die oortuiging dat dit wel die geval is.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Chris, ek het die hoogste agting vir wat jy vermag. Dit lyk of jy elke tweede dag in 'n ander deel van die land of wêreld optree en baie min by die huis is. Ek was al by 'n paar van jou konserte en dIs duidelik dat jy geniet wat jy doen. Ek geniet dit elke keer. Doe zo voort! Ek hoop dat die kommersiële kant van die saak ook uiteindelik alles die moeite werd maak.