Chris Chameleon: "Ek sluit myself by daai siniese groepie in"

  • 0

“Jy ken die legende? Dis een van ons mooistes.”

Chris Chameleon roer sy cappuccino op die stoep van die Artscape-teater in die Kaapse middestad. Hy is in die provinsie vir die bekendstelling van sy nuwe album, ’n versameling verwerkings van Psalms en Gesange met die titel Herleef. Die opmerking oor die legende volg op my kompliment oor sy grys T-hemp met die blou woorde “Van Hunks” en ’n meegaande dubbelpyp-grafika.

Doekies word nie omgedraai nie soos ons wegval met die gesprek oor die nuwe album. Sienings dat ’n “gospel”-album ’n maklike geleentheid vir geldmaak en/of gewildheid opstoot binne die Afrikaanse musiekbedryf, is immers nie yl gesaai nie.

“Ek sien dit ook so,” sê Chris. “Ek sluit myself by daai siniese groepie in. Gewoonlik is daar drie aanduidings dat ’n loopbaan op die afdraande-pad is: ’n kinderalbum, ’n ‘best of’, of ’n gospel-album. Tensy jou eerste album se naam Best Of is! Wanneer ’n ou skielik gospel toe gaan, is dit altyd verdag. En ek weet dit. Ek’t dit self raakgesien, so ek was voorbereid op daai aanslag.”

Hy tel sy selfoon op en draai die skerm na voor om van die negatiewe tweets van aanhangers rakende dié rigting wat hy inslaan, te wys. Een lees: “Dis so teleurstellend dat @Chrischameleon nou die gospelroete soos soveel ander afrikaanse kunstenaars doen. #omvannaartemaak.”

“Mens moet jou natuurlik nooit verdedig teen so iets nie,” sê hy. “Elke persoon is geregtig op sy opinie, maar mens kan dit retweet en ’n gesprek aanwakker.”

Nog tweets hét gevolg. “Dis nie gospel nie, dis capitalism,” dui die een aan.

“Dis vreeslike blinde oordeel,” sê hy. “Niemand het immers nog na die album geluister nie.”

As hy ook in die algemeen agterdog hierjeens deel, waarom dan daaraan meemaak? Of eerder, wat aan sy benadering beskou hy as uniek?

“Dis definitief een van die redes hoekom ek lank geweier het om hierdie album te doen,” sê hy. “Drie platemaatskappye het my in die laaste vier jaar genader en gevra of ek nie iets geestelik wil doen nie … Ek wou dit nooit doen nie, want ek het ook gevoel die oomblik as jy iets opneem, dan word dit besigheid. En in besigheid moet jy strategies te werk gaan, sekere dinge verswyg … dinge manipuleer en soms meedoënloos werskaf – en dit alles hoort nie vir my tuis in ’n geestelike omgewing nie. Geestelik moet jy jouself na willekeur kan uitdruk, omdat jy daai moed van jou eie oortuiging het. As jy ’n agenda het, moet jy jou woorde tel, soos politici, wat so stotter op TV, wat so “uh … uh… uh…” praat – dis mos ’n ou wat lieg. Dit voel vir my verkeerd om geestelikheid en besigheid te meng. Maar toe kom die regte maatskappy op die regte tyd na my met die regte vrae, toe dink ek, goed, kom ons doen dit.”

Die betrokke maatskappy is Christian Art Media, dieselfde maatskappy wat vir sy Droomland-produksie (wat tot ’n CD en ’n DVD gelei het) saam met die Drakenstein-seunskoor vroeër in 2013 verantwoordelik was. Die album is (grootliks, buiten vir bydraes deur onder meer Laurika Rauch en Loyiso Bala) in vyf dae opgeneem by die bekende Sunset Studios buite Stellenbosch, met swaargewig-musikante soos Albert Frost en Schalk Joubert aan boord.

Die verwerkings is sy eie – aanvanklik wou hy met die oorspronklike melodieë werk, maar dit het nie die “vonkel” verskaf nie.

“Baie van die melodieë is in die 1500’s in Genève in Switserland geskryf, voor ons geweet het wat dit is om om ’n kampvuur te dans en ’n beesveldrom te looi. Ek’t geglo dit sal regkom, maar het nie die vonkel gevoel nie. Toe kom ek by gesang 276, wat gebaseer is op 1 Korintiërs 13 – wat literêr een van die beste stukke in die Bybel is. Die prosa is nogal goed. Ek het nie geweet hoe die deuntjie gaan nie, toe maak ek my eie deuntjie, en ek hou toe so baie daarvan, en dit was vir my ’n teken dat dit is hoe dit moet gegaan … Het jy geluister?”

Sy grootste opgewondenheid draai rondom die laaste snit, “Sy goedertierenheid” (gebaseer op Psalm 136). “Hy voel nogal soos Kashmir! Ta-na-na, ta-na-na …” maak hy die akkoorde van dié bekende Led Zeppelin-lied na.

Die album het inderdaad ’n veel sterker rock-inslag as wat ’n mens sou verwag.

’n Ander snit wat sterk in die persverklaring uitgelig word, is “Landspsalm”, met einste Bala, Rauch, Theuns Jordaan en die Soweto Gospel Choir in die prentjie.

“Ek het al agtergekom,” sê hy oor dié lied, “gewoonlik, hoe korter iets vat om te toonset, hoe beter is dit. As dit uit jou val soos … soos ’n dronk man uit ’n bus, dan weet jy – dít is gehalte. Dis hoe dit was met ‘Landspsalm’.”

Weer haal hy die selfoon uit en vind die eerste demo-opname wat hy van dié lied gemaak het.

“Ons het dit selfs in die apartheidjare gesing in die kerk, asof dit net vir ons, die uitverkorenes was, maar as jy gaan kyk daarna, daar’s niks in die teks wat dit beperk tot ’n spesifieke volk nie … Dit is vir my so ’n pragtige moderne Suid-Afrikaanse landslied. Dis hoekom ek dit ‘Landspsalm’ genoem het.”

Watter, indien enige, rol het geestelikheid of gestruktureerde geloof dan in “oplossings” vir die land? (Die vraag was wel ietwat meer gekompliseerd as dit geformuleer.)

“Vra jy my?” sê hy met ’n laggie. Hy dink lank na. “Dis ’n mooi droom,” sê hy. “Dis my mening.”

Glo hy aan die droom?

“Ek is nie ’n ou vir geloof nie,” sê hy effe onverwags. “Ek’s nie mal oor geloof nie. Ek wil wéét. Ek gló nie in God nie, ek kén hom. Dit is nie ’n geloof wat ek koester dat daar dálk ’n god is nie. Ek wéét dit. Vir ’n feit. Ek’t hom self ontmoet; ek’t al self wonderwerke beleef. Was jy al ooit in Montreal?” trek hy die vergelyking. “Do you believe it exists, or do you know it?”

Ek was nog nie in Montreal nie en ek’s nie seker hoe ek voel oor die logika verbonde aan die vergelyking nie. “Google Maps” is al bydrae wat ek tot die gesprek kan mompel.

Deur middel van ’n lang metafoor brei Chris uit oor sy gedagtes rondom geestelikheid en die volwasse ervaring daarvan, asook hoe dít oorgedra word in die aanslag op die album. “Geestelikheid is iets wat ons almal kleintyd gevoer word, uit ’n botteltjie, soos babakos. Dit het al daai vitamines en mineraaltjies, maar dit sal verdomp simpel wees as jy op ouderdom veertig nog steeds uit daai botteltjies eet. Jy begin jou eie smaak ontwikkel. Een ou hou van meer rissies, een ou hou van meer sout, ’n ander ou word ’n vegetariër – dis alles kos.

“Dis dieselfde met geestelikheid. Jy kan nie die geestelikheid wat jy gevoer is as kind jou dieet as volwassene maak nie. En ek was nie seker of, met my dieet, mense lekker in my kombuis sou eet nie.

“Op ’n fisieke vlak is ek allergies vir hoender en koring. Ek hou baie van beide … ek hou van die smaak van hoender, maar ek kan dit nie binne hou nie, en koring laat my uitslaan. En miskien is dit geestelik ook so, miskien kan ek nie die geestelike hoender eet nie. Maar dat ek ’n gesonde eetlus het, is waar. Ek is baie sterk in voeling met die geestelike. Toe dink ek, as jy nou ’n kombuis gaan oopmaak, gebruik die Kook en Geniet. En vir ons is psalms en gesange die Kook en Geniet daarvan. En ek het nog nooit gehoor van ’n boeretannie wat ’n Kook en Geniet-resep net so, tot op die letter volg nie. Dit het ek ook gedoen.”

Hy lag. “Ek hou van hoe ek dit hier uiteensit!”

Die tyd om te gaan breek aan – ’n ander onderhoud wag by Radio Helderberg.

Met tuiskoms luister ek weer deur die album. In die gesprek het Chris genoem dat om “gospel” as ’n genre te beskou, foutief is, nes dit foutief is om “Afrikaans” as genre te beskou.

Inderdaad.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top